Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Christengesinne—‘Bly wakker’

Christengesinne—‘Bly wakker’

Christengesinne—‘Bly wakker’

“Laat ons wakker en nugter van verstand bly.”—1 TESS. 5:6.

1, 2. Wat word van ’n gesin vereis as hulle daarin wil slaag om geestelik wakker te bly?

MET verwysing na “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” het die apostel Paulus aan die Christene in Tessalonika geskryf: “Broers, julle is nie in die duisternis sodat daardie dag julle sal oorval soos vir diewe nie, want julle almal is kinders van die lig en kinders van die dag. Ons behoort nie tot die nag of tot die duisternis nie.” Paulus het bygevoeg: “Laat ons dan nie voortslaap soos die res nie, maar laat ons wakker en nugter van verstand bly.”—Joël 2:31; 1 Tess. 5:4-6.

2 Paulus se raad aan die Tessalonisense is uiters gepas vir Christene wat in “die tyd van die einde” lewe (Dan. 12:4). Terwyl die einde van Satan se goddelose stelsel van dinge nader kom, is hy daarop uit om soveel ware aanbidders as moontlik daarvan af te keer om God te dien. Ons is dus verstandig as ons Paulus se vermaning om geestelik waaksaam te bly, ter harte neem. As ’n Christengesin daarin wil slaag om wakker te bly, is dit belangrik dat elke lid sy of haar skriftuurlike verantwoordelikheid nakom. Watter rol speel mans, vrouens en kinders dan om die gesin te help om ‘wakker te bly’?

Mans—Volg “die goeie herder” na

3. Wat sluit ’n man se verantwoordelikheid as die hoof van ’n huisgesin volgens 1 Timoteus 5:8 in?

3 “Die man is die hoof van die vrou”, sê die Bybel (1 Kor. 11:3). Wat behels ’n man se verantwoordelikheid as die hoof van ’n huisgesin? Die Skrif meld een aspek van hoofskap en sê: “As iemand vir sy eie mense, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Tim. 5:8). Ja, ’n man moet materieel vir sy gesin sorg. Maar as hy sy gesin wil help om geestelik wakker te bly, moet hy nie net ’n broodwinner wees nie. Hy moet ook sy huisgesin geestelik opbou en almal in die gesin help om hulle verhouding met God te versterk (Spr. 24:3, 4). Hoe kan hy dit doen?

4. Wat kan ’n man help om sy huisgesin met welslae geestelik op te bou?

4 Aangesien “’n man . . . die hoof van sy vrou [is], soos die Christus ook die hoof van die gemeente is”, moet ’n getroude man die soort hoofskap wat Jesus oor die gemeente uitoefen, ondersoek en navolg (Ef. 5:23). Kyk hoe Jesus sy verhouding met sy volgelinge beskryf het. (Lees Johannes 10:14, 15.) Wat is die sleutel tot sukses vir ’n man wat sy huisgesin geestelik wil opbou? Dit is: Bestudeer wat Jesus as “die goeie herder” gesê en gedoen het, en ‘volg sy voetstappe noukeurig’.—1 Pet. 2:21.

5. Hoe goed ken die Goeie Herder die gemeente?

5 In figuurlike sin berus die verhouding tussen ’n herder en sy skape op kennis en vertroue. Die herder weet alles omtrent sy skape, en die skape ken en vertrou die herder. Hulle herken en gehoorsaam sy stem. “Ek ken my skape en my skape ken my”, het Jesus gesê. Hy het nie bloot ’n oppervlakkige kennis van die gemeente nie. Die Griekse woord wat hier met “ken” weergegee word, dui op “persoonlike, intieme kennis”. Ja, die Goeie Herder ken sy skape persoonlik. Hy weet wat hulle individuele behoeftes, hulle swakhede en hulle sterk punte is. Niks omtrent sy skape ontgaan die aandag van ons Voorbeeld nie. En die skape ken die herder ten volle en vertrou sy leierskap.

6. Hoe kan mans die Goeie Herder navolg?

6 Om sy hoofskap in navolging van Christus uit te oefen, moet ’n man leer om aan homself te dink as ’n herder en aan dié onder sy sorg as skape. Hy moet daarna streef om ’n intieme kennis van sy gesin te hê. Kan ’n man werklik sulke kennis hê? Ja, as hy met al die lede van sy gesin goed kommunikeer, luister na wat hulle pla, die leiding in gesinsbedrywighede neem en nougeset goeie besluite neem oor sake soos gesinsaanbidding, vergaderingbywoning, velddiens, ontspanning en vermaak. Wanneer ’n Christenman die leiding neem, nie net met kennis van God se Woord nie, maar ook van dié wat aan hom toevertrou is, is dit waarskynliker dat sy gesinslede vertroue in sy hoofskap sal hê en dat hy die bevrediging sal smaak om te sien dat hulle verenig bly in ware aanbidding.

7, 8. Hoe kan ’n man die Goeie Herder navolg deur liefde aan dié onder sy sorg te betoon?

7 ’n Goeie herder het ook liefde vir sy skape. Wanneer ons die Evangelieverslae van Jesus se lewe en bediening bestudeer, wel waardering in ons hart op vir die liefde wat Jesus aan sy dissipels betoon het. Hy het selfs ‘van sy siel afstand gedoen ten behoewe van die skape’. Mans moet Jesus navolg deur liefde aan dié onder hulle sorg te betoon. ’n Man wat God se goedkeuring wil hê, oorheers nie sy vrou op hardvogtige wyse nie, maar hou eerder aan om haar lief te hê “net soos die Christus ook die gemeente liefgehad” het (Ef. 5:25). Sy woorde moet liefdevol en bedagsaam wees, want sy verdien eer.—1 Pet. 3:7.

8 Wanneer dit by die opleiding van kinders kom, moet die gesinshoof streng by goddelike beginsels bly. Hy moet egter nie versuim om liefde aan sy kinders te betoon nie. Die nodige dissipline moet liefdevol toegedien word. Dit neem party kinders dalk langer as ander om te begryp wat van hulle verwag word. In dié geval moet ’n vader geduldiger met hulle wees. Wanneer mans die voorbeeld van Jesus konsekwent volg, skep hulle ’n huislike milieu wat veilig en geborge is. Hulle gesin geniet die soort geestelike veiligheid waarvan die psalmis gesing het.Lees Psalm 23:1-6.

9. Watter verantwoordelikheid soos dié van die aartsvader Noag het Christenmans, en wat sal hulle help om dit na te kom?

9 Die aartsvader Noag het in die tyd van die einde van die wêreld van sy dag gelewe. Maar Jehovah het hom “met sewe ander veilig bewaar . . . toe hy ’n watervloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring het” (2 Pet. 2:5). Noag het die verantwoordelikheid gehad om sy gesin te help om die Vloed te oorleef. Christengesinshoofde is in hierdie laaste dae in ’n soortgelyke situasie (Matt. 24:37). Hoe noodsaaklik is dit tog dat hulle die voorbeeld van “die goeie herder” bestudeer en hom probeer navolg!

Vrouens—‘Bou julle huisgesin op’

10. Wat beteken dit vir ’n vrou om aan haar man onderdanig te wees?

10 “Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here”, het die apostel Paulus geskryf (Ef. 5:22). Hierdie verklaring dui geensins op ’n minderwaardige posisie nie. Voordat die ware God die eerste vrou, Eva, geskep het, het hy gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen bly nie. Ek gaan vir hom ’n helper maak, as ’n komplement van hom” (Gen. 2:18). Die rol van “helper” en “komplement”—naamlik om haar man te ondersteun terwyl hy na sy gesinsverantwoordelikhede omsien—is inderdaad ’n eerbare rol.

11. Wat doen ’n voorbeeldige vrou om ‘haar huisgesin op te bou’?

11 ’n Voorbeeldige vrou beywer haar vir die welsyn van haar huisgesin. (Lees Spreuke 14:1.) In teenstelling met ’n dwase vrou, wat ’n gebrek aan respek vir die hoofskapreëling toon, het ’n wyse vrou diep respek vir hierdie voorsiening. Sy openbaar nie die ongehoorsame en onafhanklike gesindheid wat hierdie wêreld kenmerk nie, maar is eerder onderdanig aan haar man (Ef. 2:2). ’n Vrou wat dwaas is, huiwer nie om van haar man sleg te praat nie, terwyl ’n wyse vrou haar daarop toelê om die respek wat haar kinders en ander vir hom het, te laat toeneem. So ’n vrou sorg dat sy nie haar man se hoofskap ondermyn deur by hom te neul of met hom te stry nie. Dan is daar ook die kwessie van spaarsamigheid. ’n Dwase vrou verkwis waarskynlik haar gesin se swaar verdiende middele. ’n Ondersteunende vrou doen dit nie. Sy werk met haar man saam wanneer dit by finansiële sake kom. Sy behartig die huishouding op ’n verstandige en spaarsamige wyse. Sy oefen nie druk op haar man uit om oortyd te werk nie.

12. Wat kan ’n vrou doen om haar gesin te help om ‘wakker te bly’?

12 ’n Voorbeeldige vrou help die gesin om ‘wakker te bly’ deur haar man in die geestelike opvoeding van die kinders by te staan (Spr. 1:8). Sy ondersteun die program vir Gesinsaanbidding daadwerklik. Daarbenewens ondersteun sy haar man wanneer hy hulle kinders raad gee en dissiplineer. Hoe anders is sy tog as ’n vrou wat nie met haar man saamwerk nie en wie se kinders fisies en geestelik ly!

13. Waarom is dit vir ’n vrou belangrik om haar man te ondersteun as hy by teokratiese bedrywighede betrokke is?

13 Hoe voel ’n ondersteunende vrou wanneer sy haar man ’n aktiewe rol in die Christengemeente sien speel? Sy is bly! Hetsy haar man ’n bedieningskneg, ’n ouer man of dalk ’n lid van ’n Hospitaalskakelkomitee of ’n Streekboukomitee is, sy is bly oor sy voorreg. Om haar man in woord en daad te ondersteun, sal sekerlik opofferings van haar verg. Maar sy besef dat haar man se betrokkenheid by teokratiese bedrywighede die hele gesin help om geestelik wakker te bly.

14. (a) Wat kan vir ’n ondersteunende vrou ’n uitdaging wees, en hoe kan sy die uitdaging die hoof bied? (b) Hoe dra ’n vrou tot die welsyn van die hele gesin by?

14 Dit kan vir ’n vrou ’n uitdaging wees om voorbeeldig te wees in haar ondersteunende rol wanneer haar man ’n besluit neem waarmee sy nie saamstem nie. Ook dan openbaar sy ’n “stille en sagmoedige gees” en werk sy met hom saam sodat sy besluit goed afloop (1 Pet. 3:4). ’n Goeie vrou probeer die uitstekende voorbeeld van godvresende vroue van ouds volg, soos Sara, Rut, Abigail en Jesus se moeder, Maria (1 Pet. 3:5, 6). Sy volg ook hedendaagse ouer vroue na wat “hulle gedra soos dit die heiliges betaam” (Tit. 2:3, 4). Deur liefde en respek aan haar man te betoon, dra ’n voorbeeldige vrou in groot mate tot die sukses van die huwelik en die welsyn van die hele gesin by. Haar huis is ’n gerieflike en veilige plek. ’n Ondersteunende vrou is van onskatbare waarde vir ’n geestelike man!—Spr. 18:22.

Jongmense—‘Hou julle oë gerig op die dinge wat nie gesien word nie’

15. Hoe kan kinders met hulle ouers saamwerk sodat die gesin ‘wakker sal bly’?

15 Hoe kan julle as kinders met julle ouers saamwerk sodat die gesin geestelik ‘wakker sal bly’? Dink aan die prys wat Jehovah vir julle in die vooruitsig stel. Miskien het julle ouers julle van kleins af prente gewys wat die lewe in die Paradys uitbeeld. Toe julle ouer geword het, het hulle waarskynlik die Bybel en Christelike publikasies gebruik om julle te help om julle voor te stel hoe die ewige lewe in die nuwe wêreld sal wees. As julle julle oë daarop gefokus hou om Jehovah te dien en julle lewe dienooreenkomstig beplan, sal dit julle help om ‘wakker te bly’.

16, 17. Hoe kan jongmense die wedloop om die lewe met welslae hardloop?

16 Neem die apostel Paulus se woorde in 1 Korintiërs 9:24 ter harte. (Lees.) Hardloop die wedloop om die lewe met die vaste voorneme om te wen. Kies ’n weg wat daartoe sal lei dat julle die prys van die ewige lewe kry. Baie het toegelaat dat die najaging van materiële dinge hulle aandag aflei sodat hulle nie hulle oë op die prys gerig hou nie. Hoe dwaas is dit tog! ’n Lewe wat om die verkryging van rykdom draai, lei nie tot ware geluk nie. Die dinge wat geld kan koop, is tydelik. Maar julle moet julle oë gerig hou “op die dinge wat nie gesien word nie”. Waarom? Want “die dinge wat nie gesien word nie, is ewig”.—2 Kor. 4:18.

17 “Die dinge wat nie gesien word nie”, sluit Koninkrykseëninge in. Beplan om julle lewe op so ’n wyse te lei dat julle hierdie seëninge verkry. Ware geluk spruit daaruit voort om julle lewe in Jehovah se diens te gebruik. Om die ware God te dien, bied geleenthede om kort- sowel as langtermyndoelwitte na te streef. * As julle realistiese geestelike doelwitte stel, kan dit julle help om julle oë daarop gefokus te hou om God te dien ten einde die prys van die ewige lewe te verkry.—1 Joh. 2:17.

18, 19. Hoe kan ’n jongmens vasstel of hy die waarheid sy eie gemaak het?

18 Jongmense, die eerste tree op die pad na die lewe is om die waarheid julle eie te maak. Het julle dit gedoen? Vra julle af: ‘Is ek ’n geestelike persoon, of word my deelname aan geestelike bedrywighede deur my ouers bepaal? Kweek ek eienskappe aan wat my welgevallig vir God maak? Wend ek ’n poging aan om ’n vaste roetine te volg wanneer dit kom by bedrywighede wat met ware aanbidding verband hou, soos gereelde gebed, studie, vergaderingbywoning en velddiens? Kom ek nader aan God deur ’n persoonlike verhouding met hom op te bou?’—Jak. 4:8.

19 Peins oor die voorbeeld van Moses. Ten spyte daarvan dat hy hom in ’n vreemde kultuur bevind het, het hy gekies om eerder as ’n aanbidder van Jehovah geïdentifiseer te word as ’n seun van Farao se dogter. (Lees Hebreërs 11:24-27.) Jong Christene, julle moet ook vasbeslote wees om Jehovah getrou te dien. As julle dit doen, sal julle werklik gelukkig wees, nou die beste lewenswyse geniet en die hoop hê om “’n stewige houvas op die werklike lewe” te kry.—1 Tim. 6:19.

20. Wie ontvang die prys in die wedloop om die lewe?

20 In die eertydse spele het net een hardloper die wedloop gewen. Dit is nie die geval in die wedloop om die lewe nie. Dit is God se wil “dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Tim. 2:3, 4). Baie het die wedloop al met welslae voltooi, en baie hardloop nog saam met jou (Heb. 12:1, 2). Almal wat nie tou opgooi nie, sal die prys ontvang. Wees dus vasbeslote om te wen!

21. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

21 Die koms van “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” is onafwendbaar (Mal. 4:5). Daardie dag moet Christengesinne nie onverwags oorval nie. Dit is noodsaaklik dat almal in die gesin hulle skriftuurlike verantwoordelikheid nakom. Wat kan jy nog doen om geestelik waaksaam te bly en jou verhouding met God te versterk? Die volgende artikel sal drie faktore bespreek wat die geestelike welsyn van die hele gesin beïnvloed.

[Voetnoot]

^ par. 17 Sien Die Wagtoring, 15 November 2010, bladsye 12-16; 15 Julie 2004, bladsye 21-23.

Wat het jy geleer?

• Waarom is dit vir Christengesinne noodsaaklik om ‘wakker te bly’?

• Hoe kan ’n man die Goeie Herder navolg?

• Hoe kan ’n voorbeeldige vrou haar man ondersteun?

• Hoe kan kinders help om die gesin geestelik wakker te hou?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 9]

’n Ondersteunende vrou is van onskatbare waarde vir ’n geestelike man