Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Help mense om “uit die slaap te ontwaak”

Help mense om “uit die slaap te ontwaak”

Help mense om “uit die slaap te ontwaak”

“Julle [ken] die tyd . . . , dat dit reeds die uur is vir julle om uit die slaap te ontwaak.”—ROM. 13:11.

KAN JY VERDUIDELIK?

Waarom is dit noodsaaklik dat Christene geestelik wakker bly?

Waarom moet wakker bedienaars luister en oplettend wees?

Watter rol speel vriendelikheid en ’n sagte benadering in ons bediening?

1, 2. In watter sin moet baie mense wakker word?

ELKE jaar sterf duisende mense omdat hulle lomerig word of selfs aan die slaap raak terwyl hulle bestuur. Ander verloor hulle werk omdat hulle nie betyds wakker word om werk toe te gaan nie of omdat hulle by die werk aan die slaap raak. Maar geestelike lomerigheid kan baie ernstiger gevolge hê. Dit is in hierdie belangrike konteks dat die Bybel sê: “Gelukkig is die een wat wakker bly.”—Op. 16:14-16.

2 Terwyl Jehovah se groot dag nader kom, slaap die mensdom oor die algemeen in geestelike sin. Selfs party van die Christendom se leiers het al na hulle kuddes verwys as ‘slapende reuse’. Wat is geestelike slaap? Waarom is dit noodsaaklik dat ware Christene wakker bly? Hoe kan ons ander help om uit hierdie slaap te ontwaak, oftewel wakker te word?

GEESTELIKE SLAAP—WAT IS DIT?

3. Hoe sal jy iemand beskryf wat nie geestelik wakker is nie?

3 Mense wat slaap, is gewoonlik onbedrywig. Daarenteen is diegene wat geestelik slaap, dalk baie besig—maar nie met geestelike sake nie. Hulle is miskien koorsagtig besig met die daaglikse sorge van die lewe of om genot, aansien of rykdom na te jaag. Weens al hierdie bedrywighede toon hulle min besorgdheid oor hulle geestelike behoeftes. Maar mense wat geestelik wakker is, besef dat ons “in die laaste dae” lewe; daarom is hulle so bedrywig moontlik in die uitvoering van God se wil.—2 Pet. 3:3, 4; Luk. 21:34-36.

4. Wat beteken die raad: “Laat ons dan nie voortslaap soos die res nie”?

4 Lees 1 Tessalonisense 5:4-8. Hier maan die apostel Paulus medegelowiges om nie ‘voort te slaap soos die res’ nie. Wat het hy bedoel? Een manier waarop ons kan “voortslaap”, is deur Jehovah se sedelike standaarde te ignoreer. Nog ’n manier waarop ons kan “voortslaap”, is deur die feit te ignoreer dat Jehovah se tyd om die goddeloses te vernietig, naby is. Ons moet seker maak dat hierdie goddelose mense ons nie beïnvloed om hulle weë en gesindhede aan te neem nie.

5. Watter soort gesindhede kenmerk diegene wat geestelik aan die slaap is?

5 Party mense dink dat daar geen God is wat hulle tot verantwoording sal roep nie (Ps. 53:1). Ander meen dat God nie in ons as mense belangstel nie en dat dit dus vir ons sinloos is om in hom belang te stel. Nog ander voel dat dit hulle vriende van God maak as hulle aan ’n kerk behoort. Al hierdie mense is geestelik aan die slaap. Hulle moet wakker word. Hoe kan ons hulle help?

ONS MOET SELF WAKKER BLY

6. Waarom moet Christene daarna streef om geestelik wakker te bly?

6 As ons ander wil wakker maak, moet ons self wakker wees. Wat behels dit? God se Woord verbind figuurlike slaap met “werke wat tot die duisternis behoort”—swelgerye, dronkenskap, ongeoorloofde gemeenskap, losbandige gedrag, twis en jaloesie. (Lees Romeine 13:11-14.) Dit kan moeilik wees om sulke gedrag te vermy. Waaksaamheid is noodsaaklik. ’n Motorbestuurder wat onderskat hoe gevaarlik dit sal wees as hy agter die stuurwiel aan die slaap raak, kan sy lewe in gevaar stel. Hoe belangrik is dit tog vir ’n Christen om te besef dat geestelike slaap dodelik kan wees!

7. Watter uitwerking kan dit op ons hê as ons ’n verkeerde beskouing van mense het?

7 ’n Christen kan byvoorbeeld meen dat almal in sy gebied die goeie nuus onherroeplik verwerp het (Spr. 6:10, 11). Hy redeneer dalk: ‘As niemand gaan belangstel nie, waarom moet ons mense dan geesdriftig probeer bereik of help?’ Dit is so dat baie miskien nou geestelik slaap, maar hulle omstandighede en gesindheid kan verander. Party word wel wakker en reageer gunstig. En ons kan hulle help as ons self wakker bly, byvoorbeeld deur nuwe maniere te probeer om die Koninkryksboodskap op ’n interessante wyse aan te bied. Om wakker te bly, behels onder meer dat ons ons herinner aan waarom ons bediening lewensbelangrik is.

WAAROM IS ONS BEDIENING LEWENSBELANGRIK?

8. Waarom is ons Christelike bediening lewensbelangrik?

8 Hou in gedagte dat ons predikingswerk, ongeag hoe mense tans reageer, Jehovah vereer en ’n rol speel in die vervulling van sy voorneme. Binnekort sal diegene wat die goeie nuus nie gehoorsaam nie, regterlike straf ondergaan. Die manier waarop mense op ons predikingswerk reageer, sal dien as ’n grondslag vir oordeel (2 Tess. 1:8, 9). Verder sal dit verkeerd wees van ’n Christen om te redeneer dat dit onnodig is om geesdriftig te preek omdat “daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees” (Hand. 24:15). Ons verstaan uit God se Woord dat diegene wat as “bokke” geoordeel word, “die ewige vernietiging in” sal gaan. Ons predikingswerk lewer bewys van God se barmhartigheid en maak dit vir mense moontlik om te verander en “die ewige lewe” te verkry (Matt. 25:32, 41, 46; Rom. 10:13-15). As ons nie preek nie, hoe sal mense dan die geleentheid hê om die boodskap te hoor wat lewe kan beteken?

9. Hoe het jy sowel as ander daarby baat gevind dat jy die goeie nuus verkondig?

9 As ons die goeie nuus verkondig, vind ons ook daarby baat. (Lees 1 Timoteus 4:16.) Het jy nie gevind dat dit jou geloof en jou liefde vir God versterk as jy oor Jehovah en die Koninkrykshoop praat nie? Het dit jou nie gehelp om Christelike eienskappe aan te kweek nie? Dra dit nie by tot jou vreugde as jy jou toegewydheid aan God openbaar deur aan die bediening deel te neem nie? Talle wat die voorreg het om die waarheid aan ander te leer, het al die vreugde gesmaak om te sien hoe God se gees hierdie persone help om hulle lewe te verbeter.

WEES OPLETTEND

10, 11. (a) Hoe het Jesus en Paulus getoon dat hulle wakker en oplettend is? (b) Lig toe hoe dit ons bediening kan verbeter as ons wakker en oplettend is.

10 Mense se belangstelling in die goeie nuus kan op verskillende maniere gewek word. Christenbedienaars moet dus oplettende waarnemers wees. Jesus is ons voorbeeld. Hy was volmaak en kon derhalwe die stilswyende verontwaardiging van ’n Fariseër, die opregte berou van ’n sondige vrou en die selfopofferende gesindheid van ’n weduwee onderskei (Luk. 7:37-50; 21:1-4). Jesus kon op elkeen se geestelike behoefte reageer. Maar ’n kneg van God hoef nie volmaak te wees om ’n goeie waarnemer te wees nie. Die apostel Paulus se voorbeeld lig dit toe. Hy het sy aanbieding aangepas sodat dit by verskillende groepe en by mense met uiteenlopende gesindhede byval sou vind.—Hand. 17:22, 23, 34; 1 Kor. 9:19-23.

11 As ons daarna streef om, soos Jesus en Paulus, wakker en oplettend te wees, kan ons onderskei wat die beste manier is om die belangstelling te wek van diegene wat ons teëkom. Byvoorbeeld, wanneer jy mense nader, moet jy op die uitkyk wees na aanduidings van hulle kultuur, belangstellings of gesinsituasie. Miskien kan jy sien waarmee hulle besig is en ’n beleefde kommentaar daaroor lewer wanneer jy ’n gesprek aanknoop.

12. Waarom moet ons let op ons gesprekke terwyl ons aan die bediening deelneem?

12 ’n Oplettende waarnemer probeer dinge vermy wat sy aandag sal aflei. Gesprekke met ons velddiensmaat kan opbouend wees. Maar ons moet onthou dat ons aan die veldbediening deelneem om vir ander te preek (Pred. 3:1, 7). Ons moet dus oppas dat ons gesprekke tussen deure nie inbreuk maak op ons bediening nie. ’n Goeie manier om ons gedagtes op ons oogmerk gerig te hou, is om te bespreek wat ons vir belangstellendes wil sê. En hoewel ’n selfoon ons soms kan help om doeltreffend te wees in ons bediening, moet ons stappe doen sodat ’n oproep nie ons gesprek met ’n huisbewoner sal onderbreek nie.

TOON PERSOONLIKE BELANGSTELLING

13, 14. (a) Hoe kan ons uitvind waarin iemand belangstel? (b) Wat kan mense se belangstelling in geestelike dinge aanwakker?

13 Bedienaars wat wakker en oplettend is, luister aandagtig na diegene wat hulle teëkom. Watter vrae kan jy stel sodat mense in jou gebied vir jou sê wat hulle dink? Is hulle besorg oor al die verskillende godsdienste, die geweld in die gebied of regerings se onvermoë om probleme op te los? Kan jy belangstelling in geestelike sake aanwakker deur kommentaar te lewer oor die wonderlike ontwerp van lewende dinge of deur daarop te wys hoe prakties die Bybel se raad is? Gebed is iets waarin mense van byna alle kulture, selfs party ateïste, belangstel. Baie wonder of enigiemand na gebede luister. Ander stel dalk belang in die vrae: Verhoor God alle gebede? Indien nie, wat moet ons doen om deur God verhoor te word?

14 Ons kan waarskynlik baie leer oor die kuns om gesprekke aan te knoop deur te kyk hoe ervare verkondigers te werk gaan. Let op hoe hulle dit doen sonder om die indruk te skep dat hulle die huisbewoner ondervra of hulle neus in sy sake steek. Hoe toon hulle stemtoon of gesigsuitdrukking dat hulle daarin belangstel om die huisbewoner se beskouings te verstaan?—Spr. 15:13.

VRIENDELIKHEID EN VAARDIGHEID

15. Waarom moet vriendelikheid ons pogings in die predikingswerk kenmerk?

15 Hou jy daarvan om uit ’n diep slaap wakker gemaak te word? Baie reageer nie goed wanneer hulle skielik wakker gemaak word nie. ’n Sagte benadering is gewoonlik verkiesliker. Dieselfde geld vir pogings om mense geestelik wakker te maak. Byvoorbeeld, wat is gewoonlik die beste reaksie wanneer iemand woedend op jou besoek reageer? Erken sy gevoelens vriendelik, bedank hom vir sy openhartigheid en neem kalm afskeid van hom (Spr. 15:1; 17:14; 2 Tim. 2:24). Jou vriendelikheid kan so ’n persoon beweeg om positiewer te reageer die volgende keer dat ’n Getuie daar besoek aflê.

16, 17. Hoe kan ons in ons bediening insig aan die dag lê?

16 In ander gevalle kan jy moontlik ’n negatiewe reaksie te bowe kom. Iemand sê dalk: “Nee, dankie. Ek het my eie kerk”, of: “Ek stel nie belang nie”, bloot omdat hy dink dat dit die maklikste manier is om die gesprek te beëindig. Maar met vaardigheid en vriendelike volharding kan jy miskien ’n interessante vraag opper wat die huisbewoner se belangstelling in geestelike dinge sal wek.Lees Kolossense 4:6.

17 Wanneer ons mense teëkom wat voel dat hulle te besig is om te luister, is dit soms die beste om die situasie te erken en dit daar te laat. Maar partykeer besef jy dalk dat jy kortliks iets sinvols kan sê. Party broers kan die Bybel oopslaan, ’n gedagteprikkelende teks lees en die huisbewoner met ’n vraag laat—alles in minder as ’n minuut. Hulle bondige aanbieding het soms soveel belangstelling gewek dat die huisbewoner gevind het dat hy nie te besig is vir ’n kort gesprek nie. Probeer dit gerus wanneer die situasie dit toelaat.

18. Wat kan ons doen om doeltreffender te wees in informele getuieniswerk?

18 Wanneer ons mense gedurende ons daaglikse bedrywighede teëkom, kan ons dikwels hulle belangstelling in die goeie nuus wek as ons voorbereid is om informeel te getuig. Baie broers en susters hou lektuur in hulle sak of handsak. Hulle hou moontlik ook ’n spesifieke Bybelteks in gedagte om met ander te bespreek as die geleentheid hom voordoen. Jy kan met die diensopsiener of pioniers in julle gemeente praat oor hoe jy jou kan voorberei om dit te doen.

HOE OM ONS FAMILIELEDE SAGGIES WAKKER TE MAAK

19. Waarom moet ons nie ophou om ons familielede te probeer help nie?

19 Ons wil natuurlik ons familielede help om die goeie nuus aan te neem (Jos. 2:13; Hand. 10:24, 48; 16:31, 32). As hulle ons eerste poging om vir hulle te getuig, verwerp, kan dit ons geesdrif demp om weer te probeer. Ons dink dalk dat daar min is wat ons kan doen of sê wat hulle gesindheid sal verander. Maar gebeure kan ’n verandering in jou familielede se lewe of beskouing teweegbring. Of jou vermoë om die waarheid te verduidelik, het dalk verbeter sodat jy nou ’n ander resultaat sal hê.

20. Waarom is takt belangrik wanneer ons met familielede praat?

20 Ons moenie ongevoelig wees vir ons familielede se gevoelens nie (Rom. 2:4). Moet ons nie net so vriendelik met hulle praat as met dié wat ons in die predikingswerk teëkom nie? Praat op ’n sagmoedige en respekvolle wyse. Lewer bewys van hoe die waarheid jou ten goede beïnvloed het, sonder om prekerig te wees (Ef. 4:23, 24). Toon duidelik hoe Jehovah jou lewe verryk het deur ‘jou te leer om jouself te bevoordeel’ (Jes. 48:17). Stel vir jou familielede ’n voorbeeld van hoe ’n Christen moet lewe.

21, 22. Vertel ’n ondervinding wat toon hoe belangrik dit is om vol te hou met pogings om familielede geestelik te help.

21 ’n Suster het onlangs geskryf: “Ek het altyd vir my 13 broers en susters probeer getuig deur middel van my spraak en gedrag. Ek het nooit ’n jaar laat verbygaan sonder om vir elkeen van hulle te skryf nie. Maar ek was 30 jaar lank die enigste Getuie in die familie.”

22 Die suster het verder gesê: “Eendag het ek een van my susters gebel wat honderde kilometers ver woon. Sy het vir my gesê dat sy haar predikant gevra het om die Bybel met haar te studeer, maar hy het dit nooit gedoen nie. Toe ek sê dat ek haar met graagte sou help, het sy gesê: ‘Goed, maar ek sê nou vir jou: Ek sal nooit een van Jehovah se Getuies word nie.’ Nadat ek die boek Wat leer die Bybel werklik? aan haar gepos het, het ek haar elke paar dae gebel. Maar sy het nog steeds nie die boek oopgemaak nie. Uiteindelik het ek haar gevra om haar boek te gaan haal, en ons het omtrent 15 minute lank oor die telefoon ’n paar van die aangehaalde tekste gelees en bespreek. Ná nog ’n paar oproepe wou sy langer as 15 minute studeer. Toe het sy my begin bel vir haar studie, soms nog voordat ek in die oggend opgestaan het en partykeer twee keer per dag. Sy is die volgende jaar gedoop, en die jaar daarna het sy begin pionier.”

23. Waarom moet ons nie moeg word om mense uit ’n geestelike slaap te probeer wakker maak nie?

23 Om mense te help om uit ’n geestelike slaap wakker te word, is ’n kuns en vereis herhaalde pogings. Maar daar is nog steeds sagmoedige mense wat reageer op ons pogings om hulle wakker te maak. Daar word gemiddeld meer as 20- 000 mense per maand as Getuies van Jehovah gedoop. Laat ons dus Paulus se raad aan ons eerste-eeuse broer Argippus ter harte neem: “Let voortdurend op die bediening wat jy in die Here aanvaar het, dat jy dit vervul” (Kol. 4:17). Die volgende artikel sal almal help besef wat dit beteken om met ’n gevoel van dringendheid te preek.

[Studievrae]

[Venster op bladsy 13]

HOE OM SELF WAKKER TE BLY

▪ Bly besig deur God se wil te doen

▪ Vermy werke wat tot die duisternis behoort

▪ Wees bewus van die gevaar van geestelike slaap

▪ Behou ’n positiewe beskouing van mense in julle gebied

▪ Probeer nuwe maniere om vir ander te preek

▪ Hou in gedagte hoe belangrik jou bediening is