Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat ons ons saam verbly!

Laat ons ons saam verbly!

Laat ons ons saam verbly!

GELUK en vreugde word al hoe moeiliker om te vind. Vir baie lyk dit amper onmoontlik om positiewe gevoelens met ander te deel. Die hedendaagse lewe, veral in groot stede, veroorsaak dat mense hulle in hulleself keer en hulle afsonder.

“Eensaamheid is ’n baie algemene toestand”, sê professor in psigobiologie Alberto Oliverio, en “daar bestaan geen twyfel dat die lewe in groot beboude gebiede eensaamheid bevorder nie. In baie gevalle veroorsaak dit dat ons die persoonlike lewe van ’n kollega, ’n buurman of die kassier by die plaaslike supermark ignoreer.” Sulke afsondering lei dikwels tot depressie.

Die omstandighede sowel as die gees van mede-Christene is egter anders. Die apostel Paulus het geskryf: “Wees altyd bly” (1 Tess. 5:16). Daar is baie redes vir ons om bly te wees en om ons saam te verbly. Ons aanbid die Allerhoogste God, Jehovah; ons verstaan die Bybel se boodskap van waarheid; ons het die hoop op redding en ewige lewe; en ons kan ook ander help om dieselfde seëninge te verkry.—Ps. 106:4, 5; Jer. 15:16; Rom. 12:12.

Om jou te verbly en jou vreugde met ander te deel, is ’n kenmerk van ware Christene. Dit is dus nie verbasend dat Paulus vir die Filippense geskryf het nie: “Ek [is] bly en . . . verbly my saam met julle almal. Net so moet ook julle dan nou bly wees en julle saam met my verbly” (Fil. 2:17, 18). Hier, in net ’n paar woorde, praat Paulus twee keer daarvan om saam bly te wees.

Christene moet natuurlik enige neiging om hulle af te sonder, nougeset vermy. Niemand wat hom afsonder, kan hom saam met medegelowiges verbly nie. Hoe kan ons dan ag slaan op Paulus se vermaning om aan te hou om ons saam met ons broers “in die Here te verbly”?—Fil. 3:1.

Hoe ons ons saam met medegelowiges kan verbly

Toe Paulus sy brief aan die Filippense geskryf het, was hy waarskynlik ’n gevangene in Rome as gevolg van sy predikingswerk (Fil. 1:7; 4:22). Maar gevangenskap het nie sy ywer vir die bediening gedemp nie. Inteendeel, hy het hom daarin verbly dat hy Jehovah in die volste mate moontlik kan dien en “soos ’n drankoffer uitgegiet” kan word (Fil. 2:17). Paulus se gesindheid toon dat vreugde nie van ’n mens se omstandighede afhang nie. Ondanks sy gevangenskap het hy gesê: “Ek sal ook aanhou om my te verbly.”—Fil. 1:18.

Paulus het die gemeente in Filippi gestig en het besondere geneentheid vir sy broers daar gevoel. Hy het geweet dat dit ook vir hulle aanmoedigend sou wees om te deel in die vreugde wat hy uit sy diens aan Jehovah put. Daarom het hy geskryf: “Ek wil dan nou hê dat julle moet weet, broers, dat my aangeleenthede eerder op die vooruitgang van die goeie nuus as op iets anders uitgeloop het, sodat my boeie in verbintenis met Christus algemeen bekend geword het onder die hele pretoriaanse wag en al die ander” (Fil. 1:12, 13). Om hulle van hierdie aanmoedigende ondervinding te vertel, was een manier waarop Paulus kon bly wees en hom saam met sy broers kon verbly. En die Filippense het hulle ongetwyfeld saam met Paulus verbly. Maar om dit te doen, het vereis dat hulle nie ontmoedig word deur wat Paulus ondervind nie. Hulle moes eerder sy voorbeeld navolg (Fil. 1:14; 3:17). Die Filippense kon boonop aanhou om vir Paulus te bid en hom na die beste van hulle vermoë van hulp en ondersteuning te voorsien.—Fil. 1:19; 4:14-16.

Toon ons dieselfde vreugdevolle gees as Paulus? Probeer ons die positiewe aspekte van ons lewensomstandighede en van ons Christelike bediening sien? Wanneer ons met ons broers assosieer, is dit goed om ons te verbly oor die getuieniswerk. Ons hoef nie vir uitsonderlike ondervindinge te wag om dit te doen nie. Ons kon dalk belangstelling in die Koninkryksboodskap wek deur ’n besonder doeltreffende inleiding of redenasie te gebruik. Of ons het moontlik ’n goeie gesprek met ’n huisbewoner oor ’n gekose Bybelvers gehad. Of miskien is ons eenvoudig in die gebied uitgeken as Jehovah se Getuies, en dit op sigself het ’n goeie getuienis gelewer. Wanneer ons sulke ondervindinge vertel, is dit ’n manier waarop ons ons saam verbly.

Baie van Jehovah se knegte het opofferings gemaak om die predikingswerk gedoen te kry en maak nog steeds opofferings met dié doel. Pioniers, reisende opsieners, Betheliete, sendelinge en internasionale dienaars span hulle in die voltydse diens in en verbly hulle terwyl hulle dit doen. Is ons bly en verbly ons ons saam met hulle? Laat ons dan ons dankbaarheid vir hierdie dierbare “medewerkers vir die koninkryk van God” toon (Kol. 4:11). Wanneer ons saam by gemeentelike vergaderinge of groter Christelike byeenkomste is, kan ons hulle hartlik aanmoedig. Ons kan ook hulle ywerige voorbeeld navolg. En ons kan die “geleentheid” skep om na hulle ondervindinge en opbouende woorde te luister deur gasvryheid aan hulle te betoon, miskien deur hulle vir ’n ete te nooi.—Fil. 4:10.

Hoe ons ons kan verbly saam met diegene wat beproewinge deurmaak

Die vervolging wat Paulus verduur het en die beproewinge wat hy deurgemaak het, het hom meer vasbeslote gemaak om getrou te bly aan Jehovah (Kol. 1:24; Jak. 1:2, 3). Die wete dat die broers in Filippi moontlik voor soortgelyke beproewinge te staan sou kom en deur sy volharding bemoedig sou word, het hom rede gegee om bly te wees en om hom saam met hulle te verbly. Hy het dus geskryf: “Aan julle is die voorreg ter wille van Christus gegee, nie net om julle geloof in hom te stel nie, maar ook om ter wille van hom te ly. Want julle het dieselfde worstelstryd as wat julle in my geval gesien het en waarvan julle nou in my geval hoor.”—Fil. 1:29, 30.

Christene ondervind vandag ook teenstand as gevolg van hulle getuieniswerk. Soms is hierdie teenstand gewelddadig, maar dikwels is dit subtieler. Dit kom dalk in die vorm van valse beskuldigings deur afvalliges, vyandigheid van gesinslede of bespotting deur kollegas of skoolmaats. Jesus het gewaarsku dat hierdie beproewinge ons nie moet verbaas of ontmoedig nie. Dit is eerder redes vir blydskap. Hy het gesê: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my. Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele.”—Matt. 5:11, 12.

Ons moenie bang of vreesbevange wees wanneer ons hoor dat ons broers in sekere lande wrede vervolging ervaar nie. Inteendeel, ons moet ons verbly oor hulle volharding. Ons kan vir hulle bid en Jehovah vra om hulle geloof te versterk en hulle te help om te volhard (Fil. 1:3, 4). Terwyl ons nie veel meer vir hierdie dierbare broers kan doen nie, kan ons hulp verleen aan diegene in ons eie gemeente wat beproewinge ondergaan. Ons kan belangstelling in hulle toon en hulle onderskraag. Ons kan geleenthede skep om ons saam met hulle te verbly deur hulle van tyd tot tyd te nooi om by ons aan te sluit vir ons aand vir Gesinsaanbidding, saam met hulle velddiens te doen en saam met hulle aan ontspanning deel te neem.

Ons het baie redes om ons saam te verbly! Laat ons hierdie wêreld se gees van afsondering weerstaan en aanhou om ons vreugde met ons broers te deel. Sodoende sal ons nie net tot die liefde en eenheid van die gemeente bydra nie, maar sal ons ook die Christenbroederskap ten volle geniet (Fil. 2:1, 2). Ja, laat ons ons ‘altyd in die Here verbly’, want Paulus spoor ons aan: “Weer eens sal ek sê: Verbly julle!”—Fil. 4:4.

[Foto-erkenning op bladsy 6]

Aardbol: Courtesy of Replogle Globes