Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Is dit moontlik om vas te stel presies hoe laat Jesus Christus aan die paal genael is?

Hierdie vraag ontstaan weens ’n skynbare teenstrydigheid tussen die geïnspireerde verslae oor Jesus se dood wat deur die Evangelieskrywer Markus en die apostel Johannes opgeteken is. Markus sê: “Dit was toe die derde uur, en hulle [soldate] het hom aan die paal gehang” (Mark. 15:25). Volgens Johannes was dit “omtrent die sesde uur” toe Pilatus Jesus aan die Jode oorgelewer het om aan die paal gehang te word (Joh. 19:14-16). Bybelverklaarders het met verskeie redenasies vorendag gekom in ’n poging om hierdie skynbare teenstrydigheid op te los. Daar is egter nie voldoende inligting in die Bybel om die verskil tussen die twee verslae te verklaar nie. Dit kan nietemin nuttig wees om te kyk na hoe mense destyds tyd beskou het.

In die eerste eeu van die huidige jaartelling het die Jode die daglig in 12 ure verdeel, wat vanaf sonsopkoms getel is (Joh. 11:9). “Die derde uur” het dus van agtuur tot negeuur in die oggend gestrek, en “die sesde uur” het om en by die middaguur geëindig. Die son het natuurlik op verskillende tye gedurende die jaar opgekom en ondergegaan. Gevolglik het die lengte van die dagligperiode gewissel na gelang van die seisoen. Daarbenewens is die uur van die dag bepaal deur na die posisie van die son te kyk. Verwysings na tyd was dus net benaderde tye. Die Christelike Griekse Geskrifte verwys gewoonlik na gebeure wat op die derde, sesde of negende uur plaasgevind het—wat dikwels omstreeks daardie tyd beteken (Matt. 20:3, 5; Hand. 10:3, 9, 30). Daar word net na ’n meer spesifieke tyd verwys, soos “die sewende uur”, as die tyd noodsaaklik is vir die ontwikkeling van die verhaal wat vertel word.—Joh. 4:52.

Die Evangelieverslae stem ooreen met betrekking tot die tye van ander gebeure wat gedurende Jesus se laaste dag op aarde plaasgevind het. Al vier dui aan dat die priesters en ouer manne ná dagbreek bymekaargekom het en Jesus toe na die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus laat neem het (Matt. 27:1; Mark. 15:1; Luk. 22:66; Joh. 18:28). Matteus, Markus en Lukas sê almal dat duisternis vanaf die sesde uur, toe Jesus alreeds aan die paal was, oor die hele land gekom het, “tot die negende uur toe”.—Matt. 27:45, 46; Mark. 15:33, 34; Luk. 23:44.

’n Belangrike faktor wat moontlik ’n invloed het op die bepaling van die tyd waarop Jesus aan die paalstraf onderwerp is, is: Geseling of lyfstraf is beskou as deel van die paalstrafproses. Soms was die geseling so erg dat die slagoffer gesterf het terwyl dit toegedien is. In Jesus se geval moes dit erg genoeg gewees het sodat ’n ander man die folterpaal moes dra nadat Jesus dit aanvanklik self gedra het (Luk. 23:26; Joh. 19:17). Indien die geseling as die begin van die paalstrafproses beskou is, sou tyd moes verloop het voordat Jesus aan die folterpaal genael is. Verskillende persone sal dan moontlik verskillende tye vir die paalstraf aangee, afhangende van op watter stadium gedurende die algehele proses hulle persoonlik op die tyd gelet het.

Die apostel Johannes het sy verslag dekades ná die ander Evangelieskrywers opgeteken. Hy het dus toegang gehad tot hulle verslae. Dit is waar dat Johannes ’n tyd gemeld het wat blykbaar verskil van die tyd wat Markus aangegee het. Dit lewer egter duidelike bewys dat Johannes nie net Markus se verslag oorgeskryf het nie. Johannes sowel as Markus is deur God geïnspireer. Hoewel daar nie voldoende skriftuurlike inligting is om die verskil te verklaar nie, kan ons die Evangelieverslae vertrou.