Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom moet ons deur God se gees gelei word?

Waarom moet ons deur God se gees gelei word?

Waarom moet ons deur God se gees gelei word?

“U is my God. U gees is goed; mag dit my . . . lei.”—PS. 143:10.

1. Lig toe hoe ’n onsigbare krag ’n mens kan lei.

 HET jy al ooit ’n kompas gebruik om jou pad te vind? ’n Kompas is ’n eenvoudige toestel met net een bewegende deel—’n magnetiese naald wat noord wys. Weens ’n onsigbare krag wat magnetisme genoem word, oriënteer die kompasnaald hom in ooreenstemming met die magnetiese veld wat rondom die aarde tussen die pole loop. Eeue lank al gebruik ontdekkings- en ander reisigers die kompas om hulle oor land en see te lei.

2, 3. (a) Watter sterk krag het Jehovah ontelbare eeue gelede gebruik? (b) Waarom moet ons verwag dat God se onsigbare werkende krag vandag ons lewe sal rig?

2 Daar is nog ’n onsigbare krag wat selfs noodsaakliker is vir ons leiding. Wat is dit? Die een wat in die eerste verse van die Bybel beskryf word. Met verwysing na wat Jehovah ontelbare eeue gelede gedoen het, sê Genesis: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Toe hy dit gedoen het, het hy ’n sterk krag uitgestuur, want die skeppingsverslag voeg by: “God se werkende krag het heen en weer . . . beweeg” (Gen. 1:1, 2). Wat was hierdie krag? Heilige gees—die dinamiese krag agter die skepping. Ons het ons bestaan daaraan te danke dat Jehovah hierdie gees gebruik het om al sy werke voort te bring.—Job 33:4; Ps. 104:30.

3 Moet ons as lewende wesens verwag dat God se werkende krag enige verdere uitwerking op ons lewe sal hê? God se Seun het geweet dat ons dit moet verwag, want Jesus het vir sy dissipels gesê: “Die gees [sal] julle in die hele waarheid inlei” (Joh. 16:13). Wat is hierdie gees, en waarom moet ons daardeur gelei wil word?

Wat die heilige gees is

4, 5. (a) Wat dink Trinitariërs verkeerdelik dat die heilige gees is? (b) Hoe sal jy verduidelik wat die heilige gees werklik is?

4 Party mense met wie jy in die bediening praat, het waarskynlik ’n onskriftuurlike beskouing van die heilige gees. Trinitariërs dink verkeerdelik dat dit ’n geespersoon is wat gelyk is aan God die Vader (1 Kor. 8:6). Maar daar kan maklik bewys word dat die leerstelling van die Drie-eenheid in stryd is met die Skrif.

5 Wat is die heilige gees dan werklik? ’n Voetnoot by Genesis 1:2 in die New World Translation of the Holy Scriptures—With References sê: “Ruʹach [Hebreeus] word nie net met ‘gees’ vertaal nie, maar ook met ‘wind’ en met ander woorde wat op ’n onsigbare werkende krag dui.” (Vergelyk voetnote by Genesis 3:8; 8:1.) Net soos die wind onsigbaar is, maar krag uitoefen, is die onstoflike, onpersoonlike heilige gees onsigbaar, maar het dit ’n kragtige uitwerking. Hierdie gees is energie wat van God kom en wat uitgestuur en op mense of dinge uitgeoefen word om sy wil te volbring. Is dit moeilik om te glo dat so ’n wonderlike krag afkomstig is van die heilige Bron, God die Almagtige? Glad nie!—Lees Jesaja 40:12, 13.

6. Watter betekenisvolle versoek het Dawid tot Jehovah gerig?

6 Kan Jehovah voortgaan om sy gees te gebruik om ons deur die lewe te lei? Hy het die psalmis Dawid belowe: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan” (Ps. 32:8). Wou Dawid dit hê? Ja, want hy het Jehovah versoek: “Leer my om u wil te doen, want u is my God. U gees is goed; mag dit my . . . lei” (Ps. 143:10). Ons moet dieselfde begeerte en bereidwilligheid hê om deur God se gees gelei te word. Waarom? Beskou vier redes.

Ons is nie bevoeg om onsself te lei nie

7, 8. (a) Waarom kan ons ons nie onafhanklik van God rig nie? (b) Lig toe waarom ons dit nie moet waag om ons eie weg deur hierdie goddelose stelsel van dinge te probeer vind nie.

7 Eerstens, ons moet deur God se gees gelei wil word omdat ons nie bevoeg is om onsself te lei nie. “Om te lei”, beteken “om in ’n rigting te stuur of om te toon watter weg gevolg moet word”. Maar Jehovah het ons nie geskep met die vermoë om dít self te doen nie, veral nie in ons onvolmaakte toestand nie. Sy profeet Jeremia het geskryf: “Ek weet, Here, die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie” (Jer. 10:23, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). En waarom nie? Jeremia het God se ontleding gehoor van waarom ons onsself nie kan rig nie. Met verwysing na die mens wat ons innerlik is, het Jehovah gesê: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat. Wie kan dit ken?”—Jer. 17:9; Matt. 15:19.

8 Sal dit nie roekeloos wees van ’n onervare persoon om alleen, sonder ’n ervare gids en selfs sonder ’n kompas, op ’n staptog diep in ’n onbekende wildernis te gaan nie? Aangesien hy nie weet hoe om die onveilige toestande in die wildernis te oorleef nie en nie die ervaring het om sy weg veilig na sy bestemming te vind nie, sal hy sy lewe in gevaar stel. Net so stel iemand wat dink dat hy self sy weg deur hierdie goddelose wêreld kan rig sonder om toe te laat dat God vir hom die regte weg wys, sy lewe in ernstige gevaar. Ons enigste kans om ons weg met welslae deur hierdie stelsel van dinge te vind, is om dieselfde biddende versoek tot Jehovah te rig as Dawid: “Laat my treë vashou aan u spore, waarin my voetstappe beslis nie sal wankel nie” (Ps. 17:5; 23:3). Hoe is dit moontlik om hierdie leiding te ontvang?

9. Hoe kan God se gees vir ons as ’n betroubare gids dien, soos uitgebeeld word op bladsy 17?

9 As ons nederig is en bereid is om op Jehovah te vertrou, sal hy vir ons sy heilige gees gee as ’n betroubare gids vir ons voetstappe. Hoe sal hierdie werkende krag ons help? Jesus het aan sy dissipels verduidelik: “Die helper, die heilige gees, wat die Vader in my naam sal stuur, dié sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat ek julle vertel het” (Joh. 14:26). Wanneer ons God se Woord, insluitende al Christus se woorde, gereeld en biddend bestudeer, sal die heilige gees ons begrip van Jehovah se diepe wysheid laat toeneem sodat ons noukeurig in ooreenstemming met sy wil kan optree (1 Kor. 2:10). En ook as ons op die weg na die lewe voor ’n onverwagte wending te staan kom, sal die gees vir ons wys watter rigting om in te slaan. Dit sal ons herinner aan Bybelbeginsels wat ons reeds geleer het en ons help om te verstaan hoe ons dit kan toepas om ons volgende tree te rig.

Jesus is deur God se gees gelei

10, 11. Watter verwagting het die enigverwekte Seun van God aangaande die heilige gees gehad, en wat het hy ondervind?

10 ’n Tweede rede waarom ons die begeerte moet hê om deur die heilige gees gelei te word, is dat God sy Seun daardeur gelei het. Voordat die enigverwekte Seun van God aarde toe gekom het, was hy bewus van die profesie: “Op hom sal die gees van Jehovah rus, die gees van wysheid en van begrip, die gees van raad en van mag, die gees van kennis en van die vrees van Jehovah” (Jes. 11:2). Stel jou voor hoe gretig Jesus moes gewees het om die hulp van God se gees te ontvang weens die milieu waarin hy hom hier op die aarde bevind het!

11 Jehovah se woorde is bewaarheid. Die Evangelieverslag vertel wat onmiddellik ná Jesus se doop gebeur het: “En Jesus het vol heilige gees van die Jordaan af weggegaan, en hy is deur die gees in die wildernis rondgelei” (Luk. 4:1). Daar het Jehovah, terwyl Jesus gevas, gebid en gepeins het, waarskynlik sy Seun onderrig en ingelig oor wat vir hom voorgelê het. God se werkende krag was werksaam in Jesus se verstand en hart en het sy denke en besluite gerig. Gevolglik het Jesus geweet wat om in elke situasie te doen, en hy het gedoen presies wat sy Vader wou hê hy moes doen.

12. Waarom is dit belangrik dat ons vra dat God se gees ons lei?

12 Omdat Jesus geweet het hoe waardevol die uitwerking van God se gees in sy lewe is, het hy by sy dissipels die belangrikheid daarvan ingeprent om vir heilige gees te vra en daardeur gelei te word. (Lees Lukas 11:9-13.) Waarom is dit so belangrik vir ons? Omdat dit ons denke kan verander sodat dit ooreenkom met die denke van Christus (Rom. 12:2; 1 Kor. 2:16). As ons toelaat dat God se gees ons lewe rig, kan ons soos Christus dink en sy voorbeeld navolg.—1 Pet. 2:21.

Die wêreld se gees sal ons mislei

13. Wat is die wêreld se gees, en wat bring dit voort?

13 Die derde rede waarom ons deur God se gees gelei wil word, is dat ons daarsonder mislei kan word deur die onheilige gees wat vandag werksaam is in die lewe van die meeste mense. Die wêreld het sy eie sterk dryfkrag wat gedrag bevorder wat heeltemal in stryd is met wat die heilige gees in ons kan voortbring. Die wêreld se gees bevorder nie die denke van Christus in mense nie, maar laat hulle denke en dade eerder ooreenkom met dié van die heerser van die wêreld, Satan. (Lees Efesiërs 2:1-3; Titus 3:3.) Wanneer iemand voor die wêreld se gees swig en die werke van die vlees begin beoefen, bring dit ernstige gevolge mee, wat sal voorkom dat hy God se Koninkryk beërf.—Gal. 5:19-21.

14, 15. Hoe kan ons die gees van die wêreld met welslae weerstaan?

14 Jehovah het ons toegerus om die gees van die wêreld te weerstaan. Die apostel Paulus het gesê: “Hou aan om krag te verkry in die Here en in die mag van sy sterkte . . . sodat julle in die bose dag weerstand kan bied” (Ef. 6:10, 13). Deur middel van sy gees versterk Jehovah ons om Satan se pogings om ons te mislei, die hoof te bied (Op. 12:9). Die gees van die wêreld is sterk, en ons kan dit nie heeltemal vermy nie. Maar ons hoef nie daardeur verderf te word nie. Die heilige gees is selfs sterker, en dit sal ons help!

15 Aangaande diegene wat die Christelike godsdiens in die eerste eeu versaak het, het die apostel Petrus gesê: “Omdat hulle die reguit weg verlaat het, is hulle mislei” (2 Pet. 2:15). Hoe dankbaar kan ons tog wees dat ons “nie die gees van die wêreld ontvang [het] nie, maar die gees wat van God kom”! (1 Kor. 2:12). Met behulp van die invloed daarvan en deur al Jehovah se voorsienings om ons geestelik op die regte weg te hou, ten volle te benut, kan ons die sataniese gees van hierdie goddelose wêreld met welslae weerstaan.—Gal. 5:16.

Die heilige gees bring goeie vrug voort

16. Watter vrug kan die heilige gees in ons voortbring?

16 ’n Vierde rede waarom ons wil hê dat God se gees in ons werksaam moet wees, is dat dit heilsame vrug voortbring in die lewe van diegene wat daardeur gelei word. (Lees Galasiërs 5:22, 23.) Wie onder ons wil nie liefdevoller, vreugdevoller en vredeliewender wees nie? Wie van ons wil nie oorvloedig wees in lankmoedigheid, goedhartigheid en goedheid nie? Wie van ons sal nie daarby baat vind om groter geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing aan te kweek nie? God se gees bring goeie eienskappe in ons voort wat ons sowel as diegene saam met wie ons woon en dien, tot voordeel strek. Ons moet ons voortdurend daarop toelê om die vrug van die gees aan te kweek, aangesien daar geen perke is aan hoeveel van hierdie vrug ons nodig het en mag voortbring nie.

17. Hoe kan ons ’n aspek van die vrug van die gees in groter mate aankweek?

17 Dit is verstandig van ons om onsself te ondersoek om seker te maak dat ons woorde en dade bewys lewer dat ons deur die heilige gees gerig word en die vrug daarvan voortbring (2 Kor. 13:5a; Gal. 5:25). As ons sien dat ons party aspekte van die vrug van die gees moet aankweek, kan ons in groter mate met die heilige gees saamwerk om hierdie eienskappe voort te bring. Ons doen dit deur ’n studie te maak van elke aspek, soos dit deur die Bybel geopenbaar en in ons Christelike publikasies bespreek word. So kan ons onderskei hoe die vrug van die gees in ons alledaagse lewe aan die dag gelê moet word en ons dan daarop toelê om dit in groter mate aan te kweek. a Wanneer ons die resultate van die werking van God se gees in ons eie lewe sowel as in die lewe van ons mede-Christene waarneem, sien ons duidelik waarom ons daardeur gelei moet word.

Onderwerp jy jou aan God se gees?

18. Hoe is Jesus vir ons ’n voorbeeld in die manier waarop hy op God se gees gereageer het?

18 As God se “meesterwerker” in die skepping van die fisiese heelal het Jesus alles geweet omtrent die aarde se magnetiese veld, wat mense help wanneer hulle ’n kompas gebruik (Spr. 8:30; Joh. 1:3). Daar is egter geen bewyse in die Bybel dat Jesus ooit van hierdie krag gebruik gemaak het om sy pad te vind toe hy op die aarde was nie. Die Bybel toon wel dat hy as ’n mens die kragtige uitwerking van God se heilige gees in sy lewe ondervind het. Hy het die uitwerking daarvan verwelkom, en wanneer dit hom gedryf het om iets te doen, het hy hom daaraan onderwerp en dienooreenkomstig opgetree (Mark. 1:12, 13; Luk. 4:14). Is dit wat jy doen?

19. Wat moet ons doen as ons wil hê dat die heilige gees die leidende krag in ons lewe moet word?

19 God se werkende krag is nog steeds werksaam in gewillige verstande en harte om hulle te beweeg en te lei. Hoe kan jy dit in jou werksaam laat wees om jou in die regte rigting te lei? Bid voortdurend tot Jehovah dat hy vir jou sy gees stuur en jou help om jou aan die invloed daarvan te onderwerp. (Lees Efesiërs 3:14-16.) Tree in ooreenstemming met jou gebede op deur te soek na die raad in God se geskrewe Woord, die Bybel—’n produk van die heilige gees (2 Tim. 3:16, 17). Gehoorsaam die wyse voorskrifte daarin, en reageer dan ywerig op die leiding van die heilige gees. Tree op met geloof in Jehovah se vermoë om jou met welslae deur die lewe in hierdie goddelose wêreld te lei.

[Voetnoot]

a Vir ’n bespreking van elke aspek, sien die onderwerp “Fruitage of God’s Spirit” en die opskrif “List by Aspect” in die Watch Tower Publications Index.

Het jy die hoofgedagtes begryp?

• Hoe kan die heilige gees ’n uitwerking op ons lewe hê?

• Om watter vier redes moet ons deur God se gees gelei wil word?

• Wat moet ons doen om ten volle baat te vind by die leiding van die heilige gees?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

God se gees was ’n dryfkrag in Jesus se lewe

[Prent op bladsy 17]

God se gees is werksaam in verstande en harte om hulle te beweeg en te lei