Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Het Jesus Christus vir die 12 apostels gesê dat hulle ’n staf moet saamneem en sandale moet dra toe hy hulle uitgestuur het om te preek?

Party mense voer aan dat die drie Evangelieverslae oor die geleentheid toe Jesus die apostels uitgestuur het, mekaar weerspreek. Maar deur hierdie verslae met mekaar te vergelyk, kan ons tot ’n interessante gevolgtrekking kom. Vergelyk eers Markus en Lukas se verslae met mekaar. Markus se verslag sê: “[Jesus] het . . . hulle beveel om niks behalwe net ’n staf vir die reis saam te dra nie, geen brood, geen voedselsak, geen kopergeld in hulle gordelbeurse nie, maar om sandale aan te bind, en om nie twee onderkledingstukke te dra nie” (Mark. 6:7-9). Lukas het geskryf: “Moet niks vir die reis saamdra nie, nie staf of voedselsak of brood of silwergeld nie; moet ook nie twee onderkledingstukke hê nie” (Luk. 9:1-3). Hier sien ons die oënskynlike teenstrydigheid. Volgens Markus is daar vir die apostels gesê dat hulle ’n staf moet saamdra en sandale moet aanbind, maar Lukas se verslag sê dat hulle niks moet saamdra nie, nie eers ’n staf nie. Anders as Markus het Lukas geen melding van sandale gemaak nie.

Om te verstaan wat Jesus by hierdie geleentheid wou oordra, moet ons let op die uitdrukking wat in al drie die Evangelieverslae voorkom. In die bogenoemde verslae asook Matteus 10:5-10 is daar vir die apostels gesê om nie “twee onderkledingstukke” te dra of te hê nie. Elke apostel het waarskynlik een onderkleed gedra. Hulle moes dus nie nog een vir die reis aanskaf nie. Hulle het ook sandale gedra. Markus het beklemtoon dat dit belangrik is “om sandale aan te bind”, dit wil sê die sandale wat hulle reeds gedra het. Wat van ’n staf? The Jewish Encyclopedia sê: “Daar was blykbaar ’n algemene gebruik onder die eertydse Hebreërs om ook ’n staf saam te dra” (Gen. 32:10). Markus het gesê dat die apostels ‘niks vir die reis moet saamdra nie’ behalwe die staf wat hulle by hulle gehad het toe Jesus die opdrag gegee het. Die Evangelieskrywers het dus Jesus se opdrag beklemtoon om nie moeite te doen om bykomende benodigdhede vir die reis aan te skaf nie.

Hierdie gedagte word ook deur Matteus beklemtoon, wat Jesus se opdrag by hierdie geleentheid gehoor en opgeteken het. Jesus het gesê: “Moenie goud of silwer of koper vir julle gordelbeurse aanskaf nie, of ’n voedselsak vir die reis of twee onderkledingstukke of sandale of ’n staf nie; want die werker is sy voedsel werd” (Matt. 10:9, 10). Wat van die sandale wat die apostels gedra het en die staf wat hulle in hulle hand gehad het? Jesus het nie gesê dat hulle dit wat hulle reeds gehad het, moes weggooi nie, maar hy het vir hulle gesê dat hulle nie hierdie dinge moet aanskaf nie. Waarom het hy hierdie opdrag gegee? Want “die werker is sy voedsel werd”. Dit was die hoofgedagte van Jesus se opdrag, wat in ooreenstemming was met sy vermaning in die Bergpredikasie dat hulle hulle nie moet kwel oor wat hulle sal eet, drink of dra nie.—Matt. 6:25-32.

Hoewel dit dalk aanvanklik lyk of die Evangelieverslae mekaar weerspreek, het hulle almal dieselfde gedagte gedek. Die apostels moes gaan net soos hulle was en moes nie toelaat dat hulle aandag afgelei word deur nog iets aan te skaf nie. Waarom nie? Want Jehovah sou vir hulle sorg.

Wie was die “vrou, ja vroue” waarvan Salomo gepraat het?—Pred. 2:8.

Ons kan nie seker wees nie, maar dit is moontlik dat hulle vooraanstaande vroue was wat Salomo by sy koninklike hof ontmoet het.

In Prediker hoofstuk 2 het Salomo verskillende dinge genoem wat hy gedoen het, onder andere sy groot bouprojekte. Hy het bygevoeg: “Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en eiendom eie aan konings en die regsgebiede. Ek het vir my sangers en sangeresse aangeskaf en die verlustiginge van die mensekinders, ’n vrou, ja vroue.”—Pred. 2:8.

Baie kommentators is van mening dat die “vroue” na wie Salomo hier verwys het, al die uitlandse vrouens en byvrouens is wat hy later in sy lewe gehad het, vroue wat hom tot valse aanbidding verlei het (1 Kon. 11:1-4). Maar hierdie verklaring laat vrae ontstaan. Toe Salomo hierdie woorde neergeskryf het, het hy reeds die “vrou, ja vroue” geken. Op hierdie tydstip het hy nog Jehovah se goedkeuring geniet, want God het hom geïnspireer om Bybelboeke te skryf. Dit was beslis nie die geval in latere jare toe hy honderde uitlandse vrouens en byvrouens gehad en valse aanbidding begin beoefen het nie.

Salomo het in die boek Prediker gesê dat hy “gesoek [het] om die welgevallige woorde te vind en korrekte woorde van waarheid neer te skryf” (Pred. 12:10). Hy het beslis die woorde vir ’n “[getroude] vrou”, “koningin” en “byvrou” geken, want hy het hierdie woorde in sy geïnspireerde geskrifte gebruik (Spr. 5:18; 12:4; 18:22; Pred. 9:9; Hoogl. 6:8, 9). Maar in Prediker 2:8 word hierdie bekende woorde nie gebruik nie.

In die uitdrukking “vrou, ja vroue” vind ons die enigste gevalle (die enkelvoud en meervoud) waar ’n ongewone Hebreeuse woord in die Bybel voorkom. Geleerdes erken dat daar nie sekerheid is oor die woord se betekenis nie. Baie Bybelvertalers meen dat die frase in Prediker 2:8 verwys na vroue, wat eers in die enkelvoud en dan die meervoud of oortreffende graad weergegee word. Die vertaling “vrou, ja vroue” dra hierdie betekenis oor.

Salomo was so beroemd dat ’n koningin van die welgestelde koninkryk van Skeba van hom gehoor het, hom besoek het en beïndruk was (1 Kon. 10:1, 2). Dit dui op een moontlike betekenis van Salomo se verwysing na “vrou, ja vroue”. Hy het dalk gepraat van die uitsonderlike vroue wat hy in sy hof ontmoet het gedurende al die jare toe hy nog God se guns geniet het.