Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Skep jy werklik behae in God se Woord?

Skep jy werklik behae in God se Woord?

Skep jy werklik behae in God se Woord?

“TOE ek die Bybel gereeld begin lees het, het dit vir my meer soos werk gevoel as iets wat ek geniet het”, sê Lorraine. “Dit was moeilik om te verstaan, en daarom het ek dikwels gedagdroom.”

Ander erken dat hulle ook die Bybel begin lees het sonder om dit te geniet. Hulle het nietemin daarmee volgehou omdat hulle geweet het dat dit reg is om die Heilige Skrif te lees. Marc sê: “Dit is maklik om toe te laat dat dinge jou aandag aftrek en dan inbreuk maak op Bybellees en persoonlike studie. Dit het baie gebed en inspanning gekos om daaglikse Bybellees deel van my roetine te maak.”

Wat kan jy doen om groter waardering vir God se geskrewe Woord, die Bybel, aan te kweek? Hoe kan jy dit geniet om die Bybel te lees? Kyk na die volgende wenke.

Doelwitte en metodes

Benader jou Bybellees biddend en doelgerig. Vra Jehovah om jou te help om geesdrif te ontwikkel om sy Woord te bestudeer. Versoek hom om jou verstand en hart te open om sy wysheid in voller mate te begryp (Ps. 119:34). Sonder hierdie benadering kan Bybelstudie gou meganies word, en jy kan die begeerte verloor om daarmee voort te gaan. Lynn sê: “Ek lees soms te vinnig en kyk dan interessante bykomende gedagtes heeltemal mis. Ek begryp dikwels nie die hoofgedagtes ten volle nie. Ek bid egter vir selfbeheersing, en dit help my om my gedagtes nie te laat dwaal nie.”

Waardeer wat jy leer. Onthou dat dit jou lewe beteken om Bybelwaarhede te verstaan en toe te pas. Wend dus ’n doelbewuste poging aan om praktiese punte te vind en dit toe te pas. “Ek soek na gedagtes wat my help om verkeerde gesindhede en beweegredes in my te identifiseer”, sê Chris. “Dit is verkwikkend om te sien hoe die Bybel en baie van ons publikasies inligting bevat wat my persoonlik tot voordeel strek, al het die skrywers my nog nooit ontmoet nie.”

Stel bereikbare doelwitte. Probeer iets nuuts oor Bybelkarakters leer. Jy kan fassinerende feite oor baie van hulle vind deur gebruik te maak van Insight on the Scriptures of die Watch Tower Publications Index. Wanneer jy manne en vroue van die Bybel as werklike mense met persoonlikhede en gevoelens leer ken, sal hulle voorbeeld ’n groter invloed op jou hê.

Soek na nuwe maniere om oor die Bybel te redeneer (Hand. 17:2, 3). Sophia studeer met hierdie doel voor oë. “Ek wil nuwe redenasies vind en ontwikkel om in my bediening en op ander tye te gebruik, sodat ek Bybelwaarhede goed kan verduidelik. Die Wagtoring is ’n uitstekende hulpmiddel in hierdie opsig”, sê sy.—2 Tim. 2:15.

Visualiseer Bybelverslae. “Die woord van God is lewend”, sê Hebreërs 4:12. Wanneer jy die Bybel lees, moet jy God se boodskap in jou gedagtes laat lewe deur jou voor te stel wat die Bybelkarakters gesien het. Probeer om te hoor wat hulle gehoor het en te voel wat hulle gevoel het. Verbind hulle ondervindinge met spesifieke omstandighede in jou lewe. Leer uit die manier waarop hulle situasies hanteer het. Dit sal jou help om Bybelverslae beter te verstaan en te onthou.

Bestee tyd aan moeilike tekste en aan verduidelikings daarvan sodat jy dit goed verstaan. Laat genoeg tyd vir elke studiesessie toe. Jy sal heel moontlik uiters interessante vrae teëkom wat bykomende navorsing verg. Soek onbekende woorde op, kyk na voetnote en gaan kruisverwysings in die Bybel na. Hoe meer jy verstaan en toepas wat jy lees, hoe meer sal jy behae in God se geskrewe Woord vind. Dan sal jy soos die psalmis kan sê: “Ek het u [Jehovah se] herinneringe tot onbepaalde tyd my eie gemaak, want hulle is die vreugde van my hart.”—Ps. 119:111.

Moenie deur die inligting jaag nie. Wees redelik ten opsigte van hoeveel tyd jy vir persoonlike studie inruim. Vind ’n balans tussen hierdie tyd en die tyd wat jy aan voorbereiding vir gemeentelike vergaderinge wy. “Ek is dikwels so gespanne dat ek nie kan konsentreer nie”, sê Raquel. “Vir my is kort studiesessies dus voordelig. Dit help my om die grootste nut uit my persoonlike studie te put.” Chris erken: “Wanneer ek gejaagd voel, pla my gewete my omdat ek so min onthou. Die inligting raak gewoonlik nie my hart nie.” Neem dus jou tyd.

Ontwikkel ’n groter verlange na God se woord. Die apostel Petrus het gesê: “Ontwikkel soos pasgebore kindertjies ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort, sodat julle daardeur tot redding kan groei” (1 Pet. 2:2). Babas hoef nie ’n verlange na melk te ontwikkel nie. Dit is ’n begeerte wat van nature ontstaan. Maar die Bybel erken dat ons wel ’n verlange na God se woord moet ontwikkel. As jy elke dag net een bladsy van die Bybel lees, sal hierdie verlange gou ontstaan. Wat aanvanklik moeilik gelyk het, sal gou aangenaam word.

Peins oor Bybelgedeeltes. Dit is ook baie voordelig om te peins oor wat jy lees. Dit sal jou help om geestelike onderwerpe wat jy nagevors het, met mekaar te verbind. Jy sal weldra ’n string geestelike pêrels van wysheid verkry—’n wonderlike besitting.—Ps. 19:14; Spr. 3:3.

Tyd wat goed bestee word

Dit verg inspanning om goeie studiegewoontes te behou, maar die seëninge is onmeetbaar. Jou geestelike insig sal dan toeneem (Heb. 5:12-14). Die onderskeidingsvermoë en wysheid wat jy uit die geïnspireerde Skrif verkry, bring geluk, lieflikheid en vrede mee. Die wysheid wat in God se geïnspireerde Woord gevind word, is “’n boom van die lewe” vir dié wat dit aangryp en toepas.—Spr. 3:13-18.

’n Diepgaande studie van God se Woord kan ’n verstandige hart in jou voortbring (Spr. 15:14). Dit sal jou help om uit die hart raad te gee wat stewig op die Bybel gegrond is. As jy toelaat dat jou besluite gerig word deur wat jy in die Bybel en in die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” lees, sal jy die verkwikkende en stabiliserende uitwerking van Jehovah se geïnspireerde Woord ondervind (Matt. 24:45). Jy sal positiewer, meer optimisties asook meer ingestel op geestelike dinge wees. Wat meer is, alles wat verband hou met jou verhouding met God, sal suksesvol wees.—Ps. 1:2, 3.

’n Hart vol liefde vir God sal jou beweeg om ander van jou geloof te vertel. Dit kan ook baie lonend wees. Sophia lê haar daarop toe om ’n verskeidenheid tekste te onthou en te gebruik om die aandag van huisbewoners te boei en haar Christelike bediening doeltreffend en opwindend te maak. “Dit is wonderlik om te sien hoe mense reageer op wat die Bybel sê”, vertel sy.

Maar die vernaamste voordeel wat dit meebring wanneer jy behae in God se Woord skep, is ’n hegte verhouding met Jehovah. Bybelstudie stel jou in staat om sy standaarde te ken en sy liefde, vrygewigheid en geregtigheid te waardeer. Geen ander strewe is belangriker of lonender nie. Verdiep jou in ’n studie van God se Woord. Dit sal beslis tyd wees wat goed bestee word.—Ps. 19:7-11.

[Venster/Prente op bladsy 5]

LEES GOD SE WOORD: DOELWITTE EN METODES

▪ Benader jou Bybellees biddend en doelgerig.

▪ Waardeer wat jy leer.

▪ Stel bereikbare doelwitte.

▪ Soek na nuwe maniere om oor die Bybel te redeneer.

▪ Visualiseer Bybelverslae.

▪ Bestee tyd aan moeilike tekste en aan verduidelikings daarvan sodat jy dit goed verstaan.

▪ Moenie deur die inligting jaag nie.

▪ Ontwikkel ’n groter verlange na God se woord.

▪ Peins oor Bybelgedeeltes.

[Prent op bladsy 4]

Wanneer jy ’n Bybelverslag lees, dink jou in ’n soortgelyke situasie in