Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onthou jy?

Onthou jy?

Onthou jy?

Het jy die onlangse nommers van Die Wagtoring noukeurig gelees? Kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:

In watter sin kan Salomo ’n waarskuwende voorbeeld vir ons wees?

God het koning Salomo geseën en gebruik. Maar gedurende sy heerskappy het Salomo afgewyk van God se raad. Hy het met Farao se heidense dogter getrou, baie vrouens geneem en toegelaat dat heidense vroue hom geleidelik tot valse aanbidding verlei. Ons moet oppas dat ons nie geleidelik verkeerde gesindhede of neigings ontwikkel nie (Deut. 7:1-4; 17:17; 1 Kon. 11:4-8).—12/15, bladsye 10-12.

Waarom kan ons Sara as ’n godvrugtige vrou en ’n dierbare huweliksmaat beskou?

Toe God Abraham beveel het om Ur te verlaat, het dit beteken dat hulle familie, vriende en ’n lewenswyse moes agterlaat ter wille van ’n onbekende bestemming. Tog het Sara haar samewerking gegee in die vertroue dat God haar sou seën. Sy het Abraham gerespekteer en pragtige eienskappe aan die dag gelê.—1/1, bladsy 8.

Waarom het Jehovah Abraham gevra om sy geliefde seun te offer?

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat God Abraham nie toegelaat het om Isak werklik te offer nie. Hierdie drama was ’n voorbeeld van hoe God sy Seun, Jesus, sou offer, hoewel dit ’n groot opoffering van Hom sou verg.—1/1, bladsy 23.

Wat dui aan dat daar van die eerste eeu af nog altyd ware gesalfde Christene op die aarde was?

In Jesus se gelykenis van “die koring” en “die onkruid” het “die goeie saad” “die kinders van die koninkryk” voorgestel (Matt. 13:24-30, 38). Die onkruid het tot die oes toe saam met die koring gegroei. Hoewel ons dus nie vir seker kan sê wie lede van die koringklas was nie, moes daar nog altyd, tot vandag toe, sommige van hierdie klas gewees het.—1/15, bladsy 7.

Watter gebeure sal Armageddon voorafgaan?

Die nasies sal ’n betekenisvolle verklaring van “vrede en veiligheid” doen (1 Tess. 5:3). Regerings sal teen valse godsdiens optree (Op. 17:15-18). Daar sal ’n aanval op ware aanbidders gedoen word. Dan sal die einde kom.—2/1, bladsy 9.

Wat kan ons doen om ’n neiging tot afguns te bowe te kom?

Die volgende stappe kan ons help: Kweek liefde en broederlike geneentheid aan, assosieer met godvresende mense, streef daarna om goed te doen, ‘wees bly saam met dié wat bly is’ (Rom. 12:15).—2/15, bladsye 16-17.

Wie praat Nahuatl, en wat word gedoen om hulle te help?

Dit was die taal van die eertydse Asteke, en dit word nog steeds deur 1,5 miljoen mense in Mexiko gepraat. Getuies preek in Nahuatl, en van ons lektuur is in hierdie taal beskikbaar.—3/1, bladsye 13-14.

Watter beginsels moet ons in gedagte hou wanneer ons raad gee?

Onderskei die werklike situasie. Vermy haastige antwoorde. Pas God se Woord nederig toe. Gebruik ’n teokratiese biblioteek, indien moontlik. Moenie besluite vir ander neem nie.—3/15, bladsye 7-9.

Jesus het sy luisteraars aangespoor om twee myl saam met iemand te gaan (Matt. 5:41). Wat het hy bedoel?

Gedurende daardie tyd in Israel het die Romeine, wat die gebied beset het, mense soms gekommandeer om take te verrig. Toe Jesus sy luisteraars aangespoor het om twee myl saam met iemand te gaan, het hy bedoel dat hulle take wat gesaghebbendes regmatig geëis het, moes verrig sonder om gegrief te voel.—4/1, bladsy 9.