Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie toelaat dat siekte jou van jou vreugde beroof nie

Moenie toelaat dat siekte jou van jou vreugde beroof nie

Moenie toelaat dat siekte jou van jou vreugde beroof nie

STEL jou voor jy word wakker en wens dat die dag verby is nog voordat dit eers begin het. Jy moet nog ’n dag van fisiese of emosionele pyn verduur. Jy voel dalk selfs soos Job, wat gesê het: “Ek sal die dood bo al my lyding verkies” (Job 7:15, The New English Bible). Sê nou hierdie toestand duur voort, miskien selfs jare lank?

Dit was die geval met Mefiboset, die seun van koning Dawid se vriend Jonatan. Toe Mefiboset vyf jaar oud was, “het hy geval en kreupel geword” (2 Sam. 4:4). Emosionele pyn moes die pyn van sy gestremdheid vererger het toe hy later valslik daarvan beskuldig is dat hy die koning verraai het en toe ’n materiële verlies gely het. Nogtans was hy deurentyd ’n wonderlike voorbeeld van iemand wat ’n gebrek, laster en teleurstellings die hoof gebied het en nie toegelaat het dat dit hom van sy vreugde beroof nie.—2 Sam. 9:6-10; 16:1-4; 19:24-30.

Die apostel Paulus is nog ’n voorbeeld. Hy het eenkeer geskryf van “’n doring in die vlees” waarmee hy te kampe gehad het (2 Kor. 12:7). Die doring wat hy gemeld het, was dalk ’n langdurige kwaal of miskien die mense wat sy apostelskap betwis het. Hoe dit ook al sy, die probleem het voortgeduur, en hy moes saamleef met die fisiese of emosionele pyn wat dit veroorsaak het.—2 Kor. 12:9, 10.

Vandag word party van God se knegte deur uitmergelende chroniese siektes of emosionele spanning geteister. Op 18-jarige ouderdom is Magdalena gediagnoseer met sistemiese lupus eritematose, ’n siekte waar die liggaam se immuunstelsel blykbaar sy eie organe aanval. “Ek was vreesbevange”, sê sy. “Met verloop van tyd het my toestand versleg en is dit deur spysverteringsteurnisse, mondsere en skildklierprobleme vererger.” Izabela daarenteen moet toestande die hoof bied wat nie so opvallend is nie. Sy verduidelik: “Ek ly al van jongs af aan depressie. Dit veroorsaak angsaanvalle, asemhalingsprobleme en maagkrampe. Ek voel dus gewoonlik uitgeput.”

Sien die werklikheid onder die oë

Siekte en kwale kan jou lewe ontwrig. Wanneer dit gebeur, help dit om te gaan sit en jou situasie eerlik te evalueer. Dit is dalk nie maklik om jou beperkings te aanvaar nie. Magdalena sê: “My siekte is progressief. Ek is dikwels te moeg om uit die bed op te staan. Die onvoorspelbare aard van my siekte maak dit vir my baie moeilik om vooruit te beplan. My grootste frustrasie is dat ek nie meer soveel in Jehovah se diens kan doen as wat ek voorheen gedoen het nie.”

Zbigniew verduidelik: “Die gewrigsrumatiek mergel my met die verloop van jare uit en beskadig die een gewrig ná die ander. Soms wanneer die ontsteking erg is, kan ek nie eers die eenvoudigste takie verrig nie. Dit maak my baie terneergedruk.”

’n Paar jaar gelede is Barbara met ’n progressiewe breingewas gediagnoseer. “My liggaam het skielike veranderinge ondergaan”, sê sy. “Ek is lusteloos, kry dikwels hoofpyn en sukkel om te konsentreer. My nuwe beperkings het my verplig om al my bedrywighede te herevalueer.”

Hierdie mense is almal toegewyde knegte van Jehovah. Om sy wil te doen, is hulle eerste prioriteit. Hulle stel hulle volle vertroue in God en vind baat by sy ondersteuning.—Spr. 3:5, 6

Jehovah help—Hoe?

Ons moenie dink dat ’n persoonlike beproewing ’n bewys is van God se misnoeë nie (Klaagl. 3:33). Dink aan wat Job moes deurmaak al was hy “’n onberispelike en regskape man” (Job 1:8). God beproef niemand met bose dinge nie (Jak. 1:13). Alle siektes—insluitende chroniese en emosionele siektes—is ’n jammerlike erfenis wat ons eerste ouers, Adam en Eva, nagelaat het.—Rom. 5:12.

Jehovah en Jesus sal egter nie die regverdiges sonder hulp laat nie (Ps. 34:15). Veral gedurende moeilike tye in ons lewe besef ons dat God ‘ons toevlug en ons vesting’ is (Ps. 91:2). Wat kan jou dan help om jou vreugde te behou wanneer jy te kampe het met toestande waarvoor daar geen maklike oplossing is nie?

Gebed: Jy kan die voorbeeld van God se getroue knegte van ouds volg en jou las in gebed op ons hemelse Vader werp (Ps. 55:22). Sodoende kan jy “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, ondervind. Hierdie innerlike vrede ‘sal jou hart en jou verstandelike vermoëns bewaak’ (Fil. 4:6, 7). Magdalena verduur haar uitmergelende siekte deur op God te vertrou deur middel van gebed. Sy sê: “Wanneer ek my hart teenoor Jehovah uitstort, bring dit verligting en herstel dit my vreugde. Nou verstaan ek werklik wat dit beteken om dag ná dag op God te vertrou.”—2 Kor. 1:3, 4.

In antwoord op jou gebede kan Jehovah jou versterk deur middel van sy heilige gees, sy Woord en die Christenbroederskap. Jy sal nie verwag dat God jou kwaal of gebrek op wonderdadige wyse moet wegneem nie. Maar jy kan op hom staatmaak om jou die nodige wysheid en krag te gee om enige teëspoed die hoof te bied (Spr. 2:7). Hy kan jou versterk deur jou “die krag wat bo die normale is”, te gee.—2 Kor. 4:7.

Gesin: ’n Liefdevolle en medelydende atmosfeer by die huis kan jou help om siekte te verduur. Maar hou in gedagte dat jou geliefdes ook ly. Hulle voel dalk net so hulpeloos soos jy. Hulle is nogtans daar om jou te ondersteun, selfs in moeilike tye. As julle saam bid, sal dit julle help om ’n kalm hart te behou.—Spr. 14:30.

Barbara sê oor haar dogter en ander jong susters in die gemeente: “Hulle ondersteun my in die bediening. Hulle ywer verbly my hart.” Vir Zbigniew is sy vrou se ondersteuning van onskatbare waarde. “Sy sien om na die meeste huishoudelike takies. Sy help my ook om aan te trek en sy dra dikwels my sak na die Christelike vergaderinge en in die bediening.”

Medegelowiges: Dit is vir ons aanmoedigend en vertroostend om saam met ons medegelowiges te wees. Maar sê nou dat jy weens jou siekte nie vergaderinge kan bywoon nie? Magdalena sê: “Die gemeente sorg dat ek by die vergaderinge baat vind deur middel van oudio-opnames. Medegelowiges bel my dikwels om te hoor wat hulle nog kan doen om my te help. Hulle stuur ook aanmoedigende briewe aan my. Die wete dat hulle aan my dink en besorg is oor my welsyn, help my om te volhard.”

Izabela, wat aan depressie ly, vertel: “In die gemeente het ek baie ‘vaders’ en ‘moeders’, wat na my luister en my probeer verstaan. Die gemeente is my gesin—hier geniet ek vrede en vreugde.”

Diegene wat allerhande beproewinge verduur, moet hulle nie “afsonder” nie. Hulle moet eerder hulle assosiasie met die gemeente waardeer (Spr. 18:1). Sodoende word hulle ’n groot bron van aanmoediging vir ander. Jy huiwer dalk aanvanklik om die broers en susters te laat weet wat jy nodig het. Maar jou medegelowiges sal jou openhartigheid waardeer. Dit sal hulle die geleentheid bied om “ongeveinsde broederlike geneentheid” te betoon (1 Pet. 1:22). Laat hulle gerus weet dat jy vervoer na die vergadering nodig het, saam met hulle in die bediening wil werk of graag ’n intieme gesprek met hulle wil hê. Ons moet natuurlik nie veeleisend wees nie, maar moet hulle hulp waardeer.

Wees positief: Die sleutel om chroniese siekte te verduur sonder om jou vreugde te verloor, is dikwels in jou eie hande. Voortdurende swaarmoedigheid en terneergedruktheid kan tot negatiewe denke lei. Die Bybel sê: “Die gees van ’n man kan sy kwaal verdra; maar wat ’n verslae gees betref, wie kan dit verduur?”—Spr. 18:14.

Magdalena sê: “Ek lê my daarop toe om nie op my probleme te konsentreer nie. Ek probeer die dae geniet wanneer ek wel beter voel. Dit is vir my aanmoedigend om die lewensverhale te lees van mense wat getrou gebly het ondanks chroniese siekte.” Izabela word versterk deur die gedagte dat Jehovah haar liefhet en haar waardeer. Sy sê: “Ek voel dat ek nodig is, en ek het iemand om voor te lewe. Ek het ook ’n wonderlike hoop vir die toekoms.”

Zbigniew sê: “My siekte leer my nederigheid en gehoorsaamheid. Dit leer my om insig en goeie oordeel aan die dag te lê asook om uit die hart te vergewe. Ek het geleer om my diens aan Jehovah te geniet en nie vir myself jammer te voel nie. Trouens, ek is beweeg om aan te hou om geestelike vooruitgang te maak.”

Hou in gedagte dat Jehovah jou volharding raaksien. Hy het meegevoel met jou in jou lyding en hy gee vir jou om. Hy sal nie jou ‘werk vergeet en die liefde wat jy vir sy naam getoon het nie’ (Heb. 6:10). Neem die belofte ter harte wat hy aan almal maak wat hom vrees: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.”—Heb. 13:5.

As jy wel soms terneergedruk voel, fokus op die wonderlike hoop om in die nuwe wêreld te lewe. Die tyd kom vinnig nader wanneer jy met jou eie oë die seëninge van God se Koninkryk op die aarde sal sien!

[Venster/Prente op bladsye 28, 29]

Hulle hou aan preek ondanks chroniese siekte

“Omdat ek nie meer op my eie kan loop nie, vergesel my vrou of ander broers en susters my in die bediening. Ek memoriseer aanbiedings en Bybeltekste.”—Jerzy, wat gesiggestremd is.

“Benewens telefoongetuieniswerk skryf ek briewe en korrespondeer ek gereeld met ’n paar belangstellendes. Wanneer ek in die hospitaal is, sit ek altyd die Bybel en publikasies langs my bed. Dit het my al gehelp om talle goeie gesprekke aan te knoop.”—Magdalena, wat met sistemiese lupus eritematose gediagnoseer is.

“Ek hou van die deur-tot-deur-bediening, maar wanneer ek nie daarvoor kans sien nie, doen ek telefoongetuieniswerk.”—Izabela, wat aan kliniese depressie ly.

“Ek geniet dit om herbesoeke te doen en ’n bydrae by Bybelstudies te lewer. Op dae wanneer ek nie te sleg voel nie, hou ek daarvan om van huis tot huis te getuig.”—Barbara, wat ’n breingewas het.

“Ek dra net ’n baie ligte tydskrifsak. Ek bly uit so lank as wat my pynlike gewrigte my toelaat.”—Zbigniew, wat aan gewrigsrumatiek ly.

[Prent op bladsy 30]

Jonk en oud kan ’n bron van aanmoediging wees