Bybellees —My lewenslange bron van krag
Bybellees—My lewenslange bron van krag
Soos vertel deur Marceau Leroy
“IN DIE begin het God die hemel en die aarde geskep”, het ek skelmpies in my kamer begin lees. Waarom het ek in die geheim gelees? My pa, ’n geswore ateïs, sou beslis nie tevrede gewees het met die boek wat ek in my hande gehad het nie—die Bybel.
Ek het nog nooit die Bybel gelees nie, en daardie openingswoorde van Genesis het my soos ’n weerligstraal getref. Ek het gedink: ‘Dit verklaar die harmonie van die fisiese wette waaroor ek my nog altyd verwonder het!’ Ek was gefassineer en het van agtuur daardie aand tot vieruur die volgende oggend gelees. En so het my lewenslange gewoonte om God se Woord te lees, begin. Kom ek verduidelik hoe Bybellees deur my hele lewe vir my ’n bron van krag was.
‘Jy sal dit elke dag moet lees’
Ek is in 1926 gebore, in Vermelles, ’n steenkoolmyndorpie in die noorde van Frankryk. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was steenkool ’n verbruiksartikel van nasionale belang. As ’n mynwerker was ek dus vrygestel van militêre diens. Maar om my lewe te verbeter, het ek die beginsels van radio en elektrisiteit begin bestudeer, wat my laat besef het watter harmonie daar in die fisiese wette is. Toe ek 21 was, het ’n klasmaat vir my my eerste Bybel gegee en gesê: “Dit is ’n boek wat die moeite werd is om te lees.” Teen die tyd dat ek dit deurgelees het, was ek oortuig dat die Bybel God se Woord, ’n openbaring aan die mensdom, is.
Omdat ek gedink het dat my bure ook opgewonde sou wees om die Bybel te lees, het ek agt eksemplare gekry. Tot my verbasing is ek gespot en teëgestaan. Bygelowige familielede het gewaarsku: “As jy hierdie boek eers begin lees, sal jy dit elke dag moet lees!” Ek hét dit begin lees en was nog nooit spyt daaroor nie. Dit het my lewenslange gewoonte geword.
’n Paar bure het gesien dat ek in die Bybel belangstel en het publikasies van Jehovah se Getuies wat hulle ontvang het, vir my gegee. Boekies soos One World, One Government a (hier in Frans) het verduidelik waarom die Bybel God se Koninkryk as die enigste hoop vir die mensdom voorhou (Matt. 6:10). Ek was meer vasbeslote as ooit om ander van hierdie hoop te vertel.
Een van die eerste persone wat ’n Bybel by my geneem het, was Noël, met wie ek van kleins af vriende was. Aangesien hy ’n aktiewe Psalm 115:4-8 en Matteus 23:9, 10 gelees het, het ek geweet dat God die gebruik van afgode in aanbidding afkeur, asook die gebruik van godsdienstitels wanneer geestelikes aangespreek word. Dit het my die moed gegee om my nuutgevonde oortuiging te verdedig. As gevolg hiervan het Noël die waarheid aangeneem, en hy is vandag nog ’n getroue Getuie.
Katoliek was, het hy gereël dat ons ’n man ontmoet wat studeer om ’n priester te word. Ek het geïntimideer gevoel, maar omdat ekEk het ook my suster besoek. Haar man het boeke oor spiritisme gehad en is deur demone lastig geval. Al het ek aan die begin ietwat magteloos gevoel, het Bybelverse soos Hebreërs 1:14 my oortuig dat ek die steun van Jehovah se engele het. Toe my swaer Bybelbeginsels toegepas het en ontslae geraak het van alles wat met die okkulte te doen het, kon hy hom van demooninvloed bevry. Hy en my suster het albei ywerige Getuies geword.
In 1947 het ’n Amerikaanse Getuie, Arthur Emiot, my by my huis besoek. Ek het hom opgewonde gevra waar die Getuies vergader. Hy het vir my gesê dat daar ’n groep in Liévin was, sowat tien kilometer daarvandaan. Dit was destyds moeilik om selfs ’n fiets in die hande te kry, en ek het dus etlike maande lank na die vergaderinge toe geloop. Die werk van Jehovah se Getuies in Frankryk was al agt jaar lank verbied. Daar was net 2 380 Getuies in die hele land—van wie baie Poolse immigrante was. Maar op 1 September 1947 is ons werk in Frankryk weer eens wetlik erken. ’n Takkantoor is weer in Parys geopen by Villa Guibert. Omdat daar nie ’n enkele pionier in Frankryk was nie, het die Informant (nou Ons Koninkryksbediening) vir Desember 1947 ’n versoek gerig om gewone pioniers, wat 150 uur per maand sou preek. (In 1949 is dit tot 100 uur verminder.) Omdat ek ten volle saamgestem het met Jesus se woorde in Johannes 17:17, “[God se] woord is die waarheid”, is ek in 1948 gedoop, en in Desember 1949 het ek ’n pionier geword.
Uit die tronk en terug na Duinkerken
Ek was nie lank in my eerste toewysing, Agen, in die suide van Frankryk, nie. Omdat ek nie meer by die myn gewerk het nie, kon ek vir militêre diens opgeroep word. Ek het geweier om by die leër aan te sluit en is dus tronk toe gestuur. Al is ek nie toegelaat om ’n Bybel te hê nie, kon ek ’n paar blaaie uit die boek Psalms in die hande kry. Dit was vir my aanmoedigend om dit te lees. Toe ek vrygelaat is, moes ek ’n besluit neem: Moet ek die voltydse diens verlaat en my iewers gaan vestig? Weer eens het wat ek in die Bybel gelees het, my gehelp. Ek het gepeins oor Paulus se woorde in Filippense 4:11-13: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.” Ek het besluit om aan te hou pionier. In 1950 het ek ’n nuwe toewysing ontvang—Duinkerken, ’n dorp waar ek vroeër gepreek het.
Toe ek daar aangekom het, het ek niks gehad nie. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die dorp ernstige skade gely, en dit was moeilik om verblyf te vind. Ek het besluit om by ’n gesin te gaan kuier by wie ek voorheen besoeke gedoen het, en die vrou van die huis was verheug: “O, mnr. Leroy, jy is vrygelaat! My man sê dat daar nooit ’n oorlog sou gewees het as daar meer mans soos jy was nie.” Hulle het ’n gastehuis gehad en het vir my blyplek aangebied tot die begin van die toeristeseisoen. Daardie selfde dag het Arthur Emiot se broer, Evans, vir my werk aangebied. b Hy was ’n tolk by die hawe en was op soek na ’n nagwag om ’n skip op te pas. Hy het my aan een van die skip se eerste offisiere voorgestel. Ná my tyd in die tronk was ek so maer soos ’n kraai. Toe Evans verduidelik waarom ek so maer was, het die offisier vir my gesê dat ek gerus van die kos in die yskas kan eet. Op dié een dag het ek blyplek, werk en kos gekry! My vertroue in Jesus se woorde in Matteus 6:25-33 is inderdaad versterk.
Toe die toeristeseisoen begin het, moes ek en my pioniermaat, Simon Apolinarski, ander blyplek soek, maar ons was vasbeslote om in ons toewysing te bly. Ons is verblyf aangebied in ’n ou perdestal, waar ons op strooimatrasse geslaap het. Ons het ons dae in die bediening deurgebring. Ons het vir die eienaar van die stal getuig, en hy het een van baie geword wat die waarheid aangeneem het. Kort voor lank het ’n artikel in die plaaslike koerant verskyn wat die inwoners van Duinkerken gewaarsku het dat “die bedrywighede van Jehovah se Getuies in die streek uitgebreek het”. Maar ek en Simon en ’n handjievol verkondigers was die enigste Getuies daar! Ten spyte van moeilikhede is ons aangemoedig omdat ons gepeins het oor ons Christelike hoop en bly dink het aan die manier waarop Jehovah vir ons gesorg het. Daar was sowat 30 gereelde verkondigers in Duinkerken toe ek in 1952 ’n ander toewysing gekry het.
Versterk vir nuwe verantwoordelikhede
Ná ’n kort tydjie in die stad Amiens is ek aangestel as ’n spesiale pionier in Boulogne-Billancourt, ’n voorstad van Parys. Ek het baie Bybelstudente gehad, en party van hulle het later die voltydse diens en die sendingwerk betree. Een jong man, Guy Mabilat, het die waarheid aangeneem en het later as ’n kringopsiener en toe as ’n streekopsiener gedien. Later het hy toesig gehou oor die bou van die drukkery by die huidige Bethel in Louviers, ’n ent buite Parys. Al hierdie Bybelbesprekings in die bediening het God se Woord dieper in my verstand ingeprent, wat my met vreugde vervul het en my in staat gestel het om my onderrigvermoë te verbeter.
In 1953 is ek uit die bloute aangestel om ’n kringopsiener te wees in Elsas-Lotharinge, ’n streek wat tussen 1871 en 1945 twee keer deur Duitsland geannekseer is. Gevolglik moes ek ’n bietjie Duits leer praat. Toe ek in die kringwerk begin het, was daar min motors, televisies of tikmasjiene in daardie streek en geen transistorradio’s of persoonlike rekenaars nie. Maar my lewe was nie saai of vervelig nie. Dit was om die waarheid te sê ’n uiters vreugdevolle tyd. Dit was maklik om die Bybel se raad te volg om ‘’n eenvoudige oog’ te hou, aangesien daar destyds minder dinge was wat ’n mens se aandag daarvan kon aflei om Jehovah te dien.—Matt. 6:19-22.
Die “Triomfantelike Koninkryk”-byeenkoms wat in 1955 in Parys gehou is, was vir my ’n onvergeetlike gebeurtenis. Daar het ek my toekomstige vrou, Irène Kolanski, ontmoet, wat ’n jaar voor my die voltydse diens betree het. Haar Poolse ouers was al jare lank ywerige
Getuies. In Frankryk is hulle deur Adolf Weber besoek. Hy was broer Russell se tuinier en het na Europa gekom om die goeie nuus te verkondig. Ek en Irène is in 1956 getroud, en sy het by my aangesluit in die kringwerk. Wat ’n steunpilaar was sy tog deur die jare heen!Twee jaar later was daar nog ’n verrassing—ek is as streekopsiener aangestel. Maar om die tekort aan bekwame broers aan te vul, het ek nog steeds party gemeentes as kringopsiener besoek. Wat ’n besige tyd was dit tog nie! Buiten dat ek 100 uur per maand aan die predikingswerk bestee het, moes ek elke week toesprake lewer, drie boekstudiegroepe besoek, rekords deurgaan en verslae saamstel. Hoe sou dit moontlik wees om die tyd uit te koop om God se Woord te lees? Ek kon aan net een oplossing dink—ek het bladsye uit ’n ou Bybel geknip en ’n paar by my gehou. Wanneer ek ook al vir iemand moes wag om vir ’n afspraak op te daag, het ek die bladsye uitgehaal en dit gelees. Hierdie oomblikkies van geestelike verkwikking het my meer vasbeslote gemaak om in my toewysing te volhard.
In 1967 is ek en Irène genooi om permanente lede van die Bethelgesin in Boulogne-Billancourt te word. Ek het in die Diensafdeling begin werk, en meer as 40 jaar later geniet ek nog steeds hierdie voorreg. ’n Genotvolle aspek van my werk is om briewe met Bybelvrae te beantwoord. Hoe geniet ek dit tog om in God se Woord te delf en ‘die goeie nuus te verdedig’! (Fil. 1:7). Dit is vir my ook aangenaam om Bybelbesprekings tydens oggendaanbidding voor ontbyt te lei. In 1976 is ek as ’n lid van die Takkomitee in Frankryk aangestel.
Die beste lewensweg
Hoewel ek al moeilike tye deurgemaak het, is dit nou die moeilikste tyd van my lewe, wanneer die ouderdom en gesondheidsprobleme beperk wat ek en Irène kan doen. Om God se Woord saam te lees en te bestudeer, hou nietemin ons hoop lewend. Ons geniet dit om met die bus na ons gemeente se gebied te ry om hierdie hoop met ander te deel. Ons gesamentlike ondervinding van meer as 120 jaar in die voltydse diens beweeg ons om hierdie lewensweg heelhartig aan te beveel aan almal wat ’n opwindende, vreugdevolle en nuttige lewe wil lei. Toe koning Dawid die woorde van Psalm 37:25 geskryf het, het hy al “oud geword”, maar net soos hy het ek ook “geen regverdige heeltemal verlate gesien . . . nie”.
Deur my hele lewe het Jehovah my deur middel van sy Woord versterk. My familielede het meer as 60 jaar gelede voorspel dat Bybellees ’n lewenslange gewoonte sou wees. Hulle was reg. Dit is inderdaad ’n daaglikse gewoonte waaroor ek nog nooit spyt was nie!
[Voetnote]
a In 1944 uitgegee, maar nou uit druk.
b Vir meer inligting oor Evans Emiot, sien Die Wagtoring van 1 Januarie 1999, bladsye 22 en 23.
[Prent op bladsy 5]
Ek en Simon
[Prent op bladsy 5]
Toe ek as streekopsiener gedien het
[Prent op bladsy 5]
’n Bybel soos die eerste een wat ek ontvang het
[Prent op bladsy 6]
Op ons troudag
[Prent op bladsy 6]
Ek en Irène geniet dit om God se Woord te lees en te bestudeer