Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Geskiedkundige vergadering

’n Geskiedkundige vergadering

’n Geskiedkundige vergadering

“WANNEER hierdie vergadering verby is, sal jy sê: ‘Dit was waarlik ’n jaarvergadering wat teokratiese geskiedenis gemaak het!’” Met hierdie woorde het Stephen Lett van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies die gretige afwagting van die groot gehoor laat toeneem. Hulle het vergader vir die 126ste jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië, wat op 2 Oktober 2010 by die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Jersey City, New Jersey, VSA, gehou is. Wat was party hoogtepunte van hierdie geskiedkundige geleentheid?

Broer Lett se openingstoespraak was ’n geesdriftige bespreking van Jehovah se hemelse strydwa, soos dit in die Bybelboek Esegiël beskryf word. Hierdie kolossale, glorieryke rytuig stel God se organisasie voor, met Jehovah in volle beheer. Die hemelse deel daarvan, wat uit geesskepsele bestaan, beweeg blitsvinnig—teen die spoed van Jehovah se gedagtes, het broer Lett gesê. Die aardse deel van Jehovah se organisasie is eweneens aan die beweeg. Broer Lett het ’n aantal opwindende verwikkelinge gemeld wat in onlangse jare in die sigbare deel van God se organisasie plaasgevind het.

’n Paar takkantore word byvoorbeeld gekonsolideer en smelt saam, wat baie vrywilligers wat voorheen in daardie lande in Bethel gedien het, die geleentheid sal gee om hulle op die predikingswerk toe te spits. Broer Lett het die gehoor aangespoor om aan te hou bid dat die Bestuursliggaam, as die verteenwoordiger van die slaafklas, sal aanhou om nie net getrou te wees nie, maar ook wys, of verstandig.—Matt. 24:45-47.

Aanmoedigende verslae en hartverblydende onderhoude

Tab Honsberger, wat op die Takkomitee in Haïti dien, het ’n roerende verslag gelewer oor die nadraai van die aardbewing op 12 Januarie 2010, wat die lewe van sowat 300 000 in hierdie land geëis het. Hy het genoem dat geestelikes mense vertel dat God daardie slagoffers vir hulle ontrouheid gestraf het, maar die goeie mense beskerm het. Nogtans kon duisende veroordeelde misdadigers ontsnap toe die mure van ’n tronk tydens die skudding ineengestort het. Baie opregte Haïtiane vind dus vertroosting wanneer hulle uitvind waarom ons tye so moeilik is. Broer Honsberger het ’n getroue Haïtiaanse broer, wat sy vrou in die ramp verloor het, aangehaal: “Ek huil tot vandag nog. Ek weet nie hoe lank ek sal aanhou treur nie, maar ek is verheug om die liefde van Jehovah se organisasie te ervaar. Ek het hoop en is vasbeslote om dit met ander te deel.”

Mark Sanderson, nou ’n lid van die Brooklynse Bethelgesin, het oor die Filippyne verslag gedoen. As ’n voormalige lid van die Takkomitee daar, het hy behoorlik gestraal toe hy vertel het van die land se 32 opeenvolgende hoogtepunte in Koninkryksverkondigers en dat die aantal Bybelstudies baie meer is as die aantal verkondigers. Hy het vertel van ’n broer met die naam Miguel, wie se kleinseun vermoor is. Miguel het hom ingespan om die moordenaar te laat aankla en in die tronk te laat gooi. Toe hy later in die tronk getuieniswerk gedoen het, het Miguel die moordenaar ontmoet. Hoewel Miguel senuweeagtig was, het hy hom sagmoedig en vriendelik aangespreek. Hy het uiteindelik gestudeer met die man, wat gunstig gereageer het en Jehovah liefgekry het. Hy is nou gedoop. Miguel is sy hegte vriend en beywer hom nou daarvoor om sy nuwe broer se vonnis te laat opskort. a

Volgende op die program was ’n bekendstellingsonderhoud wat deur Mark Noumair, ’n instrukteur in die Teokratiese Skole-afdeling, gevoer is. Hy het met drie egpare ’n onderhoud gevoer—Alex en Sarah Reinmueller, David en Krista Schafer en Robert en Ketra Ciranko. Alex Reinmueller, ’n helper van die Uitgewerskomitee, het vertel hoe hy, toe hy net 15 jaar oud was, die waarheid sy eie gemaak het terwyl hy in Kanada gepionier het en dikwels alleen moes werk. Toe hy gevra is wie by Bethel die grootste invloed op hom gehad het, het broer Reinmueller drie getroue manne gemeld en vertel hoe elkeen van hulle hom gehelp het om geestelik te groei. Sy vrou, Sarah, het vertel van haar vriendskap met ’n suster wat weens haar geloof dekades lank in Chinese tronke volhard het. Sarah het gesê dat sy geleer het om deur middel van persoonlike gebed op Jehovah te vertrou.

David Schafer, ’n helper van die Onderrigtingskomitee, het vertel van sy ma se sterk geloof en ook van broers wat as houtkappers gewerk het en hom as ’n jong man gehelp het om hulppionierdiens te doen. Sy vrou, Krista, het met geneentheid gepraat van die invloed wat ouer lede van die Bethelgesin op haar gehad het, wat, soos Jesus aanbeveel het, “in die geringste getrou is”.—Luk. 16:10.

Robert Ciranko, ’n helper van die Skryfkomitee, het oor sy vier grootouers gepraat, wat Hongaarse immigrante en gesalfde Christene was. As ’n seuntjie was hy beïndruk toe hy in die 1950’s groot byeenkomste bygewoon het en besef het dat Jehovah se organisasie baie groter is as sy gemeente. Sy vrou, Ketra, het vertel hoe sy van lojaliteit geleer het toe sy as ’n pionier in ’n gemeente gedien het wat deur afvalligheid en ander probleme geteister is. Sy het volhard en het uiteindelik ’n toewysing ontvang as ’n spesiale pionier in ’n gemeente waar die eenheid haar hart geraak het.

Manfred Tonak het daarna ’n verslag oor Etiopië gelewer. Hierdie land dateer uit Bybeltye en is nou met meer as 9 000 verkondigers van die goeie nuus geseën. Die meeste van hulle bly in of naby die hoofstad, Addis Abeba. Afgeleë gebiede het dus meer hulp nodig. Weens hierdie behoefte is Etiopiese Getuies wat in ander lande woon, genooi om daar besoek af te lê sodat hulle in van die afgeleë dele van die land kon preek. Baie het gekom, die plaaslike Getuies aangemoedig en ontvanklike luisteraars gevind.

’n Hoogtepunt op die program was ’n simposium oor Jehovah se Getuies in Rusland en hulle regstryde. Aulis Bergdahl van die Takkomitee in Rusland het ’n geskiedkundige oorsig gegee van die vervolging van die Getuies in Rusland, veral in Moskou. Philip Brumley van die Regsafdeling by die takkantoor in die Verenigde State het vertel van die opwindende ontwikkelinge in onlangse maande toe die Europese Hof van Menseregte (EHMR) die nege aanklagte aangehoor het wat teen die Getuies ingebring is. Die Hof het eenparig bevind dat nie een van die nege aanklagte enige verdienste het nie en het in ’n aantal gevalle selfs die argumente wat aangevoer is, deeglik weerlê. Hoewel die resultaat nog nie bekend is nie, het broer Brumley hoopvol gepraat van die impak wat die Hof se beslissing moontlik op sake in ander lande sal hê.

Ná hierdie opwindende nuus het broer Lett aangekondig dat die EHMR die voortslepende belastingsaak tussen die Franse regering en Jehovah se Getuies aanvaar het. Hierdie hooggeagte Hof aanvaar baie min van die sake wat daaraan voorgelê word. Tot dusver het die EHMR altesaam 39 sake aangehoor waarby Jehovah se Getuies betrokke was, en 37 is in ons guns beslis. Broer Lett het God se volk aangespoor om aan te hou om tot Jehovah God oor hierdie saak te bid.

Richard Morlan, ’n veldinstrukteur van die Skool vir Gemeentelike Ouer Manne, het die laaste verslag gelewer. Hy het geesdriftig gepraat oor die skool en die waarderende reaksie van die ouer manne wat dit bygewoon het.

Ander toesprake deur lede van die Bestuursliggaam

Guy Pierce van die Bestuursliggaam het ’n gevoelvolle toespraak gehou, wat gebaseer was op die jaarteks vir 2011: ‘Soek toevlug by die naam van Jehovah’ (Sef. 3:12). Hy het genoem dat, hoewel dit in baie opsigte nou ’n gelukkige tyd vir Jehovah se volk is, dit ook ’n tyd wat ons ernstig moet laat dink. Jehovah se groot dag is naby; en tog soek mense nog steeds toevlug by valse godsdiens, politieke instellings, materiële rykdom, ontvlugting, ensovoorts. Om ’n ware toevlug te vind, moet ons Jehovah se naam aanroep, wat behels dat ons die Persoon wat deur daardie naam verteenwoordig word, moet ken, hom diep moet respekteer en moet vertrou en dat ons hom moet liefhê met alles wat ons het.

David Splane van die Bestuursliggaam het hierna ’n ernstige, gedagteprikkelende bespreking gehou, met die tema “Het jy in God se rus ingegaan?” Hy het gesê dat God se rus nie onbedrywigheid beteken nie, aangesien Jehovah en sy Seun deur die hele figuurlike rusdag heen “aangehou werk” het om God se voorneme met die dinge wat geskep is met betrekking tot die aarde, suksesvol te vervul (Joh. 5:17). Hoe kan ons dan in God se rus ingaan? Om op te hou om sonde te beoefen en werke van selfregverdiging te verrig, is net ’n deel van die antwoord. Ons moet geloof beoefen en lewe met God se voorneme in gedagte en moet dit ondersteun hoe ons ook al kan. Soms kan dit ’n groot uitdaging wees, maar ons moet die raad aanvaar en met die leiding van Jehovah se organisasie saamwerk. Broer Splane het op die gehoor ’n beroep gedoen om alles moontlik te doen om in God se rus in te gaan.

Die laaste toespraak, wat deur Anthony Morris van die Bestuursliggaam gehou is, se tema was “Waarvoor wag ons?” Met dringendheid en vaderlike hartlikheid het broer Morris die gehoor herinner aan die profetiese verwikkelinge wat voor ons lê, gebeure waarna alle getroue mense gretig uitsien. Dit sluit die uitroep van “Vrede en veiligheid!” en die vernietiging van valse godsdiens in (1 Tess. 5:2, 3; Op. 17:15-17). Broer Morris het gewaarsku dat ons nie moet sê: “Dit is sekerlik Armageddon”, in reaksie op nuusgebeure wat hierdie profesieë nie vervul nie. Hy het aanbeveel dat ons die vreugdevolle, geduldige, wagtende houding het wat in Miga 7:7 beskryf word. Maar terselfdertyd het hy almal aangespoor om “geledere te sluit” met die Bestuursliggaam, om na aan mekaar te kom, soos soldate wat die hitte van die stryd ingaan. Hy het gesê: “Laat julle hart sterk wees, almal wat op Jehovah wag.”—Ps. 31:24.

Ten slotte was daar ’n paar opwindende aankondigings wat geskiedenis gemaak het. Geoffrey Jackson van die Bestuursliggaam het planne bekend gemaak om ’n vereenvoudigde studie-uitgawe van Die Wagtoring vir diegene met beperkte Engelse leesvermoë, op die proef te stel. Daarna het Stephen Lett aangekondig dat die Bestuursliggaam reëlings sal tref vir herdersbesoeke op streekopsieners en hulle vrouens in die Verenigde State. Hy het daarna aangekondig dat die Bedieningsopleidingskool voortaan as die Bybelskool vir Ongetroude Broers bekend sal staan. Dit sal binnekort deur die Bybelskool vir Christenegpare aangevul word. Hierdie skool sal egpare verder oplei sodat hulle nuttiger kan wees vir Jehovah se organisasie. Broer Lett het ook aangekondig dat die Skool vir Reisende Opsieners en hulle Vrouens en die Skool vir Takkomiteelede en hulle Vrouens uitgebrei sal word tot twee jaarlikse klasse by Patterson, met voorsiening vir diegene wat dit voorheen bygewoon het, om dit weer by te woon.

Die 97-jarige John E. Barr, wat lank as ’n lid van die Bestuursliggaam gedien het, het die program op treffende wyse afgesluit met ’n roerende, nederige en opregte gebed. b Almal was dit eens dat dit waarlik ’n geskiedkundige dag was.

[Voetnote]

a Sien die Jaarboek van Jehovah se Getuies vir 2011, bladsye 62-63.

b Broer Barr het sy aardse loopbaan op 4 Desember 2010 voltooi.

[Lokteks op bladsy 19]

Al die aanwesiges het die bekendstellingsonderhoude geniet

[Lokteks op bladsy 20]

Jehovah het die predikingswerk in Etiopië geseën