Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoe moet ons die syfers in die jaarlikse diensrapport verstaan?

Elke jaar sien ons uit na die diensrapport wat in die Jaarboek gepubliseer word. Dit is opwindend om te sien wat Jehovah se volk as ’n groep in die wêreldwye Koninkrykspredikings- en onderrigtingswerk bereik het. Maar om die grootste voordeel uit die rapport te put, moet ons die inskrywings reg verstaan, asook ’n gebalanseerde beskouing van die syfers hê. Kyk na ’n paar voorbeelde.

Diensjaar. Dit strek van September van een jaar tot Augustus van die volgende jaar. Die Jaarboek bevat die rapport vir die vorige diensjaar. Die Jaarboek vir 2011 bevat dus die rapport vir die 2010-diensjaar, wat van 1 September 2009 tot 31 Augustus 2010 geloop het.

Verkondigerhoogtepunt en gemiddelde aantal verkondigers. “Verkondigers” sluit gedoopte Getuies van Jehovah in sowel as ongedoopte persone wat kwalifiseer om Koninkryksverkondigers te wees. “Verkondigerhoogtepunt” is die hoogste aantal wat in enige maand van die diensjaar gerapporteer het en kan laat rapporte insluit wat nie by die vorige maand se rapport ingesluit is nie. Op hierdie manier word sommige verkondigers dalk twee keer getel. Die hoogtepunt sluit egter nie die aantal verkondigers in wat wel aan die bediening deelgeneem het, maar vergeet het om ’n rapport in te gee nie. Dit beklemtoon hoe belangrik dit is dat elke verkondiger elke maand stiptelik ’n rapport ingee. “Gemiddelde aantal verkondigers” is die gemiddelde aantal persone wat elke maand tyd aan die bediening bestee.

Aantal ure. Volgens die Jaarboek vir 2011 het Jehovah se Getuies meer as 1,6 miljard uur aan die veldbediening bestee. Hierdie totaal weerspieël egter nie al die ure wat ons aan ons aanbidding bestee nie, want dit sluit nie die tyd in wat ons gereeld daaraan wy om herderswerk te doen, vergaderinge by te woon, persoonlike Bybelstudie te doen en te peins nie.

Geld bestee. Gedurende die 2010-diensjaar het Jehovah se Getuies meer as R1 miljard daaraan bestee om spesiale pioniers, sendelinge en reisende opsieners in hulle velddienstoewysings te onderhou. Hierdie syfer sluit egter nie die koste daarvan in om ons Bybelpublikasies te druk nie; en ook nie die geld wat daaraan bestee word om die meer as 20 000 Bethelvrywilligers by die takfasiliteite regoor die wêreld te onderhou nie.

Gedenkmaalgebruikers. Dit is die aantal gedoopte persone wat die embleme by die Gedenkmaal wêreldwyd gebruik. Stel hierdie totaal die aantal gesalfdes op aarde voor? Nie noodwendig nie. ’n Aantal faktore—soos vorige godsdiensoortuigings of selfs ’n verstandelike of emosionele wanbalans—kan party verkeerdelik laat dink dat hulle die hemelse roeping het. Dit is dus vir ons onmoontlik om met sekerheid te weet presies hoeveel gesalfdes op die aarde is; en ons hoef dit ook nie te weet nie. Die Bestuursliggaam hou nie ’n lys name van al die gebruikers nie, want daar is nie ’n wêreldwye netwerk van gesalfdes nie. a

Wat ons wel weet, is dat daar nog gesalfde “slawe van ons God” op die aarde sal wees wanneer die verwoestende winde van die groot verdrukking losgelaat word (Op. 7:1-3). Tot dan sal die gesalfdes voortgaan om die leiding te neem in iets waarvan ons jaarlikse diensrapport deeglik verslag doen—die grootste predikings- en onderrigtingswerk in die mensegeskiedenis.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Die getroue bestuurder en sy Bestuursliggaam”, in Die Wagtoring van 15 Junie 2009, bladsy 24.