Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Christengesinne—‘Hou Julle Gereed’

Christengesinne—‘Hou Julle Gereed’

Christengesinne—‘Hou julle gereed’

“Julle moet julle gereed hou, want die Seun van die mens kom op ’n uur wat julle dit nie waarskynlik ag nie.”—LUK. 12:40.

1, 2. Waarom moet ons Jesus se vermaning om ons ‘gereed te hou’, ter harte neem?

HOE sal jy en jou gesin vaar “wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom” en “die mense van mekaar afskei”? (Matt. 25:31, 32). Aangesien dit sal plaasvind op ’n uur wat ons dit nie waarskynlik ag nie, is dit uiters noodsaaklik dat ons Jesus se vermaning om ons ‘gereed te hou’, ter harte neem!—Luk. 12:40.

2 Die vorige artikel het bespreek hoe elke gesinslid die hele gesin kan help om geestelik wakker te bly deur sy of haar verantwoordelikheid ernstig op te neem. Kom ons kyk na ander maniere waarop ons tot die geestelike welsyn van ons gesin kan bydra.

Hou jou oog “eenvoudig”

3, 4. (a) Waarvoor moet Christengesinne op hulle hoede wees? (b) Wat beteken dit om ons oog “eenvoudig” te hou?

3 Om gereed te wees vir Christus se koms, moet gesinne sorg dat hulle aandag nie afgelei word van sake wat met ware aanbidding verband hou nie. Hulle moet op hulle hoede wees sodat afleidings hulle nie van ware aanbidding laat afwyk nie. Aangesien materialisme ’n strik is waarin baie gesinne al vasgevang is, gaan ons Jesus se vermaning bespreek dat ons ons oog “eenvoudig” moet hou. (Lees Matteus 6:22, 23.) Net soos ’n lamp ons pad kan verlig en ons in staat kan stel om te loop sonder om te val, kan die dinge wat ons deur ons figuurlike ‘oë van die hart’ inneem, ons verlig en ons help om nie te struikel nie.—Ef. 1:18.

4 ’n Letterlike oog kan net helder sien as dit behoorlik funksioneer en kan fokus op die dinge waarna dit kyk. Presies dieselfde geld vir die oë van die hart. Om ’n eenvoudige figuurlike oog te hê, beteken dat ons net een doel voor oë het. Ons laat nie ons lewe om materiële dinge draai nie en is nie daarmee behep om net in die fisiese behoeftes van die gesin te voorsien nie, maar hou eerder ons oog gefokus op geestelike sake (Matt. 6:33). Dit beteken dat ons altyd tevrede moet wees met ons materiële voorsienings en dat ons God se diens eerste in ons lewe moet stel.—Heb. 13:5.

5. Hoe het ’n sekere tienermeisie getoon dat haar “oog” daarop gerig was om God te dien?

5 Dit kan goeie resultate lewer wanneer kinders geleer word om hulle oog eenvoudig te hou! Beskou die voorbeeld van ’n tienermeisie in die land Etiopië. Sy het so goed op skool gevaar dat sy ’n studiebeurs aangebied is nadat sy haar basiese skoolopleiding voltooi het. Maar omdat haar oog daarop gefokus was om Jehovah te dien, het sy die beurs van die hand gewys. Kort daarna is sy ’n werk aangebied vir 3 000 euro (R28 200) per maand—’n groot bedrag in vergelyking met die gemiddelde loon in haar land. Maar die meisie se “oog” was op die pionierdiens gerig. Dit was nie vir haar nodig om haar ouers te raadpleeg voordat sy die werk van die hand gewys het nie. Hoe het haar ouers gevoel toe hulle uitvind wat hulle dogter gedoen het? Hulle was saam met haar bly en het vir haar gesê hoe trots hulle op haar is!

6, 7. Vir watter gevaar moet ons ons ‘oë oophou’?

6 Jesus se woorde in Matteus 6:22, 23 hou ’n waarskuwing oor gierigheid in. Jesus het “eenvoudig” nie met sy antoniem “kompleks” gekontrasteer nie, maar met die woord “goddeloos”. ’n ‘Goddelose oog’ is “sleg; afgunstig”, dit wil sê hebsugtig of gierig (Matt. 6:23; vtn. in NW). Hoe voel Jehovah oor hebsug of gierigheid? “Laat hoerery en elke soort onreinheid of hebsug [of, gierigheid] nie eens onder julle genoem word nie”, sê die Bybel.—Ef. 5:3.

7 Hoewel ons gierigheid dalk maklik in ander kan sien, is dit nie so maklik om dit in onsself te sien nie. Dit sal dus verstandig van ons wees om ag te slaan op Jesus se raad: “Hou julle oë oop en waak teen elke soort hebsug” (Luk. 12:15). Om dit te doen, moet ons onsself ondersoek om te sien waarop ons ons hart gesit het. Christengesinne moet ernstig nadink oor die tyd en geld wat hulle aan vermaak, ontspanning en die verkryging van materiële dinge bestee.

8. Hoe kan ons ons ‘oë oophou’ wanneer ons dit oorweeg om iets te koop?

8 Om iets te koop, behels meer as om net te besluit of ’n mens ’n artikel kan bekostig of nie. Oorweeg faktore soos: ‘Sal ek die tyd hê om die artikel gereeld te gebruik en dit in stand te hou? Hoe lank sal dit neem om te leer om dit behoorlik te gebruik?’ Jongmense, moenie al die wêreld se advertensies oor verbruikersgoedere glo en dus onredelik wees en op duur ontwerpersklere of ander artikels aandring nie. Beoefen selfbeheersing. Dink ook aan watter uitwerking dit op julle gesin se gereedheid vir die koms van die Seun van die mens sal hê as julle ’n sekere artikel aanskaf. Stel geloof in Jehovah se belofte: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.”—Heb. 13:5.

Streef geestelike doelwitte na

9. Hoe kan dit ’n gesin help as hulle geestelike doelwitte nastreef?

9 Nog ’n manier waarop gesinslede hulle geloof kan versterk en tot die geestelike welsyn van die hele gesin kan bydra, is om geestelike doelwitte te stel en dit na te streef. As gesinne dit doen, kan dit hulle help om vas te stel hoe goed hulle daarin slaag om hulle doelwit te bereik om Jehovah te behaag en kan dit hulle ook in staat stel om te bepaal hoe belangrik ’n spesifieke bedrywigheid is.Lees Filippense 1:10.

10, 11. Watter geestelike doelwitte streef julle as ’n gesin na, en watter doelwitte wil julle graag vir die toekoms stel?

10 Selfs wanneer klein realistiese doelwitte gestel word wat binne die bereik van byna elke gesinslid is, kan dit groot voordele meebring. Neem byvoorbeeld die doelwit om elke dag die dagteks te bespreek. Die kommentaar wat gesinslede lewer, kan die gesinshoof help onderskei hoe geestelikgesind hulle is. Die doelwit om die Bybel gereeld as ’n gesin saam te lees, bied kinders ’n goeie geleentheid om hulle leesvaardighede sowel as hulle begrip van die Bybel se boodskap te verbeter (Ps. 1:1, 2). En sal dit nie goed wees as ons ons dit ten doel stel om die gehalte van ons gebede te verbeter nie? Om aspekte van die vrug van die gees in voller mate aan te kweek, kan ook ’n uitstekende doelwit wees om na te streef (Gal. 5:22, 23). En kan ons miskien na maniere soek om medelye te betoon met mense wat ons in die bediening teëkom? As ’n gesin daarna streef om dit te doen, kan dit kinders help om te leer om medelydend te wees, en dit is waarskynliker dat hulle ’n begeerte sal ontwikkel om as gewone pioniers of sendelinge te dien.

11 Dink gerus aan doelwitte wat jy en jou gesin kan nastreef. Kan die gesin ’n doelwit stel om meer tyd in die bediening deur te bring? Kan julle julle daarop toelê om die vrees te bowe te kom om oor die telefoon, op straat of by sakeondernemings te getuig? Kan julle dalk werk waar meer Koninkryksverkondigers nodig is? Kan iemand in die gesin ’n nuwe taal aanleer om die goeie nuus aan mense van ander nasionaliteite bekend te maak?

12. Wat kan gesinshoofde doen om hulle gesin te help om geestelik te groei?

12 As gesinshoof moet jy gebiede identifiseer waarop jou gesin geestelik kan groei. Stel dan spesifieke doelwitte om hierdie einddoel te bereik. Die doelwitte wat julle as ’n gesin stel, moet realisties en bereikbaar wees volgens julle omstandighede en vermoëns (Spr. 13:12). Dit neem natuurlik tyd om ’n doelwit wat die moeite werd is, na te streef. Koop dus tyd uit wat daaraan bestee word om televisie te kyk en gebruik dit vir geestelike strewes (Ef. 5:15, 16). Span jou in om die doelwitte te bereik wat jy vir jou gesin stel (Gal. 6:9). ’n Gesin wat geestelike doelwitte nastreef, sal hulle vooruitgang “vir almal duidelik” maak.—1 Tim. 4:15.

Hou vol met julle aand vir Gesinsaanbidding

13. Watter verandering in die weeklikse rooster vir gemeentelike vergaderinge is ingestel, en oor watter vrae moet ons peins?

13 ’n Uitstekende middel om gesinne te help om hulle ‘gereed te hou’ vir die koms van die Seun van die mens, is die belangrike verandering in die weeklikse rooster vir vergaderinge wat op 1 Januarie 2009 in werking getree het. Toe die vergadering wat destyds die Gemeentelike Boekstudie genoem is, met die Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering gekombineer is, was dit nie meer nodig om op ’n afsonderlike dag te vergader nie. Hierdie aanpassing is gemaak om Christengesinne ’n geleentheid te bied om hulle geestelikheid te versterk deur elke week ’n spesifieke aand vir gesinsaanbidding opsy te sit. Noudat daar tyd verloop het sedert hierdie verandering ingestel is, kan ons ons afvra: ‘Gebruik ek die tyd wat beskikbaar gestel is, om ’n aand vir Gesinsaanbidding te hê of om persoonlike studie te doen? Het ek daarin geslaag om die oogmerk van hierdie reëling te bereik?’

14. (a) Wat is die hoofdoel daarvan om vol te hou met ’n aand vir Gesinsaanbidding of persoonlike studie? (b) Waarom is dit noodsaaklik om ’n aand vir studie opsy te sit?

14 Die hoofdoel daarvan om vol te hou met ’n aand vir Gesinsaanbidding of persoonlike studie, is om nader aan God te kom (Jak. 4:8). Wanneer ons gereeld tyd daaraan bestee om die Bybel te bestudeer en ons kennis van die Skepper te vergroot, versterk dit ons verhouding met hom. Hoe nader ons aan Jehovah kom, hoe sterker word ons beweegrede om hom ‘met ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en met al ons krag’ lief te hê (Mark. 12:30). Ons is sekerlik gretig om God te gehoorsaam en navolgers van hom te word (Ef. 5:1). Om met ’n gereelde aand vir Gesinsaanbidding vol te hou, is dus ’n sleutelfaktor om al die lede van ons gesin te help om hulle geestelik ‘gereed te hou’ terwyl ons op die voorspelde “groot verdrukking” wag (Matt. 24:21). Dit is noodsaaklik vir oorlewing.

15. Watter uitwerking kan die aand vir Gesinsaanbidding hê op hoe gesinslede teenoor mekaar voel?

15 Die reëling vir Gesinsaanbidding het nog ’n oogmerk—om gesinslede te help om nader aan mekaar te kom. Wanneer gesinslede elke week tyd saam deurbring om geestelike sake te bespreek, het dit ’n duidelike uitwerking op hoe hulle teenoor mekaar voel. Hoe na aan mekaar voel huweliksmaats tog wanneer hulle hoor hoe die ander een vreugde uitspreek oor ’n geestelike juweel wat hulle saam ontdek! (Lees Prediker 4:12.) Ouers en kinders wat saam aanbid, sal waarskynlik verenig word in liefde, die “volmaakte band van eenheid”.—Kol. 3:14.

16. Vertel hoe drie geestelike susters baat vind by ’n aand wat vir Bybelstudie opsygesit is.

16 Kyk hoe drie geestelike susters baat gevind het by die reëling om ’n aand vir Bybelstudie opsy te sit. Hoewel hulle nie aan mekaar verwant is nie, woon hierdie drie bejaarde weduwees in dieselfde stad en is hulle al etlike jare goeie vriendinne. Omdat hulle meer tyd saam wou deurbring en terselfdertyd wou hê dat dit geestelik opbouend moet wees eerder as net ’n sosiale geleentheid, het hulle besluit om ’n aand opsy te sit om saam te kom en die Bybel te bestudeer. Hulle het dit begin doen en die boek ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk gebruik. “Ons geniet dit so baie dat ons studie gewoonlik langer as ’n uur duur”, sê een van hulle. “Ons probeer ons die situasies voorstel waarin ons eerste-eeuse broers hulle bevind het en bespreek wat ons onder soortgelyke omstandighede sou doen. Dan probeer ons om die gedagtes wat ons uit ons bespreking geleer het, in die bediening toe te pas. Dit het ons Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk aangenamer en produktiewer gemaak as ooit tevore.” Die reëling bou hierdie drie goeie vriendinne nie net geestelik op nie, maar het hulle selfs nader aan mekaar laat kom. “Ons waardeer hierdie reëling”, sê hulle.

17. Watter faktore dra by tot die sukses van die aand vir Gesinsaanbidding?

17 Wat van julle? Hoe vind julle daarby baat om ’n aand vir Gesinsaanbidding of persoonlike studie opsy te sit? As dit net nou en dan gehou word, sal hierdie reëling nie die gewenste oogmerk bereik nie. Elke lid van die gesin moet gereed wees om op die vasgestelde tyd te studeer. Moenie toelaat dat onbelangrike sake inbreuk maak op die aand nie. Daarbenewens moet die studiemateriaal so gekies word dat die sessies prakties is vir julle gesin. Wat kan julle doen om hierdie studietye aangenaam te maak? Gebruik doeltreffende onderrigmetodes, en hou die atmosfeer respekvol en rustig.—Jak. 3:18. *

‘Bly wakker’ en ‘hou julle gereed’

18, 19. Watter uitwerking moet die wete dat die koms van die Seun van die mens naby is, op jou en jou gesin hê?

18 Die verslegtende wêreldtoestande wat ons dag kenmerk, laat geen twyfel dat Satan se goddelose wêreld in 1914 sy laaste dae ingegaan het nie. Die onweerswolke van Armageddon kan nie ver wees nie. Die tyd sal binnekort aanbreek vir die Seun van die mens om te kom om Jehovah se oordeel aan die goddeloses te voltrek (Ps. 37:10; Spr. 2:21, 22). Moet hierdie wete nie ’n uitwerking op jou en jou gesin hê nie?

19 Slaan jy ag op Jesus se raad om jou oog “eenvoudig” te hou? Streef julle as ’n gesin geestelike doelwitte na terwyl die mense van hierdie wêreld moontlik rykdom, roem of mag najaag? Vind jy baat by die reëling vir ’n aand vir Gesinsaanbidding of persoonlike studie? Bereik jy die beoogde doeleindes? Aanvaar jy, soos in die vorige artikel bespreek is, jou skriftuurlike verantwoordelikheid as ’n man, ’n vrou of ’n kind, en help jy sodoende die hele gesin om ‘wakker te bly’? (1 Tess. 5:6). Indien wel, sal jy jou ‘gereed hou’ vir die koms van die Seun van die mens.

[Voetnoot]

^ par. 17 Vir idees oor wat om te studeer en hoe om die aand vir Gesinsaanbidding prakties en aangenaam te maak, sien Die Wagtoring van 15 Oktober 2009, bladsye 29-31.

Wat het jy geleer?

• Verduidelik hoe Christengesinne hulle ‘gereed kan hou’ deur . . . 

’n ‘eenvoudige’ oog te hê.

geestelike doelwitte te stel en dit na te streef.

vol te hou met ’n aand vir Gesinsaanbidding.

[Studievrae]

[Prent op bladsy 13]

’n ‘Eenvoudige’ oog sal ons beweeg om wêreldse afleidings te weerstaan