Uit ons argief
‘Dit het my ietwat opvallend gemaak’
Toe die voltydse prediker Charlotte White met ’n tas op wiele in Louisville, Kentucky, VSA, aangekom het, het sy nogal ’n opskudding veroorsaak.
DIT was 1908, en suster White het beslis mense se aandag getrek met ’n splinternuwe uitvindsel—die “Dawn”-vervoerder. “Dit het kommentaar uitgelok”, sê sy, “en het my ietwat opvallend gemaak.”
Die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, het besef dat dit belangrik is om ander te vertel van die kosbare waarhede wat hulle deur ’n ywerige studie van die Skrif geleer het. Baie het Bybelkennis opgedoen deur middel van ’n reeks boeke met die titel Millennial Dawn (later ook Studies in the Scriptures genoem). Die Christene wat gewillig en in staat was om dit te doen, het wyd en syd gereis—deur groot en klein dorpe asook landelike gebiede—en het hierdie boeke, wat as “Helpende hande vir Bybelstudente” beskryf is, vir ander gretige lesers aangebied.
In 1908 het suster White en ander ywerige Koninkryksverkondigers die stel van ses linnebandboeke teen $1,65 (VSA) aangebied. Hulle het nie die Dawn-boeke onmiddellik by mense gelaat nie, maar het bestellings geneem en later teruggekeer—gewoonlik op betaaldag—om die boeke af te lewer teen ’n klein bedrag wat die drukkoste gedek het. Een teenstander het gekla omdat die mense so min geld vir die boeke bygedra het!
Malinda Keefer het onthou dat sy bestellings vir twee- tot driehonderd boeke per week geneem het. Maar die groot belangstelling wat in die Dawn-boeke getoon is, het ’n probleem geskep. Die sesde
boekdeel alleen het 740 bladsye gehad! “Vyftig boeke weeg 18 kilogram”, het The Watch Tower erken, wat aflewerings “te moeilik” gemaak het, veral vir susters.Om die probleem met die aflewering van die Dawn-boeke op te los, het broer James Cole ’n opvoubare raam met twee wiele ontwerp, waarop ’n tas vasgeskroef kon word. Dit was nou nie meer nodig om swaar bokse vol boeke te dra nie, en die uitvinder self het gesê: “Ek breek nie meer my skouers nie.” Hy het die nuwe toestel in 1908 bekend gestel aan ’n verheugde gehoor by die Bybelstudente se streekbyeenkoms in Cincinnati, Ohio. Op plaatjies aan albei ente van die dwarsstaaf was die Engelse naam “Dawn-Mobile” gegraveer, aangesien dit hoofsaaklik gebruik is om Millennial Dawn-boeke te vervoer. Met ’n bietjie oefening kon ’n tas vol boeke maklik, met een hand, vervoer word. Die hoogte kon verstel word, en die vervoerder kon op grondpaaie getrek word. Ná ’n dag in die bediening kon die rubberwiele teen die kant van die tas gevou word vir die reis huis toe, hetsy te voet of per trem.
Susters in die voltydse diens het ’n “Dawn”-vervoerder gratis ontvang. Andersins het dit $2,50 (VSA) gekos. Suster Keefer, in die foto, het die tegniek van die “Dawn”-vervoerder so goed bemeester dat sy ’n tas vol boeke met een hand kon stoot en nog ’n sak met boeke in die ander hand kon dra. In ’n myndorp in Pennsilvanië, VSA, waar daar talle ontvanklike mense was, het sy gewoonlik op die afleweringsdag ’n sekere brug drie of vier keer oorgesteek.
In die laat 1980’s het ’n vlieënier van ’n lugredery die reistas met wieletjies ontwerp wat nou algemeen op lughawens en besige strate gesien kan word. Maar ongeveer honderd jaar gelede het ywerige Bybelstudente dit waarskynlik geniet wanneer mense hulle nuuskierig aangestaar het terwyl hulle hulle opvallende “Dawn”-vervoerders rondgestoot het om kosbare saadjies van Bybelwaarheid te versprei.
[Lokteks op bladsy 32]
Suster Keefer het gewoonlik op die afleweringsdag ’n sekere brug drie of vier keer oorgesteek
[Lokteks op bladsy 32]
Dit het die probleem met die aflewering van die “Dawn”-boeke opgelos