Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gelei deur God se gees in die eerste eeu en vandag

Gelei deur God se gees in die eerste eeu en vandag

Gelei deur God se gees in die eerste eeu en vandag

“Al hierdie werkinge word deur die een en dieselfde gees tot stand gebring.”—1 KOR. 12:11.

1. Watter punte sal ons in hierdie studie bespreek?

 PINKSTER. Aan watter opwindende gebeure laat hierdie een woord ons tog dink! (Hand. 2:1-4). Die uitstorting van die heilige gees by hierdie geleentheid in die eerste eeu het ’n betekenisvolle verandering in God se handelinge met sy knegte aangedui. In die vorige artikel het ons gekyk na ’n paar van die maniere waarop God se gees getroues van die ou tyd in staat gestel het om moeilike en baie spesifieke toewysings uit te voer. Maar hoe verskil die manier waarop God se gees in voor-Christelike tye werksaam was, van die manier waarop dit in die eerste eeu werksaam was? En hoe vind Christene vandag baat by die werking van God se heilige gees? Kom ons kyk.

“Kyk! Jehovah se slavin!”

2. Hoe het Maria die uitwerking van die heilige gees gesien?

2 Maria was teenwoordig in daardie groot bovertrek in Jerusalem toe die beloofde heilige gees uitgestort is (Hand. 1:13, 14). Maar voor hierdie gebeurtenis het sy meer as drie dekades lank die uitwerking van Jehovah se gees op merkwaardige maniere gesien. Jehovah het sy Seun se lewe vanuit die hemel na die aarde oorgeplaas, na die baarmoeder van Maria, sodat sy swanger geword het terwyl sy nog ’n maagd was. Wat in haar verwek is, was “deur heilige gees”.—Matt. 1:20.

3, 4. Watter gesindheid het Maria geopenbaar, en hoe kan ons haar navolg?

3 Waarom het Maria hierdie ongeëwenaarde voorreg ontvang? Nadat die engel Jehovah se wil in verband met haar verduidelik het, het Maria uitgeroep: “Kyk! Jehovah se slavin! Mag dit met my gebeur volgens u verklaring” (Luk. 1:38). Met hierdie woorde het Maria ’n hartstoestand geopenbaar wat God reeds raakgesien het. Hierdie onmiddellike reaksie van Maria toon dat sy bereid was om sy wil in die aangeleentheid te aanvaar. Sy het geen vraag geopper oor hoe mense in die gemeenskap haar swangerskap sou beskou of watter uitwerking dit moontlik op haar verhouding met haar verloofde sou hê nie. Deur na haarself as een van die geringste dienaars te verwys, het Maria getoon dat sy volkome op Jehovah as haar Heer vertrou.

4 Het jy al soms ietwat oorweldig gevoel deur uitdagings of verantwoordelikhede in God se diens? Elkeen van ons kan ons gerus afvra: ‘Vertrou ek ten volle op Jehovah om sake in ooreenstemming met sy wil te bewerkstellig? Openbaar ek werklik ’n gewillige gees?’ Wees verseker dat God sy gees aan diegene gee wat met hulle hele hart op hom vertrou en sy soewereine wil erken.—Hand. 5:32.

Petrus is deur die heilige gees gehelp

5. Hoe het Petrus voor Pinkster 33 HJ die werking van die heilige gees gesien?

5 Soos Maria, het die apostel Petrus voor Pinkster 33 HJ die kragtige werking van God se heilige gees ervaar. Jesus het hom en die ander apostels die gesag gegee om demone uit te dryf (Mark. 3:14-16). En hoewel die Skrif nie baie besonderhede verskaf nie, wil dit lyk of Petrus hierdie gesag gebruik het. God se krag is ook openbaar gemaak toe Jesus Petrus genooi het om oor die See van Galilea na hom toe te loop en Petrus dit gedoen het. (Lees Matteus 14:25-29.) Dit is duidelik dat Petrus op die heilige gees staatgemaak het om hom te help om magtige dade te verrig. Hierdie gees sou weldra op nuwe maniere op Petrus en sy mededissipels werksaam wees.

6. Wat kon Petrus gedurende en ná Pinkster 33 HJ deur middel van God se gees doen?

6 By die Pinksterfees in 33 HJ is Petrus en ander die wonderdadige vermoë gegee om in die tale te praat van die besoekers wat in Jerusalem vertoef het. Daarna het Petrus die leiding daarin geneem om die vergadering toe te spreek (Hand. 2:14-36). Ja, hierdie man wat by tye voortvarend of bang was, is met moed vervul om ondanks dreigemente en vervolging ’n moedige getuienis te lewer (Hand. 4:18-20, 31). Hy het kennis deur goddelike openbaring ontvang (Hand. 5:8, 9). En hy is selfs die krag gegee om ’n opstanding te verrig.—Hand. 9:40.

7. Watter leringe van Jesus het Petrus eers ná sy salwing verstaan?

7 Petrus het selfs voor Pinkster baie van die waarhede verstaan wat Jesus geleer het (Matt. 16:16, 17; Joh. 6:68). Maar daar was aspekte van Jesus se leringe wat voor Pinkster nie vir hom duidelik was nie. Byvoorbeeld, Petrus het nie onderskei dat Christus op die derde dag as ’n gees opgewek sou word nie; en ook het Petrus nie verstaan dat die Koninkryk in die hemel sou wees nie (Joh. 20:6-10; Hand. 1:6). Die idee dat mense geesskepsele sal word en in ’n hemelse Koninkryk sal regeer, was vir Petrus iets vreemds. Nadat hy met heilige gees gedoop is en die hemelse hoop ontvang het, kon hy die betekenis van Jesus se leringe aangaande hierdie punte verstaan.

8. Watter kennis is vir die gesalfdes sowel as die “ander skape” beskikbaar?

8 Insig wat Jesus se dissipels voorheen nie kon verkry nie, het ná die uitstorting van die heilige gees beskikbaar geword. Deur inspirasie het die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte verbasende fasette van Jehovah se voorneme uiteengesit—tot ons voordeel (Ef. 3:8-11, 18). Vandag word geesgesalfdes en die “ander skape” saam geestelik gevoed en neem hulle dieselfde waarhede in (Joh. 10:16). Waardeer jy die kennis en begrip van God se Woord wat die heilige gees op hierdie wyse aan jou beskikbaar stel?

Paulus is “met heilige gees vervul”

9. Wat kon Paulus deur middel van die heilige gees doen?

9 ’n Jaar of wat ná Pinkster 33 HJ het iemand anders God se gawe van die heilige gees ontvang. Dit was Saulus, wat later Paulus genoem is. Die gees het hom in staat gestel om dinge te doen wat ons vandag nog tot voordeel strek. Die apostel Paulus is geïnspireer om 14 boeke van die Bybel te skryf. En soos in die geval van Petrus, het God se gees Paulus in staat gestel om die hoop van onsterflikheid en onverderflikheid in die hemel te verstaan en met duidelikheid daaroor te skryf. Deur middel van die heilige gees het Paulus genesings verrig, demone uitgedryf en selfs iemand uit die dood opgewek! Maar die krag wat deur middel van die heilige gees ontvang is, het ’n belangriker doel gehad, een wat al God se hedendaagse knegte ondervind, hoewel nie op wonderdadige wyse nie.

10. Watter uitwerking het die heilige gees gehad op Paulus se vermoë om te spreek?

10 Paulus, wat “met heilige gees vervul” is, het hom moedig teenoor ’n towenaar uitgespreek. Wat ’n uitwerking het dit tog op die hoofadministrateur van Siprus gehad, wat na die hele gesprek geluister het! Hierdie prokonsul het die waarheid aangeneem, “aangesien hy verstom was oor die leer van Jehovah” (Hand. 13:8-12). Dit is duidelik dat Paulus goed geweet het hoe belangrik God se heilige gees is wanneer dit daarby kom om die waarheid te spreek (Matt. 10:20). Hy het later die gemeente in Efese dringend versoek om smeekbedes vir hom te doen sodat “die vermoë om te spreek” aan hom gegee sal word.—Ef. 6:18-20.

11. Hoe is Paulus deur God se gees gelei?

11 Die heilige gees het Paulus nie net in staat gestel om te spreek nie, maar dit het hom soms verbied om te spreek in sekere gebiede. Paulus is op sy sendingreise deur God se gees gelei. (Hand. 13:2; lees Handelinge 16:6-10.) Jehovah rig nog steeds die predikingswerk deur middel van sy gees. Soos Paulus, streef al Jehovah se gehoorsame knegte daarna om die waarheid met vrymoedigheid en ywer bekend te maak. Al is God se leiding vandag nie so opvallend soos in Paulus se tyd nie, kan ons die vertroue hê dat Jehovah sy heilige gees gebruik om seker te maak dat verdienstelikes die waarheid hoor.—Joh. 6:44.

“’n Verskeidenheid van werkinge”

12-14. Is God se gees op al sy knegte op dieselfde manier werksaam? Verduidelik.

12 Voorsien verslae van Jehovah se seën op die eerste-eeuse gemeente van gesalfdes wesenlike aanmoediging aan God se toegewyde knegte van vandag? Beslis! Dink aan Paulus se geïnspireerde woorde aan die gemeente in Korinte oor die wonderdadige gawes van die gees in sy dag: “Daar is ’n verskeidenheid van gawes, maar dit is dieselfde gees; en daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; en daar is ’n verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat al die werkinge in almal tot stand bring” (1 Kor. 12:4-6, 11). Ja, die heilige gees kan met ’n doel op verskillende knegte van God op verskillende maniere werksaam wees. Die heilige gees is inderdaad beskikbaar vir Christus se “klein kuddetjie” sowel as vir sy “ander skape” (Luk. 12:32; Joh. 10:16). Tog is dit nie altyd op elke lid van die gemeente op dieselfde manier werksaam nie.

13 Ouer manne word byvoorbeeld deur die heilige gees aangestel (Hand. 20:28). Maar nie alle geesgesalfdes dien as opsieners in die gemeente nie. Wat moet ons hieruit aflei? Eenvoudig dat God se gees op verskillende lede van die gemeente op verskillende maniere werksaam is.

14 Die gees wat “’n gees van aanneming”, of ’n gevoel van seunskap, in gesalfdes wek, is dieselfde gees waardeur Jehovah sy enigverwekte Seun uit die dode tot onsterflike lewe in die hemel opgewek het. (Lees Romeine 8:11, 15.) Dit is dieselfde gees waardeur Jehovah die ganse heelal voortgebring het (Gen. 1:1-3). Deur hierdie selfde heilige gees het Jehovah Besaleël bekwaam gemaak vir spesiale werk aan die tabernakel, Simson die krag gegee om dade te verrig wat uitsonderlike krag geverg het en Petrus in staat gestel om op die water te loop. Ons moet dus nie dink dat om God se gees te hê, dieselfde is as om met God se gees gesalf te wees nie, aangesien laasgenoemde net een spesiale werking van die gees is. God besluit wie met die heilige gees gesalf word.

15. Sal doop met die heilige gees tot onbepaalde tyd voortduur? Verduidelik.

15 God se heilige werkende krag is al so lank as wat hy getroue knegte het, op verskillende maniere op sy getroue knegte werksaam, ja, reeds duisende jare voordat salwing met die gees begin het. Op Pinkster 33 HJ het hierdie nuwe werking begin, maar dit sal nie vir ewig voortduur nie. Doop met die gees sal ophou, maar die heilige gees sal voortgaan om op God se volk werksaam te wees sodat hulle sy wil tot in alle ewigheid kan doen.

16. Wat doen God se knegte nou deur middel van sy gees?

16 Wat in die besonder vind nou op die aarde plaas deur middel van Jehovah se heilige gees? Openbaring 22:17 antwoord: “Die gees en die bruid hou aan om te sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat hoor, sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” Beweeg deur God se gees, rig hedendaagse Christene Jehovah se lewegewende uitnodiging aan “enigeen wat wil”, om die water van die lewe te aanvaar. Gesalfde Christene neem die leiding hierin. Maar die lede van die ander skape rig saam met hulle hierdie uitnodiging aan ander. Albei klasse werk met die heilige gees saam om hierdie werk te volbring. Die lede van albei klasse het hulle toewyding aan Jehovah gesimboliseer deur “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” gedoop te word (Matt. 28:19). En hulle almal onderwerp hulle aan die werking van God se gees in hulle lewe en laat toe dat dit die vrug daarvan in hulle voortbring (Gal. 5:22, 23). Soos die gesalfdes, laat die ander skape toe dat God se gees hulle help. Met die hulp daarvan doen hulle hulle bes om aan Jehovah se vereistes van heiligheid te voldoen.—2 Kor. 7:1; Op. 7:9, 14.

Hou aan vra vir heilige gees

17. Hoe kan ons bewys lewer dat ons God se gees het?

17 Of jy dan nou die godgegewe hoop het om vir ewig in die hemel of op die aarde te lewe, Jehovah kan jou voorsien van “die krag wat bo die normale is” sodat jy jou onkreukbaarheid kan handhaaf en jou beloning kan ontvang (2 Kor. 4:7). Jou volgehoue verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk lok dalk bespotting uit. Maar onthou: “As julle vir die naam van Christus gesmaad word, is julle gelukkig, omdat die gees van heerlikheid, ja, die gees van God, op julle rus.”—1 Pet. 4:14.

18, 19. Hoe sal Jehovah jou deur middel van sy heilige gees help, en wat is jy vasbeslote om in hierdie verband te doen?

18 Heilige gees is God se vrye gawe aan diegene wat opreg daarvoor vra. Nie alleen kan dit jou vermoëns vergroot nie, maar dit kan ook jou begeerte versterk om jou bes in sy diens te doen. “Dit is God wat, ter wille van sy welbehae, in julle werk sodat julle kan wil sowel as werk.” Die kosbare gawe van die heilige gees tesame met ons opregte pogings om “’n stewige greep op die woord van die lewe” te behou, sal ons in staat stel om ‘aan te hou om ons eie redding met vrees en bewing te bewerk’.—Fil. 2:12, 13, 16.

19 Met volle vertroue in God se gees moet jy jou dan heelhartig op elke toewysing toelê, bekwaam word in wat jy gegee word om te doen en vir hulp op Jehovah vertrou (Jak. 1:5). Hy sal jou gee wat jy nodig het om sy Woord te verstaan, lewensprobleme die hoof te bied en die goeie nuus te verkondig. “Hou aan vra, en vir julle sal gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en vir julle sal oopgemaak word”, en dit sluit in om heilige gees te ontvang (Luk. 11:9, 13). Ja, hou aan om Jehovah te vra dat jy kan wees soos getroues—van die ou tyd sowel as van ons dag—wat deur God se heilige gees gelei is.

Kan jy verduidelik?

• Watter gesindheid, soos dié van Maria, kan ons openbaar wat seëninge sal meebring?

• Hoe is Paulus deur God se gees gelei?

• Hoe word God se knegte vandag deur God se gees gelei?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 24]

God se gees het Paulus in staat gestel om die invloed van bose geeste teë te werk

[Prent op bladsy 26]

Vandag is die heilige gees beskikbaar om Christene te help, ongeag watter hoop hulle het