Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bewaar die positiewe gees van die gemeente

Bewaar die positiewe gees van die gemeente

Bewaar die positiewe gees van die gemeente

“Mag die onverdiende goedhartigheid van die Here Jesus Christus wees met die gees wat julle openbaar.”—FIL. 4:23.

HOE KAN ONS ’N GESONDE GEES IN DIE GEMEENTE BEVORDER . . . 

․․․․․

terwyl ons met ons broers assosieer?

․․․․․

deur ons ywer in die veldbediening?

․․․․․

deur ernstige oortreding aan te meld?

1. Waarvoor is die gemeentes in Filippi en Tiatira geprys?

DIE eerste-eeuse Christene in Filippi was materieel arm. Maar hulle was vrygewig en het voorbeeldige liefde vir hulle medegelowiges getoon (Fil. 1:3-5, 9; 4:15, 16). In die slot van sy geïnspireerde brief aan hulle kon die apostel Paulus dus skryf: “Mag die onverdiende goedhartigheid van die Here Jesus Christus wees met die gees wat julle openbaar” (Fil. 4:23). Omdat die Christene in Tiatira ’n soortgelyke gees geopenbaar het, het die verheerlikte Jesus Christus vir hulle gesê: “Ek ken jou dade en jou liefde en geloof en bediening en volharding en weet dat jou dade in die laaste tyd meer is as dié van vroeër.”—Op. 2:19.

2. Watter rol speel ons gesindheid in die gees wat ons gemeente openbaar?

2 Vandag openbaar elke gemeente van Jehovah se Getuies eweneens ’n sekere gees, of oorheersende gesindheid. Party gemeentes is veral bekend vir hulle hartlike, liefdevolle gees. Ander munt uit in hulle ywerige ondersteuning van die Koninkrykspredikingswerk en in hulle hoë agting vir die voltydse bediening. Wanneer ons persoonlik ’n positiewe gees aankweek, dra ons by tot die eenheid van die gemeente en tot sy geestelike vordering oor die algemeen (1 Kor. 1:10). Maar as ons ’n negatiewe gees het, kan dit bydra tot geestelike lomerigheid, ’n louwarm gesindheid en selfs die toelating van oortreding in die gemeente (1 Kor. 5:1; Op. 3:15, 16). Watter gees openbaar julle gemeente? Hoe kan jy persoonlik ’n positiewe gees in die gemeente help bevorder?

BEVORDER ’N POSITIEWE GEES

3, 4. Hoe kan ons Jehovah “in die groot gemeente prys”?

3 Die psalmis het gesing: “Ek sal u [Jehovah] in die groot gemeente prys; onder ’n talryke volk sal ek u loof” (Ps. 35:18). Die psalmis het nie gehuiwer om Jehovah te loof wanneer hy saam met ander knegte van God was nie. Weeklikse gemeentelike vergaderinge, insluitende die Wagtoring-studie, bied ons ’n goeie geleentheid om ’n ywerige gees aan die dag te lê wanneer ons kommentaar lewer en ons geloof uitspreek. Ons almal kan ons gerus afvra: ‘Benut ek die voorreg om aan vergaderinge deel te neem, ten volle? Berei ek goed voor en lewer ek sinvolle kommentare? Help ek as gesinshoof my kinders om antwoorde voor te berei en leer ek hulle om in hulle eie woorde te antwoord?’

4 Die psalmis Dawid het die standvastigheid van ons hart met ons sang verbind. “My hart is standvastig, o God”, het hy gesê, “my hart is standvastig. Ek sal sing en melodieë speel” (Ps. 57:7). Die liedere wat by Christelike vergaderinge gesing word, bied ons ’n goeie geleentheid om met ’n standvastige hart vir Jehovah te “sing”. As ons party van die liedere nie ken nie, kan ons gerus gedurende ons aand vir Gesinsaanbidding oefen om dit te sing. Mag ons vasbeslote wees om ‘ons hele lewe lank tot Jehovah te sing en hom met melodieë te besing solank ons daar is’.—Ps. 104:33.

5, 6. Hoe kan ons gasvry en vrygewig wees teenoor ander, en wat bevorder dit in die gemeente?

5 Om gasvryheid aan ons broers en susters te betoon, is nog ’n manier om ’n liefdevolle gees in die gemeente te bevorder. In die laaste hoofstuk van sy brief aan die Hebreërs spoor Paulus hulle onder andere aan: “Laat julle broederliefde voortduur. Moenie die gasvryheid vergeet nie” (Heb. 13:1, 2). Om ’n ete aan ’n reisende opsiener en sy vrou of aan voltydse dienaars in die gemeente te voorsien, is ’n uitstekende manier om gasvryheid te betoon. Dink ook aan weduwees, enkelouergesinne of ander persone wat daarby baat kan vind as ons hulle van tyd tot tyd nooi vir ’n ete of om by ons aan te sluit vir ons gesinsaanbidding.

6 Paulus het Timoteus aangesê om ander te vermaan “om goed te doen, om ryk te wees in goeie werke, om vrygewig te wees, mededeelsaam, en vir hulleself ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat te bewaar, sodat hulle ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry” (1 Tim. 6:17-19). Paulus het aanbeveel dat sy medeaanbidders ’n vrygewige gees aankweek. Ons kan selfs in moeilike ekonomiese tye ’n vrygewige gees bevorder. ’n Goeie manier om dit te doen, is om vervoer in velddiens sowel as na en van die vergaderinge te voorsien aan dié wat dit nodig het. En wat van dié wat baat vind by hierdie dade van liefderyke goedhartigheid? Hulle sal ’n positiewe gees in die gemeente bevorder as hulle waardering toon, miskien deur aan te bied wat hulle kan om die toenemende hoë koste van brandstof te help dek. En sal dit nie boonop ons geestelike broers en susters nodig en geliefd laat voel as ons reël om meer tyd saam met hulle deur te bring nie? Wanneer ons oorvloedig is in goeie dade teenoor “dié wat in die geloof aan ons verwant is” en gewillig is om ons tyd en middele met hulle te deel, verdiep ons nie net ons liefde vir hulle nie, maar help ons ook om ’n hartlike en positiewe gees in die gemeente op te bou.—Gal. 6:10.

7. Hoe help dit om ’n goeie gees in die gemeente te bewaar as ons die persoonlike sake van ander vertroulik hou?

7 Beskou nog faktore wat die band van liefde met ons medegelowiges versterk: vriendskap en vertroulikheid. (Lees Spreuke 18:24.) Ware vriende hou persoonlike sake vertroulik. Wanneer ons broers hulle diepste gedagtes en gevoelens aan ons openbaar en seker is dat dit nie algemeen bekend sal word nie, sal die band van liefde wat moontlik reeds bestaan, sterker word. Mag ons ’n liefdevolle gees soos dié van ’n gesin in die gemeente bevorder deur ’n betroubare vriend te wees wat dinge vertroulik kan hou.—Spr. 20:19.

WEES YWERIG IN DIE BEDIENING

8. Watter raad het die Laodisense ontvang, en waarom?

8 Jesus het vir die gemeente in Laodisea gesê: “Ek ken jou dade, dat jy nie koud of warm is nie. Ek wens jy was koud of anders warm. Omdat jy dan nou lou is en nie warm of koud nie, gaan ek jou uit my mond uitbraak” (Op. 3:15, 16). Die Laodisense het ’n gebrek aan ywer vir die Christelike bediening geopenbaar. Hierdie gesindheid het waarskynlik ook ’n uitwerking op hulle persoonlike verhoudinge gehad. Jesus het hulle dus hierdie liefdevolle raad gegee: “Almal vir wie ek geneentheid het, wys ek tereg en dissiplineer ek. Wees dus ywerig en toon berou.”—Op. 3:19.

9. Watter uitwerking het ons gesindheid teenoor die veldbediening op die gees in die gemeente?

9 As ons ’n gesonde, positiewe gees in die gemeente wil bevorder, moet ons aandag skenk aan ons ywer vir velddiens. Die gemeente is georganiseer met die doel om skaapgeaardes in die gebied te soek en hulle geestelik op te bou. Ons moet dus, soos Jesus, geesdriftig aan die dissipelmaakwerk deelneem (Matt. 28:19, 20; Luk. 4:43). Hoe yweriger ons vir die bediening is, hoe groter sal ons eenheid as “God se medewerkers” wees (1 Kor. 3:9). Wanneer ons sien hoe ander in velddiens hulle geloof verdedig en waardering vir geestelike dinge uitspreek, beweeg dit ons om meer liefde en respek vir hulle te hê. En as ons “skouer aan skouer” in die bediening dien, bevorder dit ’n gees van eenheid in die gemeente.—Lees Sefanja 3:9.

10. Watter uitwerking het ons pogings om die gehalte van ons velddiens te verbeter, op die gees van ander in die gemeente?

10 Ons pogings om die gehalte van ons bediening te verbeter, het ook ’n goeie uitwerking op ander. Wanneer ons groter besorgdheid toon oor die mense wat ons ontmoet en wanneer ons daarna streef om die harte van ons luisteraars op doeltreffende wyse te bereik, neem ons geesdrif vir die bediening toe (Matt. 9:36, 37). Ons geesdrif spoor dikwels ons metgeselle aan om ook geesdriftig te wees. Jesus het sy dissipels twee-twee in plaas van alleen in die predikingswerk uitgestuur (Luk. 10:1). Dit het nie net aanmoediging en opleiding gebied nie, maar ook hulle ywer vir die bediening laat toeneem. Waardeer ons dit nie om saam met ywerige Koninkryksverkondigers te werk nie? Hulle geesdrif bemoedig ons en vuur ons aan in die predikingswerk.—Rom. 1:12.

WAAK TEEN MURMURERING EN OORTREDING

11. Watter soort gees het party Israeliete in Moses se dag ontwikkel, en watter uitwerking het dit op hulle gehad?

11 Nadat die Israeliete net etlike weke as ’n nuwe nasie bestaan het, het hulle ’n gees van onvergenoegdheid en murmurering ontwikkel. Dit het gelei tot opstand teen Jehovah en sy verteenwoordigers (Eks. 16:1, 2). Slegs ’n klein aantal Israeliete wat Egipte verlaat het, is toegelaat om die Beloofde Land binne te gaan. Selfs Moses is toegang tot daardie land ontsê weens sy reaksie op die slegte gees van die gemeente van Israel! (Deut. 32:48-52). Wat kan ons vandag doen sodat ons nie ’n negatiewe gees ontwikkel nie?

12. Hoe kan ons daarteen waak om ’n klaerige gees te ontwikkel?

12 Ons moet daarteen waak om ’n gees van murmurering te ontwikkel. Dit sal help as ons nederigheid en respek vir gesag aankweek, maar ons moet ook op ons metgeselle let. As ons verkeerde vermaak kies of te veel tyd deurbring saam met werks- of skoolmaats wat geen respek vir regverdige beginsels het nie, het dit slegte gevolge. Ons sal verstandig optree as ons ons assosiasie beperk met mense wat negatief is of wat ’n onafhanklike gesindheid bevorder.—Spr. 13:20.

13. Watter ander geestelik nadelige gevolge kan die verderflike invloed van murmurering in ’n gemeente hê?

13 Die verderflike invloed van murmurering kan ander geestelik nadelige gevolge hê. Byvoorbeeld, murmering kan ’n gemeente se vrede en eenheid versteur. En as ons oor medegelowiges kla, kan dit hulle nie net seermaak nie, maar kan dit ook lei tot sondes soos om te laster en kwaad te spreek (Lev. 19:16; 1 Kor. 5:11). Party murmureerders in die eerste-eeuse gemeente het ‘heerskappy verontagsaam en smadend van heerlikes gepraat’ (Jud. 8, 16). Hierdie murmurering teen verantwoordelike manne in die gemeente het beslis nie God se goedkeuring weggedra nie.

14, 15. (a) Watter uitwerking kan dit op die hele gemeente hê as daar toegelaat word dat oortreding ongehinderd voortgaan? (b) Wat moet ons doen as ons uitvind dat iemand by ’n verborge sonde betrokke is?

14 Sê nou ons vind uit dat iemand by ’n verborge sonde betrokke is, miskien deur drank te misbruik, na pornografie te kyk of ’n onsedelike lewe te lei? (Ef. 5:11, 12). As ons ons oë sluit vir ernstige oortreding, kan dit die vrye vloei van Jehovah se heilige gees belemmer en die vrede van die hele gemeente bedreig (Gal. 5:19-23). Net soos die vroeë Christene in Korinte slegtheid moes verwyder, moet enige verderflike invloed vandag uit die gemeente gehou word om die gesonde, positiewe gees daarvan te bewaar. Hoe kan jy tot die gemeente se vrede bydra?

15 Soos vroeër gemeld is, is dit belangrik om in sekere sake vertroulikheid te handhaaf, veral wanneer ander ons van hulle gevoelens en gedagtes vertel. Hoe verkeerd en kwetsend is dit tog om vertroulike inligting oor iemand te versprei! Maar wanneer ’n ernstige sonde gepleeg is, moet dié wat die skriftuurlike verpligting het om die saak te behartig—die ouer manne in die gemeente—ingelig word. (Lees Levitikus 5:1.) As ons dus weet van ’n broer of ’n suster wat skuldig is aan so ’n oortreding, moet ons hom of haar aanspoor om na die ouer manne toe te gaan en hulle hulp te vra (Jak. 5:13-15). As hy of sy dit egter nie binne ’n redelike tydperk doen nie, moet ons die oortreding aanmeld.

16. Hoe help dit om die gees van die gemeente te bewaar as ons ernstige oortreding aanmeld?

16 Die Christengemeente is ’n geestelike toevlug, en ons moet help om dit te beskerm deur ernstige oortreding aan te meld. As die ouer manne die oortreder tot besinning bring en hy vermaning en teregwysing berouvol aanvaar, stel hy nie meer die gees van die gemeente in gevaar nie. Maar sê nou die een wat ernstige sonde beoefen, is onberouvol en reageer nie op die liefdevolle raad van die ouer manne nie? Sy uitsetting uit die gemeente lei tot “die vernietiging”, of verwydering, van die verderflike element onder ons, en die gees van die gemeente word bewaar. (Lees 1 Korintiërs 5:5.) Ja, as ons die gees van die gemeente wil bewaar, moet elkeen van ons die gepaste stappe doen, met die liggaam van ouer manne saamwerk en die welsyn van medegelowiges beskerm.

BEVORDER “DIE EENHEID VAN DIE GEES”

17, 18. Wat sal ons help om ‘die eenheid van die gees te bewaar’?

17 Deur “hulle toe te lê op die leer van die apostels”, het Jesus se vroeë volgelinge gehelp om ’n gees van eenheid in die gemeente te bevorder (Hand. 2:42). Hulle het die skriftuurlike raad en leiding wat hulle van die ouer manne ontvang het, op prys gestel. Omdat hedendaagse ouer manne met die “getroue en verstandige slaaf”-klas saamwerk, word almal in die gemeente aangespoor en gehelp om verenig te bly (1 Kor. 1:10). Wanneer ons ons aan die Bybelse onderrigting van Jehovah se organisasie onderwerp en die leiding van die ouer manne volg, bewys ons dat ons “ywerig daarna streef om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar”.—Ef. 4:3.

18 Laat ons ons dan daarop toelê om ’n gesonde, positiewe gees in die gemeente te bewaar. As ons dit doen, kan ons seker wees dat ‘die onverdiende goedhartigheid van die Here Jesus Christus sal wees met die gees wat ons openbaar’.—Fil. 4:23.

[Studievrae]

[Prent op bladsy 19]]

Dra jy by tot ’n positiewe gees deur sinvolle kommentare voor te berei?

[Prent op bladsy 20]

Dra by tot ’n positiewe gees deur ons liedere te leer ken