Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lei ander op om na diensvoorregte te streef

Lei ander op om na diensvoorregte te streef

Lei ander op om na diensvoorregte te streef

“Elkeen wat volmaak onderrig is, sal soos sy leermeester wees.”—LUK. 6:40.

1. Hoe het Jesus gedurende sy aardse bediening die grondslag vir ’n merkwaardige gemeente gelê?

 DIE apostel Johannes het sy Evangelieverslag afgesluit deur te skryf: “Daar is in werklikheid ook baie ander dinge wat Jesus gedoen het, en as hulle ooit in volle besonderhede opgeteken sou word, sou die wêreld self, veronderstel ek, die boekrolle wat geskryf is, nie kon bevat nie” (Joh. 21:25). Onder die baie dinge wat Jesus gedurende sy kort maar dinamiese bediening gedoen het, was om mans te vind, op te lei en te organiseer wat die leiding sou neem nadat hy die aarde verlaat het. Toe hy in 33 HJ na die hemel teruggekeer het, het Jesus die grondslag vir ’n merkwaardige gemeente agtergelaat wat gou tot duisende sou groei.—Hand. 2:41, 42; 4:4; 6:7.

2, 3. (a) Waarom is daar ’n dringende behoefte dat gedoopte mans na diensvoorregte streef? (b) Wat sal in hierdie artikel bespreek word?

2 Vandag is daar, met meer as sewemiljoen bedrywige Koninkryksverkondigers in meer as 100 000 gemeentes regoor die aarde, nog steeds ’n behoefte aan mans om die leiding in geestelike sake te neem. Daar is byvoorbeeld ’n groot behoefte aan Christen- ouer manne. Diegene wat na hierdie diensvoorreg streef, moet geprys word, want hulle ‘begeer ’n voortreflike werk’.—1 Tim. 3:1.

3 Maar mans kwalifiseer nie outomaties vir voorregte in die gemeente nie. Sekulêre opleiding of lewenservaring berei ’n man nie vir hierdie soort werk voor nie. Om behoorlik in hierdie hoedanigheid te dien, moet ’n man geestelik kwalifiseer. Geestelike eienskappe is belangriker as sy vermoëns en prestasies. Hoe kan mans in die gemeente gehelp word om te kwalifiseer? “Elkeen wat volmaak onderrig is, sal soos sy leermeester wees”, het Jesus gesê (Luk. 6:40). In hierdie artikel sal ons party van die maniere bespreek waarop die Meesteronderrigter, Jesus Christus, sy dissipels gehelp het om vir groter verantwoordelikheid te kwalifiseer, en ons sal kyk watter lesse ons kan leer uit wat hy gedoen het.

“Ek het julle vriende genoem”

4. Hoe het Jesus getoon dat hy ’n ware vriend vir sy dissipels is?

4 Jesus het sy dissipels as vriende behandel, nie as minderes nie. Hy het tyd saam met hulle bestee, hulle in sy vertroue geneem en ‘alles wat hy by sy Vader gehoor het, aan hulle bekend gemaak’. (Lees Johannes 15:15.) Stel jou voor hoe verheug hulle moes gewees het toe Jesus hulle vraag beantwoord het: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matt. 24:3, 4). Hy het ook sy gedagtes en gevoelens met sy volgelinge gedeel. Die nag toe hy verraai is, het Jesus byvoorbeeld vir Petrus, Jakobus en Johannes na die tuin van Getsemane geneem, waar hy ernstig uit sy beswaarde hart gebid het. Die drie apostels het moontlik nie gehoor wat Jesus in gebed sê nie, maar hulle moes die erns van die geleentheid besef het (Mark. 14:33-38). Dink ook aan die impak wat die gedaanteverandering vroeër op die drie moes gehad het (Mark. 9:2-8; 2 Pet. 1:16-18). Die intieme vriendskap wat Jesus met sy dissipels gesmee het, was later vir hulle ’n anker toe hulle gewigtige toewysings moes uitvoer.

5. Wat is ’n paar maniere waarop Christen- ouer manne van hulleself aan ander kan gee?

5 Soos Jesus, betoon Christen- ouer manne vriendskap aan ander en help hulle hulle. Hulle kweek ’n hartlike, hegte verhouding met hulle medegelowiges aan deur tyd in te ruim om persoonlike belangstelling in hulle te toon. Hoewel ouer manne besef dat vertroulikheid belangrik is, is hulle nie geheimsinnig nie. Ouer manne vertrou hulle broers en maak skriftuurlike waarhede wat hulle geleer het, aan hulle broers bekend. Hulle behandel ’n bedieningskneg wat dalk betreklik jonk is, nooit as ’n mindere nie. Hulle beskou hom eerder as ’n geestelike man met potensiaal wat ’n waardevolle diens ten behoewe van die gemeente verrig.

“Ek het vir julle die voorbeeld gestel”

6, 7. Beskryf die voorbeeld wat Jesus vir sy dissipels gestel het en die uitwerking wat dit op hulle gehad het.

6 Hoewel Jesus se dissipels waardering vir geestelike dinge gehad het, is hulle denke soms deur hulle agtergrond en kultuur beïnvloed (Matt. 19:9, 10; Luk. 9:46-48; Joh. 4:27). Jesus het sy dissipels egter nie berispe of gedreig nie. Hy het hulle ook nie met onredelike eise belas of vir hulle gesê om een ding te doen terwyl hy iets anders gedoen het nie. Jesus het hulle eerder deur middel van sy voorbeeld geleer.—Lees Johannes 13:15.

7 Watter soort voorbeeld het Jesus vir sy dissipels gelaat? (1 Pet. 2:21). Hy het sy lewe eenvoudig gehou sodat hy ander vryelik kon dien (Luk. 9:58). Jesus was beskeie en het altyd sy onderrigting op die Skrif gegrond (Joh. 5:19; 17:14, 17). Hy was toeganklik en goedhartig. Liefde was die dryfveer vir alles wat hy gedoen het (Matt. 19:13-15; Joh. 15:12). Jesus se voorbeeld het ’n positiewe uitwerking op sy apostels gehad. Byvoorbeeld, Jakobus het nie teruggedeins toe hy die dood in die gesig gestaar het nie, maar het God lojaal gedien totdat hy tereggestel is (Hand. 12:1, 2). Johannes het Jesus se voetstappe meer as 60 jaar lank getrou gevolg.—Op. 1:1, 2, 9.

8. Watter voorbeeld stel ouer manne vir jonger mans en ander?

8 Ouer manne wat selfopofferend, nederig en liefdevol is, stel die soort voorbeeld wat jonger mans nodig het (1 Pet. 5:2, 3). Wat meer is, ouer manne wat voorbeeldig is wat geloof, onderrigting, die Christelike lewenswyse en die bediening betref, put bevrediging uit die wete dat ander hulle geloof kan navolg.—Heb. 13:7.

‘Jesus het hulle bevele gegee en hulle uitgestuur’

9. Hoe weet ons dat Jesus sy dissipels opgelei het om die evangelisasiewerk uit te voer?

9 Nadat Jesus sy bediening ongeveer twee jaar lank ywerig uitgevoer het, het hy die predikingswerk uitgebrei deur sy 12 apostels uit te stuur om preek. Maar hy het hulle eers instruksies gegee (Matt. 10:5-14). Net voordat hy ’n skare van duisende wonderdadig gevoed het, het Jesus vir sy dissipels gesê hoe hy wil hê hulle die mense moet organiseer en die kos moet uitdeel (Luk. 9:12-17). Jesus het sy dissipels klaarblyklik opgelei deur vir hulle duidelike en spesifieke riglyne te gee. Hierdie patroon van opleiding, tesame met die kragtige invloed van die heilige gees, het die apostels later toegerus om die uitgebreide predikingswerk wat in 33 HJ en daarna plaasgevind het, te organiseer.

10, 11. Hoe kan progressiewe opleiding aan nuwelinge voorsien word?

10 Vandag begin geestelike onderrigting wanneer ’n man ’n Bybelstudie aanvaar. Ons moet hom dalk help om goed te leer lees. Ons hulp duur voort terwyl ons die Bybel met hom studeer. Wanneer hy Christelike vergaderinge begin bywoon, sal hy verdere geestelike opleiding ontvang wanneer hy aan die Teokratiese Bedieningskool deelneem, ’n ongedoopte verkondiger word, ensovoorts. Ná sy doop kan sy opleiding dinge insluit soos om met die instandhouding van die Koninkryksaal te help. Later kan ’n broer gehelp word om te sien wat hy moet doen om as ’n bedieningskneg te kwalifiseer.

11 Wanneer ’n ouer man ’n toewysing aan ’n gedoopte broer gee, verduidelik hy met graagte die toepaslike organisatoriese prosedure en voorsien hy die nodige onderrigting. Die broer wat opgelei word, moet verstaan wat van hom verwag word. As hy sukkel om die toewysing uit te voer, sal ’n liefdevolle ouer man nie gou tot die slotsom kom dat hy onbekwaam is nie. Die ouer man wys eerder liefdevol op die probleemgebiede en hersien die doelwitte en prosedure. Dit is vir ouer manne ’n bron van vreugde wanneer hulle sien dat mans positief reageer op hierdie pogings en sodoende die geluk smaak wat dit verskaf om ander te dien.—Hand. 20:35.

“Wie na raad luister, is wys”

12. Wat het Jesus se raad doeltreffend gemaak?

12 Jesus het sy dissipels opgelei deur hulle persoonlike raad te gee wat op hulle behoeftes toegespits was. Byvoorbeeld, hy het Jakobus en Johannes bestraf omdat hulle wou vra dat vuur uit die hemel moes neerdaal op sekere Samaritane wat hom nie wou ontvang nie (Luk. 9:52-55). Toe die moeder van Jakobus en Johannes na Jesus toe gekom het om namens hulle te vra dat hulle begunstigde posisies in die Koninkryk gegee moet word, het Jesus die broers regstreeks aangespreek en gesê: “Om aan my regter- en aan my linkerhand te sit, is nie myne om te gee nie, maar dit behoort aan dié vir wie dit deur my Vader berei is” (Matt. 20:20-23). Jesus het te alle tye raad gegee wat duidelik, prakties en stewig op goddelike beginsels gegrond was. Hy het sy dissipels geleer om oor hierdie beginsels te redeneer (Matt. 17:24-27). Jesus het ook die beperkings van sy volgelinge erken en nie volmaaktheid van hulle verwag nie. Sy raad het uit opregte liefde voortgespruit.—Joh. 13:1.

13, 14. (a) Wie het raad nodig? (b) Gee voorbeelde van persoonlike raad wat ’n ouer man aan iemand kan gee wat nie geestelike vooruitgang maak nie.

13 Elke man wat na verantwoordelikheid in die Christengemeente streef, het die een of ander tyd skriftuurlike raad nodig. “Wie na raad luister, is wys”, sê Spreuke 12:15. “My grootste uitdaging was om my eie onvolmaakthede te verwerk”, sê ’n jong broer. “Die raad van ’n ouer man het my gehelp om dit in die regte perspektief te sien.”

14 As ouer manne sien dat twyfelagtige gedrag van die een of ander aard ’n man se geestelike vooruitgang belemmer, neem hulle die inisiatief om hom in ’n gees van sagmoedigheid reg te help (Gal. 6:1). Soms is raad nodig weens die een of ander karaktertrek. Byvoorbeeld, as dit lyk of ’n broer ietwat laks is, sal ’n ouer man dit dalk nuttig vind om daarop te wys dat Jesus ’n ywerige Koninkryksverkondiger was wat sy volgelinge die opdrag gegee het om dissipels te maak (Matt. 28:19, 20; Luk. 8:1). As dit lyk of ’n broer ambisieus is, kan ’n ouer man vir hom wys hoe Jesus Sy dissipels gehelp het om te sien hoe gevaarlik ’n strewe na aansien kan wees (Luk. 22:24-27). Sê nou ’n broer is geneig om onvergewensgesind te wees? Die illustrasie van die slaaf wat geweier het om ’n geringe skuld te vergewe al is hy ’n baie groter skuld vergewe, sal die punt kragtig tuisbring (Matt. 18:21-35). Wanneer raad nodig is, is dit goed as ouer manne dit so gou moontlik gee.—Lees Spreuke 27:9.

“Oefen jou”

15. Hoe kan ’n man se gesin hom help om ander te dien?

15 Die ouer manne neem die leiding daarin om mans op te lei om na diensvoorregte te streef, maar ander kan hulle pogings ondersteun. Byvoorbeeld, ’n man se gesin kan en moet hom help om na diensvoorregte te streef. En as hy reeds ’n ouer man is, sal die ondersteuning van ’n liefdevolle vrou en onselfsugtige kinders hom help. Hulle gewilligheid om hom met die gemeente te deel, is noodsaaklik as hy sy verantwoordelikheid behoorlik wil nakom. Hulle selfopofferende gees verskaf hom vreugde en word grootliks deur ander waardeer.—Spr. 15:20; 31:10, 23.

16. (a) By wie berus die vernaamste verantwoordelikheid om na diensvoorregte te streef? (b) Hoe kan ’n man na voorregte in die gemeente streef?

16 Hoewel ander hom kan help en ondersteun, berus die vernaamste verantwoordelikheid om na diensvoorregte te streef, by die man self. (Lees Galasiërs 6:5.) ’n Broer hoef natuurlik nie ’n bedieningskneg of ’n ouer man te wees om ander te help en ’n volle aandeel aan die bediening te hê nie. Maar om na voorregte in die gemeente te streef, beteken wel dat aan die vereistes voldoen moet word wat in die Skrif uiteengesit word (1 Tim. 3:1-13; Tit. 1:5-9; 1 Pet. 5:1-3). As ’n man dus as ’n bedieningskneg of ’n ouer man wil dien, maar nog nie as sodanig aangestel is nie, moet hy aandag skenk aan die gebiede waarop hy geestelike vooruitgang moet maak. Dit vereis gereelde Bybellees, geesdriftige persoonlike studie, ernstige bepeinsing, hartgrondige gebed en ’n ywerige deelname aan die Christelike bediening. Op hierdie maniere kan hy persoonlik Paulus se raad aan Timoteus toepas: “Oefen jou . . . met godvrugtige toegewydheid as jou doel.”—1 Tim. 4:7.

17, 18. Wat kan ’n gedoopte broer doen as angs, gevoelens van onbekwaamheid of ’n gebrek aan motivering hom daarvan weerhou om na diensvoorregte te streef?

17 Maar sê nou ’n man streef nie diensvoorregte na nie weens angs of gevoelens van onbekwaamheid? Dit sal verstandig van hom wees om te dink aan hoeveel Jehovah God en Jesus Christus vir ons doen. Ja, Jehovah ‘dra elke dag die vrag vir ons’ (Ps. 68:19). Ons hemelse Vader kan ’n broer dus help om verantwoordelikheid in die gemeente te aanvaar. ’n Broer wat nie as ’n bedieningskneg of ’n ouer man dien nie, sal dit ook nuttig vind om na te dink oor die feit dat daar ’n groot behoefte is aan volwasse mans om diensvoorregte in God se organisasie te aanvaar. As ’n broer oor hierdie gedagtes peins, kan dit hom beweeg om ’n poging aan te wend om negatiewe gevoelens te bowe te kom. Hy kan vir heilige gees bid, terwyl hy in gedagte hou dat die vrug daarvan vrede en selfbeheersing insluit—eienskappe wat nodig is om angs of gevoelens van onbekwaamheid uit die weg te ruim (Luk. 11:13; Gal. 5:22, 23). En ons kan seker wees dat Jehovah almal seën wat met die regte beweegrede na diensvoorregte streef.

18 Verhinder ’n gebrek aan motivering dalk ’n gedoopte broer om na diensvoorregte te streef? Wat kan ’n broer help wat nie die begeerte het om te dien nie? Die apostel Paulus het geskryf: ‘God werk in julle, ter wille van sy welbehae, sodat julle kan wil sowel as werk’ (Fil. 2:13). Die begeerte om te dien, kom van God, en Jehovah se gees kan ’n persoon versterk om heilige diens te verrig (Fil. 4:13). Daarbenewens kan ’n Christen bid dat God hom laat doen wat reg is.—Ps. 25:4, 5.

19. Watter versekering kry ons uit die feit dat ‘sewe herders, ja, agt hertoë’, verwek sal word?

19 Jehovah seën ouer manne se pogings om ander op te lei. Diegene wat gunstig reageer en na voorregte in die gemeente streef, geniet ook sy seën. Die Skrif verseker ons dat ‘sewe herders, ja, agt hertoë’—die vereiste aantal bekwame manne—onder God se volk verwek sal word om die leiding in Jehovah se organisasie te neem (Miga 5:5). Wat ’n seën is dit tog dat so baie Christenmans tot lof van Jehovah opgelei word en nederig na diensvoorregte streef!

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe het Jesus sy dissipels gehelp om vir groter verantwoordelikheid te kwalifiseer?

• Hoe kan ouer manne Jesus navolg terwyl hulle mans in die gemeente help om die leiding te neem?

• Watter rol speel ’n man se gesin daarin om hom te help om na diensvoorregte te streef?

• Wat kan ’n man self doen om na voorregte te streef?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 31]

Watter opleiding kan jy jou Bybelstudent gee terwyl hy daarna streef om vooruitgang te maak?

[Prent op bladsy 32]

Hoe kan mans toon dat hulle na diensvoorregte streef?