Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Is dit moontlik om te sê presies hoeveel Messiaanse profesieë die Hebreeuse Geskrifte bevat?

’n Sorgvuldige studie van die Hebreeuse Geskrifte stel ons in staat om tientalle profesieë te identifiseer wat in Jesus Christus vervul is. Hierdie profesieë het besonderhede voorspel oor die Messias se agtergrond, die tyd wanneer hy sou verskyn, sy dade, die manier waarop hy behandel sou word en sy plek in Jehovah God se reëling. Saam vorm dit een groot geheelbeeld wat ons help om Jesus as die Messias te identifiseer. Ons moet egter versigtig wees as ons probeer vasstel presies hoeveel Messiaanse profesieë daar in die Hebreeuse Geskrifte is.

Nie almal stem saam oor wat Messiaanse profesieë is en wat nie. In sy boek The Life and Times of Jesus the Messiah het Alfred Edersheim gesê dat die eertydse rabbynse geskrifte 456 gedeeltes van die Hebreeuse Geskrifte as Messiaanse profesieë geklassifiseer het, hoewel baie daarvan nie spesifiek van die Messias melding maak nie. ’n Noukeurige ondersoek van hierdie 456 gedeeltes laat vrae ontstaan of party van hulle wel profesieë oor Jesus Christus is. Edersheim sê byvoorbeeld dat die Jode Genesis 8:11 as ’n Messiaanse profesie beskou het. Hulle het geglo dat “die olyfblaar, wat die duif gebring het, van die berg van die Messias af geneem is”. Die skrywer het ook Eksodus 12:42 genoem. Ter verduideliking van die Jode se verkeerde begrip van hierdie teks het hy geskryf: “Soos Moses uit die woestyn gekom het, so sal die Messias uit Rome kom.” Baie geleerdes en ander sou dit ongetwyfeld moeilik vind om hierdie twee tekste en verkeerde verklarings met Jesus Christus te verbind.

Al beperk ons ons aandag tot die profesieë wat wel in Jesus Christus vervul is, is dit moeilik om eenstemmigheid te bereik oor ’n presiese getal. Neem byvoorbeeld Jesaja hoofstuk 53, wat etlike profetiese gedagtes aangaande die Messias bevat. Jesaja 53:2-7 voorspel: “Hy het nie ’n statige gestalte . . . nie. Hy is verag en deur die mense vermy . . . Ons siektes het hy gedra . . . Hy is vir ons oortreding deurboor . . . Hy is net soos ’n skaap na die slagplek gelei.” Moet hierdie hele gedeelte in Jesaja hoofstuk 53 as een Messiaanse profesie beskou word, of moet elkeen van hierdie kenmerke van die Messias in eie reg as ’n aparte profesie beskou word?

Dink ook aan Jesaja 11:1, wat sê: “Daar sal ’n takkie uit die stomp van Isai voortkom; en uit sy wortels sal ’n spruit vrugbaar wees.” Hierdie profesie word in vers 10 herhaal, in soortgelyke woorde. Moet ons dié twee verse as twee aparte profesieë beskou, of as een profesie wat herhaal word? Die gevolgtrekking wat oor Jesaja hoofstuk 53 en Jesaja hoofstuk 11 bereik word, sal ongetwyfeld ’n invloed hê op die totale aantal Messiaanse profesieë.

Dit sal dus goed wees as ons ons nie spesifiek uitspreek oor die aantal Messiaanse profesieë in die Hebreeuse Geskrifte nie. Jehovah se organisasie het lyste gepubliseer met tientalle profesieë aangaande Jesus, asook hoe hulle vervul is. a Hierdie lyste kan ons help en aanmoedig in ons persoonlike en gesinstudie sowel as in ons openbare bediening. Bowendien gee al die Messiaanse profesieë, hoeveel daar ook al mag wees, ons gegronde bewyse dat Jesus die Christus, of die Messias, is.

[Voetnoot]

a Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsy 1223; Deel 2, bladsy 387; “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”, bladsye 343-344; Wat leer die Bybel werklik?, bladsy 200.