Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg Christus, die volmaakte Leier

Volg Christus, die volmaakte Leier

Volg Christus, die volmaakte Leier

DIEGENE wat menseheersers volg, word dikwels teleurgestel. Maar Christus se leierskap het ’n heeltemal ander uitwerking op dié wat hulle daaraan onderwerp. Jesus het gesê: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind” (Matt. 11:28, 29). Jesus se leierskap is verkwikkend en bemoedigend. Hy stel intens belang in die geringes en vertraptes en nooi hulle om onder sy sagte juk te kom. Maar wat behels dit om Jesus se leierskap te volg?

“Christus het vir julle gely”, het die apostel Petrus geskryf, “en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Pet. 2:21). Hoe belangrik is dit dat ons Jesus se voetstappe volg? Stel jou voor dat jy in ’n groep is wat ’n mynveld moet oorsteek en dat net een in die groep weet hoe om veilig daardeur te kom. Sal jy nie sy voetstappe noukeurig volg, miskien selfs in sy spore trap nie? Ons toekomstige veiligheid hang eweneens daarvan af dat ons ons lewe na Jesus se voorbeeld skik. Dit sluit in dat ons na hom luister en hom gehoorsaam en saamwerk met diegene wat hom verteenwoordig.

Hoor en gehoorsaam

Teen die einde van sy Bergpredikasie het Jesus gesê: “Elkeen wat hierdie woorde van my hoor en dit doen, [sal] vergelyk word met ’n verstandige man, wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het neergestort en die vloedwaters het gekom en die winde het gewaai en aan daardie huis geruk, maar dit het nie ineengestort nie, want dit was op die rots gegrondves.”—Matt. 7:24, 25.

Jesus het dus ’n man wat na Sy woorde luister en dit gehoorsaam, ‘verstandig’ genoem. Toon ons deur ons hartgrondige gehoorsaamheid dat ons Christus se voorbeeld respekteer en waardeer, of is ons geneig om uit Jesus se gebooie net dié te kies wat maklik of gerieflik is om te gehoorsaam? Jesus het gesê dat hy “altyd die dinge doen wat [God] behaag” (Joh. 8:29). Laat ons daarna streef om sy voorbeeld hierin te volg.

In die eerste eeu het die apostels ’n goeie voorbeeld gestel deur hulle aan Christus se leierskap te onderwerp. By een geleentheid het Petrus vir Jesus gesê: “Kyk! Ons het alles verlaat en u gevolg” (Mark. 10:28). Ja, die apostels het soveel waarde aan Jesus se leierskap geheg dat hulle ander dinge gewillig agtergelaat het om hom te volg.—Matt. 4:18-22.

Werk saam met Christus se verteenwoordigers

Kort voor sy dood het Jesus nog ’n manier gemeld waarop ons sy leierskap kan volg. Hy het gesê: “Hy wat iemand ontvang wat ek stuur, ontvang my ook” (Joh. 13:20). Trouens, Jesus het van sy gesalfde verteenwoordigers as sy “broers” gepraat (Matt. 25:40). Nadat Jesus tot hemelse lewe opgewek is, is sy “broers” aangestel “as plaasvervangers vir Christus”, as ambassadeurs wat ander nooi om met Jehovah God versoen te raak (2 Kor. 5:18-20). Om Christus se leierskap te erken, beteken dat ons ons aan sy “broers” onderwerp.

Dit sal goed wees as ons ontleed hoe ons reageer op tydige skriftuurlike raad wat in ons Bybelpublikasies gegee word. As ons die Skrif bestudeer en gemeentelike vergaderinge bywoon, word ons aan Christus se woorde herinner (2 Pet. 3:1, 2). Ons toon ons opregte waardering vir hierdie geestelike voedsel deur gereeld daarvan in te neem. Maar hoe moet ons reageer as sekere raad soms herhaal word? God se Woord maan Christene byvoorbeeld om “net in die Here” te trou (1 Kor. 7:39). Hierdie onderwerp word al meer as ’n eeu lank van tyd tot tyd in Die Wagtoring bespreek. Christus se broers toon beslis hulle liefdevolle besorgdheid oor ons geestelike welsyn deur artikels oor hierdie en ander geïnspireerde raad te publiseer. Om op hierdie herinneringe ag te slaan, is een manier waarop ons toon dat ons ons volmaakte Leier, Jesus Christus, volg.

“Die pad van die regverdiges is soos die helder lig wat al hoe helderder word totdat dit heeltemal dag is”, sê Spreuke 4:18. Ja, Jesus se leierskap is progressief, nie stilstaande nie. Nog ’n manier waarop ons met Christus se “broers” kan saamwerk, is om ’n positiewe gesindheid te hê met betrekking tot verfynings in ons begrip van skriftuurlike waarhede wat deur “die getroue en verstandige slaaf” gepubliseer word.—Matt. 24:45.

Ons toon ook ons onderworpenheid aan Christus se “broers” deur met die aangestelde opsieners in die Christengemeente saam te werk. Die apostel Paulus het gesê: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle siel” (Heb. 13:17). Byvoorbeeld, ’n ouer man moedig ons dalk aan in verband met hoe belangrik dit is om ’n gereelde aand vir Gesinsaanbidding te hê of gee dalk wenke oor ’n sekere aspek van ons veldbediening. ’n Reisende opsiener gee ons moontlik nuttige skriftuurlike raad oor ’n spesifieke aspek van die Christelike lewe. Ons gewilligheid om hierdie raad toe te pas, toon dat ons Jesus as ons Leier volg.

Daar is ’n jammerlike gebrek aan goeie leierskap in die wêreld. Maar hoe verkwikkend is dit tog om Christus se liefdevolle leierskap te volg! Laat ons ons Leier dan gehoorsaam en saamwerk met diegene wat hy vandag gebruik.

[Prente op bladsy 27]

Aanvaar jy die skriftuurlike raad om nie saam met ’n ongelowige onder een juk te kom nie?