Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Natan—’n Lojale voorstander van rein aanbidding

Natan—’n Lojale voorstander van rein aanbidding

Natan—’n Lojale voorstander van rein aanbidding

Dit is nie maklik om ’n man met groot gesag te oortuig dat sy weë verdorwe is en dat hy moet verander nie. Sal jy so iemand konfronteer as jy weet dat hy ’n man doodgemaak het om sy aansien te red?

Koning Dawid van eertydse Israel het met Batseba egbreuk gepleeg, en sy het swanger geword. Om hulle sonde weg te steek, het Dawid haar man laat doodmaak en Batseba toe as sy vrou geneem. Maande het verbygegaan terwyl Dawid ’n dubbele lewe gelei het en heel waarskynlik voortgegaan het om sy amptelike pligte te vervul. Maar Jehovah het nie die koning se sondes ongemerk laat verbygaan nie. Hy het sy profeet Natan gestuur om Dawid te konfronteer.

Dit was ’n moeilike taak. Stel jou in Natan se plek. Lojaliteit aan Jehovah en nougesette handhawing van goddelike standaarde het Natan ongetwyfeld beweeg om Dawid aan sy sondes te herinner. Hoe kon die profeet dit doen en koning Dawid oortuig dat hy berou moet toon?

’N TAKTVOLLE ONDERRIGTER

Neem gerus ’n paar minute om 2 Samuel 12:1-25 te lees. Stel jou voor dat jy in Natan se skoene staan terwyl hy vir Dawid hierdie verhaal vertel: “Daar was twee manne in een stad, die een ryk en die ander arm. Die ryke het ’n baie groot aantal skape en beeste gehad; maar die arme het niks gehad nie, behalwe een ooilam, ’n kleintjie, wat hy gekoop het. En hy het dit aan die lewe gehou, en dit het by hom en by sy seuns grootgeword, almal saam. Dit het van sy stukkie voedsel geëet en uit sy beker gedrink en in sy boesem gelê, en dit was vir hom soos ’n dogter. Na ’n ruk het daar ’n besoeker na die ryk man toe gekom, maar hy het ontsien om van sy eie skape en sy eie beeste te neem om dit gereed te maak vir die reisiger wat by hom gekom het. Daarom het hy die ooilam van die arm man geneem en dit gereedgemaak vir die man wat by hom gekom het.”—2 Sam. 12:1-4.

Dawid—wat vroeër self ’n herder was—het klaarblyklik geglo dat dit werklik gebeur het. “Miskien”, sê ’n kommentator, “was dit Natan se gewoonte om na hom toe te kom om die saak te bepleit van dié wat veronreg is en deur niemand anders gehelp kon word nie en het Dawid gedink dat dit is wat hy nou doen.” Al was dit die geval, het dit lojaliteit aan God sowel as moed van Natan geverg om so met die koning te praat. Natan se verhaal het Dawid woedend gemaak. “So waar as Jehovah lewe, die man wat dit doen, verdien om te sterf!” het hy uitgeroep. Toe het Natan se verpletterende woorde gevolg: “U is die man!”—2 Sam. 12:5-7.

Kom ons kyk waarom Natan die probleem so aangepak het. Dit is nie maklik vir iemand wat emosioneel betrokke geraak het by iemand anders, om sy situasie objektief te beskou nie. Ons almal is geneig om verskonings te maak om ons te probeer regverdig as ons gedrag twyfelagtig is. Maar Natan se illustrasie het Dawid onwetend sy eie optrede laat veroordeel. Die koning het duidelik gesien dat die gedrag wat Natan beskryf het, skandelik is. Maar eers nadat Dawid dit veroordeel het, het Natan onthul dat die illustrasie op die koning van toepassing is. Toe kon Dawid sien hoe ernstig sy sonde is. Dit het hom in die regte stemming gebring om teregwysing te aanvaar. Hy het erken dat hy Jehovah inderdaad “verag” het deur sy gedrag in verband met Batseba, en hy het die verdiende teregwysing aanvaar.—2 Sam. 12:9-14; Ps. 51, opskrif.

Wat kan ons hieruit leer? ’n Bybelonderrigter se oogmerk is om sy luisteraars te help om die regte gevolgtrekking te maak. Natan het Dawid gerespekteer en het hom dus taktvol genader. Natan het geweet dat Dawid in sy hart lief is vir regverdigheid en geregtigheid. Met sy illustrasie het die profeet ’n beroep op hierdie godvrugtige eienskappe gedoen. Ons kan ook opregte mense help om Jehovah se beskouing te verstaan. Hoe? Deur ’n beroep te doen op hulle sin vir wat reg is sonder om ’n sedelik of geestelik meerderwaardige houding aan te neem. Die Bybel, nie ons persoonlike mening nie, is ons gesag oor wat reg en verkeerd is.

Dit was bowenal lojaliteit aan God wat Natan in staat gestel het om ’n magtige koning tereg te wys (2 Sam. 12:1). Soortgelyke lojaliteit sal ons die moed gee om ferm standpunt in te neem vir Jehovah se regverdige beginsels.

’N VOORSTANDER VAN REIN AANBIDDING

Natan en Dawid was blykbaar goeie vriende, want Dawid het een van sy seuns Natan genoem (1 Kron. 3:1, 5). Die eerste keer dat Natan in die Bybelverslag genoem word, is hy in Dawid se geselskap. Albei het Jehovah liefgehad. Die koning het klaarblyklik Natan se oordeel vertrou, want hy het aan die profeet bekend gemaak dat hy graag ’n tempel vir Jehovah wil bou. “‘Kyk dan nou,’” het Dawid gesê, “‘ek woon in ’n huis van sederhout terwyl die ark van die ware God in tentdoeke woon.’ Daarop het Natan vir die koning gesê: ‘Alles wat in u hart is—gaan, doen dit, want Jehovah is met u.’”—2 Sam. 7:2, 3

As ’n getroue aanbidder van Jehovah het Natan Dawid se plan om die eerste blywende sentrum van rein aanbidding op aarde te bou, geesdriftig gesteun. Maar by hierdie geleentheid het Natan blykbaar sy eie gevoelens uitgedruk in plaas van in Jehovah se naam te spreek. Daardie nag het God sy profeet beveel om ’n ander boodskap vir die koning te bring: Dawid sou nie Jehovah se tempel bou nie. Een van Dawid se seuns sou dit doen. Maar Natan het aangekondig dat God nou ’n verbond met Dawid sluit waarvolgens sy troon “tot onbepaalde tyd stewig gevestig” sou word.—2 Sam. 7:4-16.

God se wil het nie ooreengestem met Natan se mening in verband met die bou van die tempel nie. Hierdie nederige profeet het hom egter sonder murmurering aan Jehovah se voorneme onderwerp en daarmee saamgewerk. Wat ’n goeie voorbeeld is dit tog om te volg as ons op die een of ander manier deur God tereggewys word! Natan se verdere dade as ’n profeet toon dat hy nie God se guns verloor het nie. Trouens, Jehovah het Natan en die siener Gad blykbaar geïnspireer om Dawid die opdrag te gee om 4 000 musikante in tempeldiens te organiseer.—1 Kron. 23:1-5; 2 Kron. 29:25.

’N VERDEDIGER VAN DIE KONINGSKAP

Natan het geweet dat Salomo die bejaarde Dawid as koning sou opvolg. Gevolglik het Natan met beslistheid opgetree toe Adonia gedurende Dawid se laaste jare die troon wederregtelik in besit probeer neem het. Natan se dade is weer eens deur takt en lojaliteit gekenmerk. Eers het hy Batseba aangespoor om Dawid te herinner aan sy geswore voorneme om hulle seun Salomo koning te maak. Toe het Natan voor die koning verskyn en gevra of Dawid Adonia se troonopvolging gemagtig het. Die bejaarde koning het die erns van die situasie besef en het Natan en ander lojale knegte opdrag gegee om Salomo te salf en hom tot koning uit te roep. Adonia se staatsgreep is gedwarsboom.—1 Kon. 1:5-53.

’N BESKEIE GESKIEDSKRYWER

Natan en Gad word algemeen aanvaar as die skrywers van 1 Samuel hoofstukke 25 tot 31 sowel as die hele 2 Samuel. Daar word oor die geïnspireerde geskiedenis wat in hierdie boeke opgeteken is, gesê: “Wat die aangeleenthede van koning Dawid betref, die eerstes en die laastes, kyk, dit is opgeteken onder die woorde van die siener Samuel en onder die woorde van die profeet Natan en onder die woorde van die siener Gad” (1 Kron. 29:29). Die samestelling van ’n verslag oor “die aangeleenthede van Salomo” word ook aan Natan toegeskryf (2 Kron. 9:29). Dit beteken heel waarskynlik dat Natan selfs ná Dawid se dood nog steeds daadwerklik betrokke was by aangeleenthede van die koninklike hof.

Baie van wat ons van Natan weet, is moontlik deur die profeet self geskryf. Sy stilswye oor sekere aangeleenthede vertel ons egter baie omtrent hom. Natan was blykbaar ’n beskeie geskiedskrywer. Hy het glad nie daarna gestreef om vir hom ’n naam te maak nie. ’n Bybelwoordeboek sê dat hy in die geïnspireerde verslag verskyn “sonder enige bekendstelling of geslagsregister”. Ons weet niks van Natan se afkoms of persoonlike lewe nie.

BEWEEG DEUR LOJALITEIT AAN JEHOVAH

Uit die paar kykies wat die Skrif ons in die lewe van Natan gee, is dit duidelik dat hy ’n nederige maar kragtige verdediger van goddelike reëlings was. Jehovah God het hom gewigtige verantwoordelikhede gegee. Peins oor Natan se eienskappe, soos lojaliteit aan God en innige waardering vir goddelike vereistes. Streef daarna om hierdie eienskappe na te volg.

Dit is onwaarskynlik dat jy owerspelige konings sal moet teregwys of staatsgrepe sal moet dwarsboom. Maar met God se hulp kan jy aan hom lojaal wees en sy regverdige standaarde handhaaf. Jy kan ook ’n moedige maar taktvolle onderrigter van die waarheid en ’n voorstander van rein aanbidding wees.

[Prent op bladsy 25]

As ’n verdediger van die koningskap het Natan taktvol met Batseba gepraat