Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek het talle goeie dinge gevind

Ek het talle goeie dinge gevind

Ek het talle goeie dinge gevind

Soos vertel deur Arthur Bonno

DIT was 1951. Ek en my vrou, Edith, was by ’n streekbyeenkoms toe ons die aankondiging hoor dat daar ’n vergadering sal wees vir diegene wat in sendingdiens belangstel.

“Kom ons gaan luister!” het ek uitgeroep.

“Art, dis nie vir ons nie!” het Edith gesê.

“Kom, Edie, ons sal net luister.”

Ná die vergadering is aansoekvorms vir die Gileadskool uitgedeel.

“Kom ons vul dit in”, het ek gesê.

“Maar, Art, wat van ons families?”

Ongeveer ’n jaar en ’n half ná daardie streekbyeenkoms het ons die Gileadskool bygewoon en is ons na Ecuador, Suid-Amerika, gestuur.

Soos jy kan aflei uit die gesprek wat ek en my vrou by daardie byeenkoms gehad het, het ek nogal ’n sterk persoonlikheid en is ek ’n redelik vasberade persoon. Maar Edith is sagmoedig en beskeie. Sy het grootgeword in die dorpie Elizabeth, Pennsilvanië, VSA, en het nooit baie ver van die huis af gereis of ’n buitelander ontmoet nie. Dit was vir haar moeilik om van haar familie afskeid te neem. Sy het nietemin die toewysing om in ’n ander land te dien, heelhartig aanvaar. Ons het in 1954 in Ecuador aangekom, en ons dien nou nog as sendelinge in hierdie land. Gedurende ons jare hier het ons talle goeie dinge gevind. Wil jy graag weet wat party hiervan is?

Aangename herinneringe

Ons eerste toewysing was in die hoofstad, Quito, sowat 2 850 meter hoog in die Andesgebergte. Dit was twee dae per trein en vragmotor van die kusstad Guayaquil af—’n reis wat vandag net 30 minute per vliegtuig neem! Ons het vier onvergeetlike jare in Quito gedien. Toe, in 1958, het nog iets goeds gebeur: Ons is genooi om in die kringwerk te dien.

Daar was destyds net twee klein kringe in die hele land. Ons het dus nie net gemeentes besoek nie, maar het ook baie weke gedurende die jaar in Indiaandorpies gepreek waar daar geen Getuies was nie. Die huisvesting in hierdie pueblo’s het gewoonlik bestaan uit ’n klein, vensterlose kamertjie met ’n bed en niks anders nie. Ons het ’n houtkis by ons gehad waarin daar ’n paraffienstofie, ’n pan, borde, ’n waskom, lakens, ’n muskietnet, klere, ou koerante en ’n paar ander artikels was. Ons het die koerante gebruik om die gate in die mure toe te stop sodat die rotte nie so maklik kon inkom nie.

Hoewel hierdie kamers donker en verwaarloos was, het ons aangename herinneringe aan die gesprekke wat ons saans gehad het terwyl ons op die bed gesit en die kossies geëet het wat ons op ons paraffienstofie gaargemaak het. Aangesien ek in my voortvarendheid dikwels gepraat het voordat ek gedink het, het my vrou soms hierdie kalm oomblikke gebruik om taktvolle maniere voor te stel waarop ek my beter kan uitdruk teenoor die broers wat ons besoek. Ek het na haar geluister, en my besoeke het bemoedigender geword. En wanneer ek onnadenkend sleg van iemand gepraat het, het sy geweier om saam te praat. So het ek geleer om ’n positiewe beskouing van my broers te behou. Maar ons gesprekke saans het meestal gehandel oor gedagtes wat ons in artikels in Die Wagtoring gelees het en oor ons velddiensondervindinge van daardie dag. En watter opwindende ondervindinge het ons tog gehad!

Hoe ons Carlos gevind het

In die dorp Jipijapa, in die weste van Ecuador, is ons die naam van ’n belangstellende gegee—net die naam, Carlos Mejía, maar geen adres nie. Toe ons daardie oggend uit ons gehuurde kamer loop, het ons nie geweet waar om na hom te begin soek nie, en daarom het ons sommer ’n rigting ingeslaan. Weens die swaar reën die vorige nag moes ons om baie modderpoele in die grondpaaie loop. Ek het voor my vrou geloop toe ek skielik ’n benoude uitroep agter my hoor: “Art!” Ek het omgedraai en Edie kniediep in swart modder sien staan. Dit was so snaaks dat ek sou gelag het as dit nie vir haar trane was nie.

Ek het haar uit die modder gehelp, maar haar skoene het agtergebly. Ek het vir ’n seun en meisie wat die petalje dopgehou het, gesê: “Ek sal julle betaal as julle daardie skoene uit die modder haal.” Hulle het die skoene in ’n kits uitgehaal, maar Edie moes nog haar bene iewers was. Die kinders se ma het gesien wat gebeur en het ons na haar huis genooi, waar sy my vrou gehelp het om haar bene te was terwyl die kinders die vuil skoene skoongemaak het. Voordat ons daar weg is, het iets goeds gebeur. Ek het die vrou gevra of sy weet waar ons ’n man met die naam Carlos Mejía kan vind. Met ’n verbaasde uitdrukking op haar gesig het sy gesê: “Dit is my man.” Later is ’n Bybelstudie begin, en al die lede van daardie gesin is uiteindelik gedoop. Jare later het Carlos, sy vrou en twee van hulle kinders spesiale pioniers geword.

Uitdagende reise—hartverblydende gasvryheid

Dit was ’n uitdaging om in die kringwerk te reis. Ons het gebruik gemaak van busse, treine, vragmotors, boomkano’s en klein vliegtuie. Eenkeer het John McLenachan, wat as die streekopsiener gedien het, en sy vrou, Dorothy, saam met ons op ’n predikingstog na vissersdorpies naby die grens van Colombia gegaan. Ons het in ’n boomkano met ’n buiteboordmotor gereis. Haaie so groot soos die kano het langs ons geswem! Selfs die ervare navigator by ons het bekommerd geword oor die groot haaie en het gou die kano nader aan die kus gestuur.

Maar die uitdagings waarvoor ons in die kringwerk te staan gekom het, was beslis die moeite werd. Ons het wonderlike, gasvrye broers leer ken. Die gesinne by wie ons gebly het, het dikwels daarop aangedring dat ons drie keer per dag eet, terwyl hulle net een keer geëet het. Of hulle het ons in die enigste bed in die huis laat slaap, terwyl hulle op die vloer geslaap het. My vrou het baie maal gesê: “Hierdie dierbare broers en susters help my om te sien met hoe min ons werklik kan klaarkom.”

‘Ons wil nie voorregte van die hand wys nie’

In 1960 het nog iets goeds met ons gebeur—ons is genooi om by die takkantoor in Guayaquil te dien. Terwyl ek kantoorwerk gedoen het, het Edith saam met ’n gemeente naby die takkantoor velddiens gedoen. Ek het my nooit as ’n kantoormens beskou nie en het ietwat onbekwaam gevoel, maar soos Hebreërs 13:21 toon, rus God ons toe met ‘alle goeie dinge om sy wil te doen’. Twee jaar later is ek genooi om ’n tien maande lange Gileadkursus by te woon wat by Bethel in Brooklyn, New York, gehou sou word. Daar is destyds van die vrouens verwag om in hulle toewysing te bly. ’n Brief vir my vrou het van Brooklyn af gekom. Sy is gevra om sorgvuldig te oorweeg of sy bereid is om haar man se tien maande lange afwesigheid te aanvaar.

Edith het in antwoord hierop geskryf: “Ek is seker dat dit nie die maklikste ding in die wêreld sal wees nie, maar ons weet dat Jehovah ons beslis sal help om enige probleme die hoof te bied. . . . Ons wil nie enige voorregte wat aan ons voorgehou word of enige geleentheid om ons verantwoordelikhede op bekwamer wyse na te kom, van die hand wys nie.” Terwyl ek in Brooklyn was, het ek elke week ’n brief van my vrou ontvang.

Ons dien saam met getroue medegelowiges

In 1966 het ek en Edith weens gesondheidsprobleme na Quito teruggekeer, waar ons ons sendingdiens hervat het en saam met die plaaslike broers en susters gedien het. Hulle was beslis voortreflike handhawers van onkreukbaarheid!

’n Getroue suster het ’n ongelowige man gehad, wat haar dikwels geslaan het. Eendag het iemand ons sesuur in die oggend gebel om te sê dat sy weer geslaan is. Ek het my na die suster se huis gehaas. Toe ek haar sien, kon ek skaars my oë glo. Sy het in die bed gelê, pimpel en pers geslaan. Haar man het haar met ’n besemstok geslaan totdat dit middeldeur gebreek het. Later daardie dag het ek hom tuis gekry en vir hom gesê dat hy lafhartig opgetree het. Hy het oor en oor verskoning gevra.

In die vroeë 1970’s het my gesondheid verbeter en het ons weer kringwerk begin doen. Die stad Ibarra was deel van ons kring. Toe ons hierdie stad in die laat 1950’s besoek het, was daar net twee Getuies—’n sendeling en ’n plaaslike broer. Ons was dus gretig om al die nuwes in die gemeente te ontmoet.

Tydens ons eerste vergadering daar het broer Rodrigo Vaca op die verhoog gestaan en ’n deel behartig wat gehoordeelname ingesluit het. Elke keer wanneer hy ’n vraag gevra het, het dié in die gehoor “Yo, yo!” (“Ek, ek!”) uitgeroep in plaas daarvan om hulle hand op te steek. Ek en Edith het mekaar verbaas aangekyk. ‘Wat gaan hier aan?’ het ek gewonder. Later het ons uitgevind dat broer Vaca blind is, maar dat hy die stemme van die gemeentelede herken wanneer hulle uitroep. Hy is ’n herder wat sy skape werklik ken! Dit het ons laat dink aan Jesus se woorde in Johannes 10:3, 4, 14 oor die feit dat die Goeie Herder en die skape mekaar baie goed ken. Vandag is daar ses Spaanse gemeentes, een Quechua-gemeente en een gebaretaalgemeente in Ibarra. Broer Vaca dien nog steeds getrou as ’n ouer man en spesiale pionier. a

Dankbaar vir Jehovah se goedheid

In 1974 het ons nog ’n blyk van Jehovah se goedheid ervaar toe ons genooi is om na Bethel terug te keer, waar ek weer gevra is om kantoorwerk te doen en later as ’n lid van die Takkomitee aangestel is. Edith het eers in die kombuis gewerk, en later het sy in die kantoor begin werk, waar sy vandag nog as ’n posklerk dien.

Deur die jare heen het ons die vreugde gesmaak om honderde Gileadopgeleide sendelinge te verwelkom, wie se geestelike volwassenheid en ywer hulle toegewese gemeentes tot voordeel strek. Ons word ook aangemoedig deur die duisende broers en susters wat uit meer as 30 lande gekom het om hier te dien. Hoe beïndruk hulle selfopofferende gees ons tog! Party het huise en ondernemings verkoop om hier te kom dien op plekke waar Koninkryksverkondigers dringend nodig is. Hulle het voertuie gekoop om in afgeleë gebiede te preek, nuwe gemeentes gestig en Koninkryksale help bou. Talle ongetroude susters het van ander lande gekom om hier te pionier—en watter ywerige en bekwame werkers is hulle tog!

Ja, ek het gedurende my jare van diens aan God talle goeie dinge gevind. Die belangrikste hiervan is my verhouding met Jehovah. Ek is ook dankbaar dat Jehovah my “’n helper” gegee het (Gen. 2:18). Wanneer ek terugkyk oor ons 69 jaar as man en vrou, dink ek aan Spreuke 18:22, wat sê: “Het iemand ’n goeie vrou gevind? Hy het iets goeds gevind.” Dit was nog altyd ’n genot om Edith as metgesel te hê. Sy het my al op soveel maniere gehelp. Sy was ook ’n liefdevolle dogter vir haar ma. Vandat ons in Ecuador aangekom het, het my vrou elke week vir haar ma geskryf, tot in 1990 toe haar ma op die ouderdom van 97 gesterf het.

Ek is nou 90, en Edith is 89. Ons koester die vreugde wat ons gesmaak het om sowat 70 mense te help om Jehovah te leer ken. Ons is beslis bly dat ons 60 jaar gelede daardie aansoekvorms vir die Gileadskool ingevul het. Daardie besluit het tot ’n lewe vol talle goeie dinge gelei.

[Voetnoot]

a Die lewensverhaal van broer Vaca het in die Ontwaak! van 8 September 1985 verskyn.

[Prent op bladsy 29]

In New York se Yankee-stadion saam met medesendelinge van ons Gileadklas, 1958

[Prent op bladsy 31]

Ons besoek ’n Getuiegesin gedurende ’n kringbesoek, 1959

[Prent op bladsy 32]

By die takkantoor in Ecuador, 2002