Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dit was nog altyd vir my ’n vreugde om Jehovah te dien

Dit was nog altyd vir my ’n vreugde om Jehovah te dien

Dit was nog altyd vir my ’n vreugde om Jehovah te dien

Soos vertel deur Fred Rusk

Ek het vroeg in my lewe die waarheid van Dawid se woorde in Psalm 27:10 ervaar: “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem.” Laat ek vertel hoe dit vir my bewaarheid is.

EK HET gedurende die Groot Depressie van die 1930’s op my oupa se katoenplaas in die staat Georgia, VSA, grootgeword. My pa was verpletter oor die dood van my ma en pasgebore boetie en het my by sy wewenaar-pa gelos en na ’n stad ver daarvandaan getrek om daar te werk. Hy het later probeer reël dat ek by hom kom bly, maar dit het nooit uitgewerk nie.

My oupa se ouer dogters het die huishouding waargeneem. Al was hy nie ’n godsdienstige man nie, was sy dogters streng Suidelike Baptiste. Hulle het gedreig om my ’n pak slae te gee as ek nie elke Sondag kerk toe gaan nie. Van kleins af het ek dus nie veel van godsdiens gedink nie. Maar ek het skool en sport geniet.

Die besoek wat my lewe verander het

Een middag in 1941, toe ek 15 was, het ’n bejaarde man en sy vrou na ons huis toe gekom. Hy is voorgestel as “jou oom Talmadge Rusk”. Ek het nooit tevore van hom gehoor nie, maar het uitgevind dat hy en sy vrou Jehovah se Getuies is. Wat hy verduidelik het oor God se voorneme dat mense vir ewig op die aarde moet lewe, was baie anders as wat ek in die kerk gehoor het. Die meeste van die familie het wat hulle gesê het, verwerp—selfs verag. Hulle is nooit weer in die huis toegelaat nie. Maar my tannie Mary, wat net drie jaar ouer is as ek, het ’n Bybel geneem asook publikasies wat dit help verduidelik.

Mary was gou oortuig dat sy Bybelwaarheid gevind het en is in 1942 as een van Jehovah se Getuies gedoop. Sy het ook ervaar wat Jesus voorspel het, naamlik: “’n Mens se eie huisgenote sal sy vyande wees” (Matt. 10:34-36). Gesinsteenstand was hewig. Haar ouer suster, wat prominent was in distriksaangeleenthede, het met die burgemeester saamgespan en oom Talmadge in hegtenis laat neem. Die aanklag was smousery sonder ’n lisensie. Hy is skuldig bevind.

Ons plaaslike koerant het berig dat die burgemeester, wat ook die regter was, aan diegene in die stadshof gesê het: “Die lektuur wat hierdie man versprei . . . , is so gevaarlik soos gif.” My oom het die appèlsaak gewen, maar intussen het hy tien dae in die tronk gesit.

Hoe tannie Mary my gehelp het

Mary het nie net met my oor haar nuutgevonde geloof gepraat nie, maar het ook vir die bure begin getuig. Ek het saam met haar na ’n Bybelstudie gegaan wat sy met ’n man gehou het wat die boek The New World a geneem het. Sy vrou het gesê dat haar man die hele nag wakker gebly het om dit te lees. Al wou ek nie oorhaastig betrokke raak by enigiets van ’n godsdienstige aard nie, het ek gehou van wat ek geleer het. Maar dit was nie hoofsaaklik Bybelleringe wat my oortuig het dat die Getuies God se volk is nie. Dit was hoe hulle behandel is.

Toe ons byvoorbeeld eendag van die tamatietuin af op pad huis toe was, het ek en Mary in die smeulende verbrandingsoond bewyse gevind dat haar susters haar lektuur verbrand het, asook ’n grammofoon en plate wat Bybelboodskappe bevat het. Ek was baie kwaad hieroor, maar een van my tantes het neerbuigend gesê: “Jy sal later in jou lewe vir ons dankie sê vir wat ons gedoen het.”

Mary is in 1943 gedwing om die huis te verlaat omdat sy geweier het om haar nuutgevonde geloof prys te gee en op te hou preek vir die bure. Teen hierdie tyd was ek verheug dat ek nie net geleer het dat God ’n naam, Jehovah, het nie, maar ook dat hy ’n liefdevolle, medelydende God is, nie een wat mense in ’n brandende hel folter nie. Ek het ook geleer dat Jehovah ’n liefdevolle organisasie het, al het ek nog nie ’n vergadering bygewoon nie.

Terwyl ek later besig was om gras te sny, het ’n motor stadig verbygery en het een van die twee mans daarin vir my gevra of ek Fred is. Toe ek uitvind dat hulle Getuies is, het ek gesê: “Laat ek inklim en dan ry ons na ’n veilige plek om te praat.” Mary het gereël dat hulle my besoek. Een van die mans was Shield Toutjian, ’n reisende bedienaar wat op die regte tyd vir my aanmoediging en geestelike leiding gegee het. My familie het mý nou teëgestaan omdat ek die oortuigings van Jehovah se Getuies verdedig het.

Mary het uit Virginië, waarheen sy getrek het, vir my geskryf en gesê dat ek by haar kan kom woon as ek vasbeslote is om Jehovah te dien. Ek het dadelik besluit om te gaan. Op ’n Vrydagaand in Oktober 1943 het ek ’n paar benodigdhede in ’n boks gepak en dit in ’n boom ’n hele ent van die huis af vasgemaak. Saterdag het ek die boks gaan haal, met ’n agterpad na ’n buurman se huis gegaan en saam met hulle dorp toe gery. Ek het na die stad Roanoke gereis en Mary in Edna Fowlkes se huis gevind.

Geestelike groei, doop, Bethel

Edna was ’n goedhartige gesalfde Getuie—’n hedendaagse Lidia—wat ’n groot huis gehuur het en wat, behalwe vir tannie Mary, ook haar broer se vrou sowel as hulle twee dogters by haar laat woon het. Hierdie meisies—Gladys en Grace Gregory—het later sendelinge geword. Gladys, wat nou in haar 90’s is, dien nog steeds getrou by die takkantoor in Japan.

Terwyl ek in Edna se huis gewoon het, het ek gereeld vergaderinge bygewoon en opleiding in die bediening ontvang. Die vryheid om God se Woord te bestudeer en Christelike vergaderinge by te woon, het my toenemende begeerte na geestelike voedsel bevredig. Op 14 Junie 1944 is ek gedoop. Mary en die Gregory-susters het begin pionier en ’n toewysing in Noord-Virginië aanvaar. Daar het hulle bygedra tot die stigting van ’n gemeente in Leesburg. Vroeg in 1946 het ek in ’n naburige distrik begin pionier. Daardie somer het ons saam na die onvergeetlike internasionale byeenkoms gereis wat van 4-11 Augustus in Cleveland, Ohio, gehou is.

By daardie byeenkoms het Nathan Knorr, wat die leiding in die organisasie geneem het, planne vir die uitbreiding van die Brooklynse Bethel uiteengesit. Dit het die oprigting van ’n nuwe woongebou en ’n toevoeging tot die drukkery ingesluit. Baie jong broers was nodig. Ek het besluit dat ek Jehovah daar wou dien. Ek het dus my aansoekvorm ingegee, en ’n paar maande later, op 1 Desember 1946, het ek Bethel toe gegaan.

Omtrent ’n jaar later het die opsiener van die drukkery, Max Larson, by my lessenaar in die Posafdeling ’n draai gemaak. Hy het vir my gesê dat ek na die Diensafdeling gestuur word. In dié toewysing het ek baie oor die toepassing van Bybelbeginsels en die werking van God se organisasie geleer, veral terwyl ek saam met T.J. (Bud) Sullivan, die opsiener van die afdeling, gewerk het.

My pa het my ’n hele paar keer by Bethel besoek. In sy latere lewe het hy godsdienstig geword. Met sy laaste besoek, in 1965, het hy gesê: “Jy kan maar vir my kom kuier, maar ek sal jou nooit weer hier kom besoek nie.” Ek het ’n paar keer vir hom gaan kuier voor sy dood. Hy was seker dat hy hemel toe sal gaan. My hoop is dat hy in Jehovah se geheue is, en as dit die geval is, sal hy met die opstanding nie wees waar hy gedink het hy sal wees nie, maar hier op die aarde met die hoop op ewige lewe in die herstelde Paradys.

Ander onvergeetlike byeenkomste en bouwerk

Byeenkomste was altyd mylpale van geestelike groei. Dit was veral die geval met die internasionale byeenkomste wat in die 1950’s by die Yankee-stadion in New York gehou is. In 1958 was die Yankee-stadion sowel as die Polo-terrein tydens een sessie stampvol, met 253 922 uit 123 lande. Ek sal nooit vergeet wat met my by daardie byeenkoms gebeur het nie. Terwyl ek in die byeenkomskantoor gehelp het, het broer Knorr haastig na my toe geloop. “Fred”, het hy gesê, “ek het vergeet om ’n broer te vra om met al die pioniers te praat wat nou in ’n gehuurde banketsaal hier naby bymekaar is. Sal jy gou daarheen gaan en vir hulle ’n goeie toespraak hou oor iets waaraan jy op pad soontoe dink?” Ek het baie gebid voor ek uitasem daar aangekom het.

Die aantal gemeentes in New York het in die 1950’s en 1960’s skerp toegeneem, en daar was nie genoeg gehuurde sale om as Koninkryksale te gebruik nie. Tussen 1970 en 1990 is drie geboue in Manhattan dus gekoop en omgebou om as geskikte vergaderplekke te dien. Ek was die voorsitter van die boukomitees vir hierdie projekte en het talle aangename herinneringe aan hoe Jehovah sy ryke seën uitgestort het op die gemeentes wat saam gewerk het om hierdie geboue, wat nou nog as sentrums van ware aanbidding dien, te finansier en te voltooi.

Veranderinge in my lewe

Eendag in 1957, terwyl ek deur die park tussen die Bethelhuis en die drukkery werk toe geloop het, het dit begin reën. Ek het ’n nuwe Betheliet, ’n pragtige blonde meisie, voor my sien loop. Sy het nie ’n sambreel gehad nie, en ek het aangebied om myne met haar te deel. Dit is hoe ek Marjorie ontmoet het, en sedert ons troue in 1960 dien ons Jehovah gelukkig saam, in sonskyn of reën. Ons het ons 50ste huweliksherdenking in September 2010 gevier.

Ons het nog skaars uitgepak ná ons wittebrood toe broer Knorr vir my sê dat ek as ’n instrukteur by Gileadskool aangestel is. Wat ’n wonderlike voorreg was dit tog nie! Van 1961 tot 1965 was daar vyf langer klasse, wat hoofsaaklik uit takpersoneel bestaan het wat spesiale opleiding in takbestuur ontvang het. Vanaf die herfs van 1965 was klasse weer vyf maande lank en was dit weer op die opleiding van sendelinge toegespits.

In 1972 is ek oorgeplaas van Gileadskool na die Skryfafdeling se Korrespondensiekantoor, waar ek as die opsiener gedien het. Die navorsing wat ek moes doen om ’n verskeidenheid vrae en probleme te hanteer, het my gehelp om ’n beter begrip te verkry van die leringe in God se Woord en hoe die verhewe beginsels van ons God toegepas kan word om ander te help.

Daarna het ek in 1987 ’n toewysing ontvang na ’n nuwe afdeling wat Hospitaalinligtingsdienste genoem is. Seminare is gereël om ouer manne op Hospitaalskakelkomitees te leer hoe om dokters, regters en maatskaplike werkers te nader om ons skriftuurlike standpunt oor bloed met hulle te bespreek. ’n Groot probleem was dat dokters bloedoortappings sonder die ouers se toestemming aan ons kinders gegee het en dikwels ’n hofbevel gekry het om dit te doen.

Wanneer alternatiewe vir bloedoortappings aan die dokters voorgestel is, was die antwoord gewoonlik dat dit nie beskikbaar is nie of dat dit te duur is. My antwoord aan ’n chirurg wat dit gesê het, was dikwels: “Steek asseblief u hand uit.” Wanneer hy dit gedoen het, het ek gesê: “Weet u, daar het u een van die beste alternatiewe vir bloed.” Hierdie kompliment het hom herinner aan iets wat hy alte goed geweet het—versigtige gebruik van die operasiemes help om bloedverlies tot die minimum te beperk.

Gedurende die afgelope twee dekades het Jehovah hierdie pogings om inligting aan dokters en regters te voorsien, ryklik geseën. Hulle gesindheid het noemenswaardig verander wanneer hulle ons posisie beter verstaan het. Hulle het uitgevind dat mediese navorsing bewys dat alternatiewe vir bloed doeltreffend is en dat daar talle samewerkende dokters sowel as hospitale is waarheen ’n pasiënt oorgeplaas kan word.

Ek en Marjorie dien van 1996 af by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, sowat 110 kilometer noord van Brooklyn. Hier het ek vir ’n kort rukkie in die Diensafdeling gewerk en toe ’n tyd lank takpersoneel en reisende opsieners opgelei. Die afgelope 12 jaar dien ek weer as die opsiener van die Skryfafdeling se Korrespondensiekantoor, wat van Brooklyn na Patterson verskuif het.

Uitdagings van die ouderdom

Noudat ek in my middel-80’s is, het dit vir my moeiliker geword om na my diensvoorregte by Bethel om te sien. Ek voer al meer as tien jaar lank ’n stryd teen kanker. Ek voel soos Hiskia, wie se lewe deur Jehovah verleng is (Jes. 38:5). My vrou het ook swak gesondheid, en ek help haar om met haar Alzheimer se siekte saam te leef. Marjorie was altyd ’n bekwame bedienaar van Jehovah, ’n mentor vir jongmense en ’n getroue helper en lojale metgesel vir my. En sy was altyd ’n goeie Bybelstudent en -onderrigter, en baie geestelike kinders bly in aanraking met ons.

My tannie Mary het in Maart 2010 op 87-jarige leeftyd gesterf. Sy was ’n uitstekende onderrigter van God se Woord en het ander gehelp om hulle standpunt vir ware aanbidding in te neem. Sy het baie jare in die voltydse bediening deurgebring. Ek is baie dankbaar teenoor haar vir die rol wat sy daarin gespeel het om my te help om die waarheid van God se Woord te leer en om soos sy ’n dienskneg van ons liefdevolle God, Jehovah, te word. Mary is begrawe langs haar man, wat vroeër as ’n sendeling in Israel gedien het. Ek is vas oortuig dat hulle in Jehovah se geheue is terwyl hulle op die opstanding wag.

Wanneer ek terugkyk oor 67 jaar van diens aan Jehovah, is ek dankbaar vir die ryke seëninge wat ek ontvang het. Dit was nog altyd vir my ’n vreugde om Jehovah se wil te doen! Met volle vertroue in sy onverdiende goedhartigheid is dit my vurige hoop om die vervulling te ervaar van sy Seun se belofte: “Elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of landerye ter wille van my naam verlaat het, sal baie keer soveel ontvang en die ewige lewe beërf.”Matt. 19:29.

[Voetnoot]

a Uitgegee in 1942, maar nou uit druk.

[Prent op bladsy 19]

Op my oupa se katoenplaas in Georgia, VSA, 1928

[Prent op bladsy 19]

Tannie Mary en oom Talmadge

[Prent op bladsy 20]

Mary, Gladys en Grace

[Prent op bladsy 20]

My doop, 14 Junie 1944

[Prent op bladsy 20]

In die Diensafdeling by Bethel

[Prent op bladsy 21]

Saam met Mary by die internasionale byeenkoms by Yankee-stadion in 1958

[Prent op bladsy 21]

Ek en Marjorie op ons troudag

[Prent op bladsy 21]

Saam in 2008