Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Getroues van die ou tyd—Gelei deur God se gees

Getroues van die ou tyd—Gelei deur God se gees

Getroues van die ou tyd—Gelei deur God se gees

“Die Soewereine Heer Jehovah [het] my gestuur, ja, sy gees.”—JES. 48:16.

1, 2. Wat is nodig om geloof te toon, en watter aanmoediging sal ons kry as ons getroues van die ou tyd bestudeer?

 HOEWEL dit al sedert die dae van Abel getoon word, is “geloof . . . nie iets wat alle mense besit nie” (2 Tess. 3:2). Waarom het ’n persoon dan hierdie eienskap, en wat stel hom in staat om getrou te wees? Oor die algemeen volg geloof op wat gehoor word uit God se Woord (Rom. 10:17). Dit is ’n aspek van die vrug van God se heilige gees (Gal. 5:22, 23). Om geloof te toon en te beoefen, moet ons dus heilige gees hê.

2 Dit sou ’n fout wees om aan te neem dat manne en vroue van geloof só gebore word, dat geloof van nature kom. Die voorbeeldige knegte van wie ons in die Bybel lees, was mense “met gevoelens soos ons s’n” (Jak. 5:17). Hulle het twyfelgedagtes, onsekerhede en swakhede gehad, maar hulle is deur God se gees “kragtig gemaak” om uitdagings die hoof te bied (Heb. 11:34). As ons bestudeer hoe Jehovah se gees op hulle werksaam was, sal dit ons vandag aanmoedig om in ons weg van getrouheid te volhard, terwyl ons lewe in hierdie tyd wanneer ons geloof aangeval word.

God se gees het Moses krag gegee

3-5. (a) Hoe weet ons dat Moses met die hulp van die heilige gees opgetree het? (b) Wat leer Moses se voorbeeld ons oor hoe Jehovah sy gees gee?

3 Moses was “verreweg die sagmoedigste” van al die mense wat in 1513 VHJ gelewe het (Num. 12:3). Hierdie saggeaarde kneg het ontsaglike verantwoordelikheid in die nasie Israel ontvang. God se gees het Moses in staat gestel om te profeteer, reg te spreek, te skryf, die leiding te neem en wonderwerke te verrig. (Lees Jesaja 63:11-14.) Maar op een stadium het Moses gekla dat die las eenvoudig te swaar is (Num. 11:14, 15). Gevolglik het Jehovah ‘van die gees weggeneem’ wat op Moses was en dit op 70 ander geplaas om die werklas te help dra (Num. 11:16, 17). Hoewel Moses se las te swaar gevoel het, het hy dit in werklikheid nie alleen gedra nie—en ook sou die 70 wat aangestel is om hom te help, dit nie alleen dra nie.

4 Moses is genoeg heilige gees vir die taak gegee. Ná die verandering het Moses nog steeds voldoende gees gehad. Moses het nie te min gehad nie, en die 70 ouer manne het nie te veel gehad nie. Jehovah voorsien soveel van sy gees as wat ons nodig het, volgens ons omstandighede. “Hy gee die gees nie volgens maat nie”, maar gee “uit sy volheid”.—Joh. 1:16; 3:34.

5 Verduur jy beproewinge? Word daar al hoe meer regmatige eise aan jou tyd gestel? Probeer jy in die geestelike en fisiese behoeftes van jou gesin voorsien ondanks die stygende lewenskoste of kwellinge oor gesondheid? Dra jy gewigtige verantwoordelikhede in die gemeente? Wees verseker dat God jou, deur middel van sy gees, die nodige krag kan gee om enige situasie die hoof te bied.—Rom. 15:13.

Die heilige gees het Besaleël bekwaam gemaak

6-8. (a) Wat het God se gees Besaleël en Oholiab in staat gestel om te doen? (b) Wat toon dat Besaleël en Oholiab deur God se gees gelei is? (c) Waarom is Besaleël se ondervinding besonder aanmoedigend?

6 Die ondervinding van Moses se tydgenoot Besaleël openbaar baie oor hoe God se gees werksaam kan wees. (Lees Eksodus 35:30-35.) Besaleël is aangestel om die leiding te neem in die vervaardiging van die nodige toebehore vir die tabernakel. Het hy voor hierdie ontsaglike projek kennis van die ambagte gehad? Moontlik, maar na alle waarskynlikheid was sy laaste werk om bakstene vir die Egiptenaars te maak (Eks. 1:13, 14). Hoe sou Besaleël dan sy ingewikkelde taak uitvoer? Jehovah “het hom vervul met die gees van God wat wysheid, begrip en kennis en elke soort vakmanskap betref, en om planne te ontwerp . . . om allerhande kunstige artikels te maak”. Enige natuurlike aanleg wat Besaleël moontlik gehad het, is deur die heilige gees vergroot. Dieselfde is waar van Oholiab. Besaleël en Oholiab het ongetwyfeld goed geleer, want hulle het nie net hulle pligte uitgevoer nie, maar het ook ander geleer wat om te doen. Ja, God het dit in hulle hart gegee om ander te leer.

7 Nog ’n bewys dat Besaleël en Oholiab deur God se gees gelei is, is die verbasende duursaamheid van hulle werk. Wat hulle gemaak het, was sowat 500 jaar later nog in gebruik (2 Kron. 1:2-6). In teenstelling met hedendaagse vervaardigers het Besaleël en Oholiab glad nie daarin belanggestel om hulle handtekening of handelsmerk op hulle werk aan te bring nie. Jehovah is al die eer gegee vir wat hulle gedoen het.—Eks. 36:1, 2.

8 Vandag moet ons dalk moeilike take verrig wat spesiale vaardighede verg, soos om bouwerk of drukwerk te doen, streekbyeenkomste te organiseer, noodleniging te administreer en met dokters en hospitaalpersoneel te praat oor ons skriftuurlike standpunt oor die gebruik van bloed. Soms word hierdie take deur gekwalifiseerde werkers verrig, maar dit word meer dikwels uitgevoer deur vrywilligers wat nie veel ervaring op ’n spesifieke gebied het nie. God se gees laat hulle pogings slaag. Het jy al geaarsel om ’n toewysing in Jehovah se diens te aanvaar omdat jy gevoel het dat ander bekwamer is as jy? Onthou, Jehovah se gees kan jou kennis en vermoëns vergroot en jou help om enige toewysing wat hy jou gee, uit te voer.

Josua het sukses behaal met die hulp van God se gees

9. In watter situasie het die Israeliete hulle ná die uittog uit Egipte bevind, en watter vraag het ontstaan?

9 God se gees het ook ’n tydgenoot van Moses en Besaleël gelei. Kort ná die uittog uit Egipte het die Amalekiete God se volk sonder aanleiding aangeval. Die tyd het aangebreek vir die Israeliete om hierdie bedreiging af te weer. Hoewel die Israeliete glad nie aan oorlog gewoond was nie, moes hulle aan hulle eerste geveg as ’n bevryde volk deelneem (Eks. 13:17; 17:8). Iemand moes die strydmag aanvoer. Wie sou dit wees?

10. Waarom het die Israeliete onder Josua in die geveg geseëvier?

10 Josua is gekies. Maar sê nou hy is gevra watter vorige werksondervinding hy gehad het om vir hierdie sending te kwalifiseer; wat kon hy genoem het? Slawearbeider? Strooimenger? Manna-insamelaar? Josua se grootvader Elisama was weliswaar die owerste van die stam Efraim en het blykbaar 108 100 manne van een van die driestamafdelings van Israel aangevoer (Num. 2:18, 24; 1 Kron. 7:26, 27). Maar Jehovah het deur middel van Moses beveel dat Josua, nie Elisama of sy seun Nun nie, die strydmag moes aanvoer wat die vyand sou verslaan. Die geveg het byna heeldag geduur. Danksy Josua se onvoorwaardelike gehoorsaamheid en sy diepe waardering vir die leiding van God se heilige gees het Israel geseëvier.—Eks. 17:9-13.

11. Hoe kan ons, soos Josua, in heilige diens sukses behaal?

11 Later het Josua, “vol van die gees van wysheid”, Moses opgevolg (Deut. 34:9). Die heilige gees het nie vir hom die vermoë gegee om te profeteer of om wonderwerke te verrig soos vir Moses nie, maar dit het Josua wel in staat gestel om Israel aan te voer in die militêre veldtog wat tot die verowering van Kanaän gelei het. Vandag voel ons miskien onervare of onbekwaam om sekere aspekte van ons heilige diens uit te voer. Maar soos Josua, is ons verseker van sukses as ons streng by goddelike leiding bly.—Jos. 1:7-9.

“Jehovah se gees het Gideon omhul”

12-14. (a) Wat openbaar die feit dat 300 man die oorweldigende Midianitiese hordes kon verslaan? (b) Watter versekering het Jehovah vir Gideon gegee? (c) Watter goddelike versekering ontvang ons vandag?

12 Ná Josua se dood het Jehovah voortgegaan om te toon hoe sy krag getroues kan versterk. Die boek Rigters is vol verslae van mense wat “uit ’n swak toestand kragtig gemaak is” (Heb. 11:34). Deur middel van die heilige gees het God Gideon aangespoor om ten behoewe van Sy volk te veg (Rigt. 6:34). Die leër wat Gideon versamel het, was egter vier keer kleiner as die Midianitiese bedreiging. In Jehovah se oë was selfs hierdie klein Israelitiese regiment gans te groot. Hy het twee keer beveel dat Gideon die Israelitiese leër verminder, totdat die vyand ’n oormag van 450 teen 1 uitgemaak het (Rigt. 7:2-8; 8:10). Dít was ’n verhouding wat Jehovah goedgekeur het. As daar ’n reuseoorwinning sou wees, wie sou dan kon spog dat dit die resultaat van mensepogings of -wysheid was?

13 Gideon en sy manskappe was byna gereed. Sou jy, as jy deel van daardie groepie was, veilig gevoel het in die wete dat diegene wat bang en nie so waaksaam was nie, huis toe gestuur is? Of sou jy ietwat angstig gewees het wanneer jy gedink het aan hoe sake dalk sou verloop? Ons hoef nie te raai hoe Gideon gevoel het nie. Hy het gedoen wat hy beveel is om te doen! (Lees Rigters 7:9-14.) Jehovah het Gideon nie berispe omdat hy ’n teken gevra het as bewys dat God met hom sou wees nie (Rigt. 6:36-40). Hy het eerder Gideon se geloof versterk.

14 Daar is geen perke aan Jehovah se krag om te red nie. Hy kan sy volk uit enige moeilike situasie verlos, selfs deur mense te gebruik wat swak of hulpeloos voorkom. Soms voel ons dalk dat ons voor ’n oormag staan of dat ons situasie hopeloos is. Ons verwag nie wonderdadige versekering, soos wat Gideon ontvang het nie, maar ons kan ’n oorvloed van leiding en versekering uit God se Woord en deur middel van sy geesgerigte gemeente kry (Rom. 8:31, 32). Jehovah se liefdevolle beloftes versterk ons geloof en oortuig ons dat hy werklik ons Helper is!

“Jehovah se gees het toe op Jefta gekom”

15, 16. Waarom het Jefta se dogter ’n goeie gesindheid gehad, en hoe moedig dit ouers aan?

15 Beskou nog ’n voorbeeld. Toe die Israeliete teen die Ammoniete moes veg, het Jehovah se gees “op Jefta gekom”. Jefta was gretig om ’n oorwinning tot lof van Jehovah te behaal en het ’n gelofte gedoen wat hom duur te staan gekom het. Jefta het belowe dat, as God Ammon in sy hand gee, die eerste een wat by die deur uitkom wanneer hy terugkeer huis toe, aan Jehovah sal behoort. Toe Jefta terugkeer nadat hy Ammon onderwerp het, het sy dogter hom tegemoetgehardloop (Rigt. 11:29-31, 34). Het dit Jefta verbaas? Waarskynlik nie, want hy het net een kind gehad. Hy het sy gelofte gestand gedoen deur sy dogter te gee om uitsluitlike diens by Jehovah se heiligdom in Silo te verrig. As ’n lojale aanbidder van Jehovah was Jefta se dogter oortuig dat haar vader se gelofte vervul moes word. (Lees Rigters 11:36.) Jehovah se gees het hulle albei die krag gegee wat hulle nodig gehad het.

16 Hoe het Jefta se dogter so ’n selfopofferende gees ontwikkel? Haar vader se voorbeeld van ywer en godvrugtige toegewydheid het ongetwyfeld haar geloof opgebou. Ouers, julle voorbeeld gaan nie ongemerk by julle kinders verby nie. Julle besluite toon dat julle glo wat julle sê. Julle kinders sien hoe julle vurige gebede en doeltreffende onderrigting gepaardgaan met julle voorbeeld van wat dit beteken om Jehovah met ’n volkome hart te dien. Wanneer julle kinders dit sien, sal hulle waarskynlik ’n sterk begeerte ontwikkel om hulle aan Jehovah beskikbaar te stel vir sy diens. Dit is ’n rede tot vreugde.

‘Jehovah se gees het oor Simson werksaam geword’

17. Wat het Simson deur middel van God se gees gedoen?

17 Beskou nog ’n voorbeeld. Toe Israel in die hande van die Filistyne geval het, ‘het Jehovah se gees Simson ná verloop van tyd begin aandryf’ om Israel te verlos (Rigt. 13:24, 25). Simson is die krag gegee om verstommende, onvergelyklike kragtige dade te verrig. Toe die Filistyne Simson se mede-Israeliete oorreed het om hom gevange te neem, het “Jehovah se gees . . . oor hom werksaam geword, en die toue wat aan sy arms was, het soos linnedrade geword wat met vuur verskroei is, sodat sy boeie van sy hande afgesmelt het” (Rigt. 15:14). Selfs uit die fisies verswakte toestand wat deur sy eie swak oordeel veroorsaak is, is Simson “deur geloof” kragtig gemaak (Heb. 11:32-34; Rigt. 16:18-21, 28-30). Jehovah se gees was weens buitengewone omstandighede op ’n unieke wyse werksaam oor Simson. Hierdie geskiedkundige gebeure is nietemin vir ons baie aanmoedigend. Hoe so?

18, 19. (a) Watter versekering gee Simson se ondervinding ons? (b) Hoe het jy daarby baat gevind om die voorbeelde van getroues in hierdie artikel te bestudeer?

18 Ons vertrou op dieselfde heilige gees as Simson. Ons doen dit terwyl ons die werk verrig wat Jesus aan sy volgelinge gegee het, naamlik “om vir die volk te preek en om ’n deeglike getuienis te gee” (Hand. 10:42). Hierdie toewysing verg vaardighede wat moontlik nie van nature kom nie. Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah sy gees gebruik om ons in staat te stel om die groot verskeidenheid take te verrig wat aan ons toevertrou word! Terwyl ons ons opdrag uitvoer, kan ons dus soos die profeet Jesaja sê: “Die Soewereine Heer Jehovah [het] my gestuur, ja, sy gees” (Jes. 48:16). Ja, God se gees het ons gestuur! Ons rig ons hart op die werk, met die versekering dat Jehovah ons vermoëns sal vergroot, net soos hy in die geval van Moses, Besaleël en Josua gedoen het. Ons neem ‘die swaard van die gees op, dit is God se woord’, in die vertroue dat hy ons krag sal gee, net soos hy Gideon, Jefta en Simson krag gegee het (Ef. 6:17, 18). As ons op Jehovah vertrou vir hulp om struikelblokke te bowe te kom, kan ons geestelik net so sterk wees as wat Simson fisies was.

19 Dit is duidelik dat Jehovah diegene seën wat ’n moedige standpunt vir ware aanbidding inneem. Wanneer ons op die werking van God se heilige gees reageer, neem ons geloof grootliks toe. Dit sal dus ’n genot wees om ook party van die opwindende gebeure te hersien wat in die Christelike Griekse Geskrifte opgeteken is. Dit sal toon hoe Jehovah se gees in die eerste eeu, voor sowel as ná Pinkster 33 HJ, op sy getroue knegte werksaam was. Hierdie verslae sal in die volgende artikel bespreek word.

Waarom is dit vir jou aanmoedigend om te weet hoe God se gees werksaam was op . . . 

• Moses?

• Besaleël?

• Josua?

• Gideon?

• Jefta?

• Simson?

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 22]

God se gees kan ons geestelik net so sterk maak as wat Simson fisies was

[Prent op bladsy 21]

Ouers, julle ywerige voorbeeld vind weerklank by julle kinders