Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wat moet ek doen wanneer ek ’n vraag het oor iets wat ek in die Bybel gelees het of wanneer ek raad oor ’n persoonlike probleem nodig het?

Spreuke 2:1-5 spoor elkeen van ons aan om begrip en onderskeidingsvermoë te “bly naspeur” asof ons na “verborge skatte” soek. Dit gee te kenne dat ons ons moet inspan om navorsing te doen om antwoorde op ons Bybelvrae en oplossings vir ons persoonlike probleme te vind. Hoe kan ons dit doen?

Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool, bladsye 33 tot 38, bespreek “Hoe om navorsing te doen” deur die hulpmiddels te gebruik wat “die getroue en verstandige slaaf” voorsien (Matt. 24:45). Bladsy 36 verduidelik hoe om die Watch Tower Publications Index te gebruik, waarvan elke uitgawe in ’n saak- en teksregister verdeel is. Dit maak dit moontlik om ’n soektog volgens sleutelwoorde of volgens Bybelverse te doen, wat jou dan ’n lys van verwysings sal gee wat jy kan raadpleeg. Wees geduldig terwyl jy na die spesifieke antwoord of raad soek wat jy nodig het. Onthou, jy soek na “verborge skatte”, iets wat tyd en inspanning verg.

Daar is natuurlik party onderwerpe en tekste wat ons publikasies nog nie spesifiek bespreek het nie. En selfs waar daar wel oor ’n bepaalde Bybelvers kommentaar gelewer is, het dit dalk nie die spesifieke vraag behandel wat jy in gedagte het nie. En party Bybelverslae laat vrae ontstaan omdat nie al die besonderhede in die Bybel verstrek word nie. Ons kan dus nie ’n onmiddellike antwoord vind op elke vraag wat ontstaan nie. In so ’n geval moet ons nie bespiegel oor dinge wat eenvoudig nie beantwoord kan word nie, sodat ons nie betrokke raak by debatte oor “vrae vir navorsing” nie in plaas van dinge te voorsien “in verband met geloof wat deur God uitgedeel word” (1 Tim. 1:4; 2 Tim. 2:23; Tit. 3:9). Nie die takkantoor of die wêreldhoofkwartier is in ’n posisie om al hierdie soort vrae wat nog nie in ons lektuur bespreek is nie, te ontleed en te beantwoord nie. Ons kan seker wees dat die Bybel genoeg inligting voorsien om ons deur die lewe te rig, maar ook genoeg besonderhede weglaat sodat ons sterk geloof in die goddelike Outeur daarvan moet hê.—Sien bladsye 185 tot 186 van die boek Kom nader aan Jehovah.

Sê nou jy het soveel navorsing gedoen as wat jy kan oor ’n saak wat jou persoonlik raak, maar het nog steeds nie die raad of oplossing gevind wat jy nodig het nie? Nader gerus ’n ryp medegelowige, dalk een van die plaaslike ouer manne. Hulle het baie Bybelkennis sowel as ervaring in die Christelike lewenswyse. Hulle gebalanseerde hulp sal veral gepas wees as jy raad oor ’n persoonlike probleem of besluit nodig het, want hulle ken jou en is vertroud met jou situasie. En moet nooit vergeet om oor jou spesifieke bekommernisse tot Jehovah te bid en hom te vra om jou denke deur middel van sy heilige gees te rig nie, “want Jehovah gee wysheid . . . en onderskeidingsvermoë”.—Spr. 2:6; Luk. 11:13.