Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Put jy vreugde uit “die voorreg om goedgunstig te gee”?

Put jy vreugde uit “die voorreg om goedgunstig te gee”?

Put jy vreugde uit “die voorreg om goedgunstig te gee”?

VROEË Christene in Filippi was bekend vir hulle ruimhartige ondersteuning van ware aanbidding. In sy geïnspireerde brief aan hulle het die apostel Paulus geskryf: “Ek dank my God altyd elke keer as ek aan julle dink in al my smekinge vir julle almal, terwyl ek my smeking met vreugde doen, weens julle bydrae ten behoewe van die goeie nuus van die eerste dag af tot op hierdie oomblik” (Fil. 1:3-5). Paulus het goed onthou hoe Lidia, toe sy en haar huisgesin gedoop is, op gasvrye wyse daarop aangedring het dat hy en sy metgeselle in die predikingswerk in haar huis bly.—Hand. 16:14, 15.

Nie lank daarna nie het die pas gestigte gemeente in Filippi twee keer lewensmiddele aan Paulus gestuur terwyl hy etlike weke lank by medegelowiges in Tessalonika, byna 160 kilometer daarvandaan, gebly het (Fil. 4:15, 16). ’n Paar jaar later, terwyl die Filippense en ander broers in Masedonië beproewinge en “diep armoede” ondervind het, het hulle gehoor dat die vervolgde Christene in Jerusalem behoeftig is en wou hulle hulle help. Paulus het verklaar dat dit in werklikheid “bo hulle ware vermoë” was. Maar hy het geskryf: “Hulle [het ons] met groot aandrang bly smeek . . . om die voorreg om goedgunstig te gee.”—2 Kor. 8:1-4; Rom. 15:26.

Sowat tien jaar nadat die Filippense die Christelike godsdiens aangeneem het, het hulle nog steeds dieselfde vrygewige gees geopenbaar. Toe hulle hoor dat Paulus ’n gevangene in Rome is, het hulle Epafroditus 1 287 kilometer ver oor land en see gestuur met lewensmiddele vir die apostel. Dit is duidelik dat die Filippense in Paulus se behoeftes wou voorsien sodat hy kon voortgaan om die broers te versterk en om te preek, selfs terwyl hy ’n gevangene was.—Fil. 1:12-14; 2:25-30; 4:18.

Vandag beskou ware Christene dit as ’n voorreg om die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk te ondersteun (Matt. 28:19, 20). Hulle bevorder Koninkryksbelange deur van hulle tyd, energie en geld te gee. Die bygaande venster sit ’n paar maniere uiteen waarop jy hierdie godgegewe werk kan ondersteun.

[Venster op bladsye 22, 23]

MANIERE WAAROP PARTY BESLUIT OM TE GEE

BYDRAES VIR DIE WÊRELDWYE WERK

Baie sit ’n bedrag opsy wat hulle in die bydraebussies gooi wat “Wêreldwye werk” gemerk is.

Gemeentes stuur hierdie bydraes elke maand na die kantoor van Jehovah se Getuies wat oor hulle land toesig hou. Vrywillige geldelike bydraes kan ook direk gestuur word aan Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa, Aandag: Rekeningafdeling, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika, of na die takkantoor van Jehovah se Getuies wat oor jou land toesig hou. (Vrywillige bydraes wat in die dele hieronder genoem word, kan ook gestuur word na die takkantoor van Jehovah se Getuies wat oor jou land toesig hou.) Tjeks wat na die bogenoemde adres gestuur word, moet uitgemaak word aan “Watch Tower Society”. Juwele of ander kosbare artikels kan ook geskenk word. ’n Kort brief wat meld dat dit ’n regstreekse skenking is, moet hierdie bydraes vergesel.

BEPLANDE SKENKINGS

Benewens regstreekse geldskenkings is daar ander maniere waarop ’n mens kan gee om Koninkryksdiens in alle wêrelddele te bevorder. Dit sluit in:

Versekering: Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa kan as die begunstigde van ’n lewensversekeringspolis of ’n aftreeannuïteit/pensioenskema benoem word.

Bankrekeninge: Bankrekeninge, depositosertifikate of persoonlike aftreerekeninge kan vir Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa in trust gehou of by afsterwe aan hulle betaalbaar gemaak word, in ooreenstemming met plaaslike bankvereistes.

Aandele en obligasies: Aandele en obligasies kan aan Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa geskenk word as ’n regstreekse skenking, of Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa kan benoem word as ’n begunstigde in ’n sterfte-uitkering.

Vaste eiendom: Vaste eiendom kan regstreeks geskenk word of kan, in die geval van residensiële eiendom, geskenk word op voorwaarde dat die skenker lewensreg daarop het. Tree in verbinding met die takkantoor in jou land voordat jy enige vaste eiendom oordra.

Testamente en trusts: Eiendom of geld kan deur middel van ’n wettige testament aan Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa bemaak word, of Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa kan as die begunstigde van ’n trustooreenkoms benoem word. ’n Trust tot voordeel van ’n godsdiensorganisasie kan sekere belastingvoordele inhou.

As jy meer inligting wil hê, kan jy skriftelik of per telefoon in verbinding tree met die Rekeningafdeling by die adres wat hier aangegee word of met die takkantoor wat oor jou land toesig hou.

Rekeningafdeling

Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa

Privaatsak X2067

Krugersdorp

1740

Suid-Afrika

Telefoon: 011 761 1323