Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Kan ’n Christen se gewoonte om na pornografie te kyk, so erg word dat hy uit die Christengemeente gesit word?

▪ Ja, dit kan. Dit beklemtoon waarom dit noodsaaklik is om alle pornografie—geskrewe asook beeldmateriaal—in tydskrifte, in rolprente, in video’s en op die Internet met mening te vermy.

Pornografie is oral in die wêreld te vinde. Die Internet maak pornografiese materiaal meer beskikbaar as ooit tevore en veroorsaak dat meer mense deur hierdie verskriklike plaag geteister word. Party, jonk en oud, het per ongeluk op pornografiese webwerwe afgekom. Ander het dit doelbewus besoek, aangesien hulle vryer voel omdat hulle in die geheim pornografie kan lees of daarna kan kyk—by die huis of die kantoor. Waarom moet dit vir Christene ’n saak van erns wees?

Ons vind ’n fundamentele rede in Jesus se waarskuwing: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Matt. 5:28). Normale geslagsomgang is natuurlik gepas en ’n bron van genot tussen huweliksmaats (Spr. 5:15-19; 1 Kor. 7:2-5). Maar dít is nie die fokus van pornografie nie. Dit beeld eerder ongeoorloofde seks uit wat die soort onsedelike gedagtes aanwakker waarteen Jesus gewaarsku het. Eenvoudig gestel, om pornografie te lees of daarna te kyk, is lynreg in stryd met die goddelike opdrag: “Maak dan dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodediens is.”—Kol. 3:5.

Sê nou ’n Christen het ’n slag of wat na pornografie gekyk? Sy geval kan in sekere mate vergelyk word met die gevaarlike situasie waarin die psalmis Asaf hom eenkeer bevind het: “Wat my betref, my voete het amper afgewyk, my voetstappe het byna uitgegly.” Hoe kan so ’n Christen ’n skoon gewete hê en vrede met God geniet as hy kyk na pornografiese beeldmateriaal van naakte mans of vroue of van ’n man en vrou wat hoerery pleeg? Asaf het ook nie vrede geniet nie: “Ek word die hele dag gekwel, en my teregwysing is elke oggend daar.”—Ps. 73:2, 14.

’n Christen wat in hierdie verdorwenheid vasgevang is, moet wakker word en besef dat hy geestelike hulp nodig het. Hierdie hulp is in die gemeente beskikbaar: “Selfs al begaan iemand die een of ander misstap voordat hy daarvan bewus is, moet julle wat geestelik bekwaam is, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid probeer reghelp, terwyl jy op jouself let” (Gal. 6:1). Een of twee Christen- ouer manne kan hom die hulp bied wat hy nodig het, insluitende ‘gebede van geloof wat die een wat ongesteld is, gesond kan maak, en sy sonde kan vergewe word’ (Jak. 5:13-15). Diegene wat hulp gesoek het om die vlek van pornografie te verwyder, het gesien hoe goed dit vir hulle is om nader aan God te kom, soos dit vir Asaf was.—Ps. 73:28.

Maar die apostel Paulus het gesê dat party wat gesondig het, nie berou getoon het “oor hulle onreinheid en hoerery en losbandige gedrag” nie (2 Kor. 12:21). * Aangaande die Griekse woord wat hier met “onreinheid” vertaal word, het professor Marvin R. Vincent geskryf dat dit “die gedagte bevat van onreinheid tot die punt van smerigheid”. Dit is ’n droewige feit dat sekere pornografie baie erger is as tonele van naaktheid of van ’n man en vrou wat hoerery pleeg. Daar is smerige, afskuwelike pornografie wat homoseksualiteit (seks tussen persone van dieselfde geslag), groepseks, bestialiteit, kinderpornografie, groepverkragting, wreedheid teenoor vroue, bondage (vasbinding tydens seks) of sadistiese marteling insluit. Party in Paulus se dag wat “verstandelik in duisternis” was, het “alle sedelikheidsgevoel verloor [en] hulle aan losbandige gedrag oorgegee om met hebsug elke soort onreinheid te bedryf”.—Ef. 4:18, 19.

Paulus het ook “onreinheid” in Galasiërs 5:19 gemeld. ’n Britse geleerde het gesê dat dit “hier meer spesifiek op alle onnatuurlike welluste [dui]”. Watter Christen sal ontken dat die afskuwelike, seksueel verlagende vorme van pornografie wat hierbo genoem word, “onnatuurlike welluste” en smerig is? Paulus het in Galasiërs 5:19-21 gesê dat “dié wat sulke [onreinheid] beoefen, God se koninkryk nie sal beërf nie”. As iemand dus, miskien oor ’n aansienlike tydperk, ’n diepgewortelde gewoonte ontwikkel het om na afskuwelike, seksueel verlagende pornografie te kyk en nie berou wil toon en wil omdraai nie, kan hy nie in die Christengemeente bly nie. Hy sal uitgesit moet word sodat die reinheid en gees van die gemeente bewaar word.—1 Kor. 5:5, 11.

Dit is goed om te weet dat party wat in die gewoonte verval het om na afskuwelike vorme van pornografie te kyk, na die ouer manne toe gegaan het en die nodige geestelike hulp ontvang het om drastiese veranderinge aan te bring. Jesus het ’n beroep gedoen op Christene in eertydse Sardis: “Versterk die oorblywende dinge wat op die punt was om te sterf . . . Onthou dan hoe jy ontvang en hoe jy gehoor het, en hou aan om dit te bewaar, en toon berou. Waarlik, tensy jy wakker word, sal [jy] glad nie weet in watter uur ek op jou sal afkom nie” (Op. 3:2, 3). Dit is moontlik om berou te toon en as ’t ware uit die vuur geruk te word.—Jud. 22, 23.

Maar hoeveel beter is dit tog vir elkeen van ons om ’n ferm besluit te neem om nie naby hierdie gevaarlike situasie te kom nie. Ja, ons moet vasbeslote wees om alle vorme van pornografie te vermy!

[Voetnoot]

^ par. 8 Vir die onderskeid tussen “onreinheid en hoerery en losbandige gedrag”, sien Die Wagtoring van 15 Julie 2006, bladsye 29-31.

[Lokteks op bladsy 30]

’n Christen wat in verdorwenheid vasgevang is, moet wakker word en besef dat hy geestelike hulp nodig het