Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ware Christene respekteer God se Woord

Ware Christene respekteer God se Woord

“U woord is die waarheid.”—JOH. 17:17.

1. Noem uit persoonlike ondervinding ’n belangrike opsig waarin Jehovah se Getuies van ander godsdiensgroepe verskil.

DINK aan die eerste keer toe jy ’n sinvolle bespreking met een van Jehovah se Getuies gehad het. Wat onthou jy daaromtrent? Baie sal antwoord: ‘Die feit dat die Getuie die Bybel gebruik het om al my vrae te beantwoord, het my beïndruk.’ Hoe verheug was ons tog om te leer wat God se voorneme met die aarde is, wat gebeur wanneer ons sterf en wat die toekoms vir ons afgestorwe geliefdes inhou!

2. Om watter redes het jy die Bybel begin waardeer?

2 Maar namate ons verder gestudeer het, het ons besef dat die Bybel nie net ons vrae oor die lewe, die dood en die toekoms beantwoord nie. Ons het ook besef dat die Bybel die praktiesste boek in die wêreld is. Die raad daarin is tydloos, en diegene wat dit noukeurig volg, sal ’n suksesvolle en gelukkige lewe lei. (Lees Psalm 1:1-3.) Ware Christene het nog altyd die Bybel aangeneem, “nie as die woord van mense . . . nie maar, soos dit waarlik is, as die woord van God” (1 Tess. 2:13). ’n Kort geskiedkundige oorsig sal die verskil beklemtoon tussen dié wat God se Woord werklik respekteer en dié wat dit nie doen nie.

’N NETELIGE GESKIL WORD BESLEG

3. Watter geskil het die eenheid van die eerste-eeuse Christengemeente bedreig, en wat was op die spel?

3 Gedurende die 13 jaar ná die salwing van die eerste onbesnede nie-Jood, Kornelius, het ’n geskil ontstaan wat die eenheid van die Christengemeente bedreig het. Al hoe meer nie-Jode het die Christelike geloof aangeneem. Die vraag was: Moet die mans in ooreenstemming met die Joodse gebruik besny word voordat hulle hulle vir doop aanbied? Dit was nie vir ’n Jood ’n maklike vraag om te beantwoord nie. Jode wat die Wet onderhou het, het nie eens in ’n nie-Jood se huis ingegaan nie, wat nog te sê hartlike assosiasie met hom geniet. Joodse Christene is reeds hewig vervolg omdat hulle hulle voormalige godsdiens verlaat het. As hulle boonop onbesnede nie-Jode in hulle midde sou verwelkom, sou dit bloot die skeuring tussen belydende Jode en die Christene vergroot en laasgenoemdes aan verdere smaad blootstel.—Gal. 2:11-14.

4. Wie het bymekaargekom om die geskil te besleg, en watter vrae kon in hierdie verband by ander ontstaan het?

4 In 49 HJ het die apostels en ouer manne in Jerusalem, wat self besnede Jode was, “bymekaargekom om op hierdie aangeleentheid in te gaan” (Hand. 15:6). Wat gevolg het, was nie ’n sieldodende teologiese debat oor vervelige tegniese punte nie, maar ’n lewendige leerstellige bespreking. Sterk menings is aan albei kante van die geskil uitgespreek. Sou persoonlike voorkeur of vooroordeel die botoon voer? Sou die verantwoordelike ouer manne die besluit uitstel totdat die godsdiensklimaat in Israel vir hulle verbeter het? Of sou hulle ’n kompromis aangaan waar die voorstanders aan albei kante hulle standpunt wysig totdat hulle die een of ander ooreenstemming bereik het?

5. In watter belangrike opsigte het die vergadering in Jerusalem in 49 HJ verskil van kerkvergaderings wat in latere eeue gehou is?

5 Kompromisse en stemwerwery is vandag algemeen by kerkvergaderings. Maar by daardie vergadering in Jerusalem was daar geen kompromis nie; daar was ook geen stemwerwery nie. Wat meer is, ’n eenparige besluit is geneem. Hoe was dit moontlik? Ongeag hoe sterk elkeen oor sy standpunt gevoel het, almal daar het God se Woord gerespekteer, en hierdie heilige geskrifte het die sleutel tot die beslegting van die geskil bevat.—Lees Psalm 119:97-101.

6, 7. Hoe is die Skrif gebruik om die besnydenisgeskil te besleg?

6 Die Skrifgedeelte wat gehelp het om die saak op te los, was Amos 9:11, 12. Soos aangehaal in Handelinge 15:16, 17, lui dit: “Ek [sal] terugkeer en die vervalle hut van Dawid herbou; en ek sal die puinhope daarvan herbou en dit weer oprig, sodat dié wat oorbly van die mense, Jehovah ernstig kan soek, tesame met mense van al die nasies, mense oor wie my naam uitgeroep is, sê Jehovah.”

7 ‘Maar wag ’n bietjie’, maak iemand dalk beswaar, ‘hierdie teks sê nie dat nie-Joodse gelowiges nie besny hoef te word nie.’ Dit is waar; maar Joodse Christene sou die punt gesnap het. Hulle het nie besnede nie-Jode as ‘mense van die nasies’ beskou nie, maar as broers (Eks. 12:48, 49). Byvoorbeeld, volgens Bagster se weergawe van die Septuagint Ester 8:17: “Baie van die nie-Jode is besny en het Jode geword.” Toe die Skrif dus voorspel het dat dié wat oorbly van die huis van Israel (Jode en besnede Joodse proseliete) tesame met “mense van al die nasies” (onbesnede nie-Jode) een volk vir God se naam sou word, was die boodskap duidelik. Besnydenis was nie ’n vereiste vir nie-Jode wat Christene wou word nie.

8. Watter rol het moed gespeel in die besluit wat geneem is?

8 God se Woord en sy gees het daardie opregte Christene tot “’n eenparige besluit” laat kom (Hand. 15:25). Al sou die besluit Joodse Christene waarskynlik aan groter vervolging blootstel, het getroues die Bybelse besluit ten volle ondersteun.—Hand. 16:4, 5.

’N DUIDELIKE VERSKIL

9. Wat is ’n vername faktor wat tot die besoedeling van ware aanbidding gelei het, en watter belangrike leerstelling is verdraai?

9 Die apostel Paulus het voorspel dat die Christelike geloof ná die dood van die apostels deur valse leringe besoedel sou word. (Lees 2 Tessalonisense 2:3, 7.) Party van diegene wat nie “die gesonde leer” sou verdra nie, het verantwoordelike posisies beklee (2 Tim. 4:3). Paulus het ouer manne in sy dag gewaarsku: “Uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Hand. 20:30). The New Encyclopædia Britannica meld ’n vername faktor wat tot verdraaide redenering gelei het: “Christene wat ’n mate van opleiding in Griekse filosofie gehad het, het begin voel dat hulle hulle geloof in terme daarvan moes uitdruk, vir hulle eie intellektuele bevrediging sowel as om geleerde heidene te bekeer.” ’n Belangrike leerstelling wat ooreenkomstig heidense denke verdraai is, het verband gehou met die identiteit van Jesus Christus. Die Bybel noem hom die Seun van God; die liefhebbers van Griekse filosofie het volgehou dat hy God is.

10. Hoe kon die geskil oor Christus se identiteit besleg geword het?

10 Die kwessie is by ’n aantal kerkvergaderings gedebatteer. Die geskil kon baie maklik besleg geword het as die afgevaardigdes gepaste waarde aan die Skrif geheg het, maar die meeste het nie. Trouens, die meerderheid het reeds tot ’n besluit gekom nog voordat hulle by die kerkvergaderings aangekom het, en hulle het weggegaan met hulle standpunt dieper ingewortel as ooit tevore. Die kerklike leerstellings en verklarings wat uit hierdie vergaderings voortgespruit het, het skaars na die Skrif verwys.

11. Watter waarde is aan die gesag van die sogenaamde Kerkvaders geheg, en waarom?

11 Waarom is die Skrif nie in groter mate gebruik nie? Volgens die geleerde Charles Freeman het diegene wat geglo het dat Jesus God is, “dit moeilik gevind om al Jesus se verklarings wat daarop gedui het dat hy ondergeskik is aan God die Vader, te weerlê”. Gevolglik het kerktradisie en die menings van latere kerkowerhede die Evangelies vervang. Vandag nog verhef baie van die geestelikes die ongeïnspireerde verklarings van sogenaamde Kerkvaders bo die Woord van God! As jy al ooit die Drie-eenheidsleer met ’n teologiese student bespreek het, het jy dit waarskynlik opgemerk.

12. Watter negatiewe invloed het die keiser uitgeoefen?

12 ’n Opmerkenswaardige aspek van die debatte by daardie kerkvergaderings was die inmenging van die Romeinse keisers. In hierdie verband het professor Richard E. Rubenstein aangaande die Konsilie van Nicea geskryf: “Konstantyn het [die biskoppe] meer begunstig en groter rykdom gegee as wat hulle ooit kon droom. In minder as ’n jaar het die nuwe keiser feitlik al hulle kerke terugbesorg of herbou, hulle posisies en titels wat hulle ontneem is, aan hulle teruggegee . . . Hy het aan Christelike geestelikes voorregte verleen wat vroeër aan heidense priesters gegee is.” Gevolglik “was Konstantyn in ’n posisie om die verloop van gebeure by Nicea grootliks te beïnvloed—dit moontlik selfs te beheer”. Charles Freeman het bevestig: “Dit het die presedent geskep dat die keiser kan inmeng om nie net mag aan die Kerk te gee nie, maar ook om leerstellings te beïnvloed.”—Lees Jakobus 4:4.

13. Watter faktore dink jy het kerkleiers van latere eeue beïnvloed om die Bybel se duidelike leringe te ignoreer?

13 Hoewel hooggeplaaste geestelikes gesukkel het om die presiese identiteit van Jesus Christus te bepaal, was dit vir baie van die gewone mense geen probleem nie. Aangesien hulle nie daarin belanggestel het om hulle sakke met die keiser se goud te vul of om hulle loopbaan in die kerkhiërargie te bevorder nie, kon hulle sake objektiewer beskou, in die lig van die Skrif. En dit is blykbaar wat hulle gedoen het. ’n Destydse teoloog, Gregorius van Nyssa, het spottend van die gewone mense gesê: “Klerehandelaars, geldwisselaars en kruideniers is almal teoloë. As jy vra wat jou geld werd is, verduidelik die een of ander filosoof hoe die Seun van die Vader verskil. As jy vra wat brood kos, is jou antwoord dat die Vader groter is as die Seun. As jy wil weet of die bad gereed is, word daar vir jou gesê dat die Seun uit niks geskep is.” Ja, in teenstelling met die lede van die hiërargie het baie van die gewone mense hulle gevolgtrekkings gesteun deur God se Woord te gebruik. Gregorius en sy metgeselle moes eerder na hulle geluister het!

“KORING” EN “ONKRUID” GROEI SAAM

14. Waarom kan ons tot die gevolgtrekking kom dat daar van die eerste eeu af nog altyd ware gesalfde Christene op die aarde was?

14 In ’n gelykenis het Jesus aangedui dat daar van die eerste eeu af altyd ware gesalfde Christene op die aarde sou wees. Hy het hulle vergelyk met “koring” wat tussen “onkruid” groei (Matt. 13:30). Ons kan natuurlik nie met sekerheid sê watter persone of groepe tot die gesalfde koringklas behoort het nie, maar ons kan bevestig dat daar nog altyd sommige was wat God se Woord moedig verdedig het en die kerk se onskriftuurlike leringe blootgelê het. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

15, 16. Noem ’n paar persone wat respek vir God se Woord getoon het.

15 Aartsbiskop Agobard van Lyon, Frankryk (779-840 HJ), het hom uitgespreek teen beeldeaanbidding, kerke wat aan heiliges gewy is en die kerk se onskriftuurlike liturgieë en gebruike. Een van sy tydgenote, biskop Claudius, het ook kerktradisie verwerp en beswaar gemaak teen gebede tot heiliges en die verering van relieke. In die 11de eeu is aartsdeken Berengarius van Tours, Frankryk, geëkskommunikeer omdat hy die Katolieke leerstelling van transsubstansiasie verwerp het. Hy het ook gemeen dat die Bybel verhewe is bo kerktradisie.

16 In die 12de eeu het twee liefhebbers van Bybelwaarheid op die toneel verskyn, Petrus van Bruys en Hendrik van Lausanne. Petrus het sy priesteramp neergelê omdat hy nie die Katolieke leerstellings oor kinderdoop, transsubstansiasie, gebede vir die dooies en die aanbidding van die kruis met die Skrif kon versoen nie. In 1140 het Petrus met sy lewe betaal vir sy oortuigings. Hendrik, ’n monnik, het hom uitgespreek teen verdorwe gebruike in die kerk sowel as teen die onskriftuurlike aspekte van die kerkliturgie. Hy is in 1148 in hegtenis geneem en het die res van sy lewe in die tronk gesit.

17. Watter belangrike stappe het Waldus en sy volgelinge gedoen?

17 Omstreeks die tyd toe Petrus van Bruys op die brandstapel gesterf het omdat hy dit gewaag het om die kerk te kritiseer, is iemand gebore wat later ’n kragtige invloed op die verspreiding van Bybelwaarheid sou hê. Sy van was Valdès, of Waldus. * In teenstelling met Petrus van Bruys en Hendrik van Lausanne was hy ’n leek, maar hy het God se Woord so waardeer dat hy afstand gedoen het van sy materiële besittings en gereël het dat dele van die Bybel vertaal word in ’n taal wat algemeen gepraat word in die suidoostelike dele van Frankryk. Party was so verheug om die Bybel se boodskap in hulle moedertaal te hoor dat hulle ook van hulle besittings afstand gedoen het en hulle lewe daaraan gewy het om Bybelwaarheid aan ander bekend te maak. Dit was baie ontstellend vir die kerk. In 1184 is hierdie ywerige mans en vroue, wat later die Waldense genoem is, deur die pous geëkskommunikeer en deur die biskop uit hulle huise verdryf. Hierdie optrede het in werklikheid gehelp om die Bybel se boodskap na ander gebiede te versprei. Die volgelinge van Waldus, Petrus van Bruys en Hendrik van Lausanne sowel as ander andersdenkendes kon uiteindelik in baie dele van Europa aangetref word. Ander verdedigers van Bybelwaarheid het in die daaropvolgende eeue opgestaan: John Wycliffe (ca. 1330-1384), William Tyndale (ca. 1494-1536), Henry Grew (1781-1862) en George Storrs (1796-1879).

‘DIE WOORD VAN GOD IS NIE GEBONDE NIE’

18. Verduidelik watter Bybelstudiemetode opregte Bybelstudente in die 19de eeu gebruik het en waarom dit doeltreffend was.

18 Hoe hulle ook al probeer, vyande van Bybelwaarheid kon nog nooit die verspreiding daarvan verhinder nie. “Die woord van God [is] nie gebonde nie”, sê 2 Timoteus 2:9. In 1870 het ’n groep opregte Bybelstudente na die waarheid begin soek. Watter studiemetode het hulle gebruik? Iemand het ’n vraag geopper. Hulle het dit bespreek. Hulle het al die verwante tekste oor die punt nageslaan en dan uiteindelik, wanneer hulle tevrede was dat hierdie tekste ooreenstem, gesê wat hulle gevolgtrekking is en dit opgeteken. Is dit nie vir jou gerusstellend om te weet dat hierdie getroue manne, ons “geestelike voorvaders” van die laat 1800’s, net soos die apostels en ouer manne van die eerste eeu, vasbeslote was om hulle oortuigings streng in lyn met God se Woord te bring nie?

19. Wat is die jaarteks vir 2012, en waarom is dit gepas?

19 Die Bybel is nog steeds die grondslag vir wat ons glo. Met dit in gedagte is die jaarteks wat die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies vir 2012 gekies het, die woorde wat Jesus met oortuiging uitgespreek het: “U woord is die waarheid” (Joh. 17:17). Mag ons almal—aangesien elkeen wat God se goedkeuring wil verkry, in die waarheid moet wandel—dan voortgaan om daarna te streef om deur God se Woord gerig te word.

[Voetnoot]

^ par. 17 Valdès is soms Pierre Valdès of Petrus Waldus genoem, maar sy voornaam kan nie bevestig word nie.

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 8]

Ons jaarteks vir 2012: “U woord is die waarheid.”—Joh. 17:17

[Prent op bladsy 7]

Waldus

[Prent op bladsy 7]

Wycliffe

[Prent op bladsy 7]

Tyndale

[Prent op bladsy 7]

Grew

[Prent op bladsy 7]

Storrs