Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lewensverhaal

“Daar is lieflikheid aan u regterhand, vir ewig”

“Daar is lieflikheid aan u regterhand, vir ewig”

Soos vertel deur Lois Didur

Hoe dikwels in jou lewe het jy al iets gesê soos: ‘Ek wens ek het nie daardie keuse gemaak nie?’ Wel, ná 50 jaar in die voltydse diens kan ek aan geen langdurige slegte gevolg dink omdat ek aan Jehovah se regterhand was nie. Laat ek verduidelik waarom ek so sê.

EK IS in 1939 gebore en het saam met vier susters en ’n broer op die platteland in Saskatchewan, Kanada, grootgeword. Ek het die lewe op die prêrieplaas geniet. Eendag het Jehovah se Getuies my pa besoek, en ek het hulle gevra of God ’n naam het. Hulle het vir ons die naam Jehovah in Psalm 83:18 gewys. Dit het die begeerte by my gewek om meer oor God en sy Woord te leer.

In daardie jare het plaaskinders na plattelandse skole gegaan waar al die kinders tot graad agt saam in een klaskamer was. Hulle het kilometers ver te perd gery of gestap om by die skool te kom. Die gesinne in die omgewing het in die onderwyser se behoeftes voorsien. Een jaar was dit my ouers se beurt om die nuwe onderwyser, John Didur, te huisves.

Ek het dit nie geweet nie, maar hierdie jong man het ook ’n lewendige belangstelling in God se Woord gehad. Eenkeer het ek gesê hoe goed kommunisme en sosialisme is, regeringsvorme waarvan my pa destyds ’n voorstander was. John het kalm geantwoord: “Geen mens het die reg om oor ander mense te heers nie. Slegs God het daardie reg.” Dit het tot talle interessante gesprekke gelei.

Aangesien John in 1931 gebore is, het hy gehoor van die ontberinge van oorlog. Toe die Koreaanse Oorlog in 1950 uitgebreek het, het hy verskeie geestelikes uitgevra oor hulle betrokkenheid by die oorlog. Almal het gesê dat dit vir Christene aanvaarbaar is om die wapen op te neem. Later het hy Jehovah se Getuies dieselfde vraag gevra. Hulle het sy aandag gevestig op die skriftuurlike standpunt wat die vroeë Christene ten opsigte van oorlog ingeneem het. John is in 1955 gedoop. Die volgende jaar is ek ook gedoop. Ons albei het geweet dat ons ons lewe en krag aan Jehovah se diens wou wy (Ps. 37:3, 4). In Julie 1957 is ek en John getroud.

Ons was dikwels op ons huweliksherdenking by ’n streekbyeenkoms. Ons was bly om in die geselskap te wees van duisende ander wat die huwelik respekteer. Ons eerste internasionale byeenkoms was in 1958. Ons en drie ander het per motor van Saskatchewan na die stad New York vertrek. Ons het ’n week lank gedurende die dag gery en elke aand in ’n tent geslaap. Stel jou ons verbasing voor toe ’n broer wat ons in Bethlehem, Pennsilvanië, ontmoet het, ons nooi om daardie nag by hom en sy gesin te oornag! Sy spontane goedhartigheid het dit vir ons moontlik gemaak om skoon en netjies in die stad New York aan te kom. Daardie ontsaglike byeenkoms het by ons tuisgebring wat ’n uitsonderlike genot dit is om Jehovah te dien! Dit is soos die psalmis geskryf het: “Daar is lieflikheid aan u regterhand, vir ewig.”—Ps. 16:11.

DIE PIONIERDIENS

’n Jaar later, in 1959, was ons in die pionierdiens en het ons in ’n klein karavaan op ’n prêrieheuwel in Saskatchewan gewoon. ’n Mens kon kilometers ver sien, en ’n deel van hierdie uitgestrekte landskap was ons gebied.

Eendag het ons ’n interessante brief van die takkantoor ontvang. Ek het my gehaas na waar John aan die trekker gewerk het. Die brief het ons genooi om as spesiale pioniers in Red Lake, Ontario, te dien. Omdat ons nie geweet het waar dit is nie, het ons dadelik kaarte uitgehaal en dit daarop gesoek.

Hoe anders was dit tog as die oop prêries! Nou het ons ons te midde van groot woude en klein dorpies naby goudmyne bevind. Terwyl ons die eerste dag na huisvesting gesoek het, het ’n dogtertjie ons gesprek met ’n buurvrou gehoor. Sy het huis toe gehardloop na haar ma toe, wat ons goedgunstig slaapplek vir die nag aangebied het. Die bed was in ’n kelder met mure en ’n vloer van klei. Die volgende dag het ons huisvesting gevind; ’n blokhuis met twee vertrekke, sonder enige lopende water of meubels, met net ’n blikverwarmer waarin ’n houtvuur gemaak kon word. Ons het ’n paar dinge by ’n tweedehandse winkel gekoop en gou heel tuis gevoel.

Die naaste gemeente was 209 kilometer daarvandaan. Baie werkers in die goudmyne het van Europa gekom, en hulle het gevra of ons vir hulle ’n Bybel in hulle taal kon kry. In ’n kort tydjie het ons 30 uitstekende Bybelstudies gehad. Binne ses maande is ’n gemeentetjie gestig.

Die man van een van ons Bybelstudente het sy priester gebel en hom gevra om sy vrou te kom reghelp. Tydens die gesprek het die priester gesê dat ons onder andere die Drie-eenheid aan mense moet leer. Die vrou het hulle Katolieke Bybel gaan haal en die priester gevra om sy bewerings te staaf. Hy het die Bybel op die tafel neergegooi en gesê dat hy niks hoef te bewys nie. Op pad uit het hy in Oekraïens gesê dat hulle ons uit die huis moet gooi en ons nooit weer moet inlaat nie. Hy het nie besef dat John Oekraïens verstaan nie!

Kort daarna het ons Red Lake verlaat omdat John in die kringwerk opgelei sou word. Toe John ongeveer ’n jaar later die dooptoespraak by ’n streekbyeenkoms gehou het, was daardie man een van die doopkandidate! Die ondervinding met die priester het veroorsaak dat hý die Bybel begin ondersoek het.

BESIG IN DIE REISENDE WERK

In die kringwerk het ons die unieke voorreg gehad om by talle gesinne te bly. Ons het baie geheg geraak aan diegene wat ons in hulle huis en lewe verwelkom het. Eenkeer was ons in ’n bokamer wat geen verwarming in die winter gehad het nie. Soggens vroeg het ons die bejaarde suster stilletjies in ons kamer hoor inkom om vuur in die stofie te maak. Kort daarna het sy weer ingekom met ’n kom warm water sodat ons ons vir die dag kon gereedmaak. Ek het baie uit haar stil, sagte geaardheid geleer.

Die reisende werk het my gehelp om nader aan Jehovah te kom. ’n Kring in Alberta het ’n myndorp in die Verre Noorde ingesluit waar ’n suster gewoon het. Hoe het Jehovah se organisasie daardie afgesonderde suster beskou? Elke ses maande het ons soontoe gevlieg om ’n week lank saam met haar velddiens te doen en vergaderinge te hou, net soos in die geval van ’n groot stadsgemeente. Dit was ’n hartlike herinnering aan Jehovah se tere sorg vir elke skapie.

Ons het in aanraking gebly met baie wat huisvesting aan ons verskaf het. Dit laat my dink aan een van die eerste geskenke wat John my gegee het—’n kleurvolle houer vol skryfpapier. Ons het dit terdeë geniet om per pos met vriende in aanraking te bly deur sulke skryfmateriaal te gebruik. Hierdie houer is nog steeds vir my kosbaar.

Terwyl ons in ’n kring in Toronto gedien het, het ’n broer van die Kanadese Bethel ons gebel om te vra of ons dit sal oorweeg om Bethel toe te kom. Wanneer wou hy ons antwoord hê? “Môre, indien moontlik!” Hy het dit gekry.

BETHELDIENS

In elke nuwe toewysing het ons verskillende aspekte gesien van die lieflikheid wat aan Jehovah se regterhand gevind word. Dit was ook die geval toe ons in 1977 Bethel toe gegaan het. Omgang met party van die gesalfdes het ons die geleentheid gebied om nie net hulle verskillende persoonlikhede waar te neem nie, maar ook hulle hoë agting vir God se Woord.

Ek het die nuwe roetine by Bethel geniet. Byvoorbeeld, ons klere was nou in ’n laai eerder as in ’n koffer, en ons het aan een gemeente behoort. Ek het nie net my werkstoewysing geniet nie, maar dit was ook altyd vir my lekker om besoekende groepe op toer te neem. Ek het verduidelik wat by Bethel gedoen word, die besoekende broers se kommentare gehoor en hulle vrae beantwoord.

Die jare het verbygevlieg, en in 1997 is John genooi om die Skool vir Takkomiteelede in Patterson, New York, by te woon. Daarna is ons gevra of ons dit sal oorweeg om ’n toewysing in die Oekraïne te aanvaar. Ons is aangespoor om goed en biddend daaroor na te dink. Teen die einde van daardie aand het ons geweet dat ons antwoord ja sal wees.

NOG ’N VERANDERING—DIE OEKRAÏNE

Ons het vroeër, in 1992, die groot internasionale byeenkoms in St. Petersburg, Rusland, bygewoon, en toe in 1993 die een in Kiëf, in die Oekraïne. Daardie byeenkomste het ons ons broers in Oos-Europa laat liefkry. Ons nuwe blyplek in Lviv, in die Oekraïne, was op die eerste verdieping van ’n ou huis. Die vensters het uitgekyk op ’n werf met ’n klein tuin, ’n groot rooi haan en ’n klomp henne. Dit het amper gevoel asof ons op ’n plaas in Saskatchewan is. Ons en nog tien ander het in daardie huis gewoon. Ons het soggens vroeg deur die stad gery om by Bethel te gaan werk.

Hoe het ons daaroor gevoel om in die Oekraïne te wees? Dit het ons nederig laat voel om tussen soveel broers te wees wat beproewinge, verbiedinge en gevangenskap deurgemaak het. Nietemin het hulle sterk geloof behou. Wanneer ons hulle geprys het, het hulle gesê: “Ons het dit vir Jehovah gedoen.” Hulle het nooit gevoel dat hulle alleen was nie. Nou nog, wanneer iemand vir ’n goedhartige daad bedank word, sal hy of sy dalk sê: “Bedank Jehovah”, en so erkenning gee aan die Bron van alle goeie dinge.

In die Oekraïne stap talle na die vergaderinge; gevolglik het hulle tyd om te gesels en mekaar aan te moedig. Party stap ’n uur of langer. Daar is meer as 50 gemeentes in Lviv, waarvan 21 ’n groot Koninkryksaalkompleks gebruik. Op Sondae is dit pragtig om ’n bestendige stroom broers na die vergaderinge te sien kom.

Ons het gou op ons gemak gevoel by die broers en susters, wat saggeaard is en graag na ander omsien. Wanneer ek sukkel om die taal te verstaan, wat nog steeds die geval is, is hulle baie geduldig. Hulle oë sê dikwels net soveel as hulle woorde.

Die opregte vertroue onder ons broers word toegelig deur ’n voorval gedurende die internasionale byeenkoms in 2003 in Kiëf. Net nadat ons afgegaan het na die platform van die besige moltreinstasie, het ’n dogtertjie na ons toe gekom en kalm gesê: “Ek is verdwaal. Ek kan nie my ouma vind nie.” Sy het ons lapelkaarte gesien en geweet dat ons Getuies is. Sy was baie dapper en het nie gehuil nie. ’n Kringopsiener se vrou wat saam met ons was, het die dogtertjie ewe liefdevol na die Afdeling vir Verlore Goedere by die stadion geneem. Sy is kort voor lank met haar ouma herenig. Ek is diep geraak deur die wonderlike vertroue wat hierdie dogtertjie getoon het, selfs in ’n skare van duisende mense.

Broers van baie lande het in Mei 2001 na die Oekraïne gekom vir die toewyding van ons nuwe takfasiliteite. Ná die spesiale toespraak Sondagoggend by ’n stadion het ’n menigte broers met die pad opgeloop gekom om die nuwe Bethel te besigtig. Wat ’n onvergeetlike toneel! Ek was diep ontroer toe ek hierdie broers sien, wat so vreedsaam en ordelik was. Dit het my waardering vergroot vir die lieflikheid wat ons geniet wanneer ons God dien.

’N DRASTIESE VERANDERING

In 2004 is John ongelukkig met kanker gediagnoseer. Ons het Kanada toe gegaan vir sy behandeling. Die eerste kursus chemoterapie was amper te veel vir sy gestel, en hy was ’n paar weke lank in intensiewe sorg. Gelukkig het hy sy bewussyn herwin. Hoewel hy skaars kon praat, het sy oë altyd waardering weerspieël vir almal wat hom besoek het.

Maar hy het nie herstel nie, en hy is daardie herfs oorlede. Ek het ’n groot leemte in my lewe gevoel. Ek en John het dit baie geniet om Jehovah saam te dien. Wat sou ek doen? Ek het besluit om na die Oekraïne terug te keer. Ek is baie dankbaar vir die innige liefde van die Bethelgesin en van die gemeente daar.

Daar was nooit ’n dag in ons lewe dat ons spyt was oor die keuses wat ons gemaak het nie. Ons het ’n gelukkige lewe gehad, met die allerbeste assosiasie. Ek weet dat daar nog baie is om van Jehovah se goedheid te leer, en ek hoop om hom vir ewig te dien, want ek het waarlik ‘lieflikheid aan Jehovah se regterhand’ gevind.

[Lokteks op bladsy 6]

“Daar was nooit ’n dag in ons lewe dat ons spyt was oor die keuses wat ons gemaak het nie”

[Prent op bladsy 3]

Ek en John op ons troudag

[Prent op bladsy 4]

Toe ek ’n spesiale pionier in Red Lake, Ontario, was

[Prent op bladsy 5]

Saam met John in die Oekraïne, 2002