Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om eerlik te bly in ’n oneerlike wêreld

Hoe om eerlik te bly in ’n oneerlike wêreld

Hoe om eerlik te bly in ’n oneerlike wêreld

SOOS die lug wat ons inasem, is oneerlikheid oral. Mense lieg, laat ander te veel betaal, steel, betaal nie hulle skuld nie en spog oor oneerlike sakegebruike. Omdat ons tussen hierdie mense lewe, kom ons dikwels te staan voor situasies wat ons vasbeslotenheid om eerlik te wees, op die proef stel. Hoe kan ons aanhou om die neiging tot oneerlikheid te weerstaan? Kom ons bespreek drie sleutelfaktore wat ons sal help om dit te doen. Dit is vrees vir Jehovah, ’n goeie gewete en ’n gevoel van tevredenheid.

’n Gesonde vrees vir Jehovah

Die profeet Jesaja het geskryf: “Jehovah is ons Regter, Jehovah is ons Wetgewer, Jehovah is ons Koning” (Jes. 33:22). As ons Jehovah se posisie van gesag erken, lei dit tot godvrugtige vrees—’n dryfkrag agter ons vasbeslotenheid om die gees van oneerlikheid te weerstaan. Spreuke 16:6 sê: “In die vrees van Jehovah wyk ’n mens af van die kwaad.” Dit is nie ’n morbiede angs vir ’n wraaksugtige God nie, maar ’n heilsame vrees om ons hemelse Vader, wat baie in ons welsyn belangstel, te mishaag.—1 Pet. 3:12.

’n Werklike ondervinding lig die goeie uitwerking van hierdie heilsame vrees toe. Ricardo en sy vrou, Fernanda, het ’n bedrag gelykstaande aan byna vyfduisend rand uit hulle bankrekening getrek. a Fernanda het die klomp note in haar handsak gesit sonder om dit te tel. Toe hulle by die huis aankom nadat hulle ’n paar rekeninge betaal het, was hulle verbaas om byna dieselfde hoeveelheid geld wat hulle getrek het, nog in Fernanda se handsak te vind. “Die bankkassiere het ons sekerlik te veel geld gegee”, het hulle aangeneem. Hulle het eers in die versoeking gekom om die geld te hou, aangesien hulle nog baie onbetaalde rekeninge gehad het. Ricardo verduidelik: “Ons het Jehovah vir krag gevra om die geld terug te gee. Ons begeerte om hom te behaag in antwoord op sy versoek in Spreuke 27:11, het ons beweeg om die geld terug te gee.”

’n Bybelopgeleide gewete

Ons kan ’n gevoelige gewete aankweek deur die Bybel te bestudeer en te probeer toepas wat ons leer. Sodoende sal ‘die woord van God, wat lewend is en krag uitoefen’, nie net ons verstand bereik nie, maar ook ons hart. Dit sal ons beweeg om “ons in alles eerlik [te] gedra”.—Heb. 4:12; 13:18.

Beskou João se geval. Hy het groot skuld gemaak, ’n bedrag gelykstaande aan 35 duisend rand. Toe het hy na ’n ander dorp getrek sonder om sy skuld te betaal. Agt jaar later het João die waarheid geleer, en sy Bybelopgeleide gewete het hom beweeg om met sy skuldeiser in aanraking te kom en hierdie skuld af te betaal! Omdat João ’n vrou en vier kinders met ’n klein inkomste moet onderhou, het die skuldeiser ingestem dat hy die bedrag in maandelikse paaiemente kan terugbetaal.

’n Gevoel van tevredenheid

Die apostel Paulus het geskryf: “Dit is . . . ’n middel tot groot gewin, hierdie godvrugtige toegewydheid tesame met vergenoegdheid. . . . As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees” (1 Tim. 6:6-8). As ons hierdie wyse raad ter harte neem, sal dit ons help om nie verstrik te raak in gierige, twyfelagtige sakegebruike of in onrealistiese kitsrykwordskemas nie (Spr. 28:20). As ons Paulus se raad volg, sal dit ons ook help om God se Koninkryk eerste te stel, in die vertroue dat daar in ons basiese benodigdhede voorsien sal word.—Matt. 6:25-34.

Maar weens “die bedrieglike krag van rykdom” moet ons nooit die gevaar om deur gierigheid en hebsug oorweldig te word, onderskat nie (Matt. 13:22). Dink aan die geval van die man Agan. Hy het gesien hoe die Israeliete op wonderdadige wyse deur die Jordaanrivier trek. Maar omdat hy deur gierigheid oorweldig is, het hy nie die begeerte weerstaan om van die silwer en goud asook ’n duur kledingstuk uit die buit van die stad Jerigo te steel nie. Hierdie daad het hom sy lewe gekos (Jos. 7:1, 20-26). Geen wonder dat Jesus eeue later gewaarsku het nie: “Hou julle oë oop en waak teen elke soort hebsug”!—Luk. 12:15.

Wees eerlik by die werk

Kom ons bespreek nou ’n paar situasies wat ons vasbeslotenheid om in alles eerlik te wees, op die proef kan stel. Om eerlik te wees by ons werk, sluit in dat ons “nie diefstal pleeg nie”—selfs al is dit die sogenaamde norm (Tit. 2:9, 10). Jurandir, wat by ’n staatsinstelling werk, was eerlik wanneer hy sy reiskoste gerapporteer het. Maar sy kollegas het meer geëis as wat hulle bestee het. Hulle kon dit doen omdat die afdelingshoof die oneerlike werkers in hulle kwaad gesterk het. Trouens, hierdie man het Jurandir tereggewys omdat hy eerlik is en het opgehou om hom op sakereise te stuur. Later is die instelling egter geouditeer, en Jurandir is vir sy eerlikheid geprys. Hy het ook bevordering gekry.

André, ’n verkoopsman, is deur sy werkgewer aangesê om klante se rekening twee keer vir dieselfde diens te debiteer. Ons broer het tot Jehovah gebid vir moed om by Bybelbeginsels te bly (Ps. 145:18-20). Hy het ook aan sy werkgewer probeer verduidelik waarom hy nie sy instruksies kan volg nie—maar tevergeefs. André het dus besluit om uit hierdie goed betaalde werk te bedank. Maar omtrent ’n jaar later het sy voormalige werkgewer hom versoek om weer vir hom te kom werk en hom verseker dat die klante nie meer te veel gevra word nie. André is tot bestuurder bevorder.

Betaal skuld terug

Die apostel Paulus het Christene gemaan: “Julle moet niemand enigiets verskuldig wees nie” (Rom. 13:8). Ons probeer dit dalk regverdig dat ons nie skuld hoef terug te betaal nie, omdat ons meen dat die skuldeiser ryk is en nie die geld nodig het nie. Die Bybel waarsku egter: “Die goddelose leen en betaal nie terug nie.”—Ps. 37:21.

Maar sê nou “onvoorsiene gebeurtenisse” verhinder ons om ons skuld terug te betaal? (Pred. 9:11). Francisco het die ekwivalent van 49 duisend rand by Alfredo geleen om sy huislening af te betaal. Maar weens finansiële terugslae kon Francisco nie sy skuld op die vasgestelde tyd terugbetaal nie. Hy het die inisiatief geneem om die saak met Alfredo te gaan bespreek, en Alfredo het ingestem dat hy dit in paaiemente kan afbetaal.

Moenie ’n valse indruk skep nie

Dink aan die slegte voorbeeld van Ananias en Saffira, ’n egpaar in die eerste-eeuse Christengemeente. Nadat hulle ’n stuk grond verkoop het, het hulle net ’n deel van die opbrengs na die apostels toe gebring en beweer dat dit die hele verkoopprys is. Hulle wou ander beïndruk met hulle sogenaamde groot vrygewigheid. Maar onder inspirasie van God se heilige gees het die apostel Petrus hulle bedrog blootgelê, en Jehovah het hulle om die lewe gebring.—Hand. 5:1-11.

In teenstelling met die oneerlike Ananias en Saffira was die Bybelskrywers openhartig en eerlik. Moses het eerlik vertel van die keer toe hy sy humeur verloor het, wat daartoe gelei het dat hy nie in die Beloofde Land kon ingaan nie (Num. 20:7-13). Jona het ook nie die swakhede verberg wat hy geopenbaar het voordat en nadat hy vir die Nineviete gepreek het nie. Hy het dit eerder opgeteken.—Jona 1:1-3; 4:1-3.

Moed is beslis nodig om die waarheid te praat selfs al kos dit jou iets, soos toegelig word deur wat met die 14-jarige Nathalia by die skool gebeur het. Sy het haar antwoorde op ’n eksamenvraestel hersien en opgemerk dat haar onderwyser een van die antwoorde reg gemerk het wat in werklikheid verkeerd was. Hoewel Nathalia geweet het dat dit haar punte sou benadeel, het sy nie gehuiwer om haar onderwyser daarvan te vertel nie. “My ouers het my altyd geleer dat ek eerlik moet wees as ek Jehovah wil behaag. My gewete sou my gepla het as ek nie vir my onderwyser vertel het nie”, het sy gesê. Die onderwyser het Nathalia se eerlikheid op prys gestel.

Eerlikheid—’n Eienskap wat Jehovah verheerlik

Giselle, ’n 17-jarige meisie, het ’n notebeurs met dokumente en die ekwivalent van R245 gevind. Sy het deur middel van die skoolbestuur reëlings getref om die notebeurs aan die eienaar terug te besorg. ’n Maand later het die onderhoof van die skool ’n brief aan die hele klas voorgelees wat Giselle geprys het vir haar eerlikheid en haar gesin lof toegeswaai het vir haar goeie opleiding en godsdiensopvoeding. Haar “goeie werke” het Jehovah verheerlik.—Matt. 5:14-16.

Dit verg inspanning om eerlik te wees terwyl ons tussen mense lewe wat ‘liefhebbers van hulleself, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig en dislojaal’ is (2 Tim. 3:2). Maar ’n gesonde vrees vir Jehovah, ’n Bybelopgeleide gewete en ’n gevoel van tevredenheid help ons om eerlik te bly in ’n oneerlike wêreld. Ons bou ook ’n al hoe hegter vriendskap met Jehovah op, wat ‘regverdig is en regverdige dade liefhet’.—Ps. 11:7.

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Prente op bladsy 7]

’n Gesonde vrees vir Jehovah maak ons meer vasbeslote om eerlik te wees

[Prent op bladsy 8]

Ons eerlikheid verheerlik Jehovah