Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het God se Woord moedig verkondig!

Hulle het God se Woord moedig verkondig!

Hulle het God se Woord moedig verkondig!

Moed—selfs vreeslose vrymoedigheid—ondanks teenstand. Hierdie eienskappe word deur ware Christene geopenbaar, soos getoon word in publikasies soos ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk en Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk. Soos ons eerste-eeuse medegelowiges, vra ons Jehovah in gebed vir sy gees en vir hulp om sy woord met vrymoedigheid te spreek.—Hand. 4:23-31.

Aangaande ons predikingswerk gedurende die Eerste Wêreldoorlog het ’n broer geskryf: “God se knegte het die sewende deel van Studies in the Scriptures, met die titel The Finished Mystery, ywerig versprei. Dit is op ongeëwenaarde skaal gedoen. Kingdom News Nr. 1 is in 1918 vrygestel. Daarna is Kingdom News Nr. 2 uitgegee, wat verduidelik het waarom The Finished Mystery deur die owerheid verbied is. Dit is gevolg deur Kingdom News Nr. 3. Hierdie publikasies is oral versprei deur die getroue gesalfde klas. Dit het geloof en moed geverg om Kingdom News uit te gee.”

Vandag word nuwe Koninkryksverkondigers gewoonlik in die bediening opgelei, maar dit was nie altyd die geval nie. ’n Poolse broer in die Verenigde State het oor sy eerste ondervinding in velddiens in 1922 geskryf: “Ek het nie geweet hoe om die lektuur aan te bied nie en het gebroke Engels gepraat, maar ek het alleen voor ’n dokter se spreekkamer gestaan en aan die deur geklop. ’n Verpleegster het oopgemaak. Ek sal nooit daardie ondervinding vergeet nie, want ek was opgewonde en bang. Toe ek my tas oopmaak, het al die boeke voor die verpleegster se voete uitgeval. Ek weet nie wat ek gesê het nie, maar ek het ’n publikasie by haar gelaat. Teen die tyd dat ek daar weg is, het ek moed verkry en gevoel dat Jehovah my seën. Ek het dié dag baie boekies in daardie straat in die sakegebied versprei.”

“Omstreeks 1933 het baie broers klankmotors gebruik om die Koninkryksboodskap te verkondig”, het ’n suster gesê. Eenkeer het sy en ’n Getuie-egpaar in ’n bergagtige gebied in Kalifornië, VSA, gepreek. “Die broer het met die klankmotor hoër teen die berg opgery, en ons het onder in die dorp gebly”, het sy vertel. “Toe hy die opname van die boodskap begin speel, het dit amper geklink of dit uit die hemel kom. Die dorpenaars het die broer oral gesoek, maar hulle kon hom nie vind nie. Nadat die plaat klaar gespeel het, het ons die mense besoek en vir hulle getuig. Ek het ook saam met twee ander klankmotors gewerk en kan jou verseker dat die meeste mense nie die boodskap wou hoor nie. Maar hulle kon nie anders as om na die toesprake te luister nie, want die boodskap wat van die klankmotors gekom het, het hulle huise gevul. Ons kon altyd sien dat Jehovah seker maak dat die regte metode op die regte tyd gebruik word. Die metode het gewoonlik elke greintjie moed geverg wat ons kon bymekaarskraap, maar dit het altyd die doel daarvan bereik, en Jehovah se naam is verheerlik.”

In die 1930’s en vroeë 1940’s is grammofone en opnames van Bybeltoesprake in ons bediening gebruik. ’n Christenvrou het vertel: “’n Jong suster het met ’n grammofoon van deur tot deur gewerk. Nadat sy die plaat by een deur begin speel het, het die man van die huis so kwaad geword dat hy die grammofoon van die stoep afgeskop het. Nie een plaat het gebreek nie. Drie mans wat hulle middagete in ’n geparkeerde vragmotor sit en eet het, het gesien wat gebeur, die suster genooi om die plaat vir hulle te speel en lektuur by haar geneem. Dit het vir die slegte behandeling vergoed.” Dit het moed geverg om hierdie beproewinge te verduur.

Dieselfde suster het bygevoeg: “Ek onthou toe tydskrifwerk op straat in 1940 begin het. Vroeër was daar inligtingsoptogte. Broers en susters het een-een agter mekaar op die sypaadjie geloop met plakkate waarop daar gestaan het ‘Godsdiens is ’n strik en ’n bedrogspul’ en ‘Dien God en Christus, die Koning’. Terselfdertyd is gratis traktate aan mense gegee. Dit het moed geverg om aan hierdie aspekte van die werk deel te neem, maar dit het Jehovah se naam en sy volk in die openbare oog gehou.”

“Dit was baie moeilik om tydskrifwerk in klein dorpies te doen”, het ’n ander suster gesê. “Daar was destyds hewige teenkanting teen die Getuies. . . . Dit het groot moed geverg om met die tydskrifte op ’n hoek te staan en die voorgestelde slagspreuke uit te roep. Nogtans het ons selde ’n Saterdag oorgeslaan. Soms was mense vriendelik. Ander kere het groepe woedende mense om ons saamgedrom, en partykeer moes ons wegglip sodat ons nie deur ’n oproerige skare aangerand word nie.”

Ondanks die vervolging wat Jehovah se Getuies gedurende die Tweede Wêreldoorlog verduur het, het hulle moedig voortgegaan met hulle bediening. Tydens ’n kampanje van 43 dae, vanaf 1 Desember 1940 tot 12 Januarie 1941, wat die “Moed”-getuienistydperk genoem is, het omtrent 50 000 verkondigers in die Verenigde State byna agtmiljoen boekies versprei.

Talle bejaardes in God se organisasie kan uitdagings van die verlede wat vereis het dat hulle moed bymekaarskraap nog goed onthou. Sommige onthou dat hulle moedige gees jare lank weerspieël is in die leuse wat hulle dikwels herhaal het: Dwing die geveg tot by die poort! Ons weet nie watter vorm ons godgegewe boodskap nog sal aanneem voordat die teenswoordige goddelose stelsel tot ’n einde kom nie. Maar met God se hulp sal ons voortgaan om Jehovah se woord met geloof en moed te verkondig.

[Lokteks op bladsy 9]

Dit het nog altyd moed geverg om die Koninkrykspredikingswerk te doen