Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek het die dood gevrees—Nou wag ek vir ‘lewe in oorvloed’

Ek het die dood gevrees—Nou wag ek vir ‘lewe in oorvloed’

Ek het die dood gevrees—Nou wag ek vir ‘lewe in oorvloed’

Soos vertel deur Piero Gatti

’N DOWWE gedruis het geleidelik al hoe harder geword. Dit is gevolg deur die geloei van sirenes wat mense gewaarsku het om skuiling te soek. Daarna was daar die skel geluid van bomme en verwoesting en ’n gedonder wat die oordromme van die vreesbevange mense laat bars het.

Dit was Milaan, Italië, in 1943/1944. Ek is as ’n jong soldaat daar gestasioneer en is dikwels beveel om die stoflike oorskot bymekaar te maak van mense wat in verwoeste bomskuilings vasgekeer was en wie se liggame onherkenbaar vermink en uitmekaargeruk is. En dit was nie net die dood van ander wat ek van naby gesien het nie. Soms het ek self nouliks aan die dood ontkom. By hierdie geleenthede het ek gebid en God belowe dat ek sy wil sal doen as ek die bloedbad oorleef.

My vrees vir die dood word uit die weg geruim

Ek het grootgeword in ’n dorpie sowat tien kilometer van Como, Italië, naby die Switserse grens. Ek het op ’n jong ouderdom kennis gemaak met droefheid en vrees vir die dood. Die Spaanse griep het die lewe van twee van my susters geëis. En in 1930, toe ek net ses jaar oud was, het my ma, Luigia, gesterf. Ek het as ’n Katoliek grootgeword en het dus godsdiensreëls onderhou en die weeklikse mis bygewoon. Maar my vrees is eers jare later in ’n haarkapperswinkel, nie in ’n kerk nie, uit die weg geruim.

In 1944 het die Tweede Wêreldoorlog ’n dodelike oes gemaai. Ek was een van tienduisende Italiaanse soldate wat uit die oorlogsgebied na die neutrale Switserland gevlug het. By ons aankoms is ons na ’n aantal vlugtelingkampe geneem. Ek is na een naby Steinach, in die noordooste van die land, gestuur. Daar is ons ’n mate van vryheid gegee. Die haarkapper in Steinach het tydelike hulp in sy winkel nodig gehad. Ek het net ’n maand by hom gebly en gewerk, maar gedurende hierdie kort tydjie het gesprekke met een van die haarkapper se klante ’n verandering in my lewe teweeggebring.

Hierdie klant was Adolfo Tellini, ’n Italianer wat in Switserland gewoon het. Hy was een van Jehovah se Getuies. Ek het nooit tevore van dié groep gehoor nie, wat glad nie verbasend is nie, aangesien daar destyds hoogstens 150 Getuies in die hele Italië was. Adolfo het my vertel van wonderlike Bybelwaarhede, beloftes van vrede en van ‘lewe in oorvloed’ (Joh. 10:10; Op. 21:3, 4). Die boodskap van ’n toekoms sonder oorlog en die dood het my gefassineer. Toe ek terug was in die vlugtelingkamp, het ek ’n ander jong Italianer, Giuseppe Tubini, van hierdie hoop vertel, en dit het hom ook beïndruk. Adolfo en ander Getuies het ons van tyd tot tyd in die kamp besoek.

Adolfo het my na Arbon geneem, sowat tien kilometer van Steinach, waar ’n klein groepie Getuies vergaderinge in Italiaans gehou het. Ek was so geesdriftig oor wat ek gehoor het, dat ek die volgende week soontoe geloop het. Later het ek ’n byeenkoms van die Getuies in ’n byeenkomssaal in Zürich bygewoon. Ek is diep getref deur ’n skyfievertoning van uitwissingskampe, met hope lyke. Ek het geleer dat baie Duitse Getuies weens hulle geloof doodgemaak is. By hierdie byeenkoms het ek Maria Pizzato ontmoet. Sy is as gevolg van haar bedrywighede as ’n Getuie ’n vonnis van 11 jaar deur die Italiaanse Fascistiese owerheid opgelê.

Ná die oorlog is ek terug Italië toe en het ek by die klein gemeente in Como aangesluit. Ek het nooit ’n stelselmatige Bybelstudie gehad nie, maar ek het ’n goeie begrip van die grondwaarhede gehad. Maria Pizzato was ook in daardie gemeente. Sy het met my gepraat oor die belangrikheid van Christelike doop en my genooi om Marcello Martinelli te besoek, wat in Castione Andevenno, in die provinsie Sondrio, gewoon het. Marcello was ’n getroue gesalfde broer wat deur die diktatoriale regering tot 11 jaar gevangenskap gevonnis is. Ek moes 80 kilometer per fiets aflê om hom te besoek.

Marcello het die Bybel gebruik om die vereistes vir doop te verduidelik, waarna ons gebid en na die Adda-rivier gegaan het, waar ek gedoop is. Dit was September 1946. Dit was ’n baie spesiale dag! Ek was so opgewonde oor my besluit om Jehovah te dien en om nou ’n vaste hoop vir die toekoms te hê, dat ek daardie aand skaars besef het dat ek dié dag 160 kilometer met my fiets gery het!

Die eerste naoorlogse byeenkoms in Italië is in Mei 1947 in Milaan gehou. Ongeveer 700 het dit bygewoon, insluitende baie van dié wat die Fascistiese vervolging deurgemaak het. Iets baie ongewoons het by hierdie byeenkoms gebeur. Giuseppe Tubini, vir wie ek in die vlugtelingkamp gepreek het, het die dooptoespraak gehou—waarna hy self gedoop is!

By hierdie byeenkoms het ek die voorreg gehad om broer Nathan Knorr, van Brooklyn-Bethel, te ontmoet. Hy het my en Giuseppe aangespoor om ons lewe aan God se diens te wy. Ek het besluit om die voltydse diens binne ’n maand te betree. Toe ek tuiskom, het ek my familie van my besluit vertel, en hulle almal het my probeer oorreed om dit nie te doen nie. Maar ek was vasbeslote. ’n Maand later het ek dus by Bethel in Milaan begin dien. Daar was vier sendelinge in die gesin: Guiseppe (Joseph) Romano en sy vrou, Angelina; Carlo Benanti en sy vrou, Costanza. Die vyfde lid van die gesin was Guiseppe Tubini, wat kort tevore by hulle aangesluit het, en ek was die sesde.

Ná ’n maand by Bethel is ek as ’n kringopsiener aangestel—die eerste van Italiaanse geboorte in die land. Broer George Fredianelli, die eerste sendeling uit die Verenigde State wat in 1946 na Italië gekom het, was alreeds in die reisende werk. Hy het my ’n paar weke lank opgelei, en toe het ek alleen op hierdie avontuur vertrek. Ek onthou nog goed die eerste gemeente wat ek besoek het—Faenza. Dink net! Tot op hierdie stadium het ek nog nooit eens ’n toespraak in ’n gemeente gehou nie! Ek het nietemin dié in die gehoor, insluitende baie jongmense, aangespoor om die voltydse bediening te oorweeg. Later het party van hierdie jongmense uiters verantwoordelike toewysings in die Italiaanse veld ontvang.

Dit was ’n opwindende lewe wat ek as ’n reisende opsiener begin het. Dit was ’n lewe vol verrassings, aanpassings, uitdagings en vreugdes, en ’n lewe waarin ek baie liefde van dierbare broers en susters ontvang het.

Die godsdienstoneel in naoorlogse Italië

Laat ek julle iets van die godsdienssituasie gedurende daardie tyd in Italië vertel. Die Katolieke Kerk het die toneel geheel en al oorheers. Hoewel ’n nuwe grondwet in 1948 in werking getree het, is die Fascistiese wette wat die Getuies verhinder het om te preek, eers in 1956 ingetrek. Weens druk van die geestelikes is kringbyeenkomste dikwels onderbreek. Maar soms het die geestelikes se pogings hopeloos misluk, soos in 1948 in Sulmona, ’n klein dorpie in Sentraal-Italië.

Die byeenkoms is in ’n teater gehou. Sondagoggend was ek die voorsitter, en Guiseppe Romano het die openbare toespraak gehou. Die gehoor was baie groot vir daardie jare. Daar was destyds nie eens 500 verkondigers in die hele land nie, maar 2 000 mense het die teater gevul. Aan die einde van die toespraak het ’n jong man, wat opgestook is deur twee priesters wat ook in die gehoor was, op die verhoog gespring. Hy was daarop uit om verwarring te veroorsaak en het luidkeels begin skreeu. Ek het onmiddellik vir hom gesê: “As jy iets het om te sê, huur ’n saal, en dan kan jy sê wat jy wil.” Die gehoor was nie beïndruk met hom nie en het hom doodgeskreeu. Toe het die jong man van die verhoog afgespring en verdwyn.

Dit was destyds nogal ’n avontuur om te reis. Ek het soms van die een gemeente na die ander geloop, met my fiets gery of op verrinneweerde, oorvol busse of per trein gereis. Soms het ek in ’n stal of ’n gereedskapskuur geslaap. Die oorlog het maar kort tevore geëindig, en die meeste Italianers was arm. Daar was min broers, en hulle het nie baie gehad nie. Die lewe in Jehovah se diens was nietemin wonderlik.

Opleiding by Gilead

In 1950 is ek en Guiseppe Tubini genooi om die 16de klas van die Gileadsendingskool by te woon. Ek het van die begin af besef dat ek gaan sukkel om Engels te leer. Ek het my bes gedoen, maar dit was ’n groot uitdaging. Ons moes die hele Bybel in Engels lees. Om dit te doen, het ek soms middagetes oorgeslaan sodat ek kon oefen om hardop te lees. Uiteindelik was dit my beurt om ’n toespraak te lewer. Ek onthou die instrukteur se opmerking asof dit gister was: “Jou gebare en jou geesdrif is uitstekend, maar jou Engels is heeltemal onverstaanbaar!” Ten spyte hiervan het ek die kursus met welslae voltooi. Daarna het ek en Guiseppe die toewysing ontvang om weer in Italië te gaan dien. Danksy die ekstra opleiding was ons albei beter toegerus om die broers te dien.

In 1955 is ek getroud met Lidia, wie se dooptoespraak ek sewe jaar tevore gehou het. Haar pa, Domenico, was ’n liewe broer wat al sewe sy kinders gehelp het om die waarheid aan te neem, ten spyte daarvan dat hy deur die Fascistiese bewind vervolg en tot drie jaar ballingskap gevonnis is. Lidia was ook ’n ware stryder vir die waarheid. Sy het drie keer in die hof verskyn voordat ons wettige reg om van huis tot huis te preek, eindelik erken is. Nadat ons ses jaar getroud was, is Beniamino, ons eerste seun, gebore. In 1972 het ons nog ’n seun, Marco, gehad. Ek is verheug dat albei van hulle sowel as hulle gesinne Jehovah ywerig dien.

Nog steeds bedrywig in Jehovah se diens

Gedurende my vreugdevolle lewe van diens aan ander het ek talle onvergeetlike ondervindinge gehad. In die vroeë 1980’s het my skoonpa byvoorbeeld aan die destydse president van Italië, Sandro Pertini, geskryf. Gedurende die Fascistiese diktatorskap was hulle albei in ballingskap op die eiland Ventotene, waar vermeende vyande van die regering aangehou is. My skoonpa het om ’n onderhoud gevra met die bedoeling om vir die president te getuig. Toe sy versoek toegestaan is, het ek saam met hom gegaan, en ons is vriendelik ontvang—iets waaraan ons glad nie gewoond was nie. Die president het my skoonpa hartlik gegroet met ’n omhelsing. Toe het ons oor ons geloof gepraat en vir hom lektuur gegee.

In 1991, ná 44 jaar as ’n reisende opsiener, het ek die kringwerk, waartydens ek gemeentes regoor Italië besoek het, verlaat. Ek het die volgende vier jaar as ’n Byeenkomssaalopsiener gedien totdat ’n ernstige siekte my verplig het om minder te doen. Maar danksy Jehovah se onverdiende goedhartigheid is ek nog steeds in die voltydse diens. Ek doen my bes om die goeie nuus aan ander te verkondig en te leer, en ek hou tans ’n paar Bybelstudies. Die broers sê dat ek nog steeds my toesprake met vurige geesdrif hou. Ek dank Jehovah dat my ywer nie met die ouderdom afgeneem het nie.

Toe ek jonk was, het vrees vir die dood my lewe heeltemal oorheers, maar juiste Bybelkennis het my ’n vaste hoop gegee op die ewige lewe—lewe “in oorvloed”, soos Jesus dit genoem het (Joh. 10:10). Dit is waarna ek nou uitsien—’n vol lewe in vrede, veiligheid en geluk, met oorvloedige seëninge van Jehovah. Alle eer kom ons liefdevolle Skepper toe, wie se naam ons die voorreg het om te dra.—Ps. 83:18.

[Kaart op bladsye 22, 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

SWITSERLAND

BERN

Zürich

Arbon

Steinach

ITALIË

ROME

Como

Milaan

Adda-rivier

Castione Andevenno

Faenza

Sulmona

Ventotene

[Prent op bladsy 22]

Op pad na Gilead

[Prent op bladsy 22]

Saam met Guiseppe by Gilead

[Prent op bladsy 23]

Op ons troudag

[Prent op bladsy 23]

My dierbare vrou is al meer as 55 jaar lank aan my sy