Vertrou op Jehovah, “die God van alle vertroosting”
Vertrou op Jehovah, “die God van alle vertroosting”
“Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting, geloof word.”—2 KOR. 1:3.
1. Wat het mense nodig, ongeag hoe oud hulle is?
ONS het van ons geboorte af ’n behoefte aan vertroosting. ’n Baba gebruik sy stembande om ons te laat weet wanneer hy vertroosting nodig het. Miskien wil hy vasgehou word of is hy honger. Selfs wanneer ons ouer is, het ons dikwels ’n behoefte aan vertroosting. Dit is veral die geval wanneer ons ons in moeilike situasies bevind.
2. Watter versekering gee Jehovah dat hy dié wat op hom vertrou, sal vertroos?
2 Gesinslede en vriende kan dikwels aan ons ’n mate van vertroosting bied. Maar soms kan geen mens iets doen omtrent die toestande wat vir ons benoudheid veroorsaak nie. Net God kan aan ons vertroosting bied ongeag hoe benard ons situasie is. Sy Woord verseker ons: “Jehovah is naby almal wat hom aanroep, . . . en hulle hulpgeroep sal hy hoor” (Ps. 145:18, 19). Ja, “die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle hulpgeroep” (Ps. 34:15). Maar as ons God se onderskraging en vertroosting wil ontvang, moet ons ons vertroue in hom stel. Die psalmis Dawid het dit duidelik gemaak toe hy gesing het: “Jehovah sal ’n veilige hoogte vir die verbryselde word, ’n veilige hoogte in tye van benoudheid. En dié wat u naam ken, sal op u vertrou, want u sal dié wat u soek, beslis nie verlaat nie, o Jehovah.”—Ps. 9:9, 10.
3. Hoe het Jesus Jehovah se liefde vir Sy volk geïllustreer?
3 Jehovah se aanbidders is vir hom kosbaar. Jesus het dit duidelik gemaak toe hy gesê het: “Vyf mossies word vir twee muntstukke van geringe waarde verkoop, nie waar nie? Tog word nie een van hulle voor God vergeet nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie vrees nie; julle is meer werd as baie mossies” (Luk. 12:6, 7). Deur middel van die profeet Jeremia het Jehovah vir Sy eertydse volk gesê: “Met ’n liefde tot onbepaalde tyd het ek jou liefgehad. Daarom het ek jou met liefderyke goedhartigheid getrek.”—Jer. 31:3.
4. Waarom kan ons op Jehovah se beloftes vertrou?
4 As ons op Jehovah en op die vervulling van sy beloftes vertrou, kan dit vir ons in tye van benoudheid vertroosting bring. Ons moet dus dieselfde vertroue in God hê as wat Josua uitgespreek het: “Nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, [het] onvervuld gebly . . . nie. Alles is vir julle bewaarheid. Nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie” (Jos. 23:14). En selfs as beproewende situasies ons tydelik verpletter, kan ons seker wees dat ‘God getrou is’ en nooit sy lojale knegte sal versaak nie.—Lees 1 Korintiërs 10:13.
5. Hoe is dit vir ons moontlik om ander te vertroos?
5 Die apostel Paulus verwys na Jehovah as “die God van alle vertroosting”. “Om te vertroos”, beteken om verligting te bied aan iemand wat in benoudheid verkeer of treur. Dit word gedoen deur sy smart of droefheid te verlig en aan hom vertroosting te bied. Jehovah doen dit beslis. (Lees 2 Korintiërs 1:3, 4.) Ons hemelse Vader word nie deur enigiets of enigiemand aan bande gelê nie, en daarom het hy alle middele tot sy beskikking wat nodig is om vertroosting te bied aan diegene wat hom liefhet. En ons kan medegelowiges vertroos “wat in enige soort verdrukking is”. Ons kan dit doen “deur die vertroosting waarmee ons self deur God vertroos word”. Hoe goed beskryf dit tog Jehovah se ongeëwenaarde vermoë om wanhopiges te vertroos!
Die oorsake van benoudheid
6. Gee voorbeelde van dinge wat benoudheid kan veroorsaak.
6 Ons het vertroosting op baie gebiede van die lewe nodig. Een van die grootste oorsake van droefheid is die dood van ’n geliefde, veral ’n geliefde huweliksmaat of ’n kind. Vertroosting is moontlik ook nodig omdat iemand ’n slagoffer van diskriminasie of vooroordeel is. Swak gesondheid, bejaardheid, armoede, huweliksprobleme of angswekkende wêreldtoestande kan veroorsaak dat ’n persoon vertroosting nodig het.
7. (a) Watter soort vertroosting is nodig in pynlike situasies? (b) Wat kan Jehovah doen om ’n “gebroke en verbryselde” hart te genees?
7 In tye van benoudheid het ons dalk vertroosting nodig wat verligting aan ons hart, ons verstand en ons emosies bied en ons fisiese sowel as ons geestelike gesondheid versterk. Dink byvoorbeeld aan die hart. God se Woord erken dat ons hart ‘gebroke en verbryseld’ kan wees (Ps. 51:17). Jehovah is beslis in staat om hierdie situasie te hanteer, want “hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle pynlike plekke” (Ps. 147:3). Selfs in ernstige gevalle kan God verligting aan ’n gebroke hart bied as ons in volle geloof tot hom bid en sy gebooie onderhou.—Lees 1 Johannes 3:19-22; 5:14, 15.
8. Hoe kan Jehovah ons help as ons geestesbenoudheid ervaar?
8 Ons verstand het dikwels vertroosting nodig omdat verskillende beproewinge groot geestesbenoudheid kan veroorsaak. Ons kan waarskynlik nie in ons eie krag hierdie toetse van geloof die hoof bied nie. Maar die psalmis het gesing: “Toe my verontrustende gedagtes binne-in my baie geword het, het u vertroostinge my siel begin streel” (Ps. 94:19). En Paulus het geskryf: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Fil. 4:6, 7). As ons die Skrif lees en daaroor peins, kan dit baie help om geestesbenoudheid die hoof te bied.—2 Tim. 3:15-17.
9. Hoe kan ons emosionele benoudheid die hoof bied?
9 Ons word dalk soms so mismoedig dat ons gevaar kan loop om deur die uitwerking van negatiewe emosies oorweldig te word. Miskien voel ons dat ons nie ’n sekere skriftuurlike verantwoordelikheid kan nakom of na ’n diensvoorreg kan omsien nie. Ook hier kan Jehovah ons vertroos en help. Ter toeligting: Toe Josua die opdrag ontvang het om die Israeliete teen magtige vyandelike nasies aan te voer, het Moses vir die volk gesê: “Wees moedig en sterk. Moenie bang wees of sidder voor hulle nie, want Jehovah jou God trek saam met jou. Hy sal jou nie in die steek laat of jou heeltemal verlaat nie” (Deut. 31:6). Met Jehovah se ondersteuning was Josua in staat om God se volk in die Beloofde Land in te lei en hulle tot oorwinning oor al hulle vyande aan te voer. Moses het vroeër by die Rooisee soortgelyke goddelike steun ontvang.—Eks. 14:13, 14, 29-31.
10. Watter hulp kan ons ontvang as ons fisiese gesondheid deur benoudheid aangetas word?
10 Ontstellende gebeure kan ’n negatiewe uitwerking op ons fisiese gesondheid hê. As ons reg eet, genoeg rus en oefening kry en ons skoon hou, kan dit natuurlik ’n goeie uitwerking op ons hê. ’n Geestelik gesonde Bybelse uitkyk sal waarskynlik ’n goeie uitwerking op ons liggaam hê. Wanneer ons benoudheid van die een of ander aard ervaar, is dit derhalwe nuttig om Paulus se ondervinding en bemoedigende woorde in gedagte te hou: “Ons word in elke opsig geknel, maar nie só vasgekeer dat ons nie kan beweeg nie; ons is raadop, maar nie heeltemal sonder uitweg nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; ons word neergewerp, maar nie vernietig nie.”—2 Kor. 4:8, 9.
11. Hoe kan geestelike siekte teëgewerk word?
11 Party beproewinge kan ’n nadelige uitwerking op ons geestelike gesondheid hê. Ook hier kan Jehovah ons te hulp kom. Sy Woord verseker ons: “Jehovah ondersteun almal wat val en rig almal op wat neergeboë is” (Ps. 145:14). Ons moet Christen- ouer manne vra om ons te help om geestelike siekte teë te werk (Jak. 5:14, 15). En as ons voortdurend die skriftuurlike hoop op die ewige lewe in gedagte hou, kan dit help om ons gedurende toetse van ons geloof te onderskraag.—Joh. 17:3.
Voorbeelde van godgegewe vertroosting
12. Beskryf Jehovah se vertroostende gesindheid teenoor Abraham.
12 ’n Geïnspireerde psalmis het gesê: “Dink aan die woord aan u kneg, waarop u [Jehovah] my laat wag het. Dit is my vertroosting in my ellende, want u woord het my in die lewe gehou” (Ps. 119:49, 50). Vandag het ons Jehovah se geskrewe Woord, wat baie voorbeelde van godgegewe vertroosting bevat. Byvoorbeeld, Abraham was moontlik baie ontsteld toe hy uitgevind het dat Jehovah Sodom en Gomorra gaan vernietig. Hierdie getroue aartsvader het God gevra: “Sal u werklik die regverdige saam met die goddelose wegvee?” Jehovah het Abraham vertroos deur hom te verseker dat Hy Sodom nie sal vernietig as net 50 regverdige mense gevind kan word nie. Abraham het Jehovah egter nog vyf keer gevra: Sê nou daar is net 45 regverdige mense? 40? 30? 20? 10? Jehovah het Abraham elke keer baie geduldig en liefdevol verseker dat Sodom gespaar sou word. Hoewel daar nie eens tien regverdige mense in die gebied was nie, het Jehovah wel Lot en sy dogters bewaar.—Gen. 18:22-32; 19:15, 16, 26.
13. Hoe het Hanna getoon dat sy op Jehovah vertrou?
13 Elkana se vrou Hanna wou baie graag ’n kind hê. Maar sy was onvrugbaar, en dit het haar diep bedroef. Sy het hieroor tot Jehovah gebid, en die hoëpriester Eli het vir haar gesê: “Mag die God van Israel jou versoek toestaan.” Dit het Hanna vertroos, “en haar gesig het nie meer besorgdheid oor haar situasie getoon nie” (1 Sam. 1:8, 17, 18). Hanna het op Jehovah vertrou en sake met vertroue in sy hande gelaat. Hoewel sy nie geweet het wat sou gebeur nie, het Hanna innerlike vrede gehad. Ná ’n ruk het Jehovah haar gebed verhoor. Sy het swanger geword en aan ’n seun geboorte gegee, wat sy Samuel genoem het.—1 Sam. 1:20.
14. Waarom het Dawid vertroosting nodig gehad, en tot wie het hy hom gewend?
14 Koning Dawid van eertydse Israel is nog ’n voorbeeld van iemand wat deur God vertroos is. Omdat Jehovah “sien wat die hart is”, het hy, toe hy Dawid gekies het om ’n toekomstige koning van Israel te wees, geweet dat Dawid opreg is en toegewy is aan ware aanbidding (1 Sam. 16:7; 2 Sam. 5:10). Maar later het Dawid met Batseba egbreuk gepleeg en die sonde probeer bedek deur haar man te laat doodmaak. Toe Dawid besef het wat ’n groot sonde hy gepleeg het, het hy tot Jehovah gebid: “Wis my oortredings uit ooreenkomstig die oorvloed van u barmhartighede. Was my deeglik van my ongeregtigheid, en reinig my selfs van my sonde. Want my oortredings ken ek, en my sonde is voortdurend voor my” (Ps. 51:1-3). Dawid was opreg berouvol, en Jehovah het hom vergewe. Dawid moes egter die gevolge van sy oortreding dra (2 Sam. 12:9-12). Jehovah se barmhartigheid was nietemin ’n bron van vertroosting vir sy nederige kneg.
15. Watter hulp het Jehovah Jesus net voor sy dood gegee?
15 Toe Jesus op die aarde was, het hy dikwels beproewende omstandighede ondervind. God het hierdie toetse van geloof toegelaat, en Jesus het sy onkreukbaarheid gehandhaaf as ’n volmaakte man wat altyd op Jehovah vertrou het en Sy soewereiniteit ondersteun het. Kort voordat Jesus verraai en tereggestel is, het hy tot Jehovah gebid: “Laat . . . nie my wil nie, maar u wil geskied.” ’n Engel het toe aan Jesus verskyn en hom versterk (Luk. 22:42, 43). God het Jesus die vertroosting, krag en onderskraging gegee wat hy op daardie stadium nodig gehad het.
16. Wat kan God doen omtrent benoudheid wat ons dalk sal ervaar as ons die dood in die gesig staar weens ons onkreukbaarheid?
16 Selfs as ons die dood in die gesig staar weens ons vaste standpunt as Christene, kan en sal Jehovah ons help om ons onkreukbaarheid teenoor hom te handhaaf. Daarbenewens word ons deur die opstandingshoop vertroos. En hoe sien ons tog uit na die dag wanneer die laaste vyand, die dood, ‘tot niet gemaak gaan word’! (1 Kor. 15:26). God se lojale knegte wat gesterf het, sowel as ander, is in Jehovah se onfeilbare geheue en sal opgewek word (Joh. 5:28, 29; Hand. 24:15). Gedurende tye van vervolging bied vertroue in Jehovah se belofte van ’n opstanding vertroosting en ’n vaste hoop aan ons.
17. Hoe kan Jehovah ons vertroos wanneer ’n geliefde sterf?
17 Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat ons geliefdes wat nou in die mensdom se gemeenskaplike graf slaap, die vooruitsig het om weer te lewe in ’n wonderlike nuwe wêreld wat vry sal wees van al die teenswoordige oorsake van benoudheid! En wat ’n voorreg sal dit tog wees vir die “groot menigte” van Jehovah se knegte wat die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge oorleef, om diegene wat tot lewe op die aarde opgewek word, te verwelkom en te onderrig!—Op. 7:9, 10.
Onder is God se ewige arms
18, 19. Hoe word God se knegte vertroos wanneer hulle vervolg word?
18 In die woorde van ’n kragtige en hartverblydende lied het Moses die volk Israel verseker: “’n Skuilplek is die God van die ou tyd, en onder is die arms wat tot onbepaalde tyd bly” (Deut. 33:27). Die profeet Samuel het later vir die Israeliete gesê: “[Moenie] daarvan afwyk om Jehovah te volg nie, en julle moet Jehovah met julle hele hart dien. . . . Jehovah sal sy volk ter wille van sy groot naam nie verstoot nie” (1 Sam. 12:20-22). Solank ons Jehovah in ware aanbidding aankleef, sal hy ons nooit versaak nie. Hy sal ons altyd die ondersteuning gee wat ons nodig het.
19 In hierdie kritieke laaste dae gee God sy volk altyd die nodige hulp en vertroosting. Al meer as ’n eeu lank word duisende van ons medegelowiges regoor die wêreld vervolg en opgesluit bloot omdat hulle Jehovah dien. Hulle ondervindinge bewys dat Jehovah inderdaad sy knegte in tye van beproewing vertroos. Een van ons broers in die voormalige Sowjetunie is byvoorbeeld tot 23 jaar gevangenisstraf gevonnis as gevolg van sy geloof. Daar is nietemin ’n manier gevind om hom van geestelike voedsel te voorsien sodat hy versterk en vertroos kon word. Hy het gesê: “Gedurende al daardie jare het ek geleer om op Jehovah te vertrou en het ek krag van hom ontvang.”—Lees 1 Petrus 5:6, 7.
20. Waarom kan ons seker wees dat Jehovah ons nie sal verlaat nie?
20 Ongeag wat ons nog sal ondervind, dit sal goed wees as ons die psalmis se vertroostende woorde in gedagte hou: “Jehovah sal sy volk nie verstoot nie” (Ps. 94:14). Hoewel ons self vertroosting nodig het, het ons ook die wonderlike voorreg om vertroosting aan ander te bied. Soos ons in die volgende artikel sal sien, kan ons help om treurendes in hierdie veelbewoë wêreld te vertroos.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat is van die dinge wat vir ons benoudheid kan veroorsaak?
• Hoe vertroos Jehovah sy knegte?
• Wat kan ons vertroos as ons die dood in die gesig staar?
[Studievrae]
[Venster/Prente op bladsy 25]
HOE OM DINGE DIE HOOF TE BIED WAT ’N NADELIGE UITWERKING KAN HÊ OP ONS . . .
▪ hart Ps. 147:3; 1 Joh. 3:19-22; 5:14, 15
▪ verstand Ps. 94:19; Fil. 4:6, 7
▪ emosies Eks. 14:13, 14; Deut. 31:6
▪ fisiese gesondheid 2 Kor. 4:8, 9
▪ geestelike gesondheid Ps. 145:14; Jak. 5:14, 15