Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal jy ag slaan op Jehovah se duidelike waarskuwings?

Sal jy ag slaan op Jehovah se duidelike waarskuwings?

Sal jy ag slaan op Jehovah se duidelike waarskuwings?

“Dit is die weg. Wandel daarop.”—JES. 30:21.

1, 2. Wat is Satan daarop uit om te doen, en hoe help God se Woord ons?

 ’N PADTEKEN wat in die verkeerde rigting wys, is nie net misleidend nie; dit is potensieel gevaarlik. Stel jou voor dat ’n vriend jou gewaarsku het dat ’n boosaardige man ’n teken opsetlik verander het om onbehoedsame reisigers leed aan te doen. Sal jy nie ag slaan op sy waarskuwing nie?

2 Satan is gewis ’n boosaardige vyand wat daarop uit is om ons op die verkeerde weg te lei (Op. 12:9). Al die slegte invloede wat in die vorige artikel bespreek is, het hulle oorsprong by hom en is daarop gemik om ons te laat afwyk van die pad wat na die ewige lewe lei (Matt. 7:13, 14). Gelukkig waarsku ons welwillende God ons om nie Satan se misleidende ‘padtekens’ te volg nie. Kom ons bespreek nou nog drie van Satan se negatiewe invloede. Terwyl ons kyk hoe God se Woord ons help om nie mislei te word nie, kan ons ons voorstel dat Jehovah agter ons loop en vir ons die regte rigting aandui en sê: “Dit is die weg. Wandel daarop” (Jes. 30:21). As ons oor Jehovah se duidelike waarskuwings peins, sal dit ons meer vasbeslote maak om daarop ag te slaan.

Moenie “valse onderrigters” volg nie

3, 4. (a) Hoe is valse onderrigters soos opgedroogde putte? (b) Waar kom valse onderrigters dikwels vandaan, en wat wil hulle hê?

3 Stel jou voor dat jy deur ’n dorre gebied reis. Jy sien ’n put in die verte en kies koers soontoe, in die hoop om water te kry om jou dors te les. Maar wanneer jy daar kom, sien jy dat die put droog is. Hoe teleurgesteld is jy tog! Valse onderrigters is soos opgedroogde putte. Enigiemand wat vir waters van waarheid na hulle toe kom, sal bitter teleurgesteld wees. Jehovah waarsku ons deur middel van die apostels Paulus en Petrus teen valse onderrigters. (Lees Handelinge 20:29, 30; 2 Petrus 2:1-3.) Wie is hierdie onderrigters? Die geïnspireerde woorde van hierdie twee apostels help ons om te sien waar valse onderrigters vandaan kom en hoe hulle te werk gaan.

4 Paulus het vir ouer manne van die gemeente in Efese gesê: “Uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek.” Petrus het aan mede-Christene geskryf: “Daar [sal] ook valse onderrigters onder julle . . . wees.” Waar kom valse onderrigters dan vandaan? Hulle kan van binne die gemeente kom. Hulle is afvalliges. a Wat wil hulle hê? Hulle is nie tevrede om die organisasie wat hulle moontlik voorheen liefgehad het, net te verlaat nie. Paulus het verduidelik dat hulle oogmerk is “om die dissipels agter hulle aan weg te trek”. Let op die bepaalde lidwoord in die uitdrukking “die dissipels”. Afvalliges gaan nie uit en maak hulle eie dissipels nie, maar probeer eerder om Christus se dissipels saam met hulle te neem. Soos “roofsugtige wolwe”, is valse onderrigters daarop uit om onbehoedsame gemeentelede te verslind deur hulle geloof te ondermyn en hulle van die waarheid af weg te lei.—Matt. 7:15; 2 Tim. 2:18.

5. Watter metodes gebruik valse onderrigters?

5 Hoe gaan valse onderrigters te werk? Hulle metodes openbaar ’n slinkse gees. Afvalliges ‘voer heimlik’ verderflike idees in. Soos smokkelaars, gaan hulle skelm te werk en voer hulle afvallige beskouings op subtiele wyse in. En net soos ’n slim vervalser valse dokumente in omloop probeer bring, gebruik afvalliges “valse woorde”, of valse argumente, in ’n poging om hulle versinde beskouings as waar voor te stel. Hulle versprei “bedrieglike leringe” en “verdraai . . . die Skrif” om by hulle eie idees te pas (2 Pet. 2:1, 3, 13; 3:16). Dit is duidelik dat afvalliges nie ons belange op die hart dra nie. As ons hulle volg, sal dit ons net laat afwyk van die pad wat na die ewige lewe lei.

6. Watter duidelike raad gee die Bybel ons oor valse onderrigters?

6 Hoe kan ons ons teen valse onderrigters beskerm? Die Bybel se raad oor hoe om hulle te behandel, is duidelik. (Lees Romeine 16:17; 2 Johannes 9-11.) “Vermy hulle”, sê God se Woord. Ander vertalings gee hierdie frase weer met “keer julle van hulle af”, “bly weg van hulle” en “bly op ’n afstand van hulle”! Daar is niks dubbelsinnigs omtrent hierdie geïnspireerde raad nie. Gestel ’n dokter sê vir jou dat jy kontak moet vermy met iemand wat ’n aansteeklike, dodelike siekte het. Jy sal weet wat die dokter bedoel, en jy sal streng ag slaan op sy waarskuwing. Wel, afvalliges is “verstandelik siek”, en hulle probeer ander besmet met hulle dislojale leringe (1 Tim. 6:3, 4). Jehovah, die Groot Geneesheer, sê vir ons dat ons kontak met hulle moet vermy. Ons weet wat hy bedoel, maar is ons vasbeslote om in alle opsigte op sy waarskuwing ag te slaan?

7, 8. (a) Wat behels dit om valse onderrigters te vermy? (b) Waarom is jy vasbeslote om ’n ferm standpunt teen valse onderrigters in te neem?

7 Wat behels dit om valse onderrigters te vermy? Ons ontvang hulle nie in ons huis nie en groet hulle nie. Ons weier ook om hulle lektuur te lees, na TV-programme te kyk waarin hulle verskyn, hulle webwerwe te ondersoek of kommentare by hulle blogs (webdagboeke) te voeg. Waarom neem ons so ’n ferm standpunt in? As gevolg van liefde. Ons is lief vir “die God van waarheid”, en daarom stel ons nie belang in verdraaide leringe wat sy Woord van waarheid weerspreek nie (Ps. 31:5; Joh. 17:17). Ons is ook lief vir Jehovah se organisasie, deur middel waarvan ons opwindende waarhede geleer is—onder andere Jehovah se naam en die betekenis daarvan, God se voorneme met die aarde, die toestand van die dooies en die opstandingshoop. Kan jy onthou hoe jy gevoel het toe jy hierdie en ander kosbare waarhede begin leer het? Waarom sal jy dan toelaat dat jy verbitterd word as gevolg van iemand wat die organisasie beswadder waardeur jy hierdie waarhede geleer het?—Joh. 6:66-69.

8 Ongeag wat valse onderrigters sê, ons sal hulle nie volg nie! Waarom sal ons na hierdie opgedroogde putte gaan wat ons bloot sal bedrieg en teleurstel? Laat ons eerder vasbeslote wees om lojaal te bly aan Jehovah en aan die organisasie wat al lank ons dors les met die suiwer en verkwikkende waters van waarheid uit God se geïnspireerde Woord.—Jes. 55:1-3; Matt. 24:45-47.

Moenie “valse stories” volg nie

9, 10. Watter waarskuwing het Paulus aan Timoteus gegee oor “valse stories”, en wat het Paulus moontlik in gedagte gehad? (Sien ook die voetnoot.)

9 Soms is dit maklik om te sien dat daar met ’n padteken gepeuter is en dat dit in die verkeerde rigting wys. Ander kere is dit moeilik om die misleiding te bespeur. Dit is ook die geval met Satan se negatiewe invloede; party is opvallender as ander. Die apostel Paulus waarsku ons teen een van Satan se listige strategieë—“valse stories”. (Lees 1 Timoteus 1:3, 4.) Ons wil nie weggelei word van die pad wat na die lewe lei nie, en daarom moet ons weet: Wat is valse stories, en hoe kan ons voorkom dat ons daaraan aandag skenk?

10 Paulus se waarskuwing teen valse stories is deel van sy eerste brief aan Timoteus, ’n Christenopsiener aan wie die taak toevertrou is om die reinheid van die gemeente te bewaar en medegelowiges te help om getrou te bly (1 Tim. 1:18, 19). Paulus gebruik ’n Griekse woord wat na ’n verdigsel, mite of leuen kan verwys. Volgens The International Standard Bible Encyclopaedia verwys hierdie woord na “’n (godsdienstige) storie wat geen verband met die werklikheid het nie”. Miskien het Paulus godsdiensleuens in gedagte gehad wat deur sensasionele stories of fantastiese legendes bevorder word. b Al wat sulke stories doen, is om “vrae vir navorsing [te] lewer”—dit wil sê, om ligsinnige vrae te opper wat tot sinlose navorsing aanleiding gee. Valse stories is ’n set van die aartsbedrieër, Satan, wat godsdiensleuens en goddelose mites gebruik om niksvermoedende persone se aandag af te lei. Paulus se raad is duidelik: Moenie aandag skenk aan valse stories nie!

11. Hoe het Satan valse godsdiens op slinkse wyse gebruik om mense te mislei, en op watter waarskuwing moet ons ag slaan sodat ons nie mislei word nie?

11 Wat is party van die valse stories wat onbehoedsames kan mislei? In beginsel kan die uitdrukking “valse stories” van toepassing wees op enige godsdiensleuen of mite wat ons “van die waarheid [kan] afkeer” (2 Tim. 4:3, 4). Satan, wat hom as “’n engel van lig” voordoen, het valse godsdiens op slinkse wyse gebruik om mense te mislei (2 Kor. 11:14). Onder die skyn van die Christelike godsdiens leer die Christendom leerstellings—insluitende die Drie-eenheid, die helse vuur en die onsterflikheid van die siel—wat die ene mites en leuens is. Die Christendom bevorder ook feesdae, soos Kersfees en Paasfees, waarvan die oënskynlik onskuldige gebruike in werklikheid hulle oorsprong in die mitologie en heidendom het. As ons ag slaan op God se waarskuwing om ons af te sonder en ‘op te hou om wat onrein is, aan te raak’, sal ons nie deur valse stories mislei word nie.—2 Kor. 6:14-17.

12, 13. (a) Watter leuens het Satan bevorder, en wat is die waarheid omtrent elkeen van hierdie leuens? (b) Hoe kan ons voorkom dat ons deur Satan se valse stories mislei word?

12 Satan het ander leuens bevorder wat ons kan mislei as ons nie versigtig is nie. Kyk na ’n paar voorbeelde. Alles is toelaatbaar—reg of verkeerd. Dit hang net af hoe jy voel. Hierdie idee word in die media en in die vermaaklikheidswêreld bevorder. Hierdie verdraaide beskouing van God se standaarde plaas druk op ons om alle sedelike beperkings oorboord te gooi. Die waarheid is dat ons ’n dringende behoefte aan sedelike leiding het wat net God kan vervul (Jer. 10:23). God sal nie in die aarde se aangeleenthede ingryp nie. As ons deur so ’n “lewe vir vandag”-gesindheid beïnvloed word, kan dit veroorsaak dat ons “onbedrywig of onvrugbaar” word (2 Pet. 1:8). Die waarheid is dat Jehovah se dag vinnig nader kom, en ons moet in afwagting daarvan bly (Matt. 24:44). God gee nie vir jou as individu om nie. As ons hierdie sataniese leuen glo, kan dit veroorsaak dat ons tou opgooi omdat ons dink dat ons nooit God se liefde waardig kan wees nie. Die waarheid is dat Jehovah sy aanbidders as individue liefhet en waardeer.—Matt. 10:29-31.

13 Ons moet op ons hoede bly, want die denke en gesindhede van Satan se wêreld lyk dalk op die oog af geloofwaardig. Maar onthou dat Satan ’n meesterbedrieër is. Slegs deur ag te slaan op die raad en herinneringe van God se Woord, kan ons voorkom dat ons mislei word deur Satan se “kunstig versinde valse stories [“slim uitgedinkte mites”, The New American Bible]”.—2 Pet. 1:16.

Moenie “Satan” volg nie

14. Watter waarskuwing het Paulus aan sekere jonger weduwees gegee, en waarom moet ons almal sy woorde ter harte neem?

14 Stel jou ’n padteken voor wat sê: “Hierheen om Satan te volg.” Wie van ons sal op so ’n teken ag slaan? Maar Paulus waarsku ons teen etlike maniere waarop toegewyde Christene ‘afgekeer kan word om Satan te volg’. (Lees 1 Timoteus 5:11-15.) Paulus se woorde is tot sekere “jonger weduwees” gerig, maar die beginsels wat hy meld, is op ons almal van toepassing. Daardie eerste-eeuse Christenvroue het moontlik nie gedink dat hulle Satan volg nie, maar dit is presies waarop hulle dade neergekom het. Hoe kan ons daarteen waak dat ons Satan onwetend volg? Kom ons ondersoek Paulus se waarskuwing oor skadelike skinderpraatjies.

15. Wat is Satan se oogmerk, en hoe identifiseer Paulus Satan se taktiek?

15 Satan se oogmerk is om die stem van ons geloof stil te maak—om ons te kry om op te hou om die goeie nuus te verkondig (Op. 12:17). Met dié doel voor oë probeer hy ons kry om bedrywighede na te jaag wat tyd verkwis of wat verdeeldheid onder ons veroorsaak. Let op hoe Paulus Satan se taktiek identifiseer. “Om ledig te wees en . . . rond te slenter.” In hierdie eeu van tegnologie is dit maklik om ons tyd en dié van ander te verkwis deur byvoorbeeld onnodige of selfs valse e-posse aan te stuur. “Skindertonge.” Skadelike skinderpraatjies kan tot laster lei, wat dikwels twis veroorsaak (Spr. 26:20). Of hulle dit nou besef of nie, kwaadwillige lasteraars volg Satan die Duiwel na. c “Persone wat hulle met ander se sake bemoei.” Ons het nie die reg om vir ander te sê hoe om hulle persoonlike sake te behartig nie. Sulke ydele en ontstigtende gedrag kan ons aandag aflei van die godgegewe werk om die Koninkryk te verkondig. As ons ophou om Jehovah se werk daadwerklik te ondersteun, begin ons Satan volg. Daar is geen middeweg nie.—Matt. 12:30.

16. Die toepassing van watter raad kan ons help om nie ‘afgekeer te word om Satan te volg’ nie?

16 As ons ag slaan op die Bybel se raad, kan dit ons help om nie ‘afgekeer te word om Satan te volg’ nie. Kyk na die volgende wyse raad van Paulus. “[Julle] moet baie [] om in die werk van die Here te doen” (1 Kor. 15:58). As ons besig bly met Koninkryksbedrywighede, sal dit ons beskerm teen die gevare van ydelheid en tydrowende strewes (Matt. 6:33). Sê “wat goed is vir opbouing” (Ef. 4:29). Wees vasbeslote om nie na skadelike skinderpraatjies te luister nie en om dit nie te versprei nie. d Kweek vertroue in en respek vir medegelowiges aan. Dan sal ons geneig wees om eerder opbouende as afbrekende woorde te spreek. “[Stel] julle dit ten doel . . . om julle met julle eie sake te bemoei” (1 Tess. 4:11). Toon persoonlike belangstelling in ander, maar doen dit op maniere wat hulle privaatheid respekteer en hulle nie hulle waardigheid ontneem nie. Onthou ook dat ons nie ons beskouings aan ander moet opdring in verband met sake waaroor hulle self moet besluit nie.—Gal. 6:5.

17. (a) Waarom waarsku Jehovah ons oor wat ons nie moet volg nie? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen aangaande die pad wat Jehovah wil hê ons moet neem?

17 Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah uitdruklik vir ons sê wat om nie te volg nie! Moet egter nooit vergeet nie dat dit Jehovah se groot liefde vir ons is wat hom beweeg het om die waarskuwings te gee wat in hierdie en die vorige artikel bespreek is. Hy wil ons die ellende en pyn spaar wat dit meebring wanneer Satan se misleidende ‘padtekens’ gevolg word. Die pad wat Jehovah wil hê ons moet neem, is dalk smal, maar dit lei na die bes moontlike bestemming—die ewige lewe (Matt. 7:14). Mag ons nooit wankel nie in ons vasbeslotenheid om ag te slaan op Jehovah se vermaning: “Dit is die weg. Wandel daarop.”—Jes. 30:21.

[Voetnote]

a “Afvalligheid” is ’n verloëning van ware aanbidding, ontrouheid, opstandigheid, ’n verwerping.

b Die apokriewe boek Tobias, wat omstreeks die derde eeu VHJ geskryf is en dus in Paulus se dag bestaan het, is byvoorbeeld vol bygelowe en belaglike stories van towerkuns wat as die waarheid aangebied word.—Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsy 122.

c Die Griekse woord vir “duiwel” is di·aʹbo·los, wat “lasteraar” beteken. Hierdie woord word gebruik as nog ’n titel vir Satan, die vernaamste lasteraar.—Joh. 8:44; Op. 12:9, 10.

Wat is jou antwoord?

Hoe kan jy op die waarskuwings in die volgende tekste ag slaan?

2 Petrus 2:1-3

1 Timoteus 1:3, 4

1 Timoteus 5:11-15

[Studievrae]

[Venster/Prente op bladsy 19

 Vere word in die wind verstrooi

’n Ou Joodse verhaal illustreer op treffende wyse die gevolge wanneer skadelike skinderpraatjies versprei word. Die verhaal, waarvan daar verskeie weergawes is, lui min of meer soos volg.

’n Man het ’n dorp se wyse man oral loop en beswadder. Later het die kwaadwillige skindertong sy fout besef en na die wyse man gegaan om vergifnis te vra, en hy het aangebied om enigiets te doen om daarvoor te vergoed. Die wyse man het een versoek gehad: Die skindertong moes ’n verekussing gaan kry, dit oopsny en die vere in die wind uitstrooi. Hoewel die versoek die man verbaas het, het hy dit gedoen en toe na die wyse man teruggekeer.

“Is ek nou vergewe?” het hy gevra.

“Gaan maak eers al die vere bymekaar”, het die wyse man geantwoord.

“Maar hoe kan ek? Die wind het dit reeds oral verstrooi.”

“Dit is net so moeilik om die skade wat deur jou woorde aangerig is, ongedaan te maak as om die vere bymekaar te maak.”

Die les is duidelik. As woorde eers geuiter is, kan dit nie teruggeneem word nie en is dit dalk nie moontlik om die skade wat dit aanrig, ongedaan te maak nie. Voordat ons ’n brokkie skindernuus versprei, sal dit goed wees om in gedagte te hou dat ons as ’t ware vere in die wind gaan verstrooi.

[Prent op bladsy 16]

Hoe nooi party dalk afvalliges in hulle huis in?