Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘O die diepte van God se wysheid!’

‘O die diepte van God se wysheid!’

‘O die diepte van God se wysheid!’

“O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!”—ROM. 11:33.

1. Wat is vir gedoopte Christene die grootste voorreg?

WAT is die grootste voorreg wat jy al ontvang het? Jy dink miskien eers aan ’n toewysing wat aan jou gegee is of ’n eer wat aan jou bewys is. Maar vir gedoopte Christene is die grootste voorreg die feit dat ons toegelaat word om ’n hegte verhouding met die enigste ware God, Jehovah, te hê. Dit het daartoe gelei dat ons “deur hom geken” word.—1 Kor. 8:3; Gal. 4:9.

2. Waarom is dit so ’n groot voorreg om Jehovah te ken en deur hom geken te word?

2 Waarom is dit so ’n groot voorreg om Jehovah te ken en deur hom geken te word? Omdat hy nie net die grootste Persoon in die ganse heelal is nie, maar ook dien as die Beskermer van dié wat hy liefhet. Die profeet Nahum is geïnspireer om te skryf: “Jehovah is goed, ’n vesting in die dag van benoudheid. En hy ken dié wat by hom toevlug soek” (Nah. 1:7; Ps. 1:6). Trouens, ons vooruitsigte op die ewige lewe hang daarvan af dat ons die ware God en sy Seun, Jesus Christus, leer ken.—Joh. 17:3.

3. Wat behels dit om God te leer ken?

3 Om God te leer ken, beteken meer as om net sy letterlike naam te ken. Ons moet hom as ’n Vriend leer ken, sy voorkeure en afkeure verstaan. Dit is baie belangrik om in ooreenstemming met hierdie kennis te lewe as ons wil toon dat ons God intiem leer ken het (1 Joh. 2:4). Maar nog iets is nodig as ons Jehovah werklik wil ken. Ons moet nie net weet wat hy gedoen het nie, maar ook hoe en waarom hy so opgetree het. Hoe beter ons Jehovah se voornemens verstaan, hoe meer beweeg dit ons om ons te verwonder oor ‘die diepte van God se wysheid’.—Rom. 11:33.

’n God met ’n voorneme

4, 5. (a) Waarna verwys die woord “voorneme”, soos dit in die Bybel gebruik word? (b) Lig toe hoe ’n voorneme op meer as een manier verwesenlik kan word.

4 Jehovah is ’n God met ’n voorneme, en die Bybel praat van sy “ewige voorneme” (Ef. 3:10, 11). Wat beteken hierdie uitdrukking werklik? Die woord “voorneme”, soos dit in die Bybel gebruik word, verwys na ’n spesifieke doelwit, of oogmerk, wat op meer as een manier bereik kan word.

5 Ter toeligting: ’n Persoon wil dalk na ’n spesifieke bestemming reis. Om hierdie bestemming te bereik, word dan sy doelwit, of voorneme. Hy het moontlik verskillende keuses met betrekking tot ’n vervoermiddel en die roetes wat hy kan volg. Op sy gekose roete kom hy miskien onverwagte weerstoestande, verkeersopeenhopings en padversperrings teë, wat vereis dat hy ’n alternatiewe roete kies. Maar ongeag watter aanpassings hy moet maak, hy sal nog steeds sy doelwit bereik het wanneer hy by sy bestemming aankom.

6. Hoe het Jehovah buigsaamheid getoon wat die vervulling van sy voorneme betref?

6 Jehovah het eweneens groot buigsaamheid getoon wat die vervulling van sy ewige voorneme betref. Hy neem die wilsvryheid van sy intelligente skepping in ag en pas die manier waarop hy sy voorneme verwesenlik, geredelik aan. Kom ons kyk hoe Jehovah byvoorbeeld sy voorneme aangaande die beloofde Saad volbring. Jehovah het oorspronklik vir die eerste mensepaar gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit” (Gen. 1:28). Is hierdie verklaarde voorneme deur die opstand in die tuin van Eden gedwarsboom? Beslis nie! Jehovah het onmiddellik op hierdie nuwe situasie gereageer deur ’n alternatiewe “roete” te gebruik om sy voorneme te verwesenlik. Hy het voorspel dat ’n “saad” sou verskyn wat die skade wat deur die opstandelinge aangerig is, ongedaan sal maak.—Gen. 3:15; Heb. 2:14-17; 1 Joh. 3:8.

7. Wat leer ons uit Jehovah se beskrywing van homself soos opgeteken in Eksodus 3:14?

7 Jehovah se vermoë om hom by nuwe omstandighede aan te pas terwyl hy sy voorneme volbring, strook met ’n beskrywing wat hy van homself gegee het. Toe Moses potensiële struikelblokke in verband met sy toewysing aan Jehovah genoem het, het Jehovah hom gerusgestel deur te sê: “‘Ek sal word wat ek sal word.’ En hy het bygevoeg: ‘Só moet jy vir die kinders van Israel sê: “Ek sal word het my na julle toe gestuur”’” (Eks. 3:14). Ja, Jehovah kan word wat hy ook al moet word om sy voorneme ten volle te volbring! Dit word pragtig geïllustreer deur die apostel Paulus in hoofstuk 11 van die boek Romeine. Daar praat hy van ’n simboliese olyfboom. ’n Bespreking van hierdie illustrasie sal ons waardering vir die diepte van Jehovah se wysheid vergroot, hetsy ons die hoop het om hemel toe te gaan of om die ewige lewe hier op die aarde te verkry.

Jehovah se voorneme aangaande die voorspelde saad

8, 9. (a) Watter vier basiese feite sal ons help om die illustrasie van die olyfboom te verstaan? (b) Die antwoord op watter vraag openbaar Jehovah se buigsaamheid wat die vervulling van sy voorneme betref?

8 Voordat ons die illustrasie van die olyfboom kan verstaan, moet ons let op vier feite aangaande die ontvouing van Jehovah se voorneme aangaande die voorspelde saad. Eerstens, Jehovah het Abraham belowe dat “al die nasies van die aarde hulleself gewis [sou] seën” deur middel van sy saad, of nakomelinge (Gen. 22:17, 18). Tweedens, die nasie Israel wat van Abraham afgestam het, is die vooruitsig gebied om “’n koninkryk van priesters” voort te bring (Eks. 19:5, 6). Derdens, toe die meerderheid van die natuurlike Israeliete nie die Messias aangeneem het nie, het Jehovah ander stappe gedoen om “’n koninkryk van priesters” voort te bring (Matt. 21:43; Rom. 9:27-29). Laastens, hoewel Jesus die primêre deel van Abraham se saad is, word ander die voorreg gegee om deel van hierdie saad te word.—Gal. 3:16, 29.

9 Ter voortbouing op hierdie vier basiese feite leer ons in die boek Openbaring dat altesaam 144 000 persone saam met Jesus as konings en priesters in die hemel sal heers (Op. 14:1-4). Hulle word ook “die kinders van Israel” genoem (Op. 7:4-8). Maar is die 144 000 dan almal natuurlike Israeliete, of Jode? Die antwoord op hierdie vraag openbaar Jehovah se buigsaamheid wat die vervulling van sy voorneme betref. Kom ons kyk nou hoe die apostel Paulus se brief aan die Romeine ons help om die antwoord te vind.

“’n Koninkryk van priesters”

10. Watter vooruitsig het slegs die nasie Israel gehad?

10 Soos vroeër gemeld is, het slegs die nasie Israel die vooruitsig gehad om al die lede van “’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie” te voorsien. (Lees Romeine 9:4, 5.) Maar wat sou gebeur wanneer die beloofde Saad verskyn? Sou die natuurlike nasie Israel die volle getal van 144 000 geestelike Israeliete voortbring wat die sekondêre deel van Abraham se saad sou word?

11, 12. (a) Wanneer het die verkiesing begin van dié wat die hemelse Koninkryk sou uitmaak, en wat was die reaksie van die meeste Jode wat destyds gelewe het? (b) Hoe het Jehovah “die volle getal” van dié wat Abraham se saad sou word, voortgebring?

11 Lees Romeine 11:7-10. As ’n nasie het die eerste-eeuse Jode Jesus verwerp. Hulle het dus die uitsluitende geleentheid om Abraham se saad voort te bring, verloor. Maar toe die verkiesing van dié wat die hemelse “koninkryk van priesters” sou uitmaak, op Pinkster 33 HJ begin het, was daar wel regskape Jode wat die uitnodiging aanvaar het. Omdat daar net ’n paar duisend was, was hulle net soos “’n oorblyfsel” in vergelyking met die hele Joodse nasie.—Rom. 11:5.

12 Hoe sou Jehovah egter “die volle getal” van dié wat Abraham se saad sou word, voortbring? (Rom. 11:12, 25). Let op die antwoord wat deur die apostel Paulus verstrek word: “Dit is . . . nie asof die woord van God gefaal het nie. Want nie almal wat uit [natuurlike] Israel spruit, is werklik ‘Israel’ nie. En ook nie omdat hulle Abraham se saad [nakomelinge] is, is hulle almal kinders [deel van die Abrahamitiese saad] nie . . . Dit wil sê, die kinders in die vlees is nie werklik die kinders van God nie, maar die kinders deur die belofte word as die saad gereken” (Rom. 9:6-8). Fisiese afstamming van Abraham was dus nie ’n streng vereiste vir die vervulling van Jehovah se voorneme aangaande die saad nie.

Die simboliese olyfboom

13. Wat word voorgestel deur (a) die olyfboom, (b) sy wortel, (c) sy stam en (d) sy takke?

13 Die apostel Paulus vergelyk vervolgens dié wat deel van Abraham se saad word, met die takke van ’n simboliese olyfboom (Rom. 11:21). * Hierdie gekweekte olyfboom stel die vervulling van God se voorneme met betrekking tot die Abrahamitiese verbond voor. Die wortel van die boom is heilig en stel Jehovah voor as die een wat lewe aan geestelike Israel gee (Jes. 10:20; Rom. 11:16). Die stam stel Jesus as die primêre deel van Abraham se saad voor. Al die takke saam stel “die volle getal” voor van diegene wat in die sekondêre deel van Abraham se saad ingesluit word.

14, 15. Wie is van die gekweekte olyfboom “afgebreek”, en wie is daarop geënt?

14 In die illustrasie van die olyfboom word die natuurlike Jode wat Jesus verwerp het, vergelyk met olyftakke wat “afgebreek” is (Rom. 11:17). So het hulle die geleentheid verloor om deel van Abraham se saad te word. Maar wie sou hulle vervang? Vanuit die standpunt van die natuurlike Jode, wat trots was op die feit dat hulle vleeslike afstammelinge van Abraham is, sou die antwoord ondenkbaar wees. Maar Johannes die Doper het hulle reeds gewaarsku dat Jehovah, as hy wou, kinders vir Abraham uit die klippe kon verwek.—Luk. 3:8.

15 Wat het Jehovah dan gedoen om sy voorneme te vervul? Paulus verduidelik dat takke van ’n wilde olyfboom op die gekweekte olyfboom geënt is om dié te vervang wat afgebreek is. (Lees Romeine 11:17, 18.) Geesgesalfde Christene uit die nasies, soos party in die gemeente in Rome, is dus in figuurlike sin op hierdie simboliese olyfboom geënt. So het hulle deel van Abraham se saad geword. Hulle was oorspronklik soos wilde olyftakke en het geen geleentheid gehad om deel van hierdie spesiale verbond te wees nie. Maar Jehovah het dit vir hulle moontlik gemaak om geestelike Jode te word.—Rom. 2:28, 29.

16. Hoe het die apostel Petrus die vorming van die nuwe geestelike nasie verduidelik?

16 Die apostel Petrus verduidelik die situasie soos volg: “Vir julle [geestelike Israeliete, insluitende nie-Joodse Christene] is hy [Jesus Christus] dus kosbaar, omdat julle gelowiges is; maar vir dié wat nie glo nie, ‘het dieselfde steen wat die bouers verwerp het, die hoof van die hoek geword’ en ‘’n steen van struikeling en ’n rots van aanstoot’. . . . Maar julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit, sodat julle die voortreflikhede alom bekend sou maak’ van die een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het. Want julle was eens nie ’n volk nie, maar is nou God se volk; julle was dié aan wie nie barmhartigheid bewys is nie, maar is nou dié aan wie barmhartigheid bewys is.”—1 Pet. 2:7-10.

17. Waarom was wat Jehovah gedoen het, “teen die natuur”?

17 Jehovah het iets gedoen wat baie mense as heeltemal onverwags sou beskou. Paulus beskryf wat hier gebeur het, as “teen die natuur” (Rom. 11:24). Waarom? Wel, mense sou dink dat dit buitengewoon, selfs onnatuurlik, is om ’n wilde tak op ’n gekweekte boom te ent; tog is dit wat party boere in die eerste eeu gedoen het. * Jehovah het ook iets buitengewoons gedoen. Vanuit ’n Joodse oogpunt was nie-Jode nie in staat om aanneemlike vrugte voort te bring nie. Maar Jehovah het hierdie einste mense deel gemaak van “’n nasie” wat Koninkryksvrugte voortgebring het (Matt. 21:43). Vanaf die salwing van Kornelius—die eerste onbesnede nie-Joodse bekeerling—in 36 HJ het dit vir onbesnede nie-Jode moontlik geword om op hierdie simboliese olyfboom geënt te word.—Hand. 10:44-48. *

18. Watter geleentheid het natuurlike Jode ná 36 HJ gehad?

18 Beteken dit dat natuurlike Jode ná 36 HJ nie meer die geleentheid gehad het om deel van Abraham se saad te word nie? Nee. Paulus verduidelik: “Ook hulle [natuurlike Jode] sal, as hulle nie in hulle gebrek aan geloof bly nie, geënt word; want God kan hulle weer ent. Want as jy uitgesny is uit die olyfboom wat van nature wild is en teen die natuur op die mak olyfboom geënt is, hoeveel te meer sal dié wat natuurlike takke is, dan op hulle eie olyfboom geënt word!”—Rom. 11:23, 24. *

‘Die hele Israel sal gered word’

19, 20. Wat bereik Jehovah soos deur die simboliese olyfboom geïllustreer word?

19 Ja, Jehovah se voorneme aangaande “die Israel van God” word op ’n wonderlike wyse vervul (Gal. 6:16). Soos Paulus gesê het, “sal die hele Israel gered word” (Rom. 11:26). Op Jehovah se bestemde tyd sal “die hele Israel”—dit wil sê die volle getal geestelike Israeliete—as konings en priesters in die hemel dien. Niks kan Jehovah se voorneme laat misluk nie!

20 Soos voorspel is, sal Abraham se saad—Jesus Christus tesame met die 144 000—seëninge meebring vir “mense van die nasies” (Rom. 11:12; Gen. 22:18). Op dié wyse sal al God se knegte by hierdie reëling baat vind. Ja, wanneer ons oor die vervulling van Jehovah se ewige voorneme peins, kan ons nie anders as om ons te verwonder oor “die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis” nie.—Rom. 11:33.

[Voetnote]

^ par. 13 Daar is blykbaar geen tipiese of antitipiese olyfboom nie. Hoewel natuurlike Israel wel konings en priesters voortgebring het, het die nasie nie ’n koninkryk van priesters geword nie. Konings in Israel kon volgens wet nie priesters word nie. Natuurlike Israel het dus nie as ’n tipiese olyfboom gedien nie. Paulus illustreer hoe God se voorneme om “’n koninkryk van priesters” voort te bring, in verband met geestelike Israel vervul is. Dit is ’n bywerking van wat in Die Wagtoring van 1 November 1983, bladsye 12-17, gepubliseer is.

^ par. 17 Dit was aan die einde van die drie en ’n half jaar waartydens die natuurlike Jode die geleentheid gebied is om deel van die nuwe geestelike nasie te word. Die profesie oor die 70 weke van jare het hierdie verwikkeling voorspel.—Dan. 9:27.

^ par. 18 Die Griekse voorvoegsel wat in Romeine 11:24 met “mak” vertaal word, is afgelei van ’n woord wat “goed, uitstekend” of “goed aangepas vir sy doel” beteken. Dit word veral gebruik vir dinge wat beantwoord aan die doel waarvoor dit gemaak is.

Onthou jy?

• Wat leer ons omtrent Jehovah uit die manier waarop hy sy voorneme vervul?

• Wat word in Romeine hoofstuk 11 voorgestel deur . . . 

die olyfboom?

sy wortel?

sy stam?

sy takke?

• Waarom was die entproses “teen die natuur”?

[Studievrae]

[Venster/Prent op bladsy 24]

 Waarom is wilde olyftakke op ’n gekweekte olyfboom geënt?

▪ Lucius Junius Moderatus Columella was ’n Romeinse soldaat en boer wat in die eerste eeu HJ gelewe het. Hy is veral bekend vir die 12 boeke wat hy oor die plaaslewe en boerdery geskryf het.

In sy vyfde boek haal hy hierdie ou spreuk aan: “Hy wat die olyfboord omploeg, vra dit om vrugte; hy wat dit bemes, smeek dit om vrugte; hy wat dit snoei, dwing dit om vrugte te dra.”

Nadat hy bome beskryf wat floreer en tog nie vrugte dra nie, beveel hy die volgende prosedure aan: “Dit is ’n goeie plan om ’n gat met ’n Galliese skroefboor daarin te boor en dan ’n groen steggie wat van ’n wilde olyfboom geneem is, stewig daarin te druk; die gevolg is dat die boom, aangesien dit as ’t ware met vrugbare spruite bevrug is, vrugbaarder word.”

[Prent op bladsy 23]

Verstaan jy die illustrasie van die simboliese olyfboom?