Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer waaksaamheid by Jesus se apostels

Leer waaksaamheid by Jesus se apostels

“Hou aan om saam met my te waak.”—MATT. 26:38.

1-3. Hoe het die apostels versuim om gedurende Jesus se laaste nag op die aarde aan te hou waak, en wat toon dat hulle uit hulle fout geleer het?

STEL jou die toneel voor op die laaste aand van Jesus se aardse lewe. Jesus het na een van sy gunstelingplekke gekom, die tuin van Getsemane, net oos van Jerusalem. Hy het saam met sy getroue apostels hierheen gekom. Baie dinge druk swaar op Jesus se gemoed, en daarom wil hy alleen wees sodat hy kan bid.—Matt. 26:36; Joh. 18:1, 2.

2 Drie van die apostels—Petrus, Jakobus en Johannes—gaan saam met Jesus na ’n plek dieper in die tuin. “Bly hier en hou aan om saam met my te waak”, sê hy vir hulle, en dan gaan hy ’n entjie verder om te bid. Wanneer hy terugkom, vind hy sy vriende vas aan die slaap. Hy versoek hulle weer: “Hou aan waak.” Maar hulle raak nog twee keer aan die slaap! Later daardie selfde nag versuim al die apostels om geestelik wakker te bly. Hulle verlaat Jesus selfs en vlug!—Matt. 26:38, 41, 56.

3 Die apostels was sekerlik spyt dat hulle versuim het om aan te hou waak. Hierdie getroue manne het gou uit hulle fout geleer. Die Bybelboek Handelinge toon dat hulle daarna ’n uitstekende voorbeeld in waaksaamheid gestel het. Hulle getroue lewenswyse het ongetwyfeld hulle mede-Christene beweeg om ook waaksaam te bly. Ons moet vandag meer as ooit tevore aanhou waak (Matt. 24:42). Kom ons bespreek drie lesse oor waaksaamheid wat ons uit die boek Handelinge kan leer.

WAAKSAAM TEN OPSIGTE VAN LEIDING OOR WAAR OM TE PREEK

4, 5. Hoe het Paulus en sy reisgenote die leiding van die heilige gees ervaar?

4 Om mee te begin: Die apostels was waaksaam ten opsigte van leiding oor waar om te preek. In een verslag sien ons hoe Jesus die heilige gees, wat Jehovah tot sy beskikking gestel het, gebruik het om die apostel Paulus en sy reisgenote tydens ’n baie ongewone reis te lei (Hand. 2:33). Kom ons sluit by hulle aan.—Lees Handelinge 16:6-10.

5 Paulus, Silas en Timoteus het die stad Listra in die suide van Galasië verlaat. Dae later het hulle ’n Romeinse hoofpad bereik wat weswaarts geloop het na die digs bevolkte deel van die landstreek Asië. Hulle wou hierdie pad neem sodat hulle stede kon besoek waar duisende mense van Christus moes hoor. Maar iets het hulle verhinder om verder te gaan. Vers 6 sê: “Hulle het . . . deur Frigië en die land van Galasië gegaan, omdat hulle deur die heilige gees verbied is om die woord in die landstreek Asië te spreek.” Op die een of ander ongenoemde manier het die heilige gees die reisigers verhinder om in die provinsie Asië te preek. Klaarblyklik wou Jesus—deur middel van God se gees—Paulus en sy metgeselle in ’n ander rigting stuur.

6, 7. (a) Wat het met Paulus en die ander reisigers naby Bitinië gebeur? (b) Watter besluit het die dissipels geneem, en met watter gevolg?

6 Waarheen het die gretige reisigers gegaan? Vers 7 verduidelik: “En toe hulle tot by Misië afgekom het, het hulle pogings aangewend om na Bitinië te gaan, maar die gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie.” Omdat Paulus en sy metgeselle verhinder is om in Asië te preek, het hulle noordwaarts gegaan om in die stede van Bitinië te preek. Maar toe hulle naby Bitinië kom, het Jesus weer die heilige gees gebruik om hulle te keer. Teen dié tyd was die manne sekerlik verward. Hulle het geweet waaroor om te preek en hoe om te preek, maar hulle het nie geweet waar om te preek nie. Ons kan dit so stel: Hulle het aan die deur geklop wat na Asië gelei het—maar tevergeefs. Hulle het aan die deur geklop wat na Bitinië gelei het—weer tevergeefs. Het hulle opgehou klop? Nie hierdie ywerige predikers nie!

7 Op hierdie stadium het die manne ’n besluit geneem wat miskien ietwat vreemd gelyk het. Vers 8 sê vir ons: “Hulle het Misië . . . verbygegaan en afgekom na Troas.” Die reisigers het dus weswaarts gegaan en 563 kilometer geloop, verby die een stad ná die ander totdat hulle die hawestad Troas, die natuurlike poort na Masedonië, bereik het. Daar het Paulus en sy metgeselle vir die derde keer aan ’n deur geklop, maar dié keer het dit wawyd oopgeswaai! Vers 9 vertel wat volgende gebeur het: “Gedurende die nag het Paulus ’n visioen gehad: daar het ’n sekere Masedoniese man gestaan en hom gesoebat en gesê: ‘Kom oor na Masedonië en help ons.’” Uiteindelik het Paulus geweet waar om te preek. Die manne het sonder versuim na Masedonië gevaar.

8, 9. Wat kan ons leer uit die verslag oor Paulus se reis?

8 Wat kan ons uit hierdie verslag leer? Let hierop: Eers nadat Paulus na Asië vertrek het, het God se gees ingegryp. En eers nadat Paulus naby Bitinië gekom het, het Jesus tussenbeide getree. En laastens, eers nadat Paulus Troas bereik het, het Jesus hom na Masedonië gestuur. As Hoof van die gemeente handel Jesus dalk op soortgelyke wyse met ons (Kol. 1:18). Byvoorbeeld, jy oorweeg dit miskien al ’n rukkie om te pionier of na ’n gebied te verhuis waar hulp nodig is. Maar dalk eers nadat jy stappe gedoen het om jou doelwit te bereik, sal Jesus jou deur middel van God se gees lei. Ter toeligting: ’n Bestuurder kan sy motor na links of na regs stuur, maar net as die motor in beweging is. Net so kan Jesus ons rig wanneer ons ons bediening wil uitbrei, maar net as ons reeds in beweging is—as ons pogings aanwend om ons doelwit te bereik.

9 Maar sê nou jou pogings werp nie onmiddellik vrugte af nie? Moet jy tou opgooi en dink dat God se gees jou nie lei nie? Wel, onthou dat Paulus ook voor hindernisse te staan gekom het. Maar hy het aangehou soek en klop totdat hy ’n deur gevind het wat oopgegaan het. As jy eweneens volhard in jou soeke na “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei”, sal jy moontlik ook beloon word.—1 Kor. 16:9.

WAAKSAAM MET DIE OOG OP GEBEDE

10. Wat toon dat dit noodsaaklik is om waaksaam te wees met die oog op gebede as ons wil aanhou waak?

10 Kyk nou na ’n tweede les oor waaksaamheid wat ons by ons eerste-eeuse Christenbroers kan leer: Hulle was waaksaam met die oog op gebede (1 Pet. 4:7). Dit is noodsaaklik om in gebed te volhard as ons wil aanhou waak. Onthou dat Jesus net voordat hy in die tuin van Getsemane in hegtenis geneem is, vir drie van sy apostels gesê het: “Hou aan waak en bid.”Matt. 26:41.

11, 12. Waarom en hoe het Herodes die Christene, Petrus inkluis, mishandel?

11 Petrus, wat by dié geleentheid teenwoordig was, het later self die krag van vurige gebede ondervind. (Lees Handelinge 12:1-6.) In die eerste verse van hierdie verslag vind ons uit dat Herodes die Christene mishandel het om die guns van die Jode te wen. Hy het waarskynlik geweet dat Jakobus ’n apostel is wat besonder na aan Jesus was. Gevolglik het Herodes Jakobus “met die swaard” laat doodmaak (vers 2). So het die gemeente ’n geliefde apostel verloor. Wat ’n toets was dit tog vir die broers!

12 Wat het Herodes hierna gedoen? Vers 3 verduidelik: “Toe hy sien dat dit die Jode behaag, het hy verder ook vir Petrus gearresteer.” Maar tronke kon nie altyd die apostels, Petrus inkluis, binnehou nie (Hand. 5:17-20). Herodes het dit heel moontlik geweet. Die slinkse politikus het geen kans gewaag nie. Hy het Petrus oorgegee aan “vier groepe van vier soldate elk om hom te bewaak, aangesien hy van plan was om hom ná die pasga voor die volk te bring” (vers 4). Dink net! Herodes het Petrus tussen 2 wagte laat boei, met 16 wagte wat dag en nag in skofte gewerk het om seker te maak dat hierdie apostel nie ontsnap nie. Herodes wou Petrus ná die Pasga voor die volk bring, en sy doodsvonnis sou ’n geskenk wees om die skares te behaag. Wat kon Petrus se mede-Christene onder hierdie droewige omstandighede doen?

13, 14. (a) Hoe het die gemeente op Petrus se gevangenskap gereageer? (b) Wat kan ons leer uit die voorbeeld wat Petrus se mede-Christene ten opsigte van gebed gestel het?

13 Die gemeente het geweet presies wat om te doen. Vers 5 sê: “Gevolglik is Petrus in die gevangenis bewaak; maar die gemeente het voortdurend intense gebede tot God vir hom gedoen.” Ja, hulle gebede ten behoewe van hulle geliefde broer was intense smekinge uit die hart. Die dood van Jakobus het hulle dus nie in wanhoop gedompel nie; ook het dit hulle nie laat dink dat gebed nutteloos is nie. Inteendeel, hulle het geweet dat die gebede van getroue aanbidders baie beteken vir Jehovah. As hierdie gebede in ooreenstemming met sy wil is, verhoor hy dit.—Heb. 13:18, 19; Jak. 5:16.

14 Wat kan ons leer uit die reaksie van Petrus se mede-Christene? Om aan te hou waak, beteken dat ons nie net vir onsself bid nie, maar ook vir ons broers en susters (Ef. 6:18). Weet jy van medegelowiges wat gebuk gaan onder beproewinge? Party het dalk te kampe met vervolging, regeringsverbooie of natuurrampe. Bid gerus uit die hart vir hulle. Jy weet miskien van ander wat minder opvallende ontberinge ondervind. Hulle worstel moontlik met gesinsprobleme, mismoedigheid of swak gesondheid. Dink gerus aan spesifieke persone wat jy by name kan noem wanneer jy met Jehovah, die “Hoorder van die gebed”, praat.—Ps. 65:2.

15, 16. (a) Beskryf hoe Jehovah se engel Petrus uit die tronk bevry het. (Sien die prent hieronder.) (b) Waarom is dit vertroostend om na te dink oor hoe Jehovah Petrus gered het?

15 Maar hoe het sake vir Petrus verloop? Gedurende sy laaste nag in die tronk, terwyl hy vas aan die slaap was tussen sy twee wagte, het Petrus ’n reeks verbasende gebeure beleef. (Lees Handelinge 12:7-11.) Stel jou die toneel voor: Skielik het ’n helder lig sy sel gevul. ’n Engel het daar gestaan, blykbaar onsigbaar vir die wagte, en Petrus dringend wakker gemaak. En daardie kettings waarmee sy hande geboei was, het eenvoudig afgeval! Toe het die engel Petrus uit die sel uitgelei, reg langs die wagte verby wat buite gestaan het, en deur die enorme ysterpoort, wat “vanself” oopgegaan het. Toe hulle buite die tronk was, het die engel verdwyn. Petrus was vry!

16 Is dit nie geloofversterkend om na te dink oor Jehovah se vermoë om sy knegte te red nie? Ons verwag natuurlik nie dat Jehovah ons vandag wonderdadig moet verlos nie. Maar ons het die volste vertroue dat hy sy krag ten behoewe van sy hedendaagse volk gebruik (2 Kron. 16:9). Deur middel van sy kragtige heilige gees kan hy ons opgewasse maak teen enige beproewing waarvoor ons te staan kom (2 Kor. 4:7; 2 Pet. 2:9). En Jehovah sal binnekort sy Seun die krag gee om tallose miljoene uit die onverbiddelikste gevangenis, die dood, te bevry (Joh. 5:28, 29). Ons geloof in God se beloftes kan ons groot moed gee wanneer ons vandag met beproewinge te kampe het.

GETUIG DEEGLIK ONDANKS STRUIKELBLOKKE

17. Hoe het Paulus ’n uitstekende voorbeeld daarin gestel om met ywer en dringendheid te preek?

17 Hier is ’n derde les oor waaksaamheid wat ons by die apostels kan leer: Hulle het aangehou om deeglik te getuig ondanks struikelblokke. Dit is noodsaaklik om met ywer en dringendheid te preek as ons wil aanhou waak. Die apostel Paulus was ’n uitstekende voorbeeld in hierdie opsig. Hy het hom ywerig ingespan en baie gereis en talle gemeentes gestig. Hy het baie ontberinge verduur, en tog het hy nooit sy ywer of sy gevoel van dringendheid verloor nie.—2 Kor. 11:23-29.

18. Hoe het Paulus voortgegaan om te getuig toe hy in Rome in aanhouding was?

18 Dink aan die laaste blik wat ons op Paulus se lewe in die boek Handelinge kry, soos opgeteken in Handelinge hoofstuk 28. Paulus het in Rome aangekom, waar hy voor Nero moes verskyn. Hy was in aanhouding, moontlik vasgeketting aan sy wag. Maar geen ketting kon die ywerige apostel die swye oplê nie! Paulus het steeds maniere gevind om te getuig. (Lees Handelinge 28:17, 23, 24.) Ná drie dae het Paulus die vernaamste manne onder die Jode bymekaargeroep om vir hulle te getuig. Toe het hy op ’n gekose dag ’n selfs groter getuienis gegee. Vers 23 sê: “Hulle [die plaaslike Jode] het ’n dag met hom afgespreek, en hulle het in groter getalle na hom toe gekom in sy verblyfplek. En hy het die saak vir hulle verduidelik deur deeglik aangaande die koninkryk van God te getuig en deur aan die hand van die wet van Moses asook die Profete met oorredingskrag met hulle oor Jesus te praat, van die oggend tot die aand.”

19, 20. (a) Waarom was Paulus se getuieniswerk doeltreffend? (b) Hoe het Paulus gereageer toe nie almal die goeie nuus aangeneem het nie?

19 Waarom was Paulus se getuieniswerk so doeltreffend? Let daarop dat vers 23 in werklikheid ’n aantal redes na vore bring. (1) Hy het die aandag gevestig op God se Koninkryk en op Jesus Christus. (2) Hy het sy toehoorders se hart probeer bereik deur ‘met oorredingskrag te praat’. (3) Hy het uit die Skrif geredeneer. (4) Hy het ’n selfopofferende gesindheid aan die dag gelê deur “van die oggend tot die aand” te getuig. Paulus het ’n kragtige getuienis gegee, maar nie almal het gunstig daarop gereageer nie. “Party het die dinge wat gesê is, begin glo; ander het nie geglo nie”, sê vers 24. Onenigheid het ontstaan, en die mense het weggegaan.

20 Was Paulus mismoedig omdat nie almal die goeie nuus aangeneem het nie? Glad nie! Handelinge 28:30, 31 sê vir ons: “Hy [het] ’n volle twee jaar lank in sy eie gehuurde huis gebly, en hy het almal wat na hom toe ingekom het, vriendelik ontvang en die koninkryk van God aan hulle verkondig en die dinge aangaande die Here Jesus Christus geleer met die grootste vrymoedigheid van spraak, sonder enige verhindering.” Op hierdie waarlik bemoedigende noot sluit die boek Handelinge af.

21. Wat kan ons leer uit Paulus se voorbeeld toe hy onder huisarres was?

21 Wat kan ons uit Paulus se voorbeeld leer? Terwyl Paulus onder huisarres was, was hy nie vry om van huis tot huis te getuig nie. Maar hy het ’n positiewe uitkyk behou en vir almal getuig wat na hom toe gekom het. Net so behou baie van God se hedendaagse knegte hulle vreugde en hou hulle aan om te preek al word hulle ten onregte in die tronk gegooi weens hulle geloof. Party van ons dierbare broers en susters is huisgebonde of is miskien selfs in verpleeginrigtings weens bejaardheid of siekte. Sover dit vir hulle moontlik is, preek hulle vir dokters en personeellede, besoekers en ander wat na hulle toe kom. Hulle hartsbegeerte is om deeglik oor God se Koninkryk te getuig. Hoe waardeer ons tog die voorbeeld wat hulle stel!

22. (a) Watter voorsiening help ons om baat te vind by die Bybelboek Handelinge? (Sien die venster hierbo.) (b) Wat is jy vasbeslote om te doen terwyl jy op die einde van hierdie ou stelsel van dinge wag?

22 Dit is duidelik dat ons baie oor waaksaamheid kan leer by die apostels en ander eerste-eeuse Christene wat in die Bybelboek Handelinge genoem word. Laat ons, terwyl ons op die einde van hierdie ou stelsel van dinge wag, vasbeslote wees om hierdie eerste-eeuse Christene na te volg deur moedig en ywerig te getuig. Om ‘deeglik te getuig’ oor God se Koninkryk, is die allergrootste voorreg wat ons vandag kan hê!—Hand. 28:23.

[Studievrae]

[Venster op bladsy 13]

“DIE BOEK HANDELINGE SAL NOOIT WEER VIR MY DIESELFDE WEES NIE”

Nadat ’n reisende opsiener die boek ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk gelees het, het hy sy gevoelens soos volg uitgedruk: “Die boek Handelinge sal nooit weer vir my dieselfde wees nie. Ek het al dikwels deur die verslag in Handelinge ‘geloop’, maar net asof met ’n kers en ’n vuil bril. Nou voel ek asof ek geseën is om die prag daarvan in die helderheid van die son te sien.”

[Prent op bladsy 12]

’n Engel het Petrus deur die enorme ysterpoort gelei