Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bekendstelling van die vereenvoudigde Engelse uitgawe

Bekendstelling van die vereenvoudigde Engelse uitgawe

Bekendstelling van die vereenvoudigde Engelse uitgawe

ONS is bly om aan te kondig dat ons vanaf hierdie nommer van die studie-uitgawe van Die Wagtoring, vir ’n proeftydperk van een jaar, elke maand terselfdertyd ’n vereenvoudigde Engelse uitgawe sal publiseer. Dit sal die studieartikels en, na gelang van die ruimte, uitgesoekte bykomende artikels bevat. Ons glo dat dit in ’n uiters belangrike geestelike behoefte van baie van Jehovah se Getuies sal voorsien. Hoe so?

Engels is die gemeenskaplike taal wat deur ons broers in lande soos Fidji, Ghana, Kenia, Liberië, Nigerië, Papoea-Nieu-Guinee en die Salomonseilande gepraat word. Hoewel ons broers in hierdie lande dalk ander plaaslike, of inheemse, tale praat, gebruik hulle dikwels Engels vir alledaagse kommunikasie by gemeentelike vergaderinge en in die veldbediening. Die Engels wat hulle gebruik, is egter eenvoudiger as wat ons in ons publikasies gebruik. En daar is ander knegte van Jehovah wat na lande getrek het waar hulle Engels moet gebruik om te kommunikeer, al is hulle kennis van die taal baie beperk. Wat meer is, hulle kan nie gemeentelike vergaderinge in hulle moedertaal bywoon nie.

Die artikels wat ons elke week by die Wagtoring-studie bespreek, is die vernaamste middel waardeur ons deurentyd van tydige geestelike voedsel voorsien word. Om almal in die gehoor te help om ten volle by hierdie materiaal baat te vind, gebruik die vereenvoudigde Engelse uitgawe dus ’n kleiner woordeskat met vereenvoudigde grammatika en sinsbou. Hierdie nuwe uitgawe sal ’n kenmerkende voorblad hê. Die onderhofies, paragrawe, hersieningsvrae en kunswerk in die studieartikels sal ooreenstem met dié in die standaarduitgawe. Almal kan dus in enigeen van die twee uitgawes volg en aan die Wagtoring-studie deelneem. Om die verskil in bewoording in die twee uitgawes te sien, kyk na die voorbeeld hieronder uit paragraaf 2 van die eerste studieartikel in hierdie nommer.

Ons hoop dat hierdie nuwe voorsiening ’n antwoord sal wees op die gebede van baie wat vir Jehovah gesê het: “Laat my verstaan, sodat ek u gebooie kan leer” (Ps. 119:73). Ons is vol vertroue dat dié met ’n beperkte kennis van Engels sowel as party jonger Engelssprekende kinders gevolglik elke week beter vir die Wagtoring-studie sal kan voorberei. Ons gee alle dank aan Jehovah dat hy uit liefde “vir die hele gemeenskap van broers” “die getroue en verstandige slaaf” gebruik om ’n oorvloed geestelike voedsel te voorsien.—1 Pet. 2:17; Matt. 24:45.

Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies