Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Internet—Maak wyse gebruik van ’n wêreldwye kommunikasiemiddel

Die Internet—Maak wyse gebruik van ’n wêreldwye kommunikasiemiddel

Die Internet—Maak wyse gebruik van ’n wêreldwye kommunikasiemiddel

DIE uitvinding van drukwerk, wat eeue gelede plaasgevind het, het die manier waarop mense met mekaar kommunikeer, verander. Die uitvinding van die Internet in hedendaagse tye is daarmee vergelyk. Hierdie praktiese hulpmiddel is al ’n wêreldwye kommunikasiemiddel genoem, en heel tereg ook. As jy op die “inligting-supersnelweg” reis, kan jy feite, statistiek en menings oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe ontdek.

Die vermoë om te kommunikeer is ’n wonderlike gawe van ons Skepper. Dit stel ons in staat om gedagtes te wissel en inligting met ander te deel. Jehovah was die eerste persoon wat met sy aardse kinders gekommunikeer het en het duidelike, ondubbelsinnige inligting voorsien oor hoe om ’n sinvolle lewe te lei (Gen. 1:28-30). Maar soos gesien kan word uit wat vroeg in die mensegeskiedenis gebeur het, kan die gawe van kommunikasie misbruik word. Satan het geheel en al valse inligting aan Eva verskaf. Sy het geglo wat hy gesê het en het dit oorvertel aan Adam, wat die mensdom op ’n rampspoedige weg laat beland het.—Gen. 3:1-6; Rom. 5:12.

Wat kan oor die gebruik van die Internet gesê word? Hoewel die Internet waardevolle inligting kan voorsien, ons tyd kan spaar en ’n nuttige doel kan dien, kan dit ons ook verkeerde inligting gee, ’n buitensporige hoeveelheid van ons tyd in beslag neem en ons sedelik verderf. Kom ons kyk hoe ons hierdie wêreldwye kommunikasiemiddel tot ons voordeel kan gebruik.

Inligting—Betroubaar of vals?

Moet nooit aanneem dat alle inligting op die Internet goed en nuttig is nie. Internetsoekenjins kan vergelyk word met ’n menigte sampioenplukkers wat onvermoeid allerhande soorte sampioene—eetbares sowel as giftiges—bymekaarmaak, in dieselfde houer gooi en dit dan vir ons as voedsel aanbied. Sou jy hierdie sampioene begin eet sonder om elkeen noukeurig te ondersoek? Natuurlik nie! Internetsoekenjins gebruik ’n ontsaglike aantal rekenaars om miljarde webblaaie met van die heel beste tot die heel slegste inhoud te deursoek en te keur. Ons het onderskeidingsvermoë nodig om die kaf van die koring te skei sodat ons nie ons verstand met verkeerde inligting vergiftig nie.

In 1993 het ’n spotprent van twee honde wat voor ’n rekenaar sit, in ’n welbekende tydskrif verskyn. Die een hond sê vir die ander: “Op die Internet weet niemand jy’s ’n hond nie.” Lank gelede het Satan agter ’n slang weggekruip sodat hy met Eva kon “klets” en het hy vir haar gesê dat sy soos God kan wees. Vandag kan enigiemand met ’n Internetverbinding ’n selfverklaarde professor word en voorgee dat hy ’n deskundige is, sonder om eers sy naam bekend te maak. En daar is geen reëls oor wie idees, inligting, beelde en wenke kan publiseer nie.

Moenie ’n “Internet-Eva” word nie. Benader die inligting krities en moenie liggelowig wees nie. Voordat jy dit vertrou, vra: (1) Wie het hierdie materiaal gepubliseer? Hoe gesaghebbend is die skrywer? (2) Waarom is dit gepubliseer? Wat was die skrywer se beweegrede? Bevat dit enige vooroordele? (3) Waarvandaan het die skrywer die inligting gekry? Verskaf hy bronne wat nagegaan kan word? (4) Is die inligting op datum? In die eerste eeu het die apostel Paulus Timoteus raad gegee wat vandag nog net so toepaslik is. Paulus het geskryf: “Bewaar die pand wat aan jou toevertrou is en keer jou af van die leë praatjies wat skend wat heilig is en van die teenstrydighede van die sogenaamde ‘kennis’.”—1 Tim. 6:20.

Spaar dit tyd of mors dit tyd?

Indien die Internet wyslik gebruik word, kan dit ons ongetwyfeld tyd, energie en geld spaar. Ons kan maklik iets koop sonder om die huis te verlaat. As ons pryse vergelyk, kan dit ons help om geld te spaar. Internetbankdienste het baie mense se lewe makliker gemaak; finansiële sake kan te eniger tyd in die gemak van ons huis behartig word. Die Internet voorsien noodsaaklike hulpmiddele sodat ons ’n gerieflike en ekonomiese reisplan kan uitwerk en help ons om die nodige besprekings daarvoor te doen. Ons kan met min moeite telefoonnommers, adresse en verskillende maniere vind om by ons beplande bestemming te kom. Wêreldwyd wend takkantore van Jehovah se Getuies baie van hierdie dienste aan om tyd en fondse te spaar en minder personeel te gebruik.

Daar is egter ’n donker sy wat oorweeg moet word. Dit behels die hoeveelheid tyd wat die gebruik van die Internet in beslag kan neem. Vir party het die Internet ’n fassinerende speelding in plaas van ’n nuttige hulpmiddel geword. Hulle bestee buitensporige hoeveelhede tyd daaraan om speletjies te speel, inkopies te doen, te klets, e-posse te stuur, soektogte te doen en rond te snuffel. Hulle begin dalk mettertyd die belangriker dinge verwaarloos, wat hulle gesin, vriende en die gemeente raak. ’n Mens kan selfs verslaaf raak aan die Internet. ’n Raming wat in 2010 gepubliseer is, het byvoorbeeld getoon dat 18,4 persent van Koreaanse adolessente deur Internetverslawing geraak word. Duitse navorsers het gesê dat “al hoe meer vroue oor die verslawing [van] hulle lewensmaat kla”. Een vrou het gekla dat haar man se afhanklikheid van die Internet hom so drasties verander het dat dit hulle huwelik verwoes het.

’n Takkantoor van Jehovah se Getuies het ’n brief ontvang van ’n persoon wat homself ’n Internetslaaf genoem het. Hy was soms tot tien uur per dag op die Internet. Nadat hy gesê het dat “alles in die begin so onskuldig gelyk het”, het hy bygevoeg: “Mettertyd het my vergaderingbywoning afgeneem en het ek opgehou bid.” Wanneer hy wel vergadering toe gegaan het, was hy onvoorbereid en het hy die hele tyd uitgesien na die tyd wanneer hy weer by die huis “aanlyn kon gaan”. Hy het gelukkig besef hoe ernstig die probleem is en het stappe gedoen om dit reg te stel. Mag ons nooit die punt bereik waar ons aan die Internet verslaaf is nie.

Inligting—Aanvaarbaar of nie?

In 1 Tessalonisense 5:21, 22 lees ons: “Maak seker van alles; hou vas aan wat goed is. Onthou julle van elke vorm van goddeloosheid.” Ons moet vasstel of die inligting wat ons op die Internet vind, God se goedkeuring waardig is en aan sy hoë standaarde voldoen. Dit moet sedelik aanvaarbaar en gepas vir ’n Christen wees. Internetpornografie het baie algemeen geword, en as ons nie versigtig is nie, kan dit ons maklik verstrik.

Dit is verstandig as ons ons afvra: ‘Is wat ek op die skerm sien, iets wat ek gou vir my huweliksmaat, my ouers of my Christenbroers sal wegsteek as hulle in die vertrek sou inkom?’ As die antwoord ja is, sal dit goed wees as ons die Internet slegs gebruik wanneer ander teenwoordig is. Die Internet het inderdaad die manier verander waarop ons kommunikeer en inkopies doen. Boonop het dit ’n splinternuwe manier geskep om ‘in ons hart egbreuk te pleeg’.—Matt. 5:27, 28.

Om aan te stuur of nie?

Die gebruik van die Internet sluit in dat inligting ontvang sowel as versprei word. Al het ons die vryheid om inligting te verkry en aan te stuur, het ons ook die verantwoordelikheid om vas te stel of dit waar en sedelik aanvaarbaar is. Kan ons bevestig dat wat ons skryf of aan ander stuur, akkuraat is? Het ons toestemming om die inligting aan te stuur? a Is dit die moeite werd en opbouend? Met watter beweegredes stel ons dit beskikbaar? Wil ons dit eenvoudig doen om ander te beïndruk?

As e-pos behoorlik gebruik word, kan dit baie nuttig wees. Dit kan ons ook toegooi onder inligting. Oorlaai ons ander deur die jongste nuus of kleinigheid aan ’n lang lys kennisse bekend te maak en sodoende dalk hulle kosbare tyd in beslag te neem? Moet ons nie ons beweegredes ondersoek voordat ons die “stuur”-knoppie druk nie? Wat wil ons in werklikheid bereik? In die verlede het mense briewe geskryf om hulle familie en vriende van hulle ondervindinge te vertel en hulle op hoogte te hou van wat in hulle lewe gebeur. Moet dít nie die doel van ons e-posse wees nie? Waarom sou ons iets aanstuur as ons dit nie kan bevestig nie?

Wat moet ons dus in verband met die Internet doen? Dit heeltemal vermy? Dit is in party gevalle dalk nodig. Die Internetslaaf wat vroeër genoem is, het dit gedoen om jare van verslawing te bowe te kom. Aan die ander kant kan die gebruik van die Internet ons tot voordeel strek, mits ons toelaat dat ‘denkvermoë oor ons wag hou en onderskeidingsvermoë ons beveilig’.—Spr. 2:10, 11.

[Voetnoot]

a Dit geld ook vir foto’s. Hoewel ons foto’s kan neem vir ons eie gebruik, het ons dalk nie die reg om dit te versprei nie, wat nog te sê om die name van die mense in die foto’s te verstrek en aan te dui waar hulle woon.

[Prent op bladsy 4]

Hoe kan jy keer dat jy ’n slagoffer van verkeerde inligting word?

[Prent op bladsy 5]

Waaraan moet jy dink voordat jy die “stuur”-knoppie druk?