Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Help mans om geestelike vooruitgang te maak

Help mans om geestelike vooruitgang te maak

Help mans om geestelike vooruitgang te maak

“Van nou af sal jy mense lewend vang.”—LUK. 5:10.

1, 2. (a) Hoe het mans op Jesus se prediking gereageer? (b) Wat sal in hierdie artikel bespreek word?

 GEDURENDE ’n predikingsreis deur die hele Galilea het Jesus en sy dissipels in ’n boot geklim om na ’n eensame plek te gaan. Maar ’n skare het hulle te voet gevolg. Op dié dag was daar “omtrent vyfduisend manne, buiten die vroue en jong kinders” (Matt. 14:21). By ’n ander geleentheid het ’n skare na Jesus toe gekom omdat hulle genees wou word en hom wou hoor praat. Onder hulle was daar “vierduisend manne, buiten die vroue en jong kinders” (Matt. 15:38). Daar was klaarblyklik baie mans onder die mense wat na Jesus toe gekom en belangstelling in sy lering getoon het. Trouens, Jesus het verwag dat nog baie gunstig sou reageer, want nadat hy ’n wonderdadige visvangs bewerkstellig het, het hy vir sy dissipel Simon gesê: “Van nou af sal jy mense lewend vang” (Luk. 5:10). Sy dissipels moes hulle nette in die see van die mensdom laat sak en kon verwag dat hulle ‘vangs’ baie mans sou insluit.

2 Mans toon vandag eweneens belangstelling in die skriftuurlike boodskap wat ons verkondig en reageer gunstig daarop (Matt. 5:3). Maar baie mans aarsel en maak nie geestelike vooruitgang nie. Hoe kan ons hulle help? Hoewel Jesus nie ’n spesiale bediening ingestel het wat op mans gerig was nie, het hy beslis kwessies aangeroer wat die mans van sy dag geraak het. Kom ons ondersoek aan die hand van sy voorbeeld hoe ons mans kan help om vandag drie kwellinge die hoof te bied: (1) om ’n bestaan te maak, (2) vrees vir die openbare mening en (3) gevoelens van onbekwaamheid.

Om ’n bestaan te maak

3, 4. (a) Wat is vir baie mans van groot belang? (b) Waarom is dit vir baie mans belangriker om ’n bestaan te maak as om geestelike dinge na te streef?

3 “Leermeester”, het ’n skrifgeleerde vir Jesus gesê, “ek sal u volg waar u ook al gaan.” Maar toe Jesus vir hom sê dat ‘die Seun van die mens geen plek het om sy kop neer te lê nie’, het die skrifgeleerde hom bedink. Die onsekerheid oor waar sy volgende maaltyd vandaan sou kom of waar hy sou woon, het die skrifgeleerde blykbaar nie aangestaan nie, want daar is geen aanduiding dat hy ’n volgeling van Christus geword het nie.—Matt. 8:19, 20.

4 Mans stel dikwels materiële sekuriteit bo geestelike strewes. Vir baie van hulle is naskoolse geleerdheid en ’n goed betaalde werk prioriteite. Hulle meen dat die voordele daarvan om geld te maak, noodsaakliker en praktieser is as enige voordele wat ’n studie van die Skrif en ’n strewe na ’n hegte verhouding met God kan meebring. Hulle hou miskien van wat die Bybel leer, maar “die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom” verstik enige belangstelling wat hulle moontlik het (Mark. 4:18, 19). Kyk hoe Jesus sy dissipels gehelp het om hulle prioriteite aan te pas.

5, 6. Wat het Andreas, Petrus, Jakobus en Johannes gehelp om hulle prioriteite ten opsigte van deelname aan die predikingswerk en die nodigheid om ’n bestaan te maak, aan te pas?

5 Andreas en sy broer Simon Petrus was vennote in ’n vissersonderneming. Dit was ook die geval met Johannes, sy broer Jakobus en hulle vader, Sebedeus. Dit het so goed met die onderneming gegaan dat die hulp van huurlinge nodig was (Mark. 1:16-20). Toe Andreas en Johannes by Johannes die Doper van Jesus gehoor het, was hulle oortuig dat hulle die Messias gevind het. Andreas het sy broer Simon Petrus daarvan vertel, en miskien het ook Johannes sy broer Jakobus daarvan vertel (Joh. 1:29, 35-41). Gedurende die daaropvolgende maande het al vier tyd saam met Jesus deurgebring terwyl hy in Galilea, Judea en Samaria gepreek het. Toe het die vier dissipels na die vissersbedryf teruggekeer. Hulle het in geestelike sake belanggestel, maar die bediening was nie hulle eerste prioriteit nie.

6 ’n Ruk later het Jesus Petrus en Andreas genooi om agter hom aan te kom en “vissers van mense” te word. Hoe het die twee gereageer? “Dadelik het hulle die nette laat staan en hom gevolg.” Dit was ook die geval met Jakobus en Johannes. “Dadelik het hulle die boot en hulle vader verlaat en hom gevolg” (Matt. 4:18-22). Wat het hierdie mans gehelp om die voltydse bediening te betree? Was dit ’n emosionele, impulsiewe besluit? Allermins! Gedurende die voorafgaande maande het hierdie mans na Jesus geluister, hom wonderwerke sien verrig, sy ywer vir regverdigheid waargeneem en die verbasende reaksie op sy predikingswerk aanskou. Gevolglik het hulle geloof in Jehovah en hulle vertroue op hom sterker geword!

7. Hoe kan ons ons Bybelstudente help om vertroue op te bou in Jehovah se vermoë om vir sy volk te sorg?

7 Hoe kan ons Jesus navolg deur ons Bybelstudente te help om vertroue in Jehovah op te bou? (Spr. 3:5, 6). Die manier waarop ons onderrig, het ’n groot invloed hierop. Wanneer ons onderrig, kan ons die aandag vestig op God se belofte om ons oorvloedig te seën as ons Koninkryksbelange eerste stel. (Lees Maleagi 3:10; Matteus 6:33.) Hoewel ons verskillende tekste kan gebruik om nadruk te lê op hoe Jehovah vir sy volk sorg, moet die uitwerking van die voorbeeld wat ons stel, nie oor die hoof gesien word nie. As ons ondervindinge uit ons eie lewe vertel, kan dit ons studente grootliks help om vertroue in Jehovah op te bou. Ons kan ook aanmoedigende ondervindinge vertel waarvan ons in ons lektuur lees. a

8. (a) Waarom is dit belangrik dat ’n Bybelstudent “smaak en sien dat Jehovah goed is”? (b) Hoe kan ons ons student help om self Jehovah se goedheid te ervaar?

8 Om sterk geloof op te bou, vereis meer as om net te lees en te hoor van hoe ander Jehovah se seën ontvang het. ’n Bybelstudent moet ook self Jehovah se goedheid ervaar. Die psalmis het gesing: “Smaak en sien dat Jehovah goed is; gelukkig is die man wat sy toevlug tot hom neem” (Ps. 34:8). Hoe kan ons die student help om te sien dat Jehovah goed is? Gestel ’n student wat finansiële sorge het, probeer ook om ’n slegte gewoonte, soos rook, dobbelary of strawwe drinkery, te oorkom (Spr. 23:20, 21; 2 Kor. 7:1; 1 Tim. 6:10). Sal dit die student nie help om Jehovah se goedheid te ervaar as ons hom leer om tot God te bid vir hulp om ’n slegte gewoonte te oorkom nie? Dink ook aan wat kan gebeur as ons die student aanspoor om geestelike dinge eerste te stel deur tyd in te ruim om die Bybel elke week te bestudeer en vir Christelike vergaderinge voor te berei en dit by te woon. Namate hy persoonlik Jehovah se seën op sy pogings ervaar, sal sy geloof sterker word!

Vrees vir die openbare mening

9, 10. (a) Waarom het Nikodemus en Josef van Arimatea hulle belangstelling in Jesus geheim gehou? (b) Waarom aarsel party mans vandag om Christus te volg?

9 Portuurdruk laat party mans moontlik aarsel om Christus ten volle te volg. Nikodemus en Josef van Arimatea het hulle belangstelling in Jesus geheim gehou omdat hulle bang was vir wat ander Jode sou sê of doen as hulle daarvan uitvind (Joh. 3:1, 2; 19:38). Dit was nie ’n denkbeeldige vrees nie. Die godsdiensleiers se haat vir Jesus het uiteindelik so groot geword dat enigiemand wat geloof in hom bely het, uit die sinagoge geban is.—Joh. 9:22.

10 Op party plekke maak werksmaats, vriende of familielede dit vandag dalk moeilik vir ’n man wat groot belangstelling in God, die Bybel of godsdiens toon. Op ander plekke is dit selfs gevaarlik om net daarvan te praat om van godsdiens te verander. Portuurdruk kan veral ’n probleem wees wanneer ’n man aktief betrokke is by die leër, die politiek of plaaslike gemeenskapsake. ’n Man in Duitsland het byvoorbeeld erken: “Wat julle as Getuies oor die Bybel verkondig, is waar. Maar as ek vandag ’n Getuie word, sal almal môre daarvan weet. Wat sal hulle dink by die werk, in die buurt en by die klub waaraan ek en my gesin behoort? Dit sal vir my net te erg wees.”

11. Hoe het Jesus sy dissipels gehelp om mensevrees die hoof te bied?

11 Hoewel nie een van Jesus se apostels ’n lafaard was nie, het hulle almal met mensevrees geworstel (Mark. 14:50, 66-72). Hoe het Jesus hulle gehelp om vooruitgang te maak ondanks hewige druk van hulle portuurs? Jesus het stappe gedoen om sy dissipels voor te berei op die teenstand wat hulle later sou verduur. “Gelukkig is julle wanneer die mense julle haat”, het hy gesê, “en wanneer hulle julle verstoot en julle smaad en julle naam as goddeloos uitwerp ter wille van die Seun van die mens” (Luk. 6:22). Jesus het sy volgelinge gewaarsku dat hulle moes verwag dat hulle gesmaad sou word. Enige smaad was “ter wille van die Seun van die mens”. Jesus het hulle ook verseker dat God hulle sou ondersteun solank hulle op Hom staatmaak vir hulp en krag (Luk. 12:4-12). Verder het Jesus nuwelinge genooi om vryelik met sy dissipels te assosieer en met hulle vriende te maak.—Mark. 10:29, 30.

12. Hoe kan ons nuwelinge help om mensevrees te bowe te kom?

12 Ook ons moet Bybelstudente help om mensevrees te bowe te kom. Dit is dikwels makliker om ’n uitdaging die hoof te bied as ’n mens dit verwag (Joh. 15:19). Byvoorbeeld, help die student gerus om eenvoudige, redelike, Bybelse antwoorde voor te berei op die vrae en besware wat sy werksmaats en ander moontlik sal opper. Behalwe om sy persoonlike vriend te wees, kan ons hom aan ander gemeentelede voorstel, veral dié met wie hy iets in gemeen het. Bowenal moet ons hom leer om gereeld en uit die hart te bid. Dit kan hom help om nader aan God te kom en Jehovah sy Toevlug en Rots te maak.—Lees Psalm 94:21-23; Jakobus 4:8.

Gevoelens van onbekwaamheid

13. Hoe kan gevoelens van onbekwaamheid party laat aarsel om by geestelike sake betrokke te raak?

13 Party mans aarsel om by geestelike sake betrokke te raak omdat hulle nie goed lees of hulle vlot kan uitdruk nie of eenvoudig skaam is. Vir sommige mans is dit moeilik om hulle menings of gevoelens in die openbaar uit te spreek. Die gedagte dat hulle moet studeer, by Christelike vergaderinge moet antwoord of ander van hulle geloof moet vertel, is dalk vir hulle oorweldigend. “Toe ek jonk was”, erken ’n Christenbroer, “het ek vinnig na die deur toe geloop, gemaak of ek die deurklokkie lui en stilletjies weggeloop, in die hoop dat niemand my sal hoor of sien nie. . . . Die gedagte om van deur tot deur te gaan, het my letterlik siek laat voel.”

14. Waarom kon Jesus se dissipels nie ’n demoonbesete seun genees nie?

14 Dink aan die gebrek aan vertroue wat Jesus se dissipels moes ervaar het toe hulle nie ’n demoonbesete seun kon genees nie. Die seun se vader het na Jesus toe gekom en gesê: “[My seun] ly aan epilepsie en is siek, want hy val dikwels in die vuur en dikwels in die water; en ek het hom na u dissipels toe gebring, maar hulle kon hom nie genees nie.” Jesus het die demoon uitgedryf en so die seun genees. Die dissipels het later na Jesus toe gekom en gevra: “Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?” Jesus het geantwoord: “Weens julle kleingelowigheid. Want voorwaar, ek sê vir julle: As julle geloof het so groot soos ’n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan weg hiervandaan daarnatoe’, en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie” (Matt. 17:14-20). Geloof in Jehovah is nodig om bergagtige struikelblokke te oorkom. Wat gebeur as iemand dit uit die oog verloor en op sy eie vermoëns begin fokus? Die onvermoë om welslae te behaal, sal tot ’n gebrek aan vertroue lei.

15, 16. Hoe kan ons moontlik ’n Bybelstudent help om gevoelens van onbekwaamheid te bowe te kom?

15 ’n Goeie manier om iemand te help wat met gevoelens van onbekwaamheid worstel, is om hom aan te spoor om eerder op Jehovah te fokus as op homself. Petrus het geskryf: “Verneder julle . . . onder die magtige hand van God, sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef; terwyl julle al julle sorge op hom werp” (1 Pet. 5:6, 7). Dit beteken dat ons ons Bybelstudent moet help om geestelik te groei. ’n Geestelikgesinde persoon heg groot waarde aan geestelike dinge. Hy is lief vir God se Woord en openbaar “die vrugte van die gees” in sy lewe (Gal. 5:22, 23). Hy is ’n man van gebed (Fil. 4:6, 7). Daarbenewens vertrou hy op God vir die moed en krag om enige situasie die hoof te bied of om enige toewysing met welslae uit te voer.—Lees 2 Timoteus 1:7, 8.

16 Party studente het moontlik ook praktiese hulp nodig met lees, gesprekvoering of openbare spreekvermoë. Ander voel miskien onwaardig om God te dien as gevolg van die slegte dinge wat hulle gedoen het voordat hulle Jehovah leer ken het. Hoe dit ook al sy, ons liefdevolle, geduldige hulp is dalk net wat hulle nodig het. “Dié wat gesond is, het nie ’n geneesheer nodig nie”, het Jesus gesê, “maar dié wat siek is, het wel.”—Matt. 9:12.

‘Vang’ meer mans

17, 18. (a) Hoe kan ons meer mans in ons bediening bereik? (b) Wat sal ons vervolgens studeer?

17 Dit is ons wens dat nog baie mans gunstig sal reageer op die uiters bevredigende boodskap wat net in die Bybel gevind word (2 Tim. 3:16, 17). Hoe kan ons dan meer mans in ons bediening bereik? Deur saans, naweeksmiddae of gedurende vakansies wanneer meer mans tuis is, meer tyd aan die getuieniswerk te bestee. Ons kan vra om met die hoof van die huis te praat, wanneer moontlik. Laat ons, wanneer gepas, informeel vir manlike werksmaats getuig en probeer om belangstelling by die ongelowige mans van susters in die gemeente te wek.

18 Wanneer ons preek vir almal wat ons teëkom, kan ons die vertroue hê dat diegene wat ’n waarderende hart het, gunstig sal reageer. Laat ons almal wat opreg in die waarheid belangstel, geduldig help. Maar hoe kan ons gedoopte mans in die gemeente help om na verantwoordelikheid in God se organisasie te streef en daarvoor te kwalifiseer? Die volgende artikel sal hierdie vraag bespreek.

[Voetnoot]

a Sien jaarboeke van Jehovah se Getuies sowel as lewensverhale in Die Wagtoring en Ontwaak!

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe kan mans gehelp word om geestelike strewes eerste te stel?

• Hoe kan ons nuwelinge help om portuurdruk die hoof te bied?

• Wat kan party help om gevoelens van onbekwaamheid te bowe te kom?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 25]

Skep jy geleenthede om mans met die goeie nuus te bereik?

[Prent op bladsy 26]

Hoe kan jy jou Bybelstudent voorberei om beproewinge die hoof te bied?