Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wyse raad oor die ongetroude lewe en die huwelik

Wyse raad oor die ongetroude lewe en die huwelik

Wyse raad oor die ongetroude lewe en die huwelik

“Dit sê ek . . . om julle te beweeg tot wat betaamlik is en wat volgehoue diens aan die Here beteken, sonder om afgelei te word.”—1 KOR. 7:35.

1, 2. Waarom moet ’n mens Bybelraad oor die ongetroude lewe en die huwelik soek?

 MIN aspekte van die lewe bring groter vreugde, frustrasie of kommer mee as ons handelinge met die teenoorgestelde geslag. Die belangrikheid daarvan om hierdie emosies doeltreffend te verwerk, is genoeg rede vir ons om goddelike leiding te soek, maar daar is ook ander beweegredes om dit te doen. ’n Christen wat vergenoeg is om ongetroud te wees, voel dalk dat sy familie of vriende druk op hom uitoefen om te trou. ’n Ander wil miskien trou, maar het nog nie ’n geskikte maat gevind nie. Party het leiding nodig oor hoe om voor te berei vir die verantwoordelikheid om ’n eggenoot te wees. En ongetroude sowel as getroude Christene kom te staan voor toetse in verband met geslagsedelikheid.

2 Hierdie kwessies raak nie net ons persoonlike geluk nie, maar ook ons posisie voor Jehovah God. In hoofstuk 7 van sy eerste brief aan die Korintiërs het Paulus leiding oor die ongetroude lewe en die huwelik gegee. Sy oogmerk was om sy lesers te beweeg tot “wat betaamlik is en wat volgehoue diens aan die Here beteken, sonder om afgelei te word” (1 Kor. 7:35). Terwyl jy sy raad oor hierdie belangrike sake ondersoek, moet jy jou situasie—hetsy jy ongetroud of getroud is—probeer beskou as ’n geleentheid om Jehovah in groter mate te dien.

’n Gewigtige persoonlike besluit

3, 4. (a) Hoe ontstaan daar soms probleme wanneer mense te besorg is oor ’n ongetroude vriend of familielid? (b) Hoe moet Paulus se raad ’n mens help om ’n gebalanseerde beskouing van die huwelik te hê?

3 Soos die Joodse gemeenskap in die eerste eeu, staan baie kulture vandag die huwelik as uiters gewens voor. As ’n jong man of vrou ’n sekere ouderdom bereik en nog nie getroud is nie, voel besorgde vriende en familielede dalk gedwonge om hom of haar raad te gee. In gesprekke stel hulle miskien voor dat hy of sy daadwerkliker soek na ’n maat. Hulle stel dalk ’n gepaste lid van die teenoorgestelde geslag voor. Hulle gaan moontlik selfs skelm te werk om twee ongetroude mense te laat ontmoet. Hierdie dade lei soms tot verleentheid, gebroke vriendskappe en gekwetste gevoelens.

4 Paulus het nooit druk op ander uitgeoefen om te trou of om ongetroud te bly nie (1 Kor. 7:7). Hy was vergenoeg om Jehovah sonder ’n vrou te dien, maar hy het ander se reg gerespekteer om ’n huwelikslewe te geniet. Individuele Christene van vandag het ook die reg om self te besluit of hulle wil trou of ongetroud wil bly. Ander moenie druk op hulle uitoefen om die een weg of die ander te kies nie.

Maak ’n sukses van die ongetroude lewe

5, 6. Waarom het Paulus die ongetroude lewe aanbeveel?

5 ’n Opmerkenswaardige aspek van Paulus se woorde aan die Korintiërs is sy positiewe beskouing van die ongetroude lewe. (Lees 1 Korintiërs 7:8.) Hoewel Paulus ongetroud was, het hy hom nie, soos die selibatêre geestelikes van die Christendom, verhef bo dié wat getroud is nie. Die apostel het eerder die aandag gevestig op ’n voordeel wat talle ongetroude bedienaars van die goeie nuus geniet. Wat is hierdie voordeel?

6 ’n Ongetroude Christen is dikwels in ’n posisie om toewysings in Jehovah se diens te aanvaar wat dalk nie vir ’n getroude persoon moontlik is nie. Paulus het ’n spesiale voorreg ontvang as “’n apostel vir die nasies” (Rom. 11:13). Lees Handelinge hoofstukke 13 tot 20, en volg hom en sy medesendelinge terwyl hulle in nuwe gebiede begin werk en gemeentes in die een plek na die ander stig. In sy diens het Paulus ontberinge gely waarvoor min vandag te staan sal kom (2 Kor. 11:23-27, 32, 33). Maar die vreugde wat hy gesmaak het om baie te help om dissipels te word, het hierdie moeilikhede die moeite werd gemaak (1 Tess. 1:2-7, 9; 2:19). Sou hy alles kon doen wat hy wel gedoen het as hy getroud was of ’n gesin gehad het? Waarskynlik nie.

7. Meld ’n voorbeeld van ongetroude Getuies wat hulle omstandighede benut het om Koninkryksbelange te bevorder.

7 Talle ongetroude Christene benut hulle huidige omstandighede om baie ten behoewe van die Koninkryk te doen. Sara en Limbania, ongetroude pioniers in Bolivia, het na ’n dorpie getrek waar die mense jare lank nie ’n getuienis ontvang het nie. Sou die gebrek aan elektrisiteit ’n probleem wees? Hulle het gesê: “Omdat daar geen radio of TV is nie, word die mense nie afgelei van hulle vernaamste tydverdryf, naamlik lees, nie.” Party dorpsbewoners het vir die pioniers eksemplare van publikasies van Jehovah se Getuies gewys wat hulle nog steeds gelees het, maar wat al lank uit druk was. Omdat die susters by byna elke deur belangstelling gevind het, was dit vir hulle moeilik om elke huisgesin in die gebied te besoek. ’n Bejaarde vrou het vir hulle gesê: “Die einde moet naby wees, want Jehovah se Getuies het uiteindelik by ons uitgekom.” Party in hierdie dorpie het weldra gemeentelike vergaderinge begin bywoon.

8, 9. (a) Wat het Paulus in gedagte gehad toe hy positief oor die ongetroude lewe gepraat het? (b) Watter voordele het ongetroude Christene?

8 Getroude Christene verkry natuurlik ook goeie resultate wanneer hulle die goeie nuus in moeilike gebiede verkondig. Maar party toewysings wat ongetroude pioniers kan aanvaar, sal moontlik moeilik wees vir dié wat getroud is of kinders het. Paulus het gedink aan al die moontlikhede wat hy gesien het om die goeie nuus onder die plaaslike gemeentes te bevorder. Hy wou hê dat almal, soos hy, vreugde moet ervaar. Daarom het hy positief gepraat oor diens aan Jehovah as ’n ongetroude persoon.

9 ’n Ongetroude pioniersuster in die Verenigde State het geskryf: “Party mense glo dat dit nie vir ongetroudes moontlik is om gelukkig te wees nie. Maar ek het gesien dat blywende geluk afhang van jou vriendskap met Jehovah. Al is die ongetroude lewe ’n opoffering, is dit ’n wonderlike gawe as jy dit benut.” Aangaande geluk het sy geskryf: “Die ongetroude lewe kan ’n afspringplek vir geluk wees, nie ’n hindernis nie. Ek weet dat Jehovah niemand, ongetroud of getroud, van sy tere geneenthede uitsluit nie.” Sy dien nou vreugdevol in ’n land waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Kan jy, as jy ongetroud is, jou vryheid gebruik om meer te doen om ander die waarheid te leer? Jy sal moontlik ook vind dat die ongetroude lewe ’n kosbare gawe van Jehovah is.

Ongetroudes wat graag wil trou

10, 11. Hoe ondersteun Jehovah diegene wat hoop om te trou, maar wat nog nie ’n geskikte maat gevind het nie?

10 Nadat hulle ’n ruk lank ongetroud gebly het, besluit baie van Jehovah se getroue knegte om ’n huweliksmaat te soek. Hulle besef dat hulle leiding nodig het en vra Jehovah dus om hulle te help om ’n geskikte maat te vind.—Lees 1 Korintiërs 7:36.

11 As jy hoop om met iemand te trou wat dieselfde begeerte as jy het om Jehovah heelhartig te dien, moet jy aanhou om tot Hom te bid oor hierdie saak (Fil. 4:6, 7). Ongeag hoe lank jy moet wag, moenie hoop opgee nie. Vertrou op ons liefdevolle God as jou Helper, en hy sal jou emosioneel ondersteun na gelang van jou behoefte.—Heb. 13:6.

12. Waarom moet ’n Christen ’n huweliksaanbod noukeurig oorweeg?

12 ’n Ongetroude Christen wat graag wil trou, ontvang dalk ’n huweliksaanbod van iemand met twyfelagtige geestelikheid of selfs van ’n ongelowige. As dit met jou gebeur, moet jy onthou dat die hartseer wat uit ’n slegte keuse van ’n huweliksmaat voortspruit, baie groter pyn kan veroorsaak as die eensaamheid wat ’n ongetroude persoon ervaar. En as jy eers getroud is, is jy lewenslank, in lief en leed, aan jou maat gebonde (1 Kor. 7:27). Moenie uit wanhoop ’n besluit neem om te trou, ’n besluit waaroor jy later spyt sal wees nie.—Lees 1 Korintiërs 7:39.

Berei voor vir die werklikhede van die huwelik

13-15. Watter moontlike bronne van verdrukking in die huwelik moet ’n paartjie bespreek terwyl hulle uitgaan?

13 Hoewel Paulus aanbeveel het dat mense Jehovah as ongetroude persone dien, het hy nie neergesien op dié wat besluit het om te trou nie. Inteendeel, sy geïnspireerde raad help egpare om die werklikhede van die huwelikslewe die hoof te bied en om hulle verbintenis blywend te maak.

14 Party egpare moet hulle toekomsverwagtinge aanpas. Wanneer twee persone met mekaar uitgaan, beskou hulle dalk hulle liefde as uniek, uitsonderlik, ’n waarborg vir ’n gelukkige huwelik. Hulle betree die huwelik, meegevoer deur droomemosies, en glo dat niks ooit hulle geluk as ’n egpaar kan vernietig nie. Hierdie denke is onrealisties. Die romantiese aspekte van die huwelikslewe is genotvol, maar dit alleen rus ’n bruid en bruidegom nie toe om die verdrukking wat elke huwelik meebring, die hoof te bied nie.—Lees 1 Korintiërs 7:28. a

15 Talle pasgetroudes is verbaas, selfs teleurgesteld, wanneer hulle maat met hulle verskil oor belangrike sake. Die twee stem miskien nie saam oor hoe hulle geld en vrye tyd moet bestee, waar hulle sal woon en hoe dikwels hulle die skoonfamilie moet besoek nie. En elkeen het persoonlikheidsgebreke wat die ander een kan irriteer. Terwyl ’n paartjie uitgaan, is dit maklik om sulke kwessies as onbelangrik af te maak, maar hierdie dinge kan later groot druk op ’n huwelik plaas. Dit is verstandig van ’n paartjie om hierdie kwessies uit te stryk voordat hulle trou.

16. Waarom moet ’n egpaar saamstem oor hoe om die uitdagings van die huwelikslewe aan te pak?

16 Om suksesvol en gelukkig te wees, moet ’n egpaar hulle uitdagings eensgesind aanpak. Hulle moet saamstem oor hoe om hulle kinders te dissiplineer en hoe om na bejaarde ouers om te sien. Die druk wat deur gesinsprobleme veroorsaak word, moet die twee nie uitmekaardryf nie. As hulle Bybelraad toepas, sal hulle baie probleme oplos, dié verduur wat oorbly en gelukkig saamleef.—1 Kor. 7:10, 11.

17. Oor watter “dinge van die wêreld” moet ’n egpaar verwag om besorg te wees?

17 Paulus meld nog ’n werklikheid van die huwelik in 1 Korintiërs 7:32-34. (Lees.) Getroude persone is noodgedwonge “besorg oor die dinge van die wêreld”, soos kos, klere, huisvesting en ander niegeestelike sake. Waarom? Toe hy ongetroud was, het ’n broer hom moontlik ten volle aan die bediening gewy. Maar as eggenoot vind hy dat hy van daardie tyd en energie moet gebruik om na sy vrou om te sien en so haar goedkeuring te verkry. Dieselfde geld vir die vrou met betrekking tot haar man. In sy wysheid erken Jehovah dat dit nodig is. Hy weet dat ’n suksesvolle huwelik dikwels van die tyd en energie vereis wat die man en vrou vroeër aan Sy diens gewy het toe hulle ongetroud was.

18. Watter aanpassings in verband met sosiale bedrywighede moet party dalk maak nadat hulle getrou het?

18 Maar die les strek verder. As ’n egpaar tyd en energie wat vroeër aan God se diens gewy is, moet gebruik om na mekaar om te sien, moet hulle dan nie dieselfde doen met middele wat hulle vroeër gebruik het om as ongetroude persone sosiaal te verkeer nie? Watter uitwerking sal dit op ’n vrou hê as haar man diep betrokke bly by sport saam met sy vriende? Of hoe sal ’n man voel as sy vrou voortgaan om baie tyd aan stokperdjies saam met haar vriendinne te wy? Die afgeskeepte maat sal moontlik gou eensaam, ongelukkig en ongeliefd voel. Dit kan vermy word as dié wat trou, alles in hulle vermoë doen om hulle band as man en vrou te versterk.—Ef. 5:31.

Jehovah vereis sedelike reinheid

19, 20. (a) Waarom is getroude persone nie vry van die versoeking om onsedelik te wees nie? (b) Watter gevaar loop ’n egpaar as hulle toelaat dat hulle vir lang tye weg is van mekaar?

19 Knegte van Jehovah is vasbeslote om sedelik kuis te bly. Party besluit om te trou ten einde probleme in hierdie opsig te vermy. Maar die huwelik verskaf nie outomatiese beskerming teen geslagsonreinheid nie. In Bybeltye het ’n versterkte stad die mense daarin slegs beskerm as hulle binne die stadsmure gebly het. As iemand by die poort uitgegaan het wanneer struikrowers en roofbendes in die omgewing was, kon hy beroof of doodgemaak word. So ook vind getroude persone beskerming teen onsedelikheid slegs as hulle binne die perke in verband met geslagsedelikheid bly wat die Insteller van die huwelik vir hulle gestel het.

20 Paulus het hierdie perke in 1 Korintiërs 7:2-5 beskryf. Geslagsomgang met haar man word die uitsluitlike voorreg van die vrou; hy het eweneens dieselfde voorreg net met haar. Daar word van elkeen verwag om aan die ander te gee wat hulle as huweliksmaats “toekom”, dit wil sê geslagsomgang wat ’n getroude persoon die reg het om te hê. Party mans en vrouens bestee egter lang tye weg van mekaar—deur op afsonderlike vakansies te gaan of as gevolg van sekulêre werk van mekaar weg te wees, en sodoende ontsê hulle hulle huweliksmaat wat hom of haar “toekom”. Dink net wat ’n tragedie dit sou wees as ’n persoon weens ’n “gebrek aan selfbeheersing” voor sataniese druk swig en egbreuk pleeg. Jehovah seën gesinshoofde wat vir hulle gesin sorg sonder om hulle huwelik in gevaar te stel.—Ps. 37:25.

Die voordele van gehoorsaamheid aan Bybelraad

21. (a) Waarom is dit moeilik om besluite oor die ongetroude lewe en die huwelik te neem? (b) Waarom is die raad in 1 Korintiërs hoofstuk 7 nuttig?

21 Besluite rakende die ongetroude lewe en die huwelik is van die moeilikste besluite wat ’n mens ooit sal neem. Onvolmaaktheid, die bron van die meeste probleme in menseverhoudinge, is in alle mense teenwoordig. Selfs diegene wat Jehovah se guns en seën geniet, kan dus nie teleurstelling ten volle vryspring nie, hetsy hulle ongetroud of getroud is. As jy die wyse raad in 1 Korintiërs hoofstuk 7 toepas, kan jy hierdie probleme tot ’n minimum beperk. In Jehovah se oë sal jy “goed doen”, hetsy jy ongetroud of getroud is. (Lees 1 Korintiërs 7:37, 38.) Om God se goedkeuring te hê, is die grootste doelwit wat jy kan bereik. Met sy guns sal jy aanhou om vooruitgang te maak met lewe in sy nuwe wêreld in die vooruitsig. Daar sal verhoudinge tussen mans en vroue vry wees van die druk wat vandag so algemeen is.

[Voetnoot]

a Sien Die geheim van gesinsgeluk, hoofstuk 2, paragrawe 16-19.

Kan jy antwoord?

• Waarom moet niemand druk op iemand anders uitoefen om te trou nie?

• Hoe kan jy jou tyd as ’n ongetroude kneg van Jehovah ten beste benut?

• Hoe kan ’n paartjie wat uitgaan, voorberei vir die uitdagings van die huwelik?

• Waarom bied die huwelik nie outomatiese beskerming teen geslagsonsedelikheid nie?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 14]

Ongetroude Christene wat hulle tyd gebruik om hulle bediening uit te brei, smaak vreugde

[Prent op bladsy 16]

Watter aanpassings moet party dalk maak nadat hulle getrou het?