Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dien Jehovah met alle erns

Dien Jehovah met alle erns

Dien Jehovah met alle erns

“Alles wat van ernstige belang is, . . . hou aan om hierdie dinge te bedink.”—FIL. 4:8.

1, 2. Waarom het baie mense in hierdie wêreld ’n ligsinnige beskouing van die lewe, en watter vrae laat dit ontstaan?

 ONS lewe in ’n wêreld wat van die moeilikste en tragiesste tye in die mensegeskiedenis ondervind. Vir mense wat nie ’n goeie geestelike grondslag het nie, kan dit byna onmoontlik wees om hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, die hoof te bied (2 Tim. 3:1-5). Net hulle eie vasberadenheid kry hulle deur elke dag—met beperkte welslae. In ’n poging om die lewe nie te ernstig op te neem nie, wend baie mense hulle tot die voortdurende stroom genietinge wat die vermaaklikheidswêreld bied.

2 Om die druk van die lewe die hoof te bied, stel mense dikwels die begeerte na genot eerste. As Christene nie versigtig is nie, kan hulle maklik in hierdie lewenswyse vasgevang word. Hoe kan ons dit vermy? Beteken dit dat ons die hele tyd ernstig moet wees? Hoe vind ons die regte balans tussen genot en verantwoordelikhede? Watter skriftuurlike beginsels moet ons rig sodat ons ons nie te ernstig opneem nie hoewel ons nugter oor die lewe dink?

Hoe om ernstig te wees in ’n wêreld wat genot liefhet

3, 4. Hoe help die Skrif ons om te besef dat dit belangrik is om ernstig te wees?

3 Dit is onnodig om te sê dat hierdie wêreld te veel waarde aan ‘liefde vir genot’ heg (2 Tim. 3:4). Die klem wat dit daarop lê om pret te hê, hou ’n bedreiging vir ons geestelikheid in (Spr. 21:17). Die apostel Paulus se briewe aan Timoteus en Titus sluit dus met goeie rede ook raad in oor ernstigheid. As ons hierdie raad toepas, sal dit ons help om die wêreld se ligsinnige beskouing van die lewe te weerstaan.Lees 1 Timoteus 2:1, 2; Titus 2:2-8.

4 Salomo het eeue vroeër geskryf oor hoe voordelig dit vir ’n mens is om jou soms genot te ontsê ten einde die lewe ernstig op te neem (Pred. 3:4; 7:2-4). Omdat die lewe so kort is, moet ons ons inderdaad ‘kragtig inspan’ om redding te verkry (Luk. 13:24). Met dié doel voor oë moet ons aanhou om alles te bedink wat van “ernstige belang” is (Fil. 4:8, 9). Dit beteken dat ons noukeurig moet aandag skenk aan elke faset van ons Christelike lewe.

5. Wat is een aspek van die lewe wat ons ernstig moet opneem?

5 In navolging van Jehovah en Jesus neem Christene byvoorbeeld hulle verantwoordelikheid om hard te werk, ernstig op (Joh. 5:17). Gevolglik word hulle dikwels geprys vir hulle goeie werketiek en betroubaarheid. Veral gesinshoofde is daaroor besorg om hard te werk om hulle gesin te onderhou. As iemand nie materieel vir sy huisgesin sorg nie, kom dit immers daarop neer dat hy “Jehovah verloën” het!—1 Tim. 5:8, vtn. in NW.

’n Ernstige maar vreugdevolle beskouing van ons aanbidding

6. Hoe weet ons dat ons ons aanbidding van Jehovah ernstig moet opneem?

6 Jehovah het ware aanbidding nog nooit lig opgeneem nie. Byvoorbeeld, onder die Mosaïese Wet het die Israeliete ernstige gevolge gely wanneer hulle afgewyk het van hulle aanbidding van Jehovah (Jos. 23:12, 13). In die eerste eeu HJ moes Christus se volgelinge hard stry om ware aanbidding vry van verdorwe leringe en gesindhede te hou (2 Joh. 7-11; Op. 2:14-16). Vandag neem ware Christene nog steeds hulle aanbidding ernstig op.—1 Tim. 6:20.

7. Hoe het Paulus vir sy bediening voorberei?

7 Ons veldbediening is ’n bron van vreugde. Maar om ons vreugde in die bediening te behou, moet ons ernstig daaroor nadink en daarvoor voorberei. Paulus het verduidelik hoe hy die mense wat hy onderrig het, in ag geneem het. Hy het geskryf: “Ek het alles vir alle soorte mense geword om op elke moontlike manier sommige te red. Maar ek doen alles ter wille van die goeie nuus, sodat ek met ander ’n deelgenoot daarvan kan word” (1 Kor. 9:22, 23). Paulus het dit geniet om mense geestelik te help, en hy het ernstig nagedink oor hoe hy in die spesifieke behoeftes van sy toehoorders sal voorsien. Hy kon hulle dus bemoedig en aanspoor om Jehovah te aanbid.

8. (a) Wat moet ons gesindheid wees teenoor die mense wat ons in ons bediening onderrig? (b) Hoe kan dit tot ’n vreugdevolle bediening bydra as ons ’n Bybelstudie hou?

8 Hoe ernstig het Paulus sy bediening opgeneem? Hy was bereid om Jehovah sowel as dié wat na die boodskap van waarheid sou luister, ‘as ’n slaaf te dien’ (Rom. 12:11; 1 Kor. 9:19). Wanneer ons die verantwoordelikheid aanvaar om mense God se Woord te leer—hetsy tydens ’n tuisbybelstudie, ’n Christelike vergadering of ’n aand vir Gesinsaanbidding—besef ons dan watter verantwoordelikheid ons het teenoor dié wat ons onderrig? Miskien voel ons dat dit vir ons ’n te groot las is om ’n gereelde Bybelstudie te hou. Toegegee, dit beteken gewoonlik dat ons tyd wat ons aan persoonlike strewes sou bestee het, moet gebruik om ander te help. Maar strook dit nie met die gees van Jesus se woorde dat ‘dit groter geluk verskaf om te gee as om te ontvang’ nie? (Hand. 20:35). As ons mense van die weg tot redding leer, sal dit ons groter geluk verskaf as enige ander bedrywigheid.

9, 10. (a) Beteken die feit dat ons ernstig moet wees, dat ons nie kan ontspan en ’n aangename tyd saam met mense kan deurbring nie? Verduidelik. (b) Wat sal ’n ouer man help om aanmoedigend en toeganklik te wees?

9 Om ernstig te wees, beteken nie dat ons nie ’n ontspanne en aangename tyd saam met mense kan deurbring nie. Jesus het die volmaakte voorbeeld gestel deur nie net tyd in te ruim om ander te onderrig nie, maar ook om te ontspan en sinvolle verhoudings met ander aan te knoop (Luk. 5:27-29; Joh. 12:1, 2). Om ernstig te wees, beteken ook nie dat ons altyd streng moet voorkom nie. As Jesus ’n streng, te ernstige geaardheid gehad het, sou mense beslis nie tot hom aangetrokke gevoel het nie. Selfs kinders was op hulle gemak by hom (Mark. 10:13-16). Hoe kan ons Jesus se gebalanseerde handelswyse navolg?

10 ’n Broer het van ’n ouer man gesê: “Hy verwag baie van homself, maar verwag nooit volmaaktheid van ander nie.” Kan dit van jou gesê word? Dit is gepas om redelike verwagtinge van ander te koester. Byvoorbeeld, kinders reageer goed wanneer ouers redelike doelwitte stel en die kinders help om dit te bereik. Net so kan ouer manne persone in die gemeente aanmoedig om geestelik te groei en vir hulle spesifieke wenke gee oor hoe om dit te doen. En wanneer ’n ouer man ’n gebalanseerde beskouing van homself het, sal hy hartlik en verkwikkend wees (Rom. 12:3). ’n Suster het gesê: “Ek wil nie hê dat ’n ouer man alles as ’n grap moet beskou nie. Maar as hy die hele tyd ernstig is, is dit moeilik om hom te nader.” Volgens ’n ander suster kan party ouer manne “uiters intimiderend wees omdat hulle ’n baie ernstige geaardheid het”. Ouer manne moet nooit afbreuk doen aan die vreugdevolle beskouing wat alle gelowiges van hulle aanbidding van Jehovah, “die gelukkige God”, moet hê nie.—1 Tim. 1:11.

Aanvaar verantwoordelikheid in die gemeente

11. Wat beteken dit om in die gemeente ‘na verantwoordelikheid te streef’?

11 Toe Paulus die mans in die gemeente aangespoor het om daarna te streef om vir groter verantwoordelikheid te kwalifiseer, was dit nie sy bedoeling om enigiemand aan te spoor om persoonlike ambisie te verwesenlik nie. Hy het eerder geskryf: “As ’n man na ’n opsienersamp streef, begeer hy ’n voortreflike werk” (1 Tim. 3:1, 4). Om ‘na verantwoordelikheid te streef’, vereis dat Christenmans ’n sterk begeerte aankweek om hulle in te span om die nodige geestelike eienskappe te verkry om hulle broers te dien. As ’n broer ten minste ’n jaar lank gedoop is en in redelike mate voldoen aan die skriftuurlike vereistes vir bedieningsknegte wat in 1 Timoteus 3:8-13 uiteengesit is, kan hy vir aanstelling aanbeveel word. Let daarop dat vers 8 spesifiek sê: “Net so moet bedieningsknegte ernstig wees.”

12, 13. Meld maniere waarop jong broers na verantwoordelikheid kan streef.

12 Is jy ’n ernstige gedoopte broer in jou laat tienerjare? Daar is verskeie maniere waarop jy na verantwoordelikheid kan streef. Een is deur jou deelname aan die veldbediening te verbeter. Is jy die soort mens wat dit geniet om saam met broers van alle ouderdomme velddiens te doen? Probeer jy iemand vind met wie jy die Bybel kan studeer? As jy ’n Bybelstudie hou volgens die wenke wat by Christelike vergaderinge gegee word, sal jy jou onderrigvermoë verbeter. En jy sal leer om empatie te hê vir die een wat Jehovah se weë leer. Wanneer jou student begin besef dat hy veranderinge moet aanbring, sal jy leer om hom—geduldig en taktvol—te help om Bybelbeginsels toe te pas.

13 Jong broers, julle kan julle tot die beskikking van die bejaardes in die gemeente stel en aanbied om hulle op enige moontlike manier te help. Julle kan ook belangstelling toon in die voorkoms van die Koninkryksaal en help om dit skoon en netjies te hou. Wanneer julle aanbied om op enige moontlike manier te help, toon julle gewillige gees dat julle julle bediening ernstig opneem. Soos Timoteus kan julle leer om opreg na die behoeftes van die gemeente om te sien.—Lees Filippense 2:19-22.

14. Hoe kan jong broers “op die proef gestel word wat hulle geskiktheid betref” om in die gemeente te dien?

14 Ouer manne, wees bewus daarvan om gebruik te maak van die dienste van jong broers wat hard probeer om te “vlug . . . vir die begeertes wat eie is aan die jeug” en wat na “regverdigheid, geloof, liefde, vrede” sowel as ander ernstige eienskappe streef (2 Tim. 2:22). As hulle take in die gemeente gegee word, kan hulle “op die proef gestel word wat hulle geskiktheid betref” om verantwoordelikheid te dra, sodat hulle “vooruitgang vir almal duidelik kan wees”.—1 Tim. 3:10; 4:15.

Erns in die gemeente en die gesin

15. Hoe kan ons volgens 1 Timoteus 5:1, 2 erns aan die dag lê in ons beskouing van ander?

15 Om ernstig te wees, sluit in dat ons ons broers en susters met agting behandel. In sy raad aan Timoteus het Paulus getoon dat ons respek vir ander moet hê. (Lees 1 Timoteus 5:1, 2.) Dit is veral belangrik in ons handelinge met persone van die teenoorgestelde geslag. Job se voorbeeld van agting vir vroue, veral vir sy huweliksmaat, is navolgenswaardig. Hy het ’n doelbewuste poging aangewend om nie met wellus na ’n ander vrou te kyk nie (Job 31:1). As ons ons broers en susters ernstig opneem, sal ons nie met hulle flankeer of enigiets doen wat ’n broer of suster ongemaklik sal laat voel in ons teenwoordigheid nie. Dit is veral belangrik om agting aan ander te betoon wanneer twee mense in ’n romantiese verhouding is met die oog op die huwelik. ’n Ernstige Christen sal nooit met die gevoelens van iemand van die teenoorgestelde geslag speel nie.—Spr. 12:22.

16. Vergelyk die beskouing wat party in die wêreld van die rol van die man en vader het, met hoe die Bybel sy rol beskryf.

16 Ons moet ook sorg dat ons ’n ernstige beskouing behou van ons godgegewe rol in die gesin. Satan se wêreld maak ’n bespotting van die rol van die man en vader. Die vermaaklikheidsbedryf geniet dit om die gesinshoof ’n voorwerp van bespotting en minagting te maak. Maar die Skrif gee die man groot verantwoordelikheid en stel hom aan as “die hoof van sy vrou”.—Ef. 5:23; 1 Kor. 11:3.

17. Verduidelik hoe ons deelname aan gesinsaanbidding kan toon dat ons ons verantwoordelikhede ernstig opneem.

17 ’n Man sorg dalk materieel vir sy gesin. Maar as hy nie geestelike leiding voorsien nie, sal hy ’n gebrek aan onderskeidingsvermoë en wysheid openbaar (Deut. 6:6, 7). Gevolglik sê 1 Timoteus 3:4 dat jy, as jy ’n gesinshoof is en na bykomende voorregte in die gemeente streef, ’n man moet wees wat “aan sy eie huisgesin goeie leiding gee, wat kinders met alle erns in onderworpenheid het”. In hierdie verband moet jy jou afvra: ‘Sit ek gereeld tyd opsy vir gesinsaanbidding in my huis?’ Party Christenvrouens moet hulle man feitlik smeek om die leiding in geestelike sake te neem. Elke man moet sy beskouing van hierdie verantwoordelikheid ernstig ondersoek. ’n Christenvrou moet natuurlik die reëling vir Gesinsaanbidding ondersteun en met haar man saamwerk om ’n sukses daarvan te maak.

18. Hoe kan kinders leer om ernstig te wees?

18 Kinders word ook aangespoor om die lewe ernstig op te neem (Pred. 12:1). Dit kan geen kwaad doen as jong kinders leer om hard te werk en takies in die huis te verrig wat redelik vir hulle ouderdom en vermoëns is nie (Klaagl. 3:27). Toe koning Dawid nog ’n jong seun was, het hy geleer om ’n goeie herder te wees. Hy het ook geleer om ’n musikant en ’n komponis te wees—vaardighede wat daartoe gelei het dat hy voor die heerser van Israel gedien het (1 Sam. 16:11, 12, 18-21). As ’n seun het Dawid ongetwyfeld geweet hoe om vrolik te wees, maar hy het ook nuttige vaardighede aangeleer wat hy later gebruik het om Jehovah te loof. Sy vaardighede as ’n herder het hom gehelp om die nasie Israel geduldig te lei. Jongmense, hoeveel nuttige vaardighede leer julle aan—vaardighede wat julle sal help om julle Skepper te dien en julle vir toekomstige verantwoordelikhede voor te berei?

Behou ’n gebalanseerde beskouing

19, 20. Watter gebalanseerde gesindheid teenoor jouself en jou aanbidding is jy vasbeslote om te behou?

19 Ons almal kan daarna streef om ’n gebalanseerde beskouing van onsself te behou—om onsself nie te ernstig op te neem nie. Ons moenie “alte regverdig” word nie (Pred. 7:16). ’n Bietjie lughartigheid kan spannende oomblikke verlig, hetsy in die huis, by die werk of in ons handelinge met ons Christenbroers en -susters. Gesinslede moet sorg dat hulle nie oorkrities is nie sodat hulle nie die veilige hawe van vrede wat ’n huis behoort te wees, bederf nie. In die gemeente kan almal leer om saam te lag en mekaar se geselskap te geniet en om hulle gesprekke en manier van onderrigting opbouend en positief te hou.—2 Kor. 13:10; Ef. 4:29.

20 Ons lewe in ’n wêreld wat nie Jehovah of sy wette ernstig opneem nie. Daarenteen is Jehovah se volk baie besorg oor hulle gehoorsaamheid en lojaliteit aan hulle God. Wat ’n genot is dit tog om deel te wees van so ’n groot groep mense wat Jehovah “met alle erns” aanbid! Mag ons vasbeslote wees om ’n ernstige beskouing van ons lewe en aanbidding te behou.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom moet ons die wêreld se ligsinnige beskouing van die lewe weerstaan?

• Hoe kan ons vreugdevol en tog ernstig oor ons bediening wees?

• Hoe toon ons beskouing van die aanvaarding van verantwoordelikheid of ons ernstig is of nie?

• Verduidelik waarom dit ’n ernstige saak is om ons broers en gesinslede met agting te behandel.

[Studievrae]

[Prente op bladsy 12]

’n Man moet materieel sowel as geestelik vir sy gesin sorg