Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lewensverhaal

Ek hou al 70 jaar vas aan die slip van ’n Jood

Ek hou al 70 jaar vas aan die slip van ’n Jood

Soos vertel deur Leonard Smith

In my vroeë tienerjare het twee Bybelgedeeltes ’n groot indruk op my gemaak. Ek kan vandag nog, meer as 70 jaar later, die tyd onthou toe ek die betekenis gesnap het van Sagaria 8:23, wat praat van “tien man” wat “die slip van ’n Joodse man” vasgryp. Hulle sê vir die Jood: “Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”

DIE Joodse man beeld gesalfde Christene af, en die “tien man” stel die “ander skape” voor, oftewel die “Jonadabs”, soos hulle destyds genoem is (Joh. 10:16). * Toe ek hierdie waarheid verstaan het, het ek besef in watter mate die verwesenliking van my hoop om vir ewig op die aarde te lewe, afhang van my lojale ondersteuning van die gesalfde klas.

Jesus se illustrasie van “die skape” en “die bokke” in Matteus 25:31-46 het ook ’n groot indruk op my gemaak. “Die skape” stel diegene voor wat gedurende die tyd van die einde ’n gunstige oordeel ontvang omdat hulle goed doen aan Christus se gesalfde broers wat nog op die aarde is. As ’n jong Jonadab het ek vir myself gesê: ‘Len, as jy deur Christus as ’n skaap beskou wil word, moet jy sy gesalfde broers ondersteun en hulle leierskap aanvaar omdat God met hulle is.’ Hierdie begrip het my deur meer as sewe dekades heen gerig.

‘WAT IS MY PLEK?’

My ma is in 1925 in die vergadersaal by Bethel gedoop. Daardie saal is die London Tabernacle genoem en is deur die broers in die omgewing gebruik. Ek is op 15 Oktober 1926 gebore. In Maart 1940 is ek gedoop gedurende ’n byeenkoms in Dover aan die kus van Engeland. Ek het Bybelwaarheid liefgekry. Aangesien my ma ’n gesalfde Christen was, was die eerste ‘slip van ’n Jood’ waaraan ek as ’t ware vasgehou het, dié van my ma. Destyds het my pa en my ouer suster Jehovah nie gedien nie. Ons was in die Gillingham-gemeente in die suidooste van Engeland, wat hoofsaaklik uit gesalfde Christene bestaan het. My ma het ’n goeie voorbeeld van ywer in die predikingswerk gestel.

In September 1941 is die geskil van universele heerskappy in ’n toespraak met die tema “Onkreukbaarheid” by ’n streekbyeenkoms in die stad Leicester bespreek. Danksy hierdie toespraak het ek vir die eerste keer verstaan dat ons betrokke is by die geskil tussen Jehovah en Satan. Daarom moet ons ons standpunt vir Jehovah inneem en ons onkreukbaarheid teenoor hom as Universele Soewerein handhaaf.

By daardie byeenkoms is groot klem op die pionierdiens gelê, en jongmense is aangespoor om dit as hulle doelwit te stel. Die toespraak met die tema “Die pionier se plek in die organisasie” het my laat wonder: ‘Wat is my plek?’ Daardie byeenkoms het my oortuig dat dit my plig as ’n Jonadab is om die gesalfde klas na die beste van my vermoë in die predikingswerk te help. Daar in Leicester het ek my aansoekvorm ingevul om by die geledere van die pioniers aan te sluit.

PIONIERDIENS GEDURENDE DIE OORLOG

Op 1 Desember 1941 is ek op 15-jarige ouderdom as ’n spesiale pionier aangestel. My ma was my eerste pioniermaat, maar ná sowat ’n jaar moes sy weens gesondheidsredes ophou pionier. Die takkantoor in Londen het toe gereël dat ek saam met Ron Parkin pionier, wat nou op die Takkomitee in Puerto Rico dien.

Ons is na die kusdorpe Broadstairs en Ramsgate in die graafskap Kent gestuur, waar ons ’n kamer gehuur het. Die maandelikse toelaag vir spesiale pioniers was 40 sjieling (omtrent R63 teen die huidige waarde). Nadat ons ons huur betaal het, het ons dus min oorgehad om van te lewe, en ons was nie altyd seker waar ons volgende ete vandaan sou kom nie. Maar Jehovah het altyd op die een of ander manier in ons behoeftes voorsien.

Ons het baie kilometers per fiets afgelê en moes dikwels ons swaar belaaide fietse teen sterk winde stoot wat van die Noordsee af gewaai het. Daar was ook die gevaar van lugaanvalle en Duitse V-1-missiele wat baie laag oor Kent gevlieg het om Londen te bombardeer. Ek moes eenkeer van my fiets afspring en in ’n sloot duik toe ’n bom oor my kop getrek en in ’n veld daar naby ontplof het. Nietemin was ons pionierjare in Kent gelukkig.

EK WORD ’N BETHELIET

My ma het altyd met groot lof van Bethel gepraat. “Ek kan nie iets beters wens as dat jy ’n Betheliet word nie”, het sy dikwels gesê. Stel jou dus voor hoe verheug en verbaas ek was toe ek in Januarie 1946 ’n uitnodiging ontvang het om drie weke in die Bethel in Londen te gaan help met die werk. Teen die einde van hierdie weke het Pryce Hughes, die takkneg, my gevra om by Bethel aan te bly. Die opleiding wat ek daar ontvang het, het my gevorm vir die res van my lewe.

Die Londense Bethel het destyds uit ongeveer 30 lede bestaan, waarvan die meeste jong ongetroude broers was, hoewel daar ook etlike gesalfde broers was, onder meer Pryce Hughes, Edgar Clay en Jack Barr, wat ’n lid van die Bestuursliggaam geword het. Wat ’n voorreg was dit tog om Christus se broers te ondersteun deur as ’n jong man onder die geestelike toesig van hierdie “pilare” te werk!—Gal. 2:9.

Eendag het ’n broer by Bethel vir my gesê dat daar ’n suster by die voordeur is wat my wil sien. Tot my verbasing was dit my ma, met ’n pakkie onder haar arm. Sy het gesê dat sy nie wil inkom nie omdat sy nie my werk wil onderbreek nie, maar sy het vir my die pakkie gegee en is toe daar weg. Dit het ’n warm jas bevat. Haar liefdevolle gebaar het my laat dink aan Hanna, wat vir haar jong seun Samuel ’n oorkleed geneem het terwyl hy by die tabernakel gedien het.—1 Sam. 2:18, 19.

GILEAD—’N ONVERGEETLIKE ONDERVINDING

In 1947 is vyf van ons wat by Bethel gedien het, genooi om die Gileadskool in die Verenigde State by te woon, en die volgende jaar was ons toe in die 11de klas. Toe ons daar aankom, was dit bitter koud in die noorde van die staat New York, waar die skool geleë was. Hoe bly was ek tog oor die warm jas wat my ma vir my gebring het!

Die ses maande dat ek in Gilead was, was onvergeetlik. Omgang met medestudente uit 16 verskillende lande het my lewensuitkyk verbreed. Ek het nie net geestelik gegroei danksy die opleiding van die skool nie, maar het ook baat gevind by omgang met geestelik volwasse Christene. Een van my medestudente, Lloyd Barry, een van die instrukteurs, Albert Schroeder, en die opsiener van Kingdom Farm (waar die Gileadskool geleë was), John Booth, het later lede van die Bestuursliggaam geword. Ek waardeer nog steeds die liefdevolle raad wat hierdie broers my gegee het, asook hulle goeie voorbeeld van lojaliteit aan Jehovah en sy organisasie.

KRINGWERK EN TOE TERUG NA BETHEL

Ná Gilead is ek gestuur om kringwerk in die staat Ohio, VSA, te doen. Ek was net 21 jaar oud, maar die broers het my jeugdige geesdrif liefdevol aanvaar. In daardie kring het ek baie by ervare ouer manne geleer.

Ná ’n paar maande is ek genooi om terug te gaan na die Brooklynse Bethel vir verdere opleiding. Gedurende dié tyd het ek pilare soos Milton Henschel, Karl Klein, Nathan Knorr, T.J. (Bud) Sullivan en Lyman Swingle leer ken, wat almal op die een of ander stadium as lede van die Bestuursliggaam gedien het. Dit was ’n verrykende ondervinding om hulle te sien werk en om hulle Christelike lewenswyse waar te neem. My vertroue in Jehovah se organisasie het honderdvoudig toegeneem. Toe is ek teruggestuur na Europa om my bediening daar voort te sit.

My ma is in Februarie 1950 oorlede. Ná die begrafnis het ek ’n openhartige gesprek met my pa en my suster, Dora, gehad. Ek het hulle gevra wat hulle omtrent die waarheid gaan doen noudat Ma nie meer daar is nie en ek nie meer in die huis is nie. Hulle het ’n bejaarde gesalfde broer, Harry Browning, geken en gerespekteer en het ingestem om die waarheid met hom te bespreek. Binne ’n jaar is my pa en Dora gedoop. My pa is later as ’n kneg in die Gillingham-gemeente aangestel. Ná my pa se dood is Dora getroud met ’n getroue ouer man, Roy Moreton, en sy het Jehovah tot haar dood in 2010 lojaal gedien.

IN FRANKRYK

Op skool het ek Duits, Frans en Latyn geneem, en van hierdie drie was Frans vir my die moeilikste. Ek het dus gemengde gevoelens gehad toe ek gevra is om by die Bethel in Parys, Frankryk, te gaan help. Daar het ek die voorreg gehad om saam met die takkneg Henri Geiger, ’n bejaarde gesalfde broer, te werk. Die toewysing was nie altyd maklik nie, en ek het ongetwyfeld talle foute gemaak, maar ek het baie oor menseverhoudinge geleer.

Daarbenewens sou die eerste naoorlogse internasionale byeenkoms in Parys in 1951 gehou word, en ek was betrokke by die reëlings daarvoor. ’n Jong reisende opsiener, Léopold Jontès, het Bethel toe gekom om my te help. Later is Léopold as takopsiener aangestel. Die byeenkoms is in die Palais des sports, naby die Eiffeltoring, gehou. Afgevaardigdes het van 28 lande gekom. Op die laaste dag was die 6 000 Franse Getuies verheug om 10 456 die byeenkoms te sien bywoon!

Toe ek in Frankryk aangekom het, was my Frans maar beroerd. Om sake te vererger, het ek die groot fout gemaak om net te praat wanneer ek seker was van my Frans. Maar as jy nie foute maak nie, word jy nooit reggehelp nie en maak jy nie vordering nie.

Ek het besluit om die situasie reg te stel deur by ’n skool in te skryf wat Frans aan buitelanders geleer het. Ek het klas geloop op die aande waarop daar geen vergaderinge was nie. Ek het ’n liefde vir Frans ontwikkel, en hierdie liefde het deur die jare heen toegeneem. Dit was voordelig, want ek kon die takkantoor in Frankryk met vertaalwerk help. Ek het later self ’n vertaler geword en uit Engels in Frans vertaal. Dit was ’n voorreg om te help om die ryk geestelike voedsel wat deur die slaafklas voorsien word, aan die Franssprekende broers regoor die wêreld oor te dra.—Matt. 24:45-47.

DIE HUWELIK EN ANDER VOORREGTE

In 1956 is ek getroud met Esther, ’n Switserse pionier wat ek ’n paar jaar tevore ontmoet het. Ons is getroud in die Koninkryksaal langs die Londense Bethel (die ou London Tabernacle, waar my ma gedoop is). Broer Hughes het ons troutoespraak gehou. Esther se ma was teenwoordig, en sy het ook die hemelse hoop gehad. My huwelik het my nie net voorsien van ’n pragtige en lojale maat nie, maar het my ook baie ure van kosbare omgang gebied met my voortreflike, geestelikgesinde skoonma, totdat sy haar aardse loopbaan in 2000 voltooi het.

Ná ons troue het ek en Esther buite Bethel gewoon. Terwyl ek voortgegaan het om vertaalwerk vir Bethel te doen, het Esther as ’n spesiale pionier in die voorstede van Parys gedien. Sy het ’n aantal mense gehelp om knegte van Jehovah te word. In 1964 is ons genooi om Bethel toe te gaan. Toe Takkomitees in 1976 gevorm is, is ek as ’n lid aangestel. Deur die jare heen het Esther my altyd liefdevol ondersteun.

“JULLE SAL MY NIE ALTYD HÊ NIE”

Ek het die voorreg gehad om van tyd tot tyd na die wêreldhoofkwartier in New York terug te keer. Gedurende hierdie besoeke het ek goeie raad by verskillende lede van die Bestuursliggaam gekry. Toe ek byvoorbeeld eenkeer my kommer oor ’n sperdatum in verband met my werk uitgespreek het, het broer Knorr geglimlag en gesê: “Moet jou nie bekommer nie. Werk net!” Sedertdien raak ek nie paniekerig wanneer toewysings ophoop nie, maar ek pak eerder die een taak ná die ander aan, en die werk kom gewoonlik betyds klaar.

Kort voor sy dood het Jesus vir sy dissipels gesê: “Julle sal my nie altyd [by julle] hê nie” (Matt. 26:11). As ander skape is ons ook daarvan bewus dat ons nie altyd Christus se gesalfde broers by ons op die aarde sal hê nie. Ek beskou dit dus as ’n kosbare voorreg dat ek meer as 70 jaar lank noue omgang met baie van die gesalfdes kon hê—terwyl ek met waardering aan die slip van ’n Jood vasgehou het.

[Voetnoot]

^ par. 5 Vir die term “Jonadab”, sien Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, bladsye 83, 165, 166.

[Lokteks op bladsy 21]

Broer Knorr het geglimlag en gesê: “Moet jou nie bekommer nie. Werk net!”

[Prente op bladsy 19]

(Links) My ma en pa

(Regs) Op die Gileadkampus in 1948, in die warm jas wat my ma my gegee het

[Prent op bladsy 20]

Ek tolk vir broer Lloyd Barry by die toewyding van die takkantoor in Frankryk, 1997

[Prente op bladsy 21]

(Links) Saam met Esther op ons troudag

(Regs) Saam in die getuieniswerk