Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehu verdedig rein aanbidding

Jehu verdedig rein aanbidding

Jehu verdedig rein aanbidding

JEHU was ’n verdediger van rein aanbidding. Hy was energiek, vasbeslote, onstuitbaar, ywerig en moedig in die vervulling van hierdie rol. Jehu het eienskappe geopenbaar wat ons gerus kan navolg.

Jehu het ’n opdrag ontvang toe die nasie Israel in ’n betreurenswaardige toestand verkeer het. Die land was onder die goddelose invloed van Isebel, die weduwee van Agab en die moeder van die heersende koning, Joram. Sy het die Baälkultus ten koste van Jehovah se aanbidding bevorder, God se profete doodgemaak en die volk met haar “hoererye” en “towerye” verderf (2 Kon. 9:22; 1 Kon. 18:4, 13). Jehovah het besluit dat die hele huis van Agab, insluitende Joram en Isebel, uitgewis moet word. Jehu moes die voortou in hierdie veldtog neem.

Die Skrif stel Jehu aan ons bekend waar hy saam met die krygshoofde sit toe die Israeliete by Ramot-Gilead teen die Siriërs geveg het. Jehu was ’n hooggeplaaste offisier, moontlik selfs die bevelvoerder van Israel se leër. Die profeet Elisa het een van die profeteseuns gestuur om Jehu as koning te salf en om hom die opdrag te gee om almal wat manlik is in die afvallige huis van Agab, dood te maak.—2 Kon. 8:28; 9:1-10.

Toe Jehu se mede-offisiere hom vra wat die doel van die besoek was, wou hy eers nie vir hulle sê nie. Maar toe hulle op ’n antwoord aandring, het hy vir hulle die waarheid vertel, en hy en sy metgeselle het teen Joram begin saamsweer (2 Kon. 9:11-14). Daar was waarskynlik onderliggende gegriefdheid en weerstand teen die beleid van die koninklike huis en teen Isebel se invloed. Hoe dit ook al sy, Jehu het ’n doelbewuste poging aangewend om die beste manier te vind om sy opdrag uit te voer.

Koning Joram is vroeër in ’n geveg gewond en het na die stad Jisreël gevlug, in die hoop dat hy sou herstel. Jehu het geweet dat sy plan net sou slaag indien niemand in Jisreël daarvan te hore kom nie. “Julle [moet] niemand uit die stad laat ontsnap om dit in Jisreël te gaan vertel nie”, het Jehu gesê (2 Kon. 9:14, 15). Hy het moontlik ten minste ’n mate van weerstand verwag van die troepe wat lojaal was aan Joram. Jehu wou enige moontlikheid van sulke teenstand uitskakel.

IN DOLLE VAART!

In ’n poging om hulle onkant te vang, het Jehu in sy strydwa van Ramot-Gilead na Jisreël gery, ’n afstand van 72 kilometer. Toe hy in dolle vaart na sy bestemming aangejaag gekom het, het ’n wag op ’n toring “die deinende massa van Jehu se manne” gesien (2 Kon. 9:17). Heel moontlik het Jehu ’n groot leërmag saam met hom geneem om seker te maak dat hy sy doel bereik.

Toe die wag sien dat die moedige Jehu in een van die strydwaens is, het hy uitgeroep: “Hy ry soos ’n waansinnige” (2 Kon. 9:20). As Jehu gewoonlik so gery het, het sy haas op hierdie spesifieke sending hom sekerlik nog vinniger laat ry.

Nadat Jehu geweier het om enigiets te sê vir twee boodskappers wat na hom toe gestuur is, het hy koning Joram en sy bondgenoot Ahasia, die koning van Juda, elkeen in sy eie strydwa, ontmoet. Joram se vraag: “Is dit vrede, Jehu?” is beantwoord met: “Hoe kan daar vrede wees solank die hoererye van jou moeder Isebel en haar baie towerye nog daar is?” Hierdie antwoord het Joram laat skrik, en hy het omgedraai om te vlug. Maar Jehu was te vinnig vir hom! Hy het sy boog gespan en ’n pyl deur Joram se hart geskiet, en die koning het dood neergeval in sy strydwa. Hoewel Ahasia daarin geslaag het om weg te kom, het Jehu hom later opgespoor en hom ook laat doodmaak.—2 Kon. 9:22-24, 27.

Die volgende lid van Agab se huis wat doodgemaak moes word, was die goddelose koningin Isebel. Jehu het tereg na haar verwys as “hierdie vervloekte”. Toe Jehu in Jisreël inry, het hy haar uit ’n paleisvenster sien afkyk. Sonder omhaal van woorde het Jehu die hofbeamptes beveel om Isebel by die venster uit te gooi. Toe het Jehu hierdie verderwer van die hele Israel deur sy perde laat vertrap. Hierna het Jehu nog tientalle ander lede van die huis van die goddelose Agab uitgewis.—2 Kon. 9:30-34; 10:1-14.

Hoewel die gedagte aan geweld onaangenaam is, moet ons besef dat Jehovah destyds sy knegte gebruik het om sy oordele te voltrek. Die Skrif sê: “Die ondergang van Ahasia was van God, deurdat hy na Joram toe gekom het; en toe hy kom, het hy saam met Joram uitgetrek na Jehu, die kleinseun van Nimsi, wat Jehovah gesalf het om die huis van Agab uit te roei” (2 Kron. 22:7). Toe Jehu Joram se liggaam uit sy strydwa gegooi het, het hy erken dat hierdie daad Jehovah se belofte vervul het om straf toe te dien vir Agab se moord op Nabot. Jehu is ook beveel om ‘die bloed van God se knegte te wreek’ wat deur Isebel vergiet is.—2 Kon. 9:7, 25, 26; 1 Kon. 21:17-19.

Vandag gebruik geen kneg van Jehovah geweld teen teenstanders van rein aanbidding nie. “Die wraak is myne”, sê God (Heb. 10:30). Maar om die gemeente van enige potensieel verderflike invloed te reinig, moet Christen- ouer manne moontlik met moed soos dié van Jehu optree (1 Kor. 5:9-13). En alle gemeentelede moet vasbeslote wees om die geselskap van uitgesette persone te vermy.—2 Joh. 9-11.

JEHU HET GEEN MEDEDINGING TEEN JEHOVAH GEDULD NIE

Jehu se beweegrede vir die uitvoering van sy opdrag blyk duidelik uit sy latere woorde aan die getroue Jonadab: “Gaan tog saam met my en kyk hoe ek geen mededinging teen Jehovah duld nie.” Jonadab het hierdie uitnodiging aanvaar, in Jehu se strydwa geklim en saam met hom na Samaria gery. Daar het Jehu “met lis opgetree, om die aanbidders van Baäl te vernietig”.—2 Kon. 10:15-17, 19.

Jehu het aangekondig dat hy “’n groot offerande” aan Baäl wil bring (2 Kon. 10:18, 19). “Dit is ’n slim woordspeling deur Jehu”, sê een geleerde. Hoewel die uitdrukking wat hier gebruik word, “oor die algemeen ‘offerande’ beteken, word dit ook vir die ‘slagting’ van afvalliges gebruik”. Omdat Jehu nie wou hê dat enige Baälaanbidder van hierdie geleentheid moes wegbly nie, het hy hulle almal in die huis van Baäl bymekaargebring en hulle kenmerkende klere laat aantrek. “Toe hy klaar die brandoffer gebring het”, het Jehu 80 gewapende manne beveel om die Baälaanbidders dood te maak. Toe het hy die huis van Baäl laat afbreek en die terrein vir gemakhuisies afgesonder, wat dit ongeskik gemaak het vir aanbidding.—2 Kon. 10:20-27.

Dit is waar dat Jehu baie bloed vergiet het. Tog beeld die Skrif hom uit as ’n moedige man wat Israel van die onderdrukkende oorheersing van Isebel en haar familie bevry het. Enige leier van Israel wat dit sou regkry, moes ’n man van moed, vasbeslotenheid en ywer wees. “Dit was ’n moeilike taak en is met onverbiddelike deeglikheid uitgevoer”, sê ’n Bybelwoordeboek. “Minder drastiese optrede sou waarskynlik nie Baälaanbidding in Israel kon uitwis nie.”

Jy kan ongetwyfeld sien dat omstandighede waarmee Christene vandag te kampe het, vereis dat hulle van die eienskappe aan die dag lê wat Jehu besit het. Hoe moet ons byvoorbeeld reageer as ons in die versoeking kom om by ’n bedrywigheid betrokke te raak wat Jehovah veroordeel? Ons moet dit summier, moedig en met beslistheid verwerp. Wanneer dit by ons godvrugtige toegewydheid kom, kan ons geen mededinging teen Jehovah duld nie.

SORG DAT JY IN JEHOVAH SE WET WANDEL

Die einde van hierdie verhaal bevat ’n waarskuwing. Jehu ‘het nie afgewyk van die goue kalwers in Bet-El en Dan nie’ (2 Kon. 10:29). Hoe is dit moontlik dat iemand wat blykbaar so ywerig vir rein aanbidding was, afgodediens kon duld?

Jehu het dalk geglo dat die koninkryk van Israel se onafhanklikheid van Juda ’n godsdienstige skeiding tussen die twee koninkryke verg. Soos vorige konings van Israel, het hy hulle dus afgeskeie probeer hou deur kalfaanbidding te bevorder. Maar dit het ’n gebrek aan geloof in Jehovah geopenbaar, deur wie hy as koning aangestel is.

Jehovah het Jehu geprys omdat ‘hy goed gehandel het deur te doen wat reg is in God se oë’. Jehu het egter “nie gesorg dat hy met sy hele hart in die wet van Jehovah, die God van Israel, wandel nie” (2 Kon. 10:30, 31). As ’n mens dink aan alles wat Jehu vroeër gedoen het, is dit verbasend en teleurstellend. Maar dit bevat wel ’n les vir ons. Ons kan nooit ons verhouding met Jehovah as vanselfsprekend aanneem nie. Ons moet elke dag lojaliteit teenoor God aankweek deur sy Woord te bestudeer, daaroor te peins en uit die hart tot ons hemelse Vader te bid. Laat ons dus sorg dat ons met ons hele hart in Jehovah se wet bly wandel.—1 Kor. 10:12.

[Venster op bladsy 4]

Jehu in die sekulêre geskiedenis

Kritici het dit al dikwels bevraagteken of persone wat in die Skrif gemeld word, werklik bestaan het. Is daar dan enige nie-Bybelse getuienis aangaande Jehu?

Ten minste drie dokumente uit eertydse Assirië meld hierdie koning van Israel by name. Een hiervan bevat blykbaar ’n beskrywing van Jehu, of moontlik een van sy gesante, wat voor die Assiriese koning Salmaneser III buig en vir hom skatting aanbied. Die bygaande inskripsie sê: “Die skatting van Jehu (Ja-óé-a), seun van Omri (Hoe-oem-ri); ek het van hom ontvang: silwer, goud, ’n goue saploe-bak, ’n goue vaas met ’n gepunte bodem, goue bekers, goue emmers, tin, ’n koningstaf (en) hout-poeroetoe [die betekenis van die laaste woord is onbekend].” Jehu was nie werklik die “seun van Omri” nie, maar hierdie uitdrukking is gebruik om na opeenvolgende konings van Israel te verwys, waarskynlik weens Omri se roem en die feit dat hy Israel se hoofstad, Samaria, gebou het.

Die Assiriese koning se bewering aangaande die skatting wat Jehu blykbaar betaal het, kan nie bevestig word nie. Hoe dit ook al sy, hy meld Jehu drie keer—op ’n grafsuil, op ’n beeld van Salmaneser en in die Assiriese koninklike annale. Hierdie verwysings laat min twyfel oor die geskiedkundige werklikheid van hierdie Bybelfiguur.