Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan jy soos Pinehas wees wanneer jy voor uitdagings te staan kom?

Kan jy soos Pinehas wees wanneer jy voor uitdagings te staan kom?

Kan jy soos Pinehas wees wanneer jy voor uitdagings te staan kom?

DIT is ’n kosbare voorreg om as ’n gemeentelike ouer man te dien. God se Woord erken egter dat ouer manne voor uitdagings te staan kom. Soms moet hulle gevalle van oortreding hanteer waarin hulle ‘vir Jehovah regspreek’ (2 Kron. 19:6). Of ’n opsiener kry dalk ’n toewysing waarvoor hy onbekwaam voel, soos Moses, wat nederig oor een toewysing gevra het: “Wie is ek dat ek na Farao toe sou gaan?”—Eks. 3:11.

Die Skrif, wat geskryf is onder die invloed van dieselfde werkende krag waardeur ouer manne aangestel word, voorsien sprekende voorbeelde van opsieners wat beproewinge met welslae die hoof gebied het. Pinehas was die seun van Eleasar en die kleinseun van Aäron en sou dus die hoëpriester word. Drie gebeurtenisse in sy lewe toon hoe belangrik dit vandag vir ouer manne is om moed, insig en vertroue op Jehovah aan die dag te lê wanneer hulle voor uitdagings te staan kom.

‘Hy het dadelik opgestaan’

Pinehas was ’n jong man toe die Israeliete op die vlaktes van Moab kamp opgeslaan het. Die Bybel sê: “Die volk [het] onsedelike gemeenskap met die dogters van Moab begin hou. . . . En die volk het begin eet en hulle voor hulle gode neergebuig” (Num. 25:1, 2). Jehovah het die oortreders met ’n dodelike plaag getref. Kan jy jou voorstel watter uitwerking hierdie berig van oortreding en die plaag wat daardeur veroorsaak is, op Pinehas gehad het?

“Kyk!” sê die verslag verder, “’n man van die kinders van Israel het gekom, en hy het ’n Midianitiese vrou naby sy broers gebring voor Moses se oë en voor die oë van die hele vergadering van die kinders van Israel, terwyl hulle by die ingang van die tent van samekoms gehuil het” (Num. 25:6). Wat sou die priester Pinehas doen? Hy was redelik jonk, en die Israeliet wat oortree het, was ’n owerste wat die leiding geneem het in aanbidding onder die volk.—Num. 25:14.

Maar Pinehas het Jehovah gevrees, nie mense nie. Toe hy die twee sien, het hy onmiddellik ’n lans in sy hand geneem en agter die man in die tent ingegaan en hulle albei deurboor. Hoe het Jehovah Pinehas se moed en besliste optrede beskou? Jehovah het die plaag dadelik gestop en het Pinehas beloon met ’n verbond dat die priesterdom “tot onbepaalde tyd” in sy geslagslyn sou bly.—Num. 25:7-13.

Christen- ouer manne van vandag gebruik natuurlik nie geweld nie. Maar ouer manne moet, soos Pinehas, gereed wees om met beslistheid en moed op te tree. Byvoorbeeld, Guilherme was nog net ’n paar maande ’n ouer man toe hy gevra is om op ’n regterlike komitee te dien. Die persoon wat by die oortreding betrokke was, was ’n ouer man wat Guilherme gehelp het toe hy jonger was. “Ek het ongemaklik gevoel in daardie situasie”, sê hy. “Ek het snags gesukkel om te slaap. Ek het aanhoudend in my gedagtes na maniere gesoek om hierdie saak te hanteer sonder dat my emosies my geestelike sig sou beïnvloed. Ek het etlike dae lank gebid en navorsing gedoen in Bybelpublikasies.” Dit het hom gehelp om die nodige moed te hê om die unieke situasie te hanteer en geestelike hulp aan sy broer wat oortree het, te voorsien.—1 Tim. 4:11, 12.

Deur met moed en beslistheid op te tree wanneer situasies in die gemeente dit vereis, word ouer manne voorbeelde van geloof en lojaliteit. Ander Christene moet natuurlik ook moed aan die dag lê deur ernstige oortredings waarvan hulle bewus word, aan te meld. Dit verg ook lojaliteit om nie meer te assosieer met ’n vriend of familielid wat uitgesit is nie.—1 Kor. 5:11-13.

Insig voorkom ’n krisis

Pinehas se moed was nie bloot jeugdige voortvarendheid nie. Dink aan hoe hy insig aan die dag gelê het deur met verstandigheid en goeie oordeel op te tree toe ’n ander berig sy ore bereik het. Die stamme Ruben en Gad en die helfte van die stam Manasse het ’n altaar naby die Jordaanrivier gebou. Ander Israeliete het tot die slotsom gekom dat dit vir valse aanbidding is en het hulle vir militêre optrede voorberei.—Jos. 22:11, 12.

Hoe het Pinehas gereageer? Pinehas en die Israelitiese owerstes het die saak wyslik met dié wat die altaar gebou het, bespreek. Die beskuldigde stamme het die situasie verduidelik en gesê dat dit eintlik ’n altaar vir “die diens van Jehovah” is. ’n Krisis is dus voorkom.—Jos. 22:13-34.

As ’n Christen ’n beskuldiging teen of iets negatiefs van ’n medekneg van Jehovah hoor, hoe verstandig sal dit tog wees om Pinehas se voorbeeld te volg! Insig weerhou ons daarvan om aanstoot te neem of om onvriendelike kommentare oor ons broers oor te vertel.—Spr. 19:11.

Hoe kan insig ouer manne help om soos Pinehas op te tree? “As ’n verkondiger begin praat oor ’n persoonlike geskil wat hy met iemand anders het”, sê Jaime, wat al meer as tien jaar ’n ouer man is, “vra ek Jehovah gou om my te help om nie kant te kies nie, maar om skriftuurlike leiding te voorsien. ’n Suster het my eenkeer genader oor ’n persoonlike probleem in verband met die manier waarop ’n verantwoordelike broer in ’n ander gemeente haar behandel het. Omdat die broer ’n goeie vriend van my was, sou dit vir my maklik gewees het om met hom te praat. Maar ek en die suster het oor verskeie Bybelbeginsels geredeneer. Sy het ingestem om eers self met die broer te praat (Matt. 5:23, 24). Die vrede is nie dadelik herstel nie. Ek het haar dus aangespoor om ander skriftuurlike beginsels te oorweeg. Sy het besluit om weer oor die situasie te bid en hom te probeer vergewe.”

Wat was die gevolg? “Etlike maande later”, onthou Jaime, “het die suster my genader. Sy het verduidelik dat die broer mettertyd spyt gekry het oor wat hy gesê het. Hy het gereël om saam met haar te werk in die bediening en het waardering vir haar uitgespreek. Die saak is opgelos. Kon ek, wat dalk bevooroordeeld kon gelyk het, ’n beter uitkoms bewerk het as ek onregmatig by die geskil betrokke geraak het?” Die Bybel maan: “Moenie uitgaan om haastig ’n regsaak te voer nie” (Spr. 25:8). Insigryke ouer manne tree verstandig op deur Christene wat persoonlike geskille het, aan te spoor om skriftuurlike beginsels toe te pas sodat vrede teweeggebring en bevorder kan word.

Hy het Jehovah geraadpleeg

Pinehas het die voorreg gehad om as ’n priester vir God se uitverkore volk te dien. Soos genoem is, het hy op selfs ’n betreklik jeugdige leeftyd buitengewone moed en insig gehad. Maar die sukses wat hy daarin gehad het om uitdagings die hoof te bied, het van sy vertroue op Jehovah afgehang.

Ná die tragiese verkragting van en moord op ’n Leviet se byvrou deur die manne van Gibea, van die stam Benjamin, het die ander stamme opgetrek om teen die Benjaminiete oorlog te voer (Rigt. 20:1-11). Hulle het vir Jehovah se hulp gebid voordat hulle geveg het, maar hulle is twee keer verslaan, met ernstige verliese (Rigt. 20:14-25). Sou hulle tot die gevolgtrekking kom dat hulle gebede kragteloos was? Het Jehovah werklik daarin belanggestel dat hulle reageer op die onreg wat gepleeg is?

Onwrikbaar in sy vertroue het Pinehas, nou Israel se hoëpriester, weer na vore getree. “Sal ek weer eens uittrek om teen die kinders van my broer Benjamin oorlog te voer of sal ek ophou?” het hy gebid. In antwoord hierop het Jehovah die Benjaminiete in hulle hand gegee, en Gibea is tot die grond afgebrand.—Rigt. 20:27-48.

Watter les kan ons hieruit leer? Party probleme in die gemeente duur voort ondanks die ouer manne se ywerige pogings en gebede om God se hulp. As dit gebeur, sal dit goed wees as ouer manne Jesus se woorde onthou: “Hou aan vra [of bid], en vir julle sal gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en vir julle sal oopgemaak word” (Luk. 11:9). Al lyk dit of ’n gebed nie so gou verhoor word as wat ons verwag het nie, kan opsieners seker wees dat Jehovah op sy bestemde tyd sal reageer.

Byvoorbeeld, ’n gemeente in Ierland het ’n Koninkryksaal dringend nodig gehad, maar die plaaslike beplanningsbeampte was hulle nie goedgesind nie. Hy het beswaar gemaak teen al die planne vir die terrein waarop die broers wou bou. Dit het gelyk of die enigste ander persoon wat die planne kon goedkeur, die hoofbeplanningsbeampte vir die hele land was. Sou gebed help, soos in Pinehas se dag?

’n Plaaslike ouer man vertel: “Ná baie gebede en smekinge, het ons na die hoofbeplanningskantoor gegaan. Daar is vir my gesê dat dit waarskynlik weke sou wees voordat ons die hoofbeampte kon sien. Maar ons het dit reggekry om hom vyf minute lank te spreek. Nadat hy die veranderde planne gesien het, het hy ons gou toestemming gegee om voort te gaan, en van toe af het die plaaslike beplanningsbeampte uit sy pad gegaan om ons te help. Hierdie ondervinding het die krag van gebed by ons tuisgebring.” Ja, Jehovah sal die opregte gebede verhoor van ouer manne wat op hom vertrou.

Pinehas het ’n groot verantwoordelikheid in eertydse Israel gehad; en tog kon hy uitdagings suksesvol te bowe kom met moed, insig en vertroue op God. En Pinehas se pligsgetroue sorg vir God se gemeente het Jehovah se goedkeuring weggedra. Sowat 1 000 jaar later is Esra geïnspireer om te skryf: “Pinehas, die seun van Eleasar, was vroeër leier oor hulle. Jehovah was met hom” (1 Kron. 9:20). Mag dit waar wees van almal wat vandag onder God se volk die leiding neem, trouens, van alle Christene wat hom lojaal dien.