Wandel in ooreenstemming met die gees vir lewe en vrede
Wandel in ooreenstemming met die gees vir lewe en vrede
“Ons [wandel] nie in ooreenstemming met die vlees . . . nie, maar in ooreenstemming met die gees.”—ROM. 8:4.
1, 2. (a) Watter ernstige gevolge het dit al gehad wanneer bestuurders se aandag afgelei is? (b) Watter gevaar hou dit in as ’n mens geestelik afgelei word?
“DIE probleem van mense wat bestuur sonder om hulle aandag daarby te bepaal, is ’n epidemie, en dit wil voorkom of dit elke jaar erger word.” Dit was die mening van die Amerikaanse Minister van Vervoer. Selfone is van die toestelle wat die motoris se aandag kan aftrek van juis dit wat hy of sy veronderstel is om te doen—om te bestuur. Meer as ’n derde van die mense met wie ’n onderhoud gevoer is, het gesê dat ’n voertuig waarvan die bestuurder ’n selfoon gebruik het, al in hulle vasgery of byna in hulle vasgery het. Multitaakverrigting terwyl ’n mens bestuur, lyk dalk voordelig, maar die gevolg kan rampspoedig wees.
2 Dieselfde kan geld vir ons geestelike welsyn. Net soos ’n bestuurder wie se aandag afgelei word, dikwels nie op gevaartekens let nie, kan iemand wat geestelik afgelei word, maklik in ’n gevaarlike situasie beland. As ons toelaat dat ons wegdryf van ons Christelike lewenswyse en teokratiese bedrywighede, kan dit tot gevolg hê dat ons geloof skipbreuk ly (1 Tim. 1:18, 19). Die apostel Paulus het teen hierdie gevaar gewaarsku toe hy sy mede-Christene in Rome gemaan het: “Om die vlees te bedink, beteken die dood, maar om die gees te bedink, beteken lewe en vrede” (Rom. 8:6). Wat het Paulus hiermee bedoel? Hoe kan ons dit vermy “om die vlees te bedink” en daarna streef “om die gees te bedink”?
‘Daar is vir hulle geen veroordeling nie’
3, 4. (a) Oor watter persoonlike stryd het Paulus geskryf? (b) Waarom moet ons in Paulus se situasie belangstel?
3 In sy brief aan die Romeine het Paulus geskryf oor ’n worsteling waarmee hy te kampe gehad het—’n stryd tussen sy vlees en sy verstand. (Lees Romeine 7:21-23.) Paulus het hom nie aan selfregverdiging of selfbejammering oorgegee, asof hy so swaar belas was met sonde dat hy niks daaraan kon doen nie. Hy was immers ’n ryp, geesgesalfde Christen, wat gekies is om “’n apostel vir die nasies” te wees (Rom. 1:1; 11:13). Waarom het Paulus dan oor sy persoonlike stryd geskryf?
4 Paulus het eerlik erken dat hy op sy eie nie God se wil kon doen in die mate wat hy graag wou nie. Waarom nie? “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God”, het hy gesê (Rom. 3:23). As ’n nakomeling van Adam was Paulus onderworpe aan die uitwerking van die sonde op die onvolmaakte vlees. Ons kan ons met hom vereenselwig omdat ons almal onvolmaak is en elke dag met ’n soortgelyke stryd te kampe het. Wat meer is, daar is baie afleidings wat ons aandag kan aftrek en ons kan aflei van ‘die smal pad wat na die lewe lei’ (Matt. 7:14). Die situasie was egter nie vir Paulus hopeloos nie, en dit is ook nie vir ons nie.
5. Waar het Paulus hulp en verligting gevind?
5 Paulus het geskryf: “Wie sal my red . . . ? Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!” (Rom. 7:24, 25). Toe het hy dié “wat in eenheid met Christus Jesus is”—gesalfde Christene—aangespreek. (Lees Romeine 8:1, 2.) Deur middel van sy heilige gees neem Jehovah hulle as kinders aan en roep hy hulle om “mede-erfgename met Christus” te wees (Rom. 8:14-17). God se gees, tesame met hulle geloof in Christus se losprysoffer, stel hulle in staat om te seëvier in die stryd wat Paulus beskryf het, en dus ‘is daar vir hulle geen veroordeling nie’. Hulle word vrygemaak “van die wet van die sonde en van die dood”.
6. Waarom moet alle knegte van God op Paulus se woorde let?
6 Hoewel Paulus se opmerkings tot gesalfde Christene gerig is, kan alle knegte van Jehovah, ongeag watter hoop hulle het, baat vind by wat hy oor God se gees en Christus se losprysoffer gesê het. Al is Paulus geïnspireer om hierdie raad aan gesalfde Christene te gee, is dit noodsaaklik dat alle knegte van God verstaan wat hy geskryf het en daarby probeer baat vind.
Hoe God “die sonde in die vlees veroordeel” het
7, 8. (a) In watter sin was die Wet ‘swak deur die vlees’? (b) Wat het God deur middel van sy gees en die losprys gedoen?
7 In die 7de hoofstuk van Romeine het Paulus die kragtige uitwerking van die sonde op die onvolmaakte vlees erken. In die 8ste hoofstuk het hy van die krag van die heilige gees gepraat. Die apostel het verduidelik hoe God se gees Christene kan help in hulle stryd teen die krag van die sonde sodat hulle in ooreenstemming met Jehovah se wil kan lewe en sy goedkeuring kan verkry. Paulus het daarop gewys dat God deur middel van Sy gees en die losprysoffer van sy Seun iets gedoen het wat die Mosaïese Wet nie kon nie.
8 Die Wet, met sy baie gebooie, het sondaars veroordeel. Wat meer is, Israel se hoëpriesters wat onder die Wet gedien het, was onvolmaak en kon nie ’n geskikte offerande vir sonde bring nie. Gevolglik was die Wet ‘swak deur die vlees’. Maar “deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees . . . te stuur” en hom as ’n losprys te gee, het God “die sonde in die vlees veroordeel” en so die “onvermoë aan die kant van die Wet” te bowe gekom. Gevolglik word gesalfde Christene as regverdig gereken op grond van hulle geloof in Jesus se losprysoffer. Hulle word aangespoor om “nie in ooreenstemming met die vlees [te] wandel nie, maar in ooreenstemming met die gees”. (Lees Romeine 8:3, 4.) Ja, hulle moet dit getrou tot die einde van hulle aardse loopbaan doen om “die kroon van die lewe” te ontvang.—Op. 2:10.
9. Wat beteken die woord “wet” soos dit in Romeine 8:2 gebruik word?
9 Benewens “die Wet” het Paulus ook “die wet van daardie gees” en “die wet van die sonde en van die dood” genoem (Rom. 8:2). Wat is hierdie wette? Die woord “wet” hier verwys nie na sekere reëls, soos dié in die Mosaïese Wet nie. Een naslaanwerk doen aan die hand: “Die Griekse term vir wet wat hier gebruik word, beteken ’n innerlike beginsel van optrede—hetsy goed of sleg—wat so reëlmatig soos ’n wet werk. Die term dui ook ’n standaard aan vir ’n persoon se lewe.”
10. Hoe is ons onderworpe aan die wet van die sonde en van die dood?
10 Die apostel Paulus het geskryf dat ‘die sonde deur een mens in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en dat die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het’ (Rom. 5:12). As nakomelinge van Adam is ons almal onderworpe aan die wet van die sonde en van die dood. Ons sondige vlees spoor ons voortdurend aan om dinge te doen wat God mishaag, wat slegs tot die dood sal lei. In sy brief aan die Galasiërs het Paulus hierdie dade en eienskappe “die werke van die vlees” genoem. Toe het hy bygevoeg: “Dié wat sulke dinge beoefen, [sal] God se koninkryk nie . . . beërf nie” (Gal. 5:19-21). Dít is die soort mense wat in ooreenstemming met die vlees wandel (Rom. 8:4). Hulle “innerlike beginsel van optrede” en hulle ‘standaard vir die lewe’ is geheel en al vleeslik. Maar is diegene wat hoerery pleeg, by afgodediens betrokke raak, spiritisme beoefen of hulle aan ander growwe sondes skuldig maak, die enigstes wat in ooreenstemming met die vlees wandel? Nee, want die werke van die vlees sluit ook in wat party moontlik as blote persoonlikheidsgebreke beskou, soos jaloesie, vlae van toorn, rusies en afguns. Wie kan sê dat hy hom heeltemal daarvan vrygemaak het om in ooreenstemming met die vlees te wandel?
11, 12. Watter voorsiening het Jehovah gemaak om ons te help om die wet van die sonde en van die dood te bowe te kom, en wat moet ons doen om God se guns te geniet?
11 Hoe bly kan ons tog wees dat Jehovah dit vir ons moontlik gemaak het om die wet van die sonde en van die dood te bowe te kom! Jesus het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.” Deur God se liefde te aanvaar en deur geloof in die losprys van Jesus Christus te beoefen, kan ons vrygemaak word van die veroordeling wat uit ons oorgeërfde sonde voortspruit (Joh. 3:16-18). Daarom wil ons moontlik soos Paulus uitroep: “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!”
12 Ons situasie is soos om van ’n ernstige siekte genees te word. As ons hoop om ten volle te herstel, moet ons doen wat die dokter vir ons sê. Hoewel dit ons van die wet van die sonde en van die dood kan vrymaak as ons geloof in die losprys beoefen, is ons nog steeds onvolmaak en sondig. Daar is meer by betrokke om goeie geestelike gesondheid te verkry en God se guns en seën te geniet. Aangaande die vervulling van “die regverdige vereiste van die Wet” meld Paulus ook dat daar in ooreenstemming met die gees gewandel moet word.
Wandel in ooreenstemming met die gees—Hoe?
13. Wat beteken dit om in ooreenstemming met die gees te wandel?
13 Wanneer ons loop, beweeg ons progressief na ’n sekere bestemming of doelwit. Om in ooreenstemming met die gees te wandel, vereis dus bestendige geestelike vooruitgang—nie geestelike volmaaktheid nie (1 Tim. 4:15). Ons moet dag ná dag en na die beste van ons vermoë daarna streef om in ooreenstemming met die leiding van die gees te wandel, of te lewe. As ons ‘deur gees wandel’, bring dit God se goedkeuring mee.—Gal. 5:16.
14. Wat is die neiging van dié wat “in ooreenstemming met die vlees is”?
14 In sy brief aan die Romeine het Paulus vervolgens van twee soorte mense met teenstrydige geestesingesteldhede gepraat. (Lees Romeine 8:5.) Hier is die vlees nie noodwendig die fisiese liggaam nie. In die Bybel word die woord “vlees” soms gebruik om na die sondige en onvolmaakte natuur van die gevalle vlees te verwys. Dit is hierdie natuur wat die stryd tussen die vlees en die verstand veroorsaak, wat Paulus vroeër gemeld het. Maar anders as hy stry dié wat “in ooreenstemming met die vlees is”, glad nie teen die neigings van die vlees nie. In plaas van ag te slaan op wat God van hulle vereis en die hulp te aanvaar wat hy voorsien, is hulle geneig om ‘hulle verstande op die dinge van die vlees te rig’. Hulle spits hulle dikwels toe op die bevrediging van hulle liggaamlike genietinge en fisiese begeertes. Daarenteen is dié wat “in ooreenstemming met die gees is”, geneig om hulle verstande op “die dinge van die gees”—geestelike voorsienings en bedrywighede—te rig.
15, 16. (a) Hoe beïnvloed die dinge waarop ’n mens jou verstand rig, jou gesindheid? (b) Wat kan ons sê oor die geestesingesteldheid van die meeste mense van vandag?
15 Lees Romeine 8:6. Om enigiets te doen—hetsy goed of sleg—moet ’n mens jou verstand daarop rig. Mense wat hulle verstand voortdurend op die dinge van die vlees rig, ontwikkel gou ’n gesindheid of geneigdheid wat heeltemal op die dinge van die vlees toegespits is. Hulle gedagtes, belangstellings en geneenthede word gewoonlik ten volle in beslag geneem deur hierdie dinge.
16 Met watter dinge is die meeste mense vandag besig? Die apostel Johannes het geskryf: “Alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld” (1 Joh. 2:16). Hierdie begeertes sluit dinge in soos promiskuïteit, aansien en besittings. Boeke, tydskrifte, koerante, rolprente, TV-programme en die Internet is vol van hierdie soort materiaal, grotendeels omdat dit is waarop die meeste mense hulle verstand rig en is wat hulle werklik wil hê. Maar “om die vlees te bedink, beteken die dood”—nou geestelike dood en in die nabye toekoms fisiese dood. Waarom? “Want om die vlees te bedink, beteken vyandskap met God, want dit is nie onderworpe aan die wet van God nie, en dit kan trouens ook nie wees nie. Daarom kan dié wat in ooreenstemming met die vlees is, God nie behaag nie.”—Rom. 8:7, 8.
17, 18. Hoe kan ons daarna streef om die gees te bedink, en wat sal die gevolg wees as ons dit doen?
17 Maar “om die gees te bedink, beteken lewe en vrede”—ewige lewe in die toekoms en nou innerlike vrede sowel as vrede met God. Hoe kan ons daarna streef “om die gees te bedink”? Deur gereeld ons verstand op die dinge van die gees te rig en toe te laat dat ’n geestelike geneigdheid en gesindheid in ons ontwikkel. As ons dit doen, het ons ’n geestesingesteldheid wat “onderworpe aan die wet van God” is en “in ooreenstemming met” sy gedagtes is. Wanneer ons voor ’n versoeking te staan kom, sal ons nie onseker wees oor watter weg ons moet inslaan nie. Ons sal beweeg word om die regte keuse te maak—een wat in ooreenstemming met die gees is.
18 Dit is derhalwe noodsaaklik dat ons ons verstand op die dinge van die gees rig. Ons doen dit deur ‘ons verstand vir bedrywigheid te versterk’ en ons lewe te bou om ’n geestelike roetine wat gereelde gebed, Bybellees en -studie, vergaderingbywoning en die Christelike bediening insluit (1 Pet. 1:13). Ons moenie toelaat dat die dinge van die vlees ons aandag aflei nie, maar moet eerder ons verstand op die dinge van die gees rig. Sodoende sal ons aanhou om in ooreenstemming met die gees te wandel. As ons dit doen, sal dit vir ons seëninge meebring, want om die gees te bedink, beteken lewe en vrede.—Gal. 6:7, 8.
Kan jy verduidelik?
• Wat was die “onvermoë aan die kant van die Wet”, en hoe het God dit te bowe gekom?
• Wat is “die wet van die sonde en van die dood”, en hoe kan ons daarvan vrygemaak word?
• Wat moet ons doen om te leer “om die gees te bedink”?
[Studievrae]
[Prente op bladsye 12, 13]
Wandel jy in ooreenstemming met die vlees of in ooreenstemming met die gees?