Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is hy ’n goeie voorbeeld vir jou of ’n waarskuwing?

Is hy ’n goeie voorbeeld vir jou of ’n waarskuwing?

Is hy ’n goeie voorbeeld vir jou of ’n waarskuwing?

“Die God van Jakob . . . sal ons omtrent sy weë onderrig, en ons sal in sy paaie wandel.”—JES. 2:3.

1, 2. Hoe kan jy by Bybelvoorbeelde baat vind?

 JY IS oortuig dat jy kan baat vind by wat in die Bybel geskryf is, nie waar nie? Daarin vind jy voorbeelde van getroue manne en vroue wie se lewensweg en eienskappe jy wil navolg (Heb. 11:32-34). Maar jy het waarskynlik gesien dat daar ook waarskuwende voorbeelde is—manne en vroue wie se dade of gesindhede jy moet vermy.

2 Om die waarheid te sê, party persone wat in die Bybel gemeld word, is ’n goeie voorbeeld van watter weg om te volg sowel as ’n waarskuwing van wat om te vermy. Dink aan Dawid, ’n nederige herder en toe ’n magtige koning. Hy is ’n goeie voorbeeld van iemand wat die waarheid liefgehad en op Jehovah vertrou het. Tog het Dawid ernstige oortredings begaan, soos dié met betrekking tot Batseba, Uria en ’n onwyse volkstelling. Maar kom ons spits ons aandag toe op sy seun—’n koning en ook ’n Bybelskrywer—Salomo. Ons sal eers kyk na twee opsigte waarin hy ’n goeie voorbeeld was.

“Die wysheid van Salomo”

3. Waarom kan ons sê dat Salomo vir ons ’n goeie voorbeeld gestel het?

3 Die Grotere Salomo, Jesus Christus, het gunstig gepraat van koning Salomo en hom as ’n goeie voorbeeld vir ons voorgehou. Jesus het vir party ongelowige Jode gesê: “Die koningin van die suide sal in die oordeel saam met hierdie geslag opgewek word en sal dit veroordeel; want sy het van die eindes van die aarde af gekom om die wysheid van Salomo te hoor, maar kyk! iets meer as Salomo is hier” (Matt. 12:42). Ja, Salomo was beroemd vir sy wysheid, en hy het ons aangespoor om dit te verkry.

4, 5. Hoe het Salomo sy wysheid verkry, maar hoe verskil dit van die manier waarop ons wysheid verkry?

4 Aan die begin van Salomo se koningskap het God in ’n droom aan hom verskyn en hom genooi om ’n versoek te doen. Omdat Salomo besef het dat hy min ervaring het, het hy wysheid gevra. (Lees 1 Konings 3:5-9.) God was bly dat die koning wysheid eerder as rykdom en heerlikheid gevra het en het Salomo “’n wyse hart met begrip” gegee—sowel as voorspoed (1 Kon. 3:10-14). Soos Jesus gemeld het, was Salomo se wysheid so uitsonderlik dat die koningin van Skeba daarvan gehoor het en ’n lang reis afgelê het om dit self te sien.—1 Kon. 10:1, 4-9.

5 Ons verwag nie dat óns wysheid op wonderdadige wyse sal ontvang nie. Salomo het gesê dat ‘Jehovah wysheid gee’, maar hy het geskryf dat ons daarna moet streef om hierdie goddelike eienskap te verkry: “[Skenk] met jou oor aandag . . . aan wysheid, sodat jy jou hart kan neig tot onderskeidingsvermoë.” In verband met wysheid het hy uitdrukkings gebruik soos ‘roep daarna’, ‘bly soek daarna’ en ‘bly dit naspeur’ (Spr. 2:1-6). Dit is duidelik dat ons wysheid kan verkry.

6. Hoe kan ons toon dat ons baat vind by Salomo se goeie voorbeeld in verband met wysheid?

6 Dit sal goed wees om te vra: ‘Neem ek Salomo se voorbeeld ter harte deur goddelike wysheid as kosbaar te beskou?’ Ekonomiese onsekerhede het baie mense beweeg om hulle op hulle sekulêre werk en finansies toe te spits of het mense se besluite beïnvloed oor watter soort en hoeveel opvoeding om na te streef. Wat van jou en jou gesin? Toon julle keuses dat julle goddelike wysheid as kosbaar beskou en daarna soek? Sal dit julle in staat stel om meer wysheid te verkry as julle julle fokus of doelwitte verander? Dit sal julle inderdaad tot blywende voordeel strek om wysheid te verkry en toe te pas. Salomo het geskryf: “Dan sal jy regverdigheid en reg en regskapenheid verstaan, die hele weg van wat goed is.”—Spr. 2:9.

Die verheffing van ware aanbidding het vrede meegebring

7. Hoe het dit gekom dat God ’n luisterryke tempel gekry het?

7 Vroeg in sy heerskappy het Salomo stappe gedoen om die tabernakel, wat sedert Moses se dag in gebruik was, met ’n luisterryke tempel te vervang (1 Kon. 6:1). Ons noem dit dalk Salomo se tempel, maar dit was nie sy idee of sy manier om vir hom ’n naam te maak as ’n argitek of ’n ryk weldoener nie. Dit was in werklikheid Dawid wat die bou van ’n tempel voorgestel het, waarop God Dawid gedetailleerde planne vir die tempel en die toebehore daarvan gegee het. En Dawid het ’n groot bydrae gemaak om die werk te finansier (2 Sam. 7:2, 12, 13; 1 Kron. 22:14-16). Maar dit was Salomo wat hierdie bouprojek moes uitvoer, wat sewe en ’n half jaar lank geduur het.—1 Kon. 6:37, 38; 7:51.

8, 9. (a) Watter goeie voorbeeld het Salomo daarin gestel om in goeie werke te volhard? (b) Waartoe het Salomo se verheffing van ware aanbidding gelei?

8 So het Salomo vir ons ’n goeie voorbeeld daarin gestel om in goeie werke te volhard, en hy het die regte fokus behou. Toe die tempel voltooi is en die verbondsark daarin geplaas is, het Salomo ’n openbare gebed gedoen. Hy het onder andere tot Jehovah gebid: “[Mag] u oë nag en dag oop . . . wees oor hierdie huis, oor die plek waarvan u gesê het: ‘My naam sal daar wees’, om te luister na die gebed wat u kneg na hierdie plek toe bid” (1 Kon. 8:6, 29). Israeliete en uitlanders kon na hierdie gebou toe bid waaroor God se naam uitgeroep is.—1 Kon. 8:30, 41-43, 60.

9 Waartoe het Salomo se verheffing van ware aanbidding gelei? Nadat die volk die tempel se inwyding gevier het, was hulle “bly en vrolik van hart oor al die goeie wat Jehovah vir sy kneg Dawid en vir . . . Israel gedoen het” (1 Kon. 8:65, 66). Trouens, merkwaardige vrede en voorspoed het Salomo se 40 jaar lange heerskappy gekenmerk. (Lees 1 Konings 4:20, 21, 25.) Psalm 72 vertel ons hiervan en gee ons insig in die seëninge wat ons onder die bewind van die Grotere Salomo, Jesus Christus, sal geniet.—Ps. 72:6-8, 16.

Salomo se waarskuwende voorbeeld

10. Aan watter fout van Salomo dink ’n mens dalk eerste?

10 Maar waarom kan ons sê dat Salomo se lewensweg ook ’n waarskuwende voorbeeld is? Jy dink dalk eerste aan sy uitlandse vrouens en byvrouens. Ons lees: “Toe Salomo oud word, het sy vrouens sy hart laat afwyk om ander gode te volg; en sy hart was nie volkome met Jehovah [nie]” (1 Kon. 11:1-6). Jy is ongetwyfeld vasbeslote om nooit sy dwase weg na te volg nie. Maar is dit die enigste waarskuwing wat ons in Salomo se lewe vind? Beskou ’n paar besonderhede van sy lewe wat maklik oor die hoof gesien word, en kyk watter waarskuwing jy daarin vind.

11. Wat kan ons aflei omtrent Salomo se eerste huwelik?

11 Salomo het 40 jaar lank regeer (2 Kron. 9:30). Wat kan jy dan uit 1 Konings 14:21 aflei? (Lees.) Volgens hierdie vers het Salomo se seun Rehabeam ná Salomo se dood op die ouderdom van 41 koning geword, en sy moeder was “Naäma, die Ammonitiese vrou”. Dit beteken dat Salomo, voordat hy koning geword het, getrou het met ’n uitlander uit ’n vyandelike nasie wat afgode gedien het (Rigt. 10:6; 2 Sam. 10:6). Het sy hulle aanbid? Al het sy dit vroeër gedoen, het sy haar moontlik van afgode afgekeer en ’n ware aanbidder geword, soos Ragab en Rut (Rut 1:16; 4:13-17; Matt. 1:5, 6). Nietemin het Salomo waarskynlik Ammonitiese skoonfamilie gehad wat Jehovah nie gedien het nie.

12, 13. Watter slegte besluit het Salomo vroeg in sy bewind geneem, en hoe het hy miskien geredeneer?

12 En dinge het beslis versleg nadat hy koning geword het. Salomo “het ’n huweliksverbintenis met Farao, die koning van Egipte, aangegaan en Farao se dogter geneem en haar na die Stad van Dawid gebring” (1 Kon. 3:1). Het hierdie Egiptiese vrou Rut nagevolg en ware aanbidding begin beoefen? Daar is geen aanduiding dat sy dit gedoen het nie. Om die waarheid te sê, Salomo het later vir haar (en moontlik vir haar Egiptiese diensmeisies) ’n huis buite die Stad van Dawid gebou. Waarom? Die Skrif sê dat hy dit gedoen het omdat dit nie gepas was dat ’n valse aanbidder naby die verbondsark woon nie.—2 Kron. 8:11.

13 Salomo het miskien gedink dat ’n huwelik met ’n Egiptiese prinses politieke voordele inhou, maar kon hy dit regverdig? God het lank tevore huwelike met heidense Kanaäniete verbied en het selfs sekere volke by name genoem (Eks. 34:11-16). Het Salomo geredeneer dat Egipte nie een van hierdie genoemde nasies was nie? Al het hy ook so geredeneer, sou sulke rasionalisering gegrond wees? Sy optrede het in werklikheid die duidelike gevaar verontagsaam wat Jehovah gemeld het—dat ’n Israeliet van ware aanbidding afgekeer sou word en hom tot valse aanbidding sou wend.Lees  Deuteronomium 7:1-4.

14. Hoe kan ons daarby baat vind as ons Salomo se waarskuwende voorbeeld ter harte neem?

14 Sal ons Salomo se optrede as ’n waarskuwende voorbeeld vir ons laat dien? ’n Suster probeer dit miskien rasionaliseer om ’n romantiese verhouding aan te knoop wat God se opdrag om “net in die Here” te trou, verontagsaam (1 Kor. 7:39). Met sulke rasionalisering kan ’n mens by buitemuurse sport of klubs by die skool betrokke raak, nie al jou belasbare inkomste aangee nie of leuens vertel wanneer jy gevra word om dade te onthul wat verleentheid kan veroorsaak. Die punt is dat Salomo ongetwyfeld van onvolmaakte redenering gebruik gemaak het om God se gebod te omseil, en dieselfde gevaar bestaan vir ons.

15. Hoe het Jehovah barmhartigheid bewys in sy handelinge met Salomo, maar wat moet ons in dié verband onthou?

15 Dit is interessant dat die Bybel ná die vermelding van Salomo se huwelik met daardie uitlandse prinses vertel dat God sy versoek om wysheid toegestaan het, en Hy het ook rykdom bygevoeg (1 Kon. 3:10-13). Salomo het God se instruksies verontagsaam, en tog is daar geen aanduiding dat Jehovah hom sonder meer as koning verwerp het of hom streng gedissiplineer het nie. Dit strook met die feit dat God besef dat ons onvolmaakte mense is, wat uit stof gemaak is (Ps. 103:10, 13, 14). Maar onthou: Ons dade sal dalk nou of moontlik in die toekoms gevolge hê.

So baie vrouens!

16. Wat het Salomo verontagsaam deur baie vrouens te neem?

16 In die Hooglied van Salomo het die koning met bewondering gesê dat ’n sekere maagd pragtiger is as 60 koninginne en 80 byvrouens (Hoogl. 6:1, 8-10). As dit na Salomo se situasie verwys, het hy op daardie stadium in sy bewind reeds soveel vrouens gehad. Al was die meeste of selfs almal ware aanbidders, was God se opdrag deur middel van Moses dat ’n koning van Israel “nie vir hom baie vrouens [moet] neem nie, sodat sy hart nie afwyk nie” (Deut. 17:17). Maar weer eens het Jehovah Salomo nie eenvoudig verwerp nie. Trouens, God het Salomo nog steeds geseën en hom gebruik om die Bybelboek Hooglied van Salomo te skryf.

17. Watter feit moet ons nie verontagsaam nie?

17 Gee dit te kenne dat Salomo God se riglyne kon verontagsaam en ongestraf sou bly of dat ons dit kan doen? Nee. Dit toon eerder dat God se verdraagsaamheid ’n geruime tyd kan voortduur. Maar die feit dat een van God se knegte sy riglyne kan verontagsaam sonder onmiddellike slegte gevolge, beteken nie dat daar nie op die ou end ’n slegte uiteinde sal wees nie. Dink aan wat Salomo geskryf het: “Omdat die vonnis oor ’n slegte werk nie gou voltrek is nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle volkome daarop gerig om kwaad te doen.” Hy het bygevoeg: “Ek [weet] ook dat dit goed sal afloop met dié wat die ware God vrees, omdat hulle hom gevrees het.”—Pred. 8:11, 12.

18. Hoe lig Salomo se geval die waarheid toe wat ons in Galasiërs 6:7 vind?

18 As Salomo tog maar net op hierdie goddelike waarheid bly ag slaan het! Ja, hy het talle goeie dinge gedoen en het lank goddelike seëninge geniet. Maar met verloop van tyd het hy die een verkeerde ding ná die ander gedoen. ’n Slegte patroon het ontwikkel. Hoe waar is die woorde tog wat die apostel Paulus later geïnspireer is om te skryf: “Moenie mislei word nie: God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai”! (Gal. 6:7). Salomo het later die wrange vrugte van sy verontagsaming van God se riglyne gepluk. Ons lees: “Koning Salomo het baie uitlandse vrouens liefgehad benewens die dogter van Farao: Moabitiese, Ammonitiese, Edomitiese, Sidoniese en Hetitiese vrouens” (1 Kon. 11:1). Baie van hulle het waarskynlik valse gode bly aankleef, en Salomo was nie immuun daarteen nie. Hy het van ware aanbidding afgewyk en die guns van ons geduldige God verloor.—Lees 1 Konings 11:4-8.

Leer uit sy goeie en slegte voorbeeld

19. Waarom kan jy sê dat die Bybel talle goeie voorbeelde bevat?

19 Jehovah het Paulus uit liefde geïnspireer om te skryf: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Rom. 15:4). Hierdie geskrewe dinge sluit talle goeie voorbeelde in van manne en vroue van uitsonderlike geloof. Paulus kon sê: “Wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek nog sou vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid sowel as Samuel en die ander profete, wat deur geloof koninkryke in die stryd verslaan het, regverdigheid bewerkstellig het, beloftes verkry het, . . . uit ’n swak toestand kragtig gemaak is” (Heb. 11:32-34). Ons kan en moet baat vind by die goeie voorbeelde in die Skrif en toepas of navolg wat ons in hierdie voortreflike Bybelverslae lees.

20, 21. Waarom is jy vasbeslote om by waarskuwende voorbeelde in God se Woord baat te vind?

20 Sekere Bybelverslae sluit egter waarskuwende voorbeelde in. Ons kan party hiervan vind in die lewe van manne en vroue wat die een of ander tyd deur Jehovah aangeneem en as sy knegte gebruik is. Wanneer ons die Bybel lees, kan ons let op waar en hoe party van God se knegte die spoor byster geraak het en sodoende waarskuwende voorbeelde geword het. Ons kan sien dat party geleidelik verkeerde gesindhede of neigings ontwikkel het, wat uiteindelik droewige gevolge gehad het. Hoe kan ons lesse uit hierdie verslae leer? Ons kan ons vrae afvra soos: ‘Waar het dit begin? Kan so ’n neiging by my ontstaan? Wat kan ek doen om dit te vermy en eerder by hierdie waarskuwende voorbeeld baat te vind?’

21 Ons moet hierdie voorbeelde beslis ernstig oorweeg, want Paulus is geïnspireer om te skryf: “Hierdie dinge het hulle as voorbeelde bly oorkom, en dit is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het.”—1 Kor. 10:11.

Wat het jy geleer?

• Waarom kan jy goeie sowel as waarskuwende voorbeelde in die Bybel vind?

• Hoe het Salomo toegelaat dat ’n slegte patroon in sy lewe ontwikkel?

• Hoe kan jy by Salomo se waarskuwende voorbeeld baat vind?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 9]

Salomo het godgegewe wysheid toegepas

[Prente op bladsy 12]

Vind jy baat by die waarskuwende voorbeeld met betrekking tot Salomo?