Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe gee jy raad?

Hoe gee jy raad?

Hoe gee jy raad?

Is jy al ooit gevra om raad aan ander te gee? Byvoorbeeld, is jy al ooit vrae gevra soos: ‘Wat moet ek doen? Moet ek na hierdie geselligheid toe gaan? hierdie loopbaan volg? met hierdie persoon assosieer met die oog op die huwelik?’

Opregte mense vra jou dalk om hulle te help om besluite te neem—besluite wat hulle verhouding met vriende, gesinslede of selfs Jehovah kan beïnvloed. Waarop sal jy jou antwoord grond? Wat doen jy gewoonlik wanneer jy raad aan ander gee? Hetsy dit lyk of die onderwerp onbenullig of belangrik is, “die hart van die regverdige dink na sodat hy kan antwoord”, sê Spreuke 15:28. Kyk hoe die volgende vyf Bybelbeginsels ’n mens kan help wanneer jy raad gee.

1 Onderskei die werklike situasie. “Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy dit hoor, is dit dwaasheid van sy kant en ’n vernedering.”SPR. 18:13.

As ons goeie raad wil gee, moet ons verstaan wat die omstandighede en beskouing is van die een wat hulp vra. Ter toeligting: Wat moet jy weet om te kan help as iemand jou bel en vra wat die beste roete is om by jou huis uit te kom? Sal jy hom die regte aanwysings kan gee as jy nie eers weet waar hy is nie? Natuurlik nie! Net so moet ons, as ons die regte leiding wil gee, weet “waar” die persoon is wat raad soek—wat sy omstandighede en beskouing is. Is daar spesiale omstandighede wat ons antwoord kan beïnvloed? Sonder behoorlike kennis van ’n situasie gee ons miskien raad wat die persoon selfs meer verwar.—Luk. 6:39.

Stel vas hoeveel navorsing hy gedoen het. Dit is moontlik ook verstandig om die persoon wat raad soek, vrae te vra soos: “Watter Bybelbeginsels dink jy is van toepassing?” “Wat sou jy sê is die voor- en nadele van jou moontlike keuses?” “Watter navorsing het jy reeds gedoen?” “Watter hulp het ander, soos die gemeentelike ouer manne, jou ouers of jou Bybelstudiehouer, jou reeds gegee?”

Die antwoorde kan ons help onderskei hoeveel moeite die persoon reeds gedoen het om ’n antwoord te vind. Verder sal ons raad in aanmerking neem wat ander miskien reeds gesê het. Ons sal dalk ook onderskei of die persoon eintlik net ’n raadgewer soek wat ‘sy ore sal streel’ met die raad wat hy wil hoor.—2 Tim. 4:3.

2 Vermy haastige antwoorde.

“Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat.”JAK. 1:19.

Met goeie bedoelings antwoord ons dalk vinnig. Maar is dit gewoonlik raadsaam, veral as ons ’n onderwerp bespreek wat ons nog nie deeglik nagevors het nie? Spreuke 29:20 sê: “Het jy ’n man gesien wat haastig is met sy woorde? Daar is meer hoop vir ’n sot as vir hom.”

Neem tyd om seker te maak dat jou benadering ten volle met goddelike wysheid ooreenstem. Vra jou af: ‘Beïnvloed die denke en “gees van die wêreld” my denkwyse?’ (1 Kor. 2:12, 13). Onthou dat goeie bedoelings alleen dalk nie genoeg is nie. Nadat die apostel Petrus van Jesus se moeilike toewysing uitgevind het, het hy Jesus die raad gegee: “Wees goed vir uself, Here; u sal glad nie hierdie lot hê nie.” Wat kan ons uit Petrus se reaksie leer? Dat selfs ’n opregte persoon “nie God se gedagtes nie, maar dié van mense” kan bevorder as hy nie versigtig is nie (Matt. 16:21-23). Hoe belangrik is dit tog om te dink voordat ons praat! Is ons ondervinding immers nie baie beperk in vergelyking met God se wysheid nie?—Job 38:1-4; Spr. 11:2.

3 Pas God se Woord nederig toe.

“Ek [doen] niks op eie inisiatief . . . nie; maar net soos die Vader my geleer het, spreek ek hierdie dinge.”JOH. 8:28.

Sal jy sê: “As ek jy was, sou ek . . . ”? Al lyk dit of die antwoord op die vraag vanselfsprekend is, sal dit goed wees om te leer uit die voorbeeld van nederigheid en beskeidenheid wat Jesus gestel het. Hy het baie meer wysheid en ondervinding gehad as enige ander mens; tog het hy gesê: “Ek het nie op eie ingewing gespreek nie, maar die Vader . . . het vir my ’n gebod gegee oor wat om te sê en wat om te spreek” (Joh. 12:49, 50). Jesus se leringe en raad was altyd op sy Vader se wil gegrond.

Ons lees byvoorbeeld in Lukas 22:49 dat Jesus se dissipels gevra het of hulle moet veg toe mense hom in hegtenis wou neem. Een dissipel het ’n swaard gebruik. Let daarop dat Jesus volgens die parallelle verslag in Matteus 26:52-54 selfs onder daardie omstandighede tyd geneem het om met die dissipel oor Jehovah se wil te redeneer. Omdat Jesus vertroud was met die beginsels in Genesis 9:6 en die profesieë in Psalm 22 en Jesaja 53, kon hy wyse leiding gee wat sonder twyfel lewens gered en Jehovah behaag het.

4 Gebruik jou teokratiese biblioteek.

“Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy heer oor sy huisknegte aangestel het om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee?”MATT. 24:45.

Jesus het ’n betroubare slaafklas aangestel wat lewensbelangrike geestelike voedsel voorsien. Neem jy tyd om deeglike navorsing in Bybelpublikasies te doen wanneer jy raad en leiding oor belangrike sake gee?

Die Watch Tower Publications Index en die Watchtower Library * stel ’n oorvloed van duidelike inligting geredelik beskikbaar aan ons. Wat ’n fout sal dit tog wees om hierdie skat van inligting oor die hoof te sien! Duisende onderwerpe word aangegee, met baie artikels om iemand te help wat raad soek. Hoe bedrewe is jy daarin om ander te help om Bybelbeginsels te ondersoek en oor God se Woord te redeneer? Net soos ’n GPS-toestel ’n persoon kan help om vas te stel waar hy is en hom na sy bestemming kan lei, kan navorsingshulpe hom help om te sien op watter pad hy is en om te onderskei hoe om op die pad na die lewe te bly.

Baie ouer manne het al verkondigers opgelei om artikels met behulp van die Index of die Watchtower Library na te slaan en het sodoende hulle broers en susters gehelp om oor die Skrif te redeneer. Hierdie bystand help verkondigers nie net om aandag te skenk aan sake wat vir hulle op die oomblik van belang is nie, maar ook om in die gewoonte te kom om navorsing te doen en op Jehovah se geestelike voorsienings staat te maak. Op hierdie manier word hulle “waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen . . . om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is”.—Heb. 5:14.

5 Moenie besluite vir ander probeer neem nie.

“Elkeen sal sy eie vrag dra.”GAL. 6:5.

Op die ou end moet elkeen self besluit watter raad om te volg. Jehovah gee ons almal die vryheid om te besluit of ons deur sy beginsels gelei sal word of nie (Deut. 30:19, 20). In party situasies is etlike Bybelbeginsels van toepassing, en uiteindelik moet die persoon wat raad soek, self besluit wat hy gaan doen. Op grond van die betrokke kwessie of die ouderdom van die een wat raad soek, moet ons ons dalk ook afvra: ‘Het ek werklik die gesag om hierdie vraag te beantwoord?’ Party sake moet liewer na gemeentelike ouer manne verwys word of as dit ’n jong persoon is wat raad vra, na sy ouers.

[Voetnoot]

^ par. 19 Die Watchtower Library op CD-ROM is tans beskikbaar in 39 tale. Die Watch Tower Publications Index is tans beskikbaar in meer as 45 tale.

[Venster/Prent op bladsy 8]

Projek vir Gesinsaanbidding

As ’n studieprojek kan jy gerus navorsing doen om antwoorde te vind op vrae wat onlangs aan jou gestel is. Watter artikels en Bybelbeginsels kan jy vind wat iemand sal help wat daardie vrae vra? Byvoorbeeld, gestel ’n broer of suster vra jou oor ’n romantiese verhouding met iemand met die oog op die huwelik. Wanneer jy die Index of die Watchtower Library gebruik, slaan eers die onderwerp na wat die nouste hiermee verband hou. In die Index kan jy byvoorbeeld “Dating” of “Marriage” naslaan. Gaan dan deur die onderhofies om toepaslike artikels te vind. Kyk of daar onder die hoofopskrif enige “See also”-onderwerpe is, wat miskien na ’n opskrif verwys wat nouer verband hou met jou soektog.

[Venster op bladsy 9]

Danksy Jehovah se voorsienings deur middel van sy organisasie kan ons die beste raad gee sowel as ontvang. Prediker 12:11 sê: “Die woorde van die wyses is soos osprikkels, en soos ingeslane spykers is dié wat hulle aan versamelings van spreuke wy; hulle is deur een herder gegee.” Net soos “osprikkels”—stokke met ’n skerp punt wat gebruik word om trekdiere aan te dryf—rig liefdevolle en betroubare raad opregtes in die regte rigting. En net soos “ingeslane spykers” gebruik word om goeie, stewige geboue op te rig, kan betroubare raad ’n persoon help om goeie besluite te neem. Wyses “wy” hulle aan, of skep behae in, “versamelings van spreuke” wat die wysheid van hulle “een herder”, Jehovah, weerspieël.

Volg die Herder na wanneer jy raad gee. Wat ’n voorreg is dit tog om ’n luisterende oor en nuttige raad te voorsien wanneer ons ook al kan! As ons raad werklik op Bybelbeginsels gegrond is, sal dit betroubaar wees en kan dit die luisteraar tot ewige voordeel strek.