Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onderskei jy die bewys van God se leiding?

Onderskei jy die bewys van God se leiding?

Onderskei jy die bewys van God se leiding?

NIE die Israeliete of die Egiptenaars het al ooit so iets gesien nie. Tydens die Israeliete se uittog uit Egipte het ’n wolkkolom naby hulle in die lug gehang, en dit het dag in en dag uit by hulle gebly. Snags het dit ’n vuurkolom geword. Hoe ontsagwekkend! Maar waar het dit vandaan gekom? Wat was die doel daarvan? En wat kan ons, sowat 3 500 jaar later, leer uit die manier waarop Israel “die vuur- en wolkkolom” beskou het?—Eks. 14:24.

God se Woord openbaar wat die bron en die doel van die kolom was en sê: “Jehovah het bedags in ’n wolkkolom voor hulle uit getrek om hulle op die pad te lei, en snags in ’n vuurkolom, om hulle lig te gee om bedags en snags te trek” (Eks. 13:21, 22). Jehovah God het die vuur- en wolkkolom gebruik om sy volk uit Egipte en deur die wildernis te lei. Hulle moes heeltyd gereed wees om te trek sodat hulle dit kon volg. Toe die Egiptiese leërmag wat hulle agternagesit het, op die punt gestaan het om God se volk aan te val, het die kolom tussen die twee groepe inbeweeg en die Israeliete beskerm (Eks. 14:19, 20). Hoewel die kolom nie die kortste pad aangedui het nie, moes die Israeliete dit volg as hulle by die Beloofde Land wou uitkom.

Die teenwoordigheid van die kolom het God se volk verseker dat Jehovah met hulle is. Dit het Jehovah verteenwoordig, en hy het soms daaruit gepraat (Num. 14:14; Ps. 99:7). Verder het die wolk Moses uitgewys as die een wat deur Jehovah aangestel is om die nasie te lei (Eks. 33:9). En die laaste opgetekende verskyning van die wolk het Jehovah se aanstelling van Josua as Moses se opvolger bevestig (Deut. 31:14, 15). Ja, die suksesvolle afloop van die uittog het daarvan afgehang dat die Israeliete die bewys van God se leiding onderskei en dit dan volg.

Hulle het die bewys uit die oog verloor

Toe die Israeliete hierdie kolom vir die eerste keer gesien het, het dit hulle ongetwyfeld met ontsag vervul. Maar ongelukkig het hierdie immerteenwoordige wonderwerk die Israeliete nie genoeg beïndruk om hulle blywende vertroue in Jehovah te gee nie. Hulle het God se leiding etlike kere bevraagteken. Toe die Egiptiese leër hulle agternagesit het, het hulle geen vertroue in Jehovah se reddingskrag getoon nie. Hulle het eerder God se kneg Moses daarvan beskuldig dat hy hulle na hulle dood gelei het (Eks. 14:10-12). Ná hulle verlossing deur die Rooisee het hulle teen Moses, Aäron en Jehovah gemurmureer weens die veronderstelde gebrek aan kos en water (Eks. 15:22-24; 16:1-3; 17:1-3, 7). En ’n paar weke later het hulle druk op Aäron uitgeoefen om ’n goue kalf te maak. Stel jou voor! In een deel van hulle kamp het die Israeliete die vuur- en wolkkolom gesien—die majestueuse bewys van die Een wat hulle uit Egipte gelei het—en nie ver daarvandaan nie het hulle ’n lewelose afgod begin aanbid en gesê: “Dit is jou God, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.” Dit was inderdaad “groot dade van minagting”!—Eks. 32:4; Neh. 9:18.

Israel se opstandige dade het skokkende minagting vir Jehovah se leiding geopenbaar. Die probleem het nie by hulle fisiese sig gelê nie, maar by hulle geestelike uitkyk. Hulle het die kolom gesien, maar het die betekenis daarvan uit die oog verloor. Hoewel hulle dade “die Heilige van Israel bedroef” het, het Jehovah uit barmhartigheid voortgegaan om deur middel van die kolom leiding te voorsien totdat Israel die Beloofde Land bereik het.—Ps. 78:40-42, 52-54; Neh. 9:19.

Sien die hedendaagse bewys van God se leiding

Ook in hedendaagse tye het Jehovah nooit versuim om sy volk van duidelike leiding te voorsien nie. Net soos hy nie verwag het dat die Israeliete hulle eie pad moet vind nie, word daar ook nie vandag van ons verwag om self die weg na die beloofde nuwe wêreld te vind nie. Jesus Christus is die aangestelde Leier van die gemeente (Matt. 23:10; Ef. 5:23). Hy het ’n mate van gesag oorgedra aan ’n ‘getroue slaaf’-klas wat uit getroue geesgesalfde Christene bestaan. Hierdie slaafklas stel dan weer opsieners in die Christengemeente aan.—Matt. 24:45-47; Tit. 1:5-9.

Hoe kan ons seker wees van die identiteit van hierdie ‘getroue slaaf’- of bestuurderklas? Let op hoe Jesus dit beskryf: “Wie is werklik die getroue bestuurder, die verstandige, wat sy heer oor sy liggaam van bediendes sal aanstel om hulle op die regte tyd hulle deel van die voedsel te bly gee? Gelukkig is daardie slaaf as sy heer hom by sy aankoms daarmee besig vind!”—Luk. 12:42, 43.

Die bestuurderklas is dus ‘getrou’ deurdat hulle Jehovah, Jesus, Bybelwaarhede of God se volk nooit verloën of versaak nie. Aangesien die bestuurderklas ‘verstandig’ is, lê hulle goeie oordeel aan die dag terwyl hulle die baie belangrike werk rig om die “goeie nuus van die koninkryk” te verkondig en “dissipels van mense van al die nasies” te maak (Matt. 24:14; 28:19, 20). Die bestuurderklas voorsien gehoorsaam “op die regte tyd” geestelike voedsel wat opbouend en voedsaam is. Jehovah se goedkeuring kan gesien word in die wyse waarop hy sy volk seën met vermeerdering, leiding met betrekking tot belangrike besluite, ’n beter begrip van Bybelwaarhede, beskerming teen vernietiging deur hulle vyande en gemoedsrus.—Jes. 54:17; Fil. 4:7.

Reageer op God se leiding

Hoe kan ons toon dat ons God se leiding waardeer? Die apostel Paulus het gesê: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig” (Heb. 13:17). Dit is nie altyd maklik om dit te doen nie. Ter toeligting: Stel jou voor dat jy ’n Israeliet in Moses se dag is. Nadat jy ’n hele ruk gestap het, kom die kolom tot stilstand. Hoe lank sal dit daar bly? ’n Dag? ’n Week? ’n Paar maande? Jy wonder: ‘Is dit die moeite werd om al my besittings uit te pak?’ Eers pak jy dalk net die nodigste uit. Maar ná ’n paar dae is jy gefrustreerd omdat jy gedurig deur jou besittings moet soek en begin jy alles uitpak. Maar dan, net wanneer jy amper klaar uitgepak het, sien jy dat die kolom optrek—en jy moet weer begin inpak! Dit sou nie maklik of gerieflik gewees het nie. Die Israeliete moes nogtans ‘onmiddellik daarna wegtrek’.—Num. 9:17-22.

Hoe reageer ons dan wanneer ons goddelike leiding ontvang? Probeer ons dit “onmiddellik daarna” volg? Of hou ons aan om dinge te doen soos ons gewoond is om dit te doen? Is ons vertroud met die jongste riglyne, soos dié oor hoe om tuisbybelstudies te hou, vir anderstalige mense te preek, gereeld gesinsaanbidding te beoefen, met Hospitaalskakelkomitees saam te werk en ons by byeenkomste ordentlik te gedra? Ons toon ook ons waardering vir God se leiding deur raad te aanvaar. Wanneer ons verreikende besluite moet neem, maak ons nie staat op ons eie wysheid nie, maar vertrou ons op Jehovah en sy organisasie vir leiding. En net soos ’n kind by sy ouers beskerming soek wanneer ’n storm woed, soek ons beskerming in Jehovah se organisasie wanneer die probleme van hierdie wêreld ons soos ’n donderstorm teister.

Diegene wat in die aardse deel van God se organisasie die leiding neem, is natuurlik nie volmaak nie—maar Moses was ook nie. En tog het die kolom voortdurend bewys gelewer dat God hom aangestel en goedgekeur het. Let ook daarop dat elke Israeliet nie self kon besluit wanneer om te begin trek nie. Die volk het eerder “op bevel van Jehovah deur middel van Moses” opgetree (Num. 9:23). Dit is dus waarskynlik dat Moses, die kanaal waardeur God leiding voorsien het, die teken gegee het om te trek.

Vandag gee Jehovah se bestuurderklas ’n duidelike teken wanneer dit tyd is om ’n verandering aan te bring. Hoe doen die bestuurder dit? Deur middel van artikels in Die Wagtoring en Ons Koninkryksbediening, nuwe publikasies en toesprake by byeenkomste. Instruksies word ook aan die gemeentes oorgedra deur middel van reisende opsieners of deur briewe of opleidingsessies wat deur broers met gemeentelike verantwoordelikhede bygewoon word.

Onderskei jy die bewys van goddelike leiding? Jehovah gebruik sy organisasie om ons, sy volk, gedurende hierdie laaste dae van Satan se goddelose wêreld deur “die wildernis” te lei. Gevolglik geniet ons eenheid, liefde en veiligheid.

Toe Israel die Beloofde Land bereik het, het Josua gesê: “Julle weet goed met julle hele hart en met julle hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie. Alles is vir julle bewaarheid” (Jos. 23:14). God se hedendaagse volk sal beslis ook die beloofde nuwe wêreld bereik. Maar of óns daar sal wees, hang grootliks af van ons nederige bereidwilligheid om God se leiding te volg. Laat ons almal dus aanhou om die bewys van Jehovah se leiding te onderskei!

[Prente op bladsy 5]

Ons word vandag deur Jehovah se organisasie gelei

Byeenkomsvrystellings

Teokratiese skole

Opleiding tydens velddiensvergaderinge