‘Hoe sal ek kan preek?’
‘Hoe sal ek kan preek?’
Regoor die wêreld het ons voortreflike voorbeelde van broers en susters wat getrou aan die predikingswerk deelneem ondanks ernstige gesondheidsprobleme. Beskou die voorbeeld van Dalia, wat in Vilnius, die hoofstad van Litaue, woon.
Dalia is ’n suster in haar middeldertigerjare. Sy ly al van geboorte af aan die gevolge van serebrale beroerte. Sy is verlam en het ’n ernstige spraakgebrek. Gevolglik kan net haar gesinslede haar goed verstaan. Dalia woon by haar ma, Galina, wat na haar behoeftes omsien. Hoewel Dalia al baie teëspoed en kwellinge in haar lewe ervaar het, behou sy ’n positiewe uitkyk. Hoe is dit moontlik?
Galina verduidelik: “In 1999 het my niggie Apolonija by ons kom kuier. Ons het opgelet dat Apolonija, wat een van Jehovah se Getuies is, haar Bybel goed ken, en Dalia het haar baie vrae begin vra. Kort voor lank is ’n Bybelstudie met Dalia begin. Nou en dan het ek tydens die studie bygesit sodat ek kon help verduidelik wat Dalia sê. Maar ek het opgelet dat alles wat sy geleer het, haar werklik tot voordeel gestrek het. Dit was nie lank nie of ek het ook ’n Bybelstudie gevra.”
Toe Dalia Bybelwaarhede begin verstaan het, het een vraag haar al hoe meer begin pla. Uiteindelik het sy vir Apolonija gevra: “Hoe kan iemand soos ek—wat verlam is—preek?” (Matt. 28:19, 20). Apolonija het Dalia kalm verseker: “Moenie bang wees nie. Jehovah sal jou help.” En Jehovah help beslis.
Hoe preek Dalia dan? Op verskeie maniere. Christensusters help haar om briewe met ’n Bybelboodskap op te stel. Eers dra Dalia haar gedagtes aan die susters oor. Dan skryf hulle ’n brief wat haar gedagtes bevat. Dalia getuig ook deur SMS’e te stuur. En wanneer die weer saamspeel, neem gemeentelede haar uit sodat sy met mense kan praat wat hulle in plaaslike parke en op straat ontmoet.
Dalia en haar ma het aangehou om geestelike vordering te maak. Albei het hulle aan Jehovah toegewy en is in November 2004 gedoop. In September 2008 is ’n Poolssprekende groep in Vilnius gevorm. Aangesien die groep meer Koninkryksverkondigers nodig gehad het, het Dalia en haar ma by hulle aangesluit. Dalia sê: “Party maande raak ek bekommerd wanneer ek nog nie in velddiens uit was nie. Maar kort nadat ek hieroor tot Jehovah gebid het, reël iemand gewoonlik om saam met my in die bediening uit te gaan.” Hoe voel ons dierbare suster Dalia oor haar situasie? Sy sê: “Die siekte het my liggaam verlam, maar dit het nie my verstand verlam nie. Ek is so bly dat ek ander van Jehovah kan vertel!”