Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volle vertroue in Jehovah wek ’n gevoel van veiligheid

Volle vertroue in Jehovah wek ’n gevoel van veiligheid

Volle vertroue in Jehovah wek ’n gevoel van veiligheid

“Jehovah sal hoor wanneer ek hom aanroep.”—PS. 4:3.

1, 2. (a) In watter gevaarlike situasie het Dawid hom bevind? (b) Watter psalms sal ons bespreek?

KONING DAWID heers al ’n geruime tyd oor Israel, maar hy bevind hom nou in ’n gevaarlike situasie. Sy onderduimse seun Absalom het homself tot koning laat uitroep, en Dawid moes Jerusalem noodgedwonge verlaat. Hy is ook deur ’n vertroueling verraai, en nou loop hy, vergesel deur ’n paar lojales, huilend en kaalvoet oor die Olyfberg. Wat meer is, Simeï, wat ’n lid van ’n familie in koning Saul se huis is, gooi Dawid met klippe en stof terwyl hy hom vervloek.—2 Sam. 15:30, 31; 16:5-14.

2 Sal hierdie ontbering Dawid in droefheid en oneer na Sjeool laat neerdaal? Nee, want hy vertrou op Jehovah. Dit blyk duidelik uit die 3de Psalm, wat Dawid oor sy vlug geskryf het. Hy het ook die 4de Psalm geskryf. Albei hierdie komposisies spreek die oortuiging uit dat God gebede hoor en beantwoord (Ps. 3:4; 4:3). Hierdie psalms verseker ons dat Jehovah dag en nag met sy getroue knegte is en hulle met sy ondersteuning sowel as vrede en ’n gevoel van veiligheid seën (Ps. 3:5; 4:8). Laat ons dus hierdie psalms bespreek en sien hoe dit ’n gevoel van veiligheid wek en ons vertroue in God versterk.

Wanneer ‘baie teen ons opstaan’

3. Wat was Dawid se situasie volgens Psalm 3:1, 2?

3 “Die hart van die manne van Israel is agter Absalom”, sê ’n boodskapper (2 Sam. 15:13). Dawid wonder hoe Absalom soveel ondersteuning kon werf en vra: “O Jehovah, waarom het my teenstanders baie geword? Waarom staan baie teen my op? Baie sê van my siel: ‘Daar is vir hom geen redding by God nie’” (Ps. 3:1, 2). Baie Israeliete dink dat Jehovah Dawid nie sal verlos van die rampspoed wat Absalom en sy trawante oor hom wil bring nie.

4, 5. (a) Waarvan was Dawid seker? (b) Wat beteken die woorde “die Een wat my hoof ophef”?

4 Maar Dawid voel veilig omdat hy God onvoorwaardelik vertrou. Hy sing: “Tog is u, o Jehovah, ’n skild rondom my, my heerlikheid en die Een wat my hoof ophef” (Ps. 3:3). Dawid is seker dat Jehovah hom sal beskerm net soos ’n skild ’n soldaat beskerm. Ja, die bejaarde koning vlug, met sy kop bedek en geboë weens vernedering. Maar die Allerhoogste sal Dawid se toestand verander in ’n toestand van heerlikheid. Jehovah sal hom in staat stel om regop te staan, om sy kop op te lig en dit weer hoog te hou. Dawid roep uit met die volle oortuiging dat God hom sal antwoord. Openbaar jy sulke vertroue in Jehovah?

5 Met die woorde “die Een wat my hoof ophef” skryf Dawid die hulp wat hy verwag om te ontvang, aan Jehovah toe. Today’s English Version sê: “Maar u, o HERE, is altyd my skild teen gevaar; u gee my die oorwinning en nuwe moed.” Een naslaanwerk sê aangaande die uitdrukking “die Een wat my hoof ophef”: “Wanneer God jou ‘hoof’ . . . ophef, vervul Hy jou met hoop en ’n gevoel van veiligheid.” Aangesien Dawid gedwing is om van Israel se troon afstand te doen, het hy rede om mismoedig te voel. Maar wanneer ‘sy hoof opgehef word’, sal hy weer moed, ’n gevoel van veiligheid en volle vertroue in God hê.

‘Jehovah sal antwoord!’

6. Waarom het Dawid gesê dat sy gebed van Jehovah se heilige berg af beantwoord sal word?

6 Met vertroue in Jehovah en met die volle oortuiging dat Hy gebede verhoor, sê Dawid verder: “Met my stem sal ek Jehovah aanroep, en hy sal my antwoord van sy heilige berg af” (Ps. 3:4). In ooreenstemming met Dawid se bevele is die verbondsark, wat God se teenwoordigheid voorstel, na die berg Sion geneem. (Lees 2 Samuel 15:23-25.) Dawid sê dus gepas dat sy gebed van Jehovah se heilige berg af beantwoord sal word.

7. Waarom het Dawid geen angs ervaar nie?

7 Omdat Dawid seker is dat gebed tot God nie tevergeefs sal wees nie, ervaar hy geen angs nie. Hy sing eerder: “Ek sal gaan lê sodat ek kan slaap; ek sal beslis wakker word, want Jehovah ondersteun my deurentyd” (Ps. 3:5). Selfs in die nag, wanneer die gevaar van ’n onverwagte aanval die grootste is, is Dawid nie bang om te slaap nie. Hy is seker dat hy sal wakker word, want op grond van sy vorige ondervindinge is hy ten volle daarvan oortuig dat hy op God se onfeilbare ondersteuning kan vertrou. Ons kan ook as ons “die weë van Jehovah” aankleef en nooit van hom afwyk nie.Lees 2 Samuel 22:21, 22.

8. Hoe toon Psalm 27:1-4 dat Dawid op God vertrou het?

8 Die feit dat Dawid veilig gevoel het en volle vertroue in God gehad het, blyk uit nog een van sy psalms, wat hierdie geïnspireerde woorde bevat: “Jehovah is my lig en my redding. Vir wie sou ek bang wees? Jehovah is die vesting van my lewe. Wie sou ek vrees? . . . Al sou ’n leërkamp teen my tent opslaan, sal my hart nie vrees nie. . . . Een ding het ek van Jehovah gevra—dit sal ek soek: Dat ek al die dae van my lewe in die huis van Jehovah mag woon, om die lieflikheid van Jehovah te sien en sy tempel met waardering te aanskou” (Ps. 27:1-4). As jy ook so voel en jou omstandighede dit toelaat, sal jy gereeld saam met medeaanbidders van Jehovah vergader.—Heb. 10:23-25.

9, 10. Waarom sal jy, ondanks die woorde van Psalm 3:6, 7, sê dat Dawid nie wraaksugtig was nie?

9 Hoewel Dawid met Absalom se verraad en die dislojaliteit van so baie ander te kampe het, sing hy: “Ek sal nie bang wees vir tienduisende mense wat hulle rondom teen my opgestel het nie. Staan tog op, o Jehovah! Red my, o my God! Want u sal al my vyande op die kakebeen moet slaan. Die tande van die goddeloses sal u moet breek.”Ps. 3:6, 7.

10 Dawid is nie wraaksugtig nie. As sy vyande ‘op die kakebeen geslaan’ moet word, sal God dit doen. Koning Dawid het vir hom ’n afskrif van die Wet geskryf en weet dat Jehovah daarin sê: “Die wraak is myne, en die vergelding” (Deut. 17:14, 15, 18; 32:35). Dit berus ook by God om ‘die tande van die goddeloses te breek’. Om hulle tande te breek, beteken dat hulle onskadelik gemaak word. Jehovah weet wie die goddeloses is, want hy “sien wat die hart is” (1 Sam. 16:7). Hoe dankbaar is ons tog dat God ons geloof en krag gee om vas te staan teen die vernaamste goddelose, Satan, wat binnekort in die afgrond gewerp sal word soos ’n brullende maar tandlose leeu wat net vir vernietiging geskik is!—1 Pet. 5:8, 9; Op. 20:1, 2, 7-10.

“Redding behoort aan Jehovah”

11. Waarom moet ons vir medegelowiges bid?

11 Dawid besef dat slegs Jehovah die verlossing kan bewerkstellig wat hy so dringend nodig het. Maar die psalmis dink nie net aan homself nie. Wat van Jehovah se begunstigde volk as ’n geheel? Dawid sluit sy geïnspireerde komposisie gepas af met die woorde: “Redding behoort aan Jehovah. U seën rus op u volk” (Ps. 3:8). Dawid het weliswaar ontsaglike probleme, maar hy hou Jehovah se volk oor die algemeen in gedagte en is seker dat God hulle sal seën. Moet ons nie ook ons medegelowiges in gedagte hou nie? Laat ons vir hulle bid en Jehovah vra om sy heilige gees aan hulle te gee sodat hulle moed bymekaar kan skraap en met vertroue die goeie nuus bekend kan maak.—Ef. 6:17-20.

12, 13. Wat het met Absalom gebeur, en hoe het Dawid gereageer?

12 Absalom se lewe eindig roemloos—’n waarskuwing vir almal wat ander sleg behandel, veral God se gesalfdes, soos Dawid. (Lees Spreuke 3:31-35.) ’n Geveg vind plaas, en Absalom se manskappe word verslaan. Terwyl Absalom op ’n muil wegry, haak sy welige hare vas in die vurk van ’n lae tak van ’n groot boom. Daar hang hy—lewend maar hulpeloos—totdat Joab hom doodmaak deur drie ligte spiese deur sy hart te dryf.—2 Sam. 18:6-17.

13 Verheug Dawid hom wanneer hy hoor wat met sy seun gebeur het? Nee. Hy loop eerder huilend op en af en roep uit: “My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! Ag, as ek, ek self, maar in jou plek gesterf het, Absalom, my seun, my seun!” (2 Sam. 18:24-33). Net Joab se woorde bring Dawid uit sy byna oorweldigende smart. Wat ’n tragiese einde was dit tog vir Absalom, wie se blinde ambisie hom beweeg het om teen sy eie vader—Jehovah se gesalfde—te veg en rampspoed oor homself te bring!—2 Sam. 19:1-8; Spr. 12:21; 24:21, 22.

Dawid spreek weer vertroue in God uit

14. Wat kan oor die komposisie van Psalm 4 gesê word?

14 Soos die 3de Psalm, is die 4de ’n ernstige gebed van Dawid wat bewys lewer van sy volle vertroue in Jehovah (Ps. 3:4; 4:3). Miskien het Dawid hierdie lied gekomponeer om ná Absalom se mislukte staatsgreep verligting en waardering teenoor God uit te spreek. Of moontlik is dit geskryf met Levitiese sangers in gedagte. Hoe dit ook al sy, as ons daaroor peins, kan dit ons vertroue in Jehovah versterk.

15. Waarom kan ons met volle oortuiging tot Jehovah bid deur sy Seun?

15 Dawid openbaar weer volle vertroue in God en toon dat hy oortuig is dat gebed doeltreffend is. Hy sing: “Antwoord my wanneer ek roep, o my regverdige God. In die benoudheid moet u vir my groot ruimte maak. Betoon guns aan my en verhoor my gebed” (Ps. 4:1). Ons kan ook hiervan oortuig wees as ons regverdigheid beoefen. In die wete dat Jehovah, die “regverdige God”, sy regskape volk seën, kan ons met volle oortuiging en met geloof in Jesus se losprysoffer tot Hom bid deur sy Seun (Joh. 3:16, 36). Watter vrede gee dit ons tog!

16. Waarom het Dawid dalk mismoedig geword?

16 Ons bevind ons dalk soms in ’n ontmoedigende situasie wat ons vertroue kan laat wankel. Dit was moontlik tydelik die geval met Dawid, want hy sing: “O mensekinders, hoe lank moet my heerlikheid ’n voorwerp van belediging wees, terwyl julle voortdurend leë dinge liefhet, terwyl julle voortdurend ’n leuen soek?” (Ps. 4:2). Die woord “mensekinders” verwys blykbaar na mense in ’n ongunstige sin. Dawid se vyande ‘het leë dinge liefgehad’. Die New International Version gee dit soos volg weer: “Hoe lank sal julle waanbeelde liefhê en valse gode soek?” Al word ons mismoedig weens ander se dade, laat ons voortgaan om ernstig te bid en volle vertroue in die enigste ware God te openbaar.

17. Verduidelik hoe ons in ooreenstemming met Psalm 4:3 kan optree.

17 Dawid se vertroue in God blyk duidelik uit die woorde: “Weet dan dat Jehovah beslis die een wat teenoor hom lojaal is, sal onderskei; Jehovah sal hoor wanneer ek hom aanroep” (Ps. 4:3). Moed en volle vertroue in Jehovah is nodig om lojaal teenoor hom te bly. ’n Christengesin het byvoorbeeld hierdie eienskappe nodig wanneer ’n onberouvolle familielid uitgesit word. God eer dié wat lojaal is teenoor hom en sy weë. Lojaliteit en volle vertroue in Jehovah bevorder dan weer vreugde onder sy volk.—Ps. 84:11, 12.

18. Wat moet ons in ooreenstemming met Psalm 4:4 doen as ons die slagoffer van liefdelose woorde of dade was?

18 Sê nou iemand sê of doen dinge wat ons ontstel? Ons kan vreugdevol bly as ons doen wat Dawid sê: “Wees ontsteld, maar moenie sondig nie. Sê wat julle te sê het in julle hart, op julle bed, en bly stil” (Ps. 4:4). Laat ons nie, as ons die slagoffer van liefdelose woorde of dade was, sondig deur kwaad met kwaad te vergeld nie (Rom. 12:17-19). Ons kan in ons hart sê wat ons te sê het terwyl ons in die bed is. As ons oor die saak bid, sien ons dit dalk in ’n ander lig en word ons moontlik beweeg om uit liefde te vergewe (1 Pet. 4:8). In hierdie verband is die apostel Paulus se raad, wat blykbaar op Psalm 4:4 gegrond is, opmerkenswaardig: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie, en moet ook nie plek toelaat vir die Duiwel nie.”—Ef. 4:26, 27.

19. Hoe kan Psalm 4:5 ons help met betrekking tot ons geestelike offerandes?

19 Dawid beklemtoon dat dit belangrik is om op God te vertrou en sing: “Offer die offerandes van regverdigheid, en vertrou op Jehovah” (Ps. 4:5). Die offerandes wat die Israeliete gebring het, het net waarde gehad as die mense die regte beweegredes gehad het (Jes. 1:11-17). As ons wil hê dat ons geestelike offerandes vir God aanneemlik moet wees, moet ons ook die regte beweegredes hê en moet ons ten volle op hom vertrou.—Lees Spreuke 3:5, 6; Hebreërs 13:15, 16.

20. Wat word bedoel met ‘die lig van Jehovah se aangesig’?

20 Dawid sê verder: “Daar is baie wat sê: ‘Wie sal ons die goeie laat sien?’ Verhef die lig van u aangesig oor ons, o Jehovah” (Ps. 4:6). ‘Die lig van Jehovah se aangesig’ dui op goddelike guns (Ps. 89:15). Wanneer Dawid dan bid: “Verhef die lig van u aangesig oor ons”, bedoel hy ‘betoon guns aan ons’. Omdat ons op Jehovah vertrou, geniet ons sy guns en groot vreugde terwyl ons sy wil doen.

21. Waarvan kan ons seker wees as ons soveel moontlik in vandag se geestelike oeswerk doen?

21 Dawid sien uit na godgegewe vreugdes wat dié van die oestyd oortref en sing vir Jehovah: “U sal beslis blydskap in my hart gee, groter as in die tyd toe hulle graan en hulle nuwe wyn oorvloedig was” (Ps. 4:7). Ons kan seker wees dat ons innige vreugde sal smaak as ons soveel moontlik in vandag se geestelike oeswerk doen (Luk. 10:2). Met die ‘vermenigvuldigde nasie’ van gesalfdes wat die leiding neem, verbly ons ons nou terwyl die aantal ‘oeswerkers’ bly toeneem (Jes. 9:3). Het jy ’n werklik bevredigende aandeel aan hierdie vreugdevolle oes?

Beur voort met volle vertroue in God

22. Hoe het die Israeliete in ooreenstemming met Psalm 4:8 gevaar toe hulle God se Wet onderhou het?

22 Dawid sluit hierdie psalm af met die woorde: “In vrede sal ek gaan lê en ook slaap, want u alleen, o Jehovah, laat my in veiligheid woon” (Ps. 4:8). Toe die Israeliete Jehovah se Wet onderhou het, het hulle in vrede met hom verkeer en veilig gevoel. Byvoorbeeld, gedurende Salomo se bewind het “Juda en Israel . . . in veiligheid gewoon” (1 Kon. 4:25). Dié wat op God vertrou het, het vrede geniet selfs toe naburige nasies vyandiggesind was. Soos Dawid, slaap ons in vrede omdat God ons veilig laat voel.

23. Wat sal ons ervaar as ons ten volle op God vertrou?

23 Laat ons vol hoop voortbeur in Jehovah se diens. Mag ons ook in geloof bid en sodoende “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, ervaar (Fil. 4:6, 7). Watter vreugde verskaf dit ons tog! En ons kan die toekoms beslis vol hoop tegemoetgaan as ons aanhou om ten volle op Jehovah te vertrou.

Hoe sal jy antwoord?

• Watter probleme het Dawid weens Absalom ondervind?

• Hoe wek Psalm 3 ’n gevoel van veiligheid?

• Hoe kan Psalm 4 ons vertroue in Jehovah versterk?

• Hoe kan ons volle vertroue op God ons tot voordeel strek?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 29]

Selfs toe Dawid weens Absalom gevlug het, het hy vertroue in Jehovah gehad

[Prente op bladsy 32]

Vertrou jy Jehovah ten volle?