Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Lang regstryd eindig in ’n oorwinning!

’n Lang regstryd eindig in ’n oorwinning!

’n Lang regstryd eindig in ’n oorwinning!

DIT het in 1995 begin en 15 jaar geduur. Gedurende hierdie hele tyd is ware Christene in Rusland aangeval deur teenstanders van godsdiensvryheid. Hierdie teenstanders was vasbeslote om Jehovah se Getuies binne en buite Moskou onwettig te laat verklaar. Jehovah het dit nogtans goed gedink om die onkreukbaarheid van ons dierbare Russiese broers en susters met ’n regsoorwinning te beloon. Maar wat het tot hierdie konfrontasie gelei?

VRYHEID—UITEINDELIK!

Gedurende die eerste helfte van die 1990’s het ons broers in Rusland die godsdiensvryheid teruggekry wat hulle in 1917 verloor het. In 1991 is hulle deur die regering van die Sowjetunie as ’n amptelike godsdiens geregistreer. Ná die verbrokkeling van die Sowjetunie is Jehovah se Getuies in die Russiese Federasie geregistreer. Daarbenewens is Getuies wat dekades vroeër godsdiensvervolging verduur het, amptelik deur die Staat as slagoffers van politieke onderdrukking erken. In 1993 het die Moskouse Departement van Justisie die Moskouse Gemeenskap van Jehovah se Getuies, soos ons daar wetlik bekend staan, geregistreer. In dieselfde jaar het Rusland se nuwe grondwet, wat godsdiensvryheid waarborg, ook in werking getree. Geen wonder dat een broer uitgeroep het nie: “Ons het nooit eens gedroom dat ons sulke vryheid sal geniet nie!” Hy het verder gesê: “Ons het 50 jaar lank hiervoor gewag!”

Die broers en susters in Rusland het hierdie “gunstige tye” goed benut deur gou hulle predikingsbedrywighede te verskerp, en baie het gunstig gereageer (2 Tim. 4:2). “Mense het groot belangstelling in godsdiens getoon”, het een waarnemer gesê. Kort voor lank het die aantal verkondigers, pioniers en gemeentes grootliks vermeerder. Trouens, van 1990 tot 1995 het die aantal Getuies in Moskou van sowat 300 tot meer as 5 000 toegeneem! Toe nuwe knegte van Jehovah in Moskou bly vermeerder het, het teenstanders van godsdiensvryheid bekommerd geword. In die middel-1990’s het hulle ’n aanval geloods deur ’n regsoorlog te begin. Hierdie stryd het deur vier uitgerekte fases gegaan voordat dit uiteindelik tot ’n einde gekom het.

KRIMINELE ONDERSOEKE NEEM ’N VREEMDE WENDING

Die eerste fase van die stryd het in Junie 1995 begin. ’n Groep in Moskou wat hulle openlik met die Russies-Ortodokse Kerk vereenselwig, het ’n klag teen ons broers ingedien dat hulle by kriminele bedrywighede betrokke is. Die groep het beweer dat hulle namens gesinslede optree wat gegrief voel dat hulle huweliksmaat of kinders Getuies geword het. In Junie 1996 het ondersoekers bewyse van oortreding begin soek, maar niks gevind nie. Maar dieselfde groep het nog ’n klag ingedien—waarin hulle weer eens ons broers van kriminele dade beskuldig het. Nog ’n ondersoek is ingestel, maar alle beskuldigings is weerlê. Die teenstanders het nietemin ’n derde klag gelê, gegrond op dieselfde aantygings. Jehovah se Getuies in Moskou is weer ondersoek, maar die aanklaer het tot dieselfde gevolgtrekking gekom—daar was geen grond vir ’n strafsaak nie. Toe het die teenstanders vir die vierde keer dieselfde klag gelê, en weer eens het die aanklaer geen bewyse gevind nie. Dit is moeilik om te glo, maar dieselfde groep het nog ’n ondersoek aangevra. Uiteindelik, op 13 April 1998, het die nuwe ondersoeker die saak gesluit.

“Maar toe”, sê ’n regsgeleerde wat by die saak betrokke was, “het iets buitengewoons gebeur.” Hoewel die verteenwoordiger van die aanklaer se kantoor wat hierdie vyfde ondersoek behartig het, erken het dat daar geen bewyse van kriminele bedrywighede is nie, het sy nietemin aanbeveel dat ’n siviele aksie teen ons broers ingestel word. Die verteenwoordiger het beweer dat die Moskouse Gemeenskap van Jehovah se Getuies nasionale en internasionale wette oortree het. Die aanklaer van die Noordelike Administratiewe Distrik van Moskou het saamgestem en ’n siviele klag ingedien. a Op 29 September 1998 het die verhoor in Moskou se Golowinski-distrikshof begin. Dit het die tweede fase ingelui.

DIE BYBEL IN DIE HOF

In ’n beknopte hofsaal in die noordelike deel van Moskou het aanklaer Tatjana Kondratjewa die aanval geloods deur ’n federale wet van 1997 te gebruik wat die Ortodokse Christelike kerke, Islam, Judaïsme en Boeddhisme as tradisionele godsdienste beskryf. b Dieselfde wet het dit in die praktyk moeilik gemaak vir ander godsdienste om wetlike erkenning te verkry. Dit stel howe ook in staat om godsdienste te verbied wat haat bevorder. Aan die hand van hierdie wet het die aanklaer valslik beweer dat Jehovah se Getuies haat bevorder en gesinne opbreek en dus onwettig verklaar moet word.

’n Regsgeleerde wat ons broers verdedig het, het gevra: “Wie presies in die Moskouse Gemeente het die wet verbreek?” Die aanklaer kon nie ’n enkele naam verstrek nie. Sy het egter aangevoer dat die lektuur van Jehovah se Getuies godsdiensvyandigheid aanstig. Om haar punt te staaf, het sy gelees uit Die Wagtoring, die Ontwaak! en ander publikasies (sien hierbo). Toe sy gevra is hoe hierdie publikasies vyandigheid veroorsaak, het sy gesê: “Jehovah se Getuies leer dat hulle die ware godsdiens is.”

’n Regsgeleerde, een van ons broers, het vir die regter en vir die aanklaer elkeen ’n Bybel gegee en Efesiërs 4:5 gelees: “Een Here, een geloof, een doop.” Dit was nie lank nie of die regter, die aanklaer en die regsgeleerde—almal met ’n Bybel in die hand—het tekste soos Johannes 17:18 en Jakobus 1:27 bespreek. Die hof het gevra: “Stig hierdie tekste godsdiensvyandigheid aan?” Die aanklaer het geantwoord dat sy nie bevoeg is om oor die Bybel kommentaar te lewer nie. Die regsgeleerde het publikasies van die Russies-Ortodokse Kerk voorgelê wat Jehovah se Getuies skerp kritiseer en gevra: “Skend hierdie stellings die wet?” Die aanklaer het geantwoord: “Ek is nie bevoeg om oor godsdiensredenasies kommentaar te lewer nie.”

DIE VERVOLGING WANKEL

In haar beskuldiging dat die Getuies gesinne opbreek, het die aanklaer gesê dat hulle nie feesdae soos Kersfees vier nie. Sy het egter later erken dat die Russiese wet nie vereis dat burgers Kersfees moet vier nie. Russe—insluitende Russiese Getuies van Jehovah—het ’n keuse. Die aanklaer het ook aangevoer dat ons organisasie ‘kinders van normale rus en emosionele vreugdes beroof’. Maar op ’n vraag wat aan haar gestel is, het sy erken dat sy nog nooit met enige kind gepraat het wat deur Getuie-ouers grootgemaak is nie. Toe ’n regsgeleerde die aanklaer gevra het of sy al ooit die vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon het, het sy geantwoord: “Dit was nie nodig nie.”

Die vervolging het ’n professor van psigiatrie as ’n deskundige getuie opgeroep. Hy het beweer dat die lees van ons lektuur geestesprobleme veroorsaak. Toe ’n regsgeleerde vir die verdediging opmerk dat die professor se geskrewe verklaring aan die hof presies dieselfde is as ’n dokument wat deur die Moskouse Patriargaat opgestel is, het die professor erken dat sekere dele woord vir woord dieselfde is. “Ons gebruik een disket”, het hy gesê. Verdere ondervraging het aan die lig gebring dat hy nog nooit een van Jehovah se Getuies behandel het nie. Daarenteen het ’n ander professor van psigiatrie in die hof getuig dat hy meer as 100 Getuies in Moskou bestudeer het. Hy het bevind dat die groep se geestesgesondheid normaal is en het bygevoeg dat die lede van die groep verdraagsamer teenoor ander godsdienste geword het nadat hulle Getuies geword het.

’N OORWINNING—MAAR NOG NIE DIE EINDE NIE

Op 12 Maart 1999 het die regter vyf akademici aangestel om die lektuur van Jehovah se Getuies te bestudeer, en sy het die verhoor uitgestel. In ’n handeling wat niks met die Moskou-verhoor te doen gehad het nie, het die Ministerie van Justisie van Rusland se federale regering reeds vroeër ’n paneel akademici die opdrag gegee om ons lektuur te bestudeer. Hierdie paneel wat deur die Ministerie aangestel is, het op 15 April 1999 berig dat hulle niks skadeliks in ons publikasies gevind het nie. Gevolglik het die Ministerie van Justisie op 29 April 1999 die nasionale registrasie van Jehovah se Getuies hernieu. Ondanks hierdie nuwe positiewe studie het die Moskouse hof daarop aangedring dat ’n nuwe paneel ons lektuur ondersoek. Dit het ’n vreemde situasie geskep—Jehovah se Getuies is landwyd deur Rusland se Ministerie van Justisie erken as ’n goedgekeurde godsdiens wat die wet onderhou, maar is terselfdertyd deur Moskou se Departement van Justisie ondersoek omdat hulle na bewering die wet verbreek!

Byna twee jaar het verloop voordat die verhoor hervat is, en op 23 Februarie 2001 het regter Jelena Prochoritsjewa oor ’n uitspraak besluit. Ná ’n oorweging van die bevindings van die paneel wat sy aangestel het, het sy beslis: “Daar is geen grondslag om die godsdiensgemeenskap van Jehovah se Getuies in Moskou te likwideer en hulle bedrywighede te verbied nie.” Uiteindelik is dit wetlik bevestig dat ons broers onskuldig is aan al die aantygings wat teen hulle gemaak is! Maar die aanklaer het die uitspraak verwerp en na die Moskouse Stadshof geappelleer. Drie maande later, op 30 Mei 2001, het hierdie hof die beslissing van regter Prochoritsjewa nietig verklaar. Dit het beveel dat ’n herverhoor gehou moet word, met dieselfde aanklaer maar ’n ander regter. Die derde fase was op hande.

’N NEDERLAAG—MAAR NOG NIE DIE EINDE NIE

Op 30 Oktober 2001 het regter Wera Doebinskaja met die herverhoor begin. c Aanklaer Kondratjewa het die aanklag dat Jehovah se Getuies haat bevorder, herhaal, maar toe het sy bygevoeg dat ’n verbod op die wetlike gemeenskap van Jehovah se Getuies ’n manier is om die regte van die Getuies in Moskou te beskerm! In antwoord op hierdie vergesogte bewering het al 10 000 Getuies in Moskou onmiddellik ’n petisie onderteken wat die hof versoek het om die aanklaer se aanbod van “beskerming” te verwerp.

Die aanklaer het gesê dat dit nie vir haar nodig is om bewys te lewer dat die Getuies skuldig is aan oortreding nie. Die verhoor, het sy gesê, het te doen met die lektuur en opvattings van Jehovah se Getuies, nie hulle bedrywighede nie. Sy het aangekondig dat sy ’n woordvoerder van die Russies-Ortodokse Kerk as ’n deskundige getuie sal oproep. Dit het natuurlik bevestig dat lede van die geestelikes inderdaad ’n groot rol gespeel het in die veldtog om die Getuies onwettig te laat verklaar. Op 22 Mei 2003 het die regter beveel dat ’n paneel deskundiges die publikasies van Jehovah se Getuies bestudeer—vir die soveelste keer.

Op 17 Februarie 2004 is die verhoor hervat om die resultate van die paneel se studie in oënskou te neem. Die deskundiges het bevind dat ons publikasies lesers aanspoor om “die gesin en die huweliksreëling te bewaar” en dat die bewering dat ons lektuur haat bevorder, “ongegrond” is. Ander geleerdes het saamgestem. ’n Professor van godsdiensgeskiedenis is gevra: “Waarom preek Jehovah se Getuies?” Hy het vir die hof gesê: “Die predikingswerk is ’n moet vir ’n Christen. Dit is wat die Evangelie sê en dit is wat Christus sy dissipels beveel het om te doen—‘gaan preek in al die lande’.” Nietemin het die regter op 26 Maart 2004 ’n verbod op die bedrywighede van Jehovah se Getuies in Moskou geplaas. Op 16 Junie 2004 het die Moskouse Stadshof die beslissing bekragtig. d ’n Broer wat al lank ’n Getuie is, het oor die uitspraak gesê: “In die Sowjet-era moes ’n Rus ’n ateïs wees. Vandag moet ’n Rus Ortodoks wees.”

Hoe het die broers op die verbod gereageer? Baie soos Nehemia van ouds. Toe vyande van God se volk in Nehemia se dag sy pogings om Jerusalem se muur te herbou, teëgestaan het, het hy en sy volksgenote nie toegelaat dat enige vorm van teenstand hulle aandag aflei nie. Inteendeel, hulle het “aangehou om . . . te bou” en “het deurentyd ’n hart gehad om te werk” (Neh. 4:1-6). Ons broers in Moskou het eweneens nie toegelaat dat teenstanders hulle aandag aflei van die werk wat vandag gedoen moet word nie—die verkondiging van die goeie nuus (1 Pet. 4:12, 16). Hulle was oortuig dat Jehovah na hulle sal omsien, en hulle was gereed vir die vierde fase van hierdie lang stryd.

’N TOENAME IN VYANDIGHEID

Op 25 Augustus 2004 het ons broers ’n petisie by die Kremlin ingelewer wat gerig was aan Wladimir Poetin, die destydse president van Rusland. Die petisie, wat diepe besorgdheid oor die verbod uitgespreek het, het uit 76 dele bestaan en meer as 315 000 handtekeninge bevat. Intussen het die Russies-Ortodokse geestelikes hulle kleure gewys. ’n Woordvoerder vir die Moskouse Patriargaat het gesê: “Ons is sterk gekant teen die bedrywighede van Jehovah se Getuies.” ’n Moslemleier het gesê dat die beslissing oor die verbod “’n mylpaal en positiewe verwikkeling” is.

Dit is nie verbasend dat hierdie beslissing misleide elemente van die Russiese samelewing die vrymoedigheid gegee het om Jehovah se Getuies aan te val nie. Terwyl hulle aan die predikingswerk in Moskou deelgeneem het, is party Getuies deur teenstanders met die vuis geslaan en geskop. ’n Woedende man het ’n suster uit ’n gebou gejaag en haar so hard in die rug geskop dat sy geval en haar kop gestamp het. Sy het mediese hulp nodig gehad; tog het die polisie geen stappe teen haar aanvaller gedoen nie. Ander Getuies is in hegtenis geneem deur die polisie, wat hulle vingerafdrukke en foto’s geneem het en hulle oornag in bewaring gehou het. Die bestuurders van vergaderplekke in Moskou is met afdanking gedreig as hulle sou voortgaan om hulle sale aan die Getuies te verhuur. Kort voor lank het talle gemeentes hulle gehuurde vergaderplekke verloor. Veertig gemeentes moes dieselfde Koninkryksaalkompleks met vier sale gebruik. Een gemeente wat hierdie fasiliteit gebruik, moes die Openbare Vergadering halfagt in die oggend hou. “Om dit by te woon, moes die verkondigers vyfuur opstaan”, het ’n reisende opsiener vertel, “maar hulle het dit meer as ’n jaar lank gewillig gedoen.”

“AS ’N GETUIENIS”

Om te bewys dat die Moskou-verbod onwettig was, het ons regsgeleerdes in Desember 2004 verligting by die Europese Hof van Menseregte gesoek. (Sien die venster “Waarom ’n Russiese beslissing in Frankryk hersien is”, op bladsy 6.) Ses jaar later, op 10 Junie 2010, het die Hof ’n eenstemmige uitspraak gelewer wat Jehovah se Getuies geheel en al vrygespreek het! e Die Hof het al die aantygings wat teen ons gemaak is, in oënskou geneem en bevind dat dit heeltemal ongegrond is. Dit het ook gesê dat Rusland ’n wetlike verpligting het om “’n einde te maak aan die skending soos deur die Hof bevind en om so ver moontlik vergoeding te doen vir die gevolge daarvan”.—Sien die venster “Die Hof se beslissing”, op bladsy 8.

Die Hof se goed bewoorde gevolgtrekkings oor hoe die Europese Konvensie oor Menseregte die bedrywighede van Jehovah se Getuies beskerm, is bindend, nie net vir Rusland nie, maar ook vir die 46 ander nasies wat lede van die Europese Raad is. Wat meer is, weens die breedvoerige ontleding van die wet en die feite sal dit met belangstelling deur regsgeleerdes, regters, wetgewers en spesialiste op die gebied van menseregte regoor die wêreld gelees word. Waarom? Om sy beslissing te bereik, het die Hof nie net verwys na agt uitsprake wat dit tevore ten gunste van Jehovah se Getuies gelewer het nie, maar ook na nege hofsake wat vroeër deur Jehovah se Getuies in die hoogste howe van Argentinië, Japan, Kanada, Rusland, Spanje, Suid-Afrika, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State gewen is. Hierdie verwysings en die Hof se onbetwisbare weerleggings van die aantygings wat deur die Moskouse aanklaer gemaak is, voorsien die wêreldwye gemeenskap van Jehovah se Getuies van ’n kragtige middel ter verdediging van hulle geloof en gebruike.

Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Julle sal selfs voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van my, as ’n getuienis vir hulle en die nasies” (Matt. 10:18). Die regstryd wat gedurende die afgelope dekade en ’n half plaasgevind het, het ons broers die geleentheid gebied om Jehovah se naam op ’n ongeëwenaarde skaal binne en buite Moskou bekend te maak. Die aandag wat deur die ondersoeke, die hofsake en die uitspraak van ’n internasionale hof op die Getuies gevestig is, het inderdaad “as ’n getuienis” gedien en het tot “die vooruitgang van die goeie nuus” bygedra (Fil. 1:12). Trouens, wanneer die Getuies in Moskou vandag aan die predikingswerk deelneem, vra baie huisbewoners: “Maar het hulle dan nie julle werk verbied nie?” Hierdie vraag gee ons broers dikwels die geleentheid om die huisbewoners van meer inligting oor ons opvattings te voorsien. Dit is duidelik dat geen vyandelike mag ons kan verhinder om ons Koninkrykspredikingswerk te doen nie. Ons bid dat Jehovah sal voortgaan om ons geliefde en moedige broers en susters in Rusland te seën en te onderskraag.

[Voetnote]

a Die klag is op 20 April 1998 ingedien. Twee weke later, op 5 Mei, het Rusland die Europese Konvensie oor Menseregte bekragtig.

b “Die wet is aangeneem onder groot druk van die Russies-Ortodokse Kerk, wat sy posisie in Rusland angsvallig bewaak en gretig is om te sien dat ’n verbod op Jehovah se Getuies geplaas word.”—Associated Press, 25 Junie 1999.

c Ironies genoeg, daardie dag was ook die tiende herdenking van die bekragtiging van ’n wet in Rusland wat Jehovah se Getuies as slagoffers van godsdiensonderdrukking onder Sowjetbewind erken het.

d Die verbod het die geregistreerde regsliggaam wat deur die gemeentes in Moskou gebruik is, gelikwideer. Die teenstanders het gehoop dat die likwidasie ons broers se pogings om hulle bediening uit te voer, sou belemmer.

e Op 22 November 2010 het ’n paneel van vyf regters van die Groot Kamer van die Europese Hof van Menseregte Rusland se petisie waarin hulle versoek dat die saak na die Hof se Groot Kamer verwys word, verwerp. Dit het die beslissing van 10 Junie 2010 finaal en afdwingbaar gemaak.

[Venster/Prent op bladsy 6]

Waarom ’n Russiese beslissing in Frankryk hersien is

Op 28 Februarie 1996 het Rusland die Europese Konvensie oor Menseregte onderteken. (Op 5 Mei 1998 het Rusland die Konvensie bekragtig.) Deur hierdie verdrag te onderteken, het die Russiese regering verklaar dat sy onderdane

‘die reg het op vryheid van godsdiens en die reg het om hulle godsdiens privaat en in die openbaar te beoefen en om van godsdiens te verander as hulle wil’.—Artikel 9.

‘die reg het om op ’n verantwoordelike wyse te sê en te skryf wat hulle dink en om inligting aan ander te gee’.—Artikel 10.

‘die reg het om aan vreedsame vergaderinge deel te neem’.—Artikel 11.

Individue of organisasies wat slagoffers van skendings van die verdrag is en wat alle plaaslike regsweë uitgeput het, kan hulle saak bring na die Europese Hof van Menseregte in Straatsburg, Frankryk (hierbo). Dit bestaan uit 47 regters—wat gelyk is aan die aantal lande wat die Europese Konvensie oor Menseregte onderteken het. Die Hof se beslissings is bindend. Lande wat die verdrag onderteken het, moet hulle aan die beslissings onderwerp.

[Venster op bladsy 8]

Die Hof se beslissing

Hier is drie kort uittreksels uit die Hof se beslissing.

Een van die aanklagte was dat Jehovah se Getuies gesinne opbreek. Die Hof het die teendeel beslis. Dit het gesê:

“Dit is die teësinnigheid en onwilligheid van ongodsdienstige familielede om hulle godsdienstige familielid se vryheid om sy of haar godsdiens te openbaar en te beoefen, te aanvaar en te respekteer, wat die bron van konflik is.”—Par. 111.

Die Hof het ook geen bewyse ter stawing van die aanklag van “gedagtebeheer” gevind nie en gesê:

“Dit is vir die Hof merkwaardig dat die [Russiese] howe nie die naam van ’n enkele individu gemeld het wie se reg op gewetensvryheid na bewering deur middel van hierdie tegnieke geskend is nie.”—Par. 129.

In ’n ander aanklag is daar beweer dat Jehovah se Getuies, deur nie bloedoortappings te aanvaar nie, die gesondheid van gelowiges benadeel. Die Hof het die teendeel beslis en gesê:

“Die vryheid om ’n spesifieke mediese behandeling te aanvaar of te weier of om ’n alternatiewe vorm van behandeling te kies, is van die allergrootste belang vir die beginsels van selfbeskikking en persoonlike outonomie. ’n Bevoegde volwasse pasiënt het die vryheid om byvoorbeeld te besluit of hy ’n operasie of behandeling wil ondergaan of nie en dus ook of hy ’n bloedoortapping wil hê of nie.”—Par. 136.